Gepubliseer in Joernaal

Prettige gesprek met petroljoggie in Kuruman

***Please note: Google translates my site; therefore, my posts are available in your language. I am writing in my mother tongue – Afrikaans. I found some of the translations horrible, so bear in mind that you are reading a machine translated post.***

Gister is ons tweetjies na Dischem en Westpack. Dischem vir haarkleur, myne is getaan en Westpack vir gel, een van my woewe het glipsie in huis gekry toe ons lank weg was. My skuld, ek moes hulle eers uitvat. Maar die gel sal die ding doen, hulle haat die reuk.

Manlief hou van die garage as mens die dorp van Hotazel se kant af inkom. Oulike kafeetjie, maar lekker om met die vriendelike petroljoggies te gesels. In Afrikaans.

Ek luister selde na die gesprek, sit eerder vir die mense en kyk.

Gister vervies ek my vir twee lawaaimakers op scrambler motorfietse by die pomp iewers langs ons omdat hulle die enjins oopdraai, my ore wou tuit. ‘n Verskriklike lawaai.

En ek staar verbaas na die bestuurders van die fietse. Ouerige swart mans, maer soos riete! Die een het ‘n passasier wat liggies vashou. Ek dog dit is bedorwe tieners wat niks gewoond is nie. Ek het dus twee jong seuns daarop verwag, nie ouerige mense nie. Nat agter die ore, nog mie gewoond aan hulle wiele nie. Dan moet hulle mos so ‘n vertoning opsit. Om reaksie te kry?

Ek dink veral so, want hulle hou ons in die karre dop terwyl hulle om die bakkie ry. Hulle soek reaksie. Ek kyk af en ignoreer hulle, werk beste met mense wat aandag soek.

Toe hulle weer tussen die pompe deurry, die een na die ander, gooi hulle die enjins weer oop. Ek wip my in ‘n tweede geloof in, dit maak my woedend as my oordromme so ‘n aanslag moet oorleef. Ek sou graag wou agternajaag, vang en luidsprekers op hulle koppe sit, die volume na die hoogste draai wat dit kan.

In plaas daarvan raak ek aan die lag.

Vir die petrol joggie. Hier is ons gesprek:

Hy staan met die masjientjie in die hand dat manlief betaal, tik die getalle in, kyk so elke dan en wan om na waar die lawaai weggesterf het:

“Jirre!” en hy skud sy kop.

Manlief verstaan nie waarom die man so kwaad is nie. Ek doen, ek het sy staar gevolg. Ek deel sy passievolle verpes van motorfietslawaai.

“Ja, nee, was dit nou nodig om so te lawaai?” vra ek om seker te maak ek verstaan hom reg.

“Ja … en hy kyk weer in die koers waar die lawaai vandaan gekom het. “Moes hulle tussen die pompe deur kom ry?”

Ek skud net my kop, nie seker of ek moet of mag saampraat nie. Sommer so bo-oor manlief.

“Hulle kan mos daai kant om ry, maar nee!” gaan hy voort.

Ek glimlag, geniet die mooi Afrikaans.

” Onnooslike goed!” sê hy terwyl hy getalle intik.

En hoe het dit my nie sommer jare en jare teruggegooi nie. Nie stjoepit, onnosel of so iets nie, maar onnooslik!

My pa het so gepraat toe ek klein was. Dit is nou as iemand erger as onnosel of stjoepit is. En sy mense kom van Daniëlskuil se kant af, ‘n dorpie hier nabyerig in die Noord-Kaap. Streektaal, hoe spesiaal is dit nie om dit nou weer te hoor nie.

Onnooslik beskryf hulle beslis deeglik.

Ek lag vir die mooi Afrikaans, sommer lekker om te luister nadat ek so lank in Kazakhstan net Russies en Kazakh gehoor het.

” Jy praat mooi Afrikaans.” sê ek, want die juffrou in my sal altyd komplementeer, ek waardeer goeie taalgebruik.

Hy is nog nie klaar gepraat nie.

“Was hulle in die skool?” vra hy.

Ek wonder wat dit met skool te doen het. Onnooslik is onnooslik, ons leer kinders nie op skool om nie so te maak nie, maar dalk moet ons begin? Ek stem, die skolestelsel val uitmekaar, maar hier het ons onderwysers geen skuld aan nie.

Ek frons net en kyk vir hom.

Hy vat aan sy oordromme en vra:

“Weet hulle nie van oordromme nie?”

En toe is my dag gemaak. Hy was op skool, hy het opgelet, hy is trots op wat hy op skool geleer het, hy gebruik sy kennis om ‘n beter mens te wees.

Ook vir sy gemeenskap.

Waarom is sulke jong mense nie op universiteit nie?

Want ek weet sommer net, hy sal nie vir drie weke lank in die strate dans en goed verbrand nie.

Hy sal klas draf, leer en toepas. Want hy waardeer opvoeding. Verstaan die skade op oordromme as gevolg van erge lawaai.

Hoe onregverdig is die lewe nie teenoor so ‘n jong man nie?

Ek sou hom vir gratis hoër onderwys aanbeveel. Ons het sulke mense in die beroepslewe nodig.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

18 gedagtes oor “Prettige gesprek met petroljoggie in Kuruman

    1. Anne, ek weet hoe dit voel as hulle by hekke staan en weier dat mens inkom. Die hoof van die kampus se kar omkeer en aan die brand steek. En dan van my verwag om na die geweld hulle te help om agterstallige werk in te haal. Ek sien nie daarvoor kans nie, ek kyk hoe mense optree ne leer hulle so beter ken as wanneer hulle soet in jou klas sit.

      Liked by 1 person

  1. Ek is baie lief vir die woord “onnooslik”. Bietjie van hom vergeet. Gaan hom weer afstof. Ek loop gister en dink hoe min mense in ons land van opvoeding dink. Al waaroor dit gaan is pronk met aardse goed, rondslaap en dwelms. En ek is nie swartgallig nie. Ek kom uit die tienerwêreld waar 95% nie wil werk, nie opgevoed wil wees nie. Ons gaan ‘n duur prys betaal.

    Liked by 1 person

      1. Easy money van die staat af het gekom om te bly. Plus easy money is vir baie tieners baie bekoorlik in die dwelmhandel. As hulle daar betrokke is verwys hulle na hulleself as entrepeneurs??
        Ek wens ook daar is meer mense soos die petroljoggie. En ek wens dat ons hulle net ‘n kans in opvoeding kan gee.

        Liked by 1 person

  2. Ek moet daardie woord ‘onnooslik’ onthou en ek kan al daardie gesprek in my kop hoor. Dis vir my mooi as iemand ‘n ander persoon se taal praat en dit so oulik doen. Respek vir daardie persoon.

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.