Kragonderbreking maak ons inbrekers …

Sondagmiddag toe ons tuis kom, is ons nie lus om dadelik Spar toe te gaan nie, dus rus ons eers. So naby ses besluit manlief dit is nou of nooit, ons moet goedjies vir sy kosblik gaan koop. En, soos die gewoonte die laaste tyd is, moet ek saam.

In Spar is ons in die agterste gedeelte van die winkel by die vleis toe dit eensklaps pikdonker om ons is. My selfoon is by die huis, manlief sukkel op syne om die flits te kry. Om ons gaan daar hier en daar ‘n liggie aan. Dit is so donker in die winkel dat dit nie lig maak nie. Dit lyk soos sterretjies in die lug.

Soos wat mens se oë aan die donker gewoond raak, kan jy effens om jou sien. Verdwyn die stikdonker. Ek moet eerlik wees dat dit baie, baie onaangenaam sou wees as ek alleen in die winkel was, met vreemdelinge om my.

Die kragopwekkers het ingeskop en toe kon ons met die inkopies aangaan. Maar ons het soort van gejaag, die lus vir koop bykans weg. Die mandjie se inhoud het ons wel genoop om by die kassiere te stop en te betaal.

Tuis maak manlief die hek oop en hy sê: “Die garage se deur wil nie oop nie.”

Ek kliek nie, ons het dit so pas gebruik om uit te gaan, en hy herhaal sy sin sommer baie kwaad. Want, manlief haal sy kwaad sommer op my uit as hy eers kwaad is. Ek bly liewer stil, dat hy maar sy kwaad uitwoed.

En toe besef ek. Dit is rede om baie kwaad te wees.

Ons is uit die huis gesluit.

Die woewe het ons hoor kom en gee sulke blye blaffies in die huis soos hulle maak as hulle die bakkie hoor inry. Dié keer gaan hulle ten minste twee ure in die huis wees, met ons buite en hulle binne.

Dit weet hulle nie, so ons word aangemoedig om die deur oop te maak … En ons kan nie verduidelik dat dit vandag onmoontlik is nie.

Die agent het vir ons net een stel sleutel vir elke deur gegee, dus is die huis se traliehek se sleutels en die binnedeure se sleutels in die huis – of in die deure. Ons is uitgesluit.

Ons loop om die huis, asof dit gaan help.

Maar, dit is tog beter om ons wonde aan die agterkant van die huis te lek. Daar waar niemand ons van die straat se kant af kan sien nie.

Want … dit is reeds besig om skemer te word, ons twee gaan buite die huis wees wanneer dit stikdonker is.

Om ons lawaai die kragopwekkers van die bure, hulle het reeds plan gemaak met die staat se onbevoedgheid om die land te regeer. Tog dink ek nie dat ek ‘n kragopwekker wil hê nie, dit lawaai verskriklik baie.

Ons kan nie in die huis kom nie.

Ek het Vrydag elke liewe venster in die huis toegemaak.

Maar die eetkamer se boonste venster is oop, ek het, toe ons by die huis gekom het, die enkele venster oopgemaak.

Ek sê vir manlief dit sou help as ek die onderste een oopgemaak het, en hy sien ‘n plan. Die agterste gedeelte van die huis is so halwe meter gelig weens die val van die grond, maar die eienaars het ‘n drom in die erf gelos.

Manlief sleep die drom nader, klim met groot moeite daar op, steek sy hand by die venster in en maak die onderste venster met min moeite oop. Daar is reguit stawe wat as diefwering dien, hy kan dus maklik werk.

BB, Sobek en Shilo staan by die venster, op hulle agterpootjies, hulle koppies kom net-net by die vensterbank uit. Schnauzers strek mos so gemaklik met hulle voorpootjies uit.

Die onderste ruit is nie ‘n venster nie, maar manlief het lang arms.

Hy roep en hulle staan stil. Hulle is mos al mooi opgelei, staan ook so in ‘n lyn teen die bakkie dat hulle ingetel word as ons gaan ry.

BB besef hy gaan haar kan uittel en staan gereed dat hy haar onder die voorpootjies kan raakvat ek deur die tralies manuever. Koppie eerste, dan die lyfie en deur is sy. Maklik. Het ek al vertel dat BB nogal ronderig is, ek het gestres dat die magie nie deur gaan kom nie.

