Foto-storie #6

***Please note: Google translates my site; therefore, my posts are available in your language. I am writing in my mother tongue – Afrikaans. I found some of the translations horrible, so bear in mind that you are reading a machine translated post.***

Ek deel elke week ‘n foto met ‘n storie, en vra my blogmaats om ook deel te neem en hulle stories te deel. Hier is Toortsie se inskrywing vir verlede week – heerlike herinneringe aan ‘n rit op ‘n olifant se rug – https://toortsie.com/2021/03/26/fotostorie-olifantsafari/. Dit werk so: skryf ook ‘n foto-storie en deel die skakel in die kommentaar op hierdie foto. Ek geniet herinneringe, lees joune graag.

***

My foto vir vandag is weereens deur my iPad opgeroep en roep ongelooflike baie herinneringe op.

Herinneringe aan die vriend wat dit vir manlief gemaak het. Baie jonger as ons, hulle kinders maak nou eers met skool en universiteit klaar. Ons ken hulle soveel anders as wat ander mense hulle ken. Of liewer, as wat buitestaanders hulle ken. Vir buitestaanders is hulle rowwe mense, vroeër jare was selfs die polisie in die dorp versigtig. Hulle is nie onnodig gestop nie, daar was dinge om te doen, plekke om te sien, mens mors nie hulle tyd nie. Geen tyd vir speel nie. Ons ken hulle as omgeemense, mense wat altyd vir jou ‘n plekkie in hulle harte sal hê. As hulle jou vriende is. Ons het nie saam by plekke uitgehang nie, maar tuis en by die rivier heerlik gekuier.

Herinneringe aan manlief se bynaam van babatyd af. Doons. Afgelei van Adoons. Nie dat hy soos Adoons die bobbejaan lyk nie, inteendeel. Afgelei van die liedjie daar onder in die vlei stap ‘n mannetjie, hy is so klein en so skraal. Sy naam is Adoons Godlieb van Staden …. ken jy dit? Dit was sy ma se antwoord toe almal haar vra wat die vierde seun se naam gaan wees. Adoons Godlieb van Staden. En dit het gebly, al is hy as Marthinus Steyn van Staden gedoop. As jy twee ouer broers het, gaan so ‘n geleentheid nie verby nie – afgekort na Doons het hy die naam gedra.

Herinneringe aan studentedae, toe ek manlief by die jool ontmoet het. Ek het Koos gehoor op die joolplaas tussen al die lawaai. En hoewel Koos nie vir my ‘n mooi naam was nie – het my aan al die Koos van der Merwe grappe herinner – het ek van die jong myner gehou. En mens gebruik mos nie name as jy gesels nie, dus is ek eers mooi ingelig nadat ek hom die volgende dag aan vriendinne voorgestel het – die naam is Doons en nie Koos nie. Dit het my teen dit bors gestuit, so gaan ek my potensiële kêrel nie noem of voorstel nie.

Ek hoef seker nie te vertel wat dit alles veroorsaak het nie. Van grappe oor Adoons die bobbejaan wat Sondae in strokiesprente in die Rapport amok gemaak het, tot “grappe” waar hulle die belangrike N uit die naam verwyder het. Om my blosend en kwaad te laat. Ek is nie met sulke taal grootgemaak nie. Was geskok dat dit uit ‘n meisie se mond kan kom, nie eens my pa het so gepraat nie. Die naam gaan moet verander na sy regte naam.

Manlief het egter regtig nie ‘n ander naam gehad nie. Watter soort ma sorg nie dat haar seuntjie van ‘n naam ontslae raak waarvan hy nie hou nie? Hy het in graad 1 probeer om sy naam te kry – toe stel sy ma hom aan juffrou as Thinus/Tiens voor. Hy het sy ma mooi gevra om nie die Doons naam vir juffrou te gee nie. Maar, met twee ouboete in die skool het Doons gewen. En is hy as Doons deur die skool. Ek wil my verbeel dat die naam iewers in my brein ‘n klokkie gelui het, want ons het elke liewe Vrydag Algemene Kennis toets by die skool geskryf. Toe ek in standerd agt was, was die vraag: “Wie het die wendrie vir die matrieks teen die standerd 9’s gedruk.” En hoe moes ek weet, ek was alke dag na skool direk plot toe. Ek het perdgery, rugby was nie deel van my belangstelling nie. Die antwoord sou my verras het: Doons van Staden, ek moes dit iewers onthou het. Maar ek het nie.

