Ek, manlief en VVVs by Grand Oasis Casino in Kuruman

Dit is lang naweek en ons tweetjis is lus om iets te doen. Ons kan nie te ver gaan nie, want hy is aan diens. Net soos wat hy paasnaweek ook gaan wees. Hoe ongelukkig kan een paartjie die twee lang naweke ingaan? Ek dink mens kan beurte maak, maar blykbaar nie. Hy het die dobbelsteentjie verkeerd laat val.

Of liewer ons het dit veroorsaak, want hy moes ‘n naweek omruil met iemand sodat ons volgende Sondag by ons nuutste kleinkind se eerste verjaarsdag kan wees. Dit gaan ons nie mis nie, ons het sy geboorte en eerste klompie maande weens die pandemie gemis. Ons was in Almaty, Kazahkstan vasgevang.

Ewenwel, so van dobbelsteentjies gepraat. Manlief wou sien hoe lyk Kuruman se gholfbaan, dat ons môre ‘n potjie gaan speel. Dit was ‘n vinnige loer, ek sal môre vertel waarom. Ek wil eers oor dobbelsteentjies en VVVs vertel.

Ons het op pad na Kathu elke keer verby The Grand Oasis Casino gery, so aan my kant van die pad.

Effens uit die dorp, maar nooit geen lus gehad om te stop en kyk nie. Ons dobbel nie, dit trek ons nie. Maar die dobbelplek naby ons huis het heerlike restaurante, dus kan hier ook een wees?

Aangesien ons amper weer teruggaan stad toe, vra ek vir manlief of ons sommer soontoe kan uitry, dan neem ek ‘n paar foto’s.

Wat ‘n oulike plek!

Dit is in die eerste plek veilig om daarheen te ry en daar rond te loop.

As jy by die regterkanste deur ingaan, is die dobbelmasjiene aan jou regterkant.

Maar ons wou nie deur die verklikkers gaan nie. En masjiene trek ons nie.

Ons twee werk te hard vir ons geld om dit weg te dobbel. Buitendien, ons glo ook nie die masjien gaan vir ons geld uitgooi nie. Inteendeel, hy gaan verkies om ons geld op te eet!.

Draai jy links, kan jy by die restaurant instap.

‘n Groot, ruim plek met ‘n kroeggedeelte in die middel en baie tafeltjies en stoele. En ‘n buitekant met tafeltjies onder ‘n baie, baie hoë dak.

Dit is belangrik om te sê dat dit ‘n baie hoë dak is, ek skat meer as dubbel volume. Dit laat my aan die binnedak van Clearwater Mall dink. Die oopskuifdakgedeelte is dubbelvolume hoog.

Ek het die bloes in Öskemen gekoop, en was verras toe die een wat ons temperatuur neem, vir my vertel hoe mooi bloesie dit is, hoe mooi die kleur, hoe dit by my pas. Ek hou nie eintlik daarvan nie, dwing myself om dit aan te trek om anders as my gewone self te wees …

Toe ons ons by die tafeltjie sitmaak, kom die kelnerin met twee spyskaarte aan.

Kyk hoe hoog is daardie afdak, ons het daar gesit om iets kouds te drink.

En my oog vang ‘n swart gevaarte wat teen ‘n hengse spoed tussen ons twee se gesigte deur is. En op in die lug.

Ek het dadelik gesien dat dit NIE ‘n verdomde vlieënde vlermuis (VVV) is NIE.

Daarvoor sien ek wraggies nie kans nie en jy weet al waarom.

Ek het die vorm ook herken … wie ken nie hulle kenmerkende vorm nie?

En jy gaan seker nou dink ek jok …

Want wie sou dit van hierdie voëltjies kon raai?

Dit was ‘n swaeltjie wat so laag tussen ons twee deur kom vlieg het. My hart het wel ‘n ruk gegee – want dit was skielik – maar ek was dadelik gerusgestel. Dit is nie ‘n VVV nie.

En swaeltjies is vredeliewende voëltjies wat by ons huis in die stad ‘n nessie onder die een pilaar gemaak het.

Ek is nie bang vir swaeltjies nie!

Wel, na vandag is ek wel goed skrikkerig vir swaeltjies.

Want … ek het The Birds … gekyk toe ek nog jonk was. ‘n Riller wat Alfred Hitchcock in 1963 gemaak het. En kan jy glo? Dit was so woes dat my dogter – wat dit seker 30 jaar later gekyk het – ook vir voëls wat snaaks optree bang is.

Daardie BIRDS was nie vredeliewend nie. Inteendeel, hulle het mense aangeval.

Ek gaan so wraggies nie so vir ‘n swaeltjie weghardloop nie.

Of sal ekke?

Dit was nie swaeltjies nie, dus was ek nie bang nie.

Ek is wel baie versigtig vir daardie voëltjies was hulle eiers mos net so in die gras lê op ‘n gholfbaan.

Kiewiete het my al meer as een keer gejaag as ek saam met manlief op die gholfbaan stap. In Welkom. Hoe moet ek weet waar hulle die eiers gaan neerplak?