Bekka staan tweede reg, knor toe manlief hom raakvat. Dit is mos sy manier om saam te gesels, glad nie kwaai nie. Hy word ook koppie eerste deurgehelp, dan die lyfie en toe sien hy hoe hoog dit aan die kant is. Hy haak sy agterbene soos ‘n wafferse gimnas aan die traliebalk en ons moet dit eers loshaak voordat hy deur is. Bekka is baie vaartbelyn gebou. Toe ek hom op die grond neersit, knor hy eers weer om sy verontwaardiging te wys.

Toe is dit Shilo, my skaam man se beurt. Hy is groter as Bekka, ook heelwat swaarder. Altans volgens my. Hy gaan ook maklik deur en toe is ons almal ten minste buite die huis.

Dit was nog lig, die son was al onder, dit ‘n rukkie later pikdonker wees. Met ek, manlief en die drie kinders buite die huis in die nag. Geen kos, geen water, behalwe as ons dorp toe sou ry.

Maar … watter plekke sou oop wees?

Want … Kuruman kry sommer in sy geheel ‘n kraglose beurt. So klein is die plekkie. Ek lees hier is 13 000 inwoners. Piepklein dorpie.

Intussen het manlief ‘n plan beraam om ons in die huis te kry.

Ons kan mos nie vir die woewe vra om die sleutels vir ons te bring nie …

Ek gaan nie verduidelik hoe nie, mens weet nie wie almal jou goed lees nie. En ek plaas dit ook eers nadat ons die naweek kans gehad het om die probleem deeglik an te spreek. Na dese sal dit nie meer moontlik wees nie.

Ek kan net vertel dat dit maklik was, vinnig en ook geluidloos gebeur het. Met geen skade nie, niks is gebreek nie. Juis daarom het ek die agent gekontak. Die sekuriteit moet opgeknap word, ons het in die huis ingebreek, te maklik om gemaklik te slaap … En … ons is nie eens inbrekers nie.

Dit is nie die eerste keer wat ons in ons eie huis moet inbreek nie.

In 1988 het ek en die kinders die bus gevat om pa in Johannesburg te kry. Daar gekom besluit ons mos om gholf te kyk, los al ons goed in die kar, tjekboek ook. Om na die gholf by die plek te kom waar ons kar was. Hy is gesteel, met bykans al ons aardse klere, ook van my maandoue baba en sy vyfjarige sussie.

Ons moes die trein huis toe vat. Ek het al daarvan vertel. Dit het mos daardie jaar oorstroom in Welkom, ons moes in Kroonstad wag dat die water sak. En Hennenman om huis toe gaan, die trein kon nie na Welkom stasie gaan nie. Vriende het ons op die stasie gaan haal en huis toe gevat.

En toe moet ons ‘n venster breek om in die huis te kom. Want … die huis se sleutels was ook in die kar.

Die keer is niks gebreek nie.

Manlief kan maar by ander spog dat hy ‘n handy man is. Hy het beslis die vaardighede om ons jit moeilike situasies te laat ontsnap …

Hooffoto: Die venster waar ons die Schnauzers na buite getel het. Soos jy kan sien, het ons huis agter geen gras nie. Voor is daar darem mooi gras en blommetjies. Die woewe se handdoeke was nog op die draad. Hulle is die oggend gebad en drooggeblaas.

16 gedagtes oor “Kragonderbreking maak ons inbrekers …

  1. Ha ha, skuus ek lag n bietjie. ja “n man met n plan is wonderlik. Hier is by ons huis ook al deur vensters geklim, diefwering afgeskroef, ruite uitgehaal….. en dit was nie eers agv kragonderbrekings nie!

    Liked by 1 person

      1. Dit het eenkeer by ons gebeur dat die bure se seuns dit gedoen het( in telefoniese opdrag van ons af dat hulle in die huis MOET kom). Die hele tyd het ons “waghond,” Worsie, op die trappies langs die venster ĺê en slaap en die “inbrekers” moes die heeltyd oor hom klim, want hy was in die pad, maar hy het die slaap van die onskuldige geslaap….

        Liked by 1 person

          1. Nee, hy het hulle nie geken nie! Dis die eerste keer wat hulle in ky wrf ingekom hwt@! Hy het wel hulle sussue geken wat maatjie van my kinders was. Hulle is baie ouer as d sussie

            Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.