Herinneringe aan ‘n tweedejaartjie wat vir haar voornemende kêrel help om ‘n regte naam te kies. Daai naam gaan ek nie gebruik nie, ons kort ‘n naam vir jou. Herinneringe aan ‘n verliefde ou wat alles sou doen om die meisie te beïndruk. Aangesien sy gesin en vriende en almal hom net as Doons geken het, het ek die keuse op ‘n naam gehad. En so het ons op Martiens besluit.

Natuurlik het ek my ouers nie van die ander naam vertel nie. My vriende en familie en susters en almal het hom as Martiens leer ken. En so is dit steeds, Doons het nêrens vastrapplek gekry nie. Sy ou vriende noem hom steeds Doons en dan kyk ek hulle so en dink aan gepaste name vir hulle. Nie mooi nie, dit is gewis.

So is ons een naweek plaas toe, die rugbyafrigter, wat ook manlief se baas was, sou my pa bel om te laat weet of hulle die Saterdag ‘n wedstryd moes speel of nie. Ek verbeel my dit sou op Evander wees. Dalk Middelburg se rigting op Koolvelde se veld. Dit was voor selfone en beepers. Onthou julle nog die beepers? ‘n Boodskap wat deurkom – bel die nommer dringend? Dan moet jy ‘n landlyn of telefoonhokkie opspoor.

Toe ons op die plaas aankom, vra hy of iemand gebel het. My ouers antwoord nee. Hy sê sy afrigter sou bel terwyl ons op die pad is, my pa sê nee. Hulle vertel toe dat ‘n man gebel het om te vra of hy met Doons kan praat. Pa sê toe nee, daar is nie so iemand nie. Afrigter sê toe dat hy met pa se dogter uitgaan. Pa sē dat iemand met so naam nie met sy dogter sal uitgaan nie. Wel …

Nodeloos om te sê, moes manlief die afrigter bel om die boodskap te kry.

Wel … dan was dit seker ook maar goed dat ek nie vir my pa gesê het wat sy naam is nie.

Ons troukaartjie is gedruk met Martiens en Christa. Doons is vir sy vriende en familie ingeskryf. Dit is nie in goue letters op ons kaartjie ingeëts nie.

Hierdie drom met ons name staan by die rivier. Op die boma. In die winter stook ons in die drom ‘n groot vuur, dan kyk ons hoe ons name in die donker in skakerings van swart, goud, silwer en rooi verander soos wat die vlamme roer in die wind.

Die foto bring herinneringe aan baie gesinsnaweke langs die Vaal, kleinkinders wat een vir een bygekom het tot ons nou vier het.

Herinneringe aan hoe dit eers was, bos langs die Vaal met daardie bomsoort dorings oral oor. Ons kon klein entjies met skoene loop, dan moes ons sitplek soek om die dorings uit te trek, want ‘n laag dorings het mens laat gly. En die dorings moes weggemaak word, hulle kon nie weer kleintjies kry nie. Nou is daar gras, loop ons kaalvoet.

Herinneringe aan die beplanning vir ‘n huis, manlief was ons argitek. Dit is sy droom wat daar gebou staan en reeds teen twee oorstromings weerstand gebied het.

Maar, dit is ook ‘n boodskap van hoop. Ons het die plek Vaal-de-Vrede gedoop, vrede langs die Vaal. En dit bring ons kinders vir ons. Langs die Vaal is daar altyd vrede. Ook in my gesin. Ons veg nie met mekaar nie, dit is elke keer wonderlik om uit te sien na nog ‘n kuier, elke keer sleg as ons totsiens moet sê.

‘n Plek waar ons en ons kinders en kleinkinders van die mal gejaag van die stad kan ontsnap terwyl ons rustig by die boma braai. Of ‘n potjie maak. En gesels oor die lewe, ons drome en wat die lewe ons steeds bied.

‘n Oester.

Vreedsame tyd wat nou vergange raak. Om langs die boma tot diep in die nag te kuier. Maar bedags lewendig gehou word.

Ons sit nie meer saans by die boma en droom nie.

Daarvoor is plaasaanvalle te veel van ‘n werklikheid. Daarvoor is die regering te onwillig om afgesonderde mense te beskerm. Mens speel nie met die duiwel se stert nie …

As die son sy kop agter die doringbome gaan neerlê, maak ons die hortjies dig.

Hoe hartseer is dit nie?

9 gedagtes oor “Foto-storie #6

  1. So gaan die lewe deesdae. Ek kan nie meer alleen in ons buurt loop nie, en saans moet die deure gesluit word … tog is hierdie ‘n interessante storie van jou.

    Liked by 2 people

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.