Dan het ek verskrik weggehol, sodat hulle die aftog kan blaas. Hulle het ten minste rede gehad om my te wil aanval. Hulle moes die eiers beskerm wat hulle so oop en bloot in die gras lê. Ook geen nesmaakvaardighede nie. En nou moet hulle so kwaai wees. Want daar is mense! En slange! En kinders! En gholfkarretjies wat die eiers kan raaktrap, vat of eet.

Al dink ek hulle is baie onnosel, verstaan ek waarom hulle aanval.

Vandag se swaeltjie het my verwar.

Ons drink nog so lekker aan ons koeldranke, bewonder die mooi grasperk om ons en die oulike eetplekkie, toe manlief vra:

“Het jy dit gesien? Daardie swaeltjie het reg op my gesig afgevlieg en net voor my kop weggeswenk.”

Ek het gelag. Hard en uitbundig. Swaeltjies doen dit nie.

Manlief het nie gelag nie.

Die volgende oomblik gee die kelnerin wat by die deur uitkom so ‘n gilletjie en duik met haar bolyf vooroor. En ek vat tyd om te probeer sien wat aangaan. Want sy kyk versigtig in die lug op toe sy regop kom.

En sowaar, ‘n swaeltjie maak ‘n draai hoog in die lug naby die dak en kry dan koers. Reguit op haar af. Na haar kop toe. Sy koes weer laag vooroor en toe retireer sy waardig terug in die restaurant in.

Drie ander kelners staan ver agter ons, naby ‘n pilaar en lê soos hulle lag vir die swaeltjie wat die een in die restaurant ingejaag het.

Ek lag ook. Dit het ek nog nie gesien nie.

Maar ek leer gelukkig uit wat ander doen.

Want die volgende oomblik swaai die swaeltjie sy aanval en kom hy reg op my gesig af. Ooghoogte.

Ek het baie onelegant een lang: “NEEEE” geskree en afgeduik, my kop op my arms op die harde ystertafeltjie voor my.

En swaeltjie het blykbaar weer in die lug opgevlieg, hy het my skrikgemaak.

Boe!

Hoe sou die simpel voëltjie weet dat ek so groot sou skrik?

Die kelnerin het weer uitgekom om tafeltjies reg te skuif.

En swaeltjie het sy aanval weer geloods, seker so vyf keer na mekaar – net op haar. Sy is so waardig moontlik terug in die restaurant.

Hy is oor die dak en weg. En sy kon uitkom, ons rekening bring. Ons het betaal en geloop.

Toe ons wegstap, is die swaeltjie terug.

Hy het versterkings gaan haal. Daar was nou drie.

Ek was dankbaar ons is op pad. Ek sou sowaar hard gegil het as drie hulle aanval soos vegvliegtuie op my loods.

Op pad huis toe sê ek vir manlief dat ons een Sondag daar moet gaan eet. Hulle is nie elke dag oop nie.

En sy antwoord?

Dit lyk baie lekker, maar dan sit ons binne.

En ek kan nie met hom stry nie.

Dit sal baie onaangenaam wees om die hele tyd te koes vir ‘n swaeltjie wat dink dat hy ‘n vegvliegtuig is.

Wonder of Anne kan vertel waarom? Dalk iemand anders?

Hulle nessies is in die dak, maar dit is baie, baie hoër as wat ons gesit het. Hemelhoog. En ons het basies doodstil gesit. Geen gevaar vir hom nie?

Dalk net windgat?

Dit herinner my aan ons ete in ‘n restaurant in Sydney hawe. Januarie 2010.

Daar moes ons ook vir voëls koes.

Ons het seekos bestel, dit is gebring in bakke wat in ‘n stapelvorm was. Sodat mens jou kos uit elke laag kan kies terwyl jy eet. Dit was nogal baie. In die heel boonste rak het hulle prawns op stokkies laat regop staan.

En toe ons weer sien, vlieg ‘n seemeeu in en steel ons prawns – net so – op die stokkies. In die restaurant!

Seemeeue is groot voëls teen swaeltjies, en ek het goed geskrik.

Soos ek gesê het, The Birds het ook nie baie gehelp dat ek nie bang was nie.

Maar …

0ns het uitbundig gelag! Wie verwag dat ‘n Ausie seemeeu gaan invlieg, jou kos so uit die lug steel en weer uitvlieg?

Die kelner het dadelik kom red.

Maar ek kan nie help om te wonder of dit hulle party trick is nie.

Sit die uitlanders by daardie tafel sodat hulle vir seemeeu kan skrik …

Toe die bakke almal mooi plat op die tafel staan, het die seemeeu ons uitgelos.

Dit lyk ek het meer as een VVV.

Dit kan ook vir Verdomde Vlieënde Voëls staan …

Kan ek die restaurant by die Grand Oasis Casino op die N14 net buite Kuruman op pad na Kathu aanbeveel?

Beslis ja, ons gaan beslis weer soontoe gaan. Selfs as die kos nie te lekker sou wees nie, is die ervaring hemels. Dit voel of mens baie deftig in die veld is, geen stadsgeluide nie. Stilte!

Fotokrediete: Die foto’s van die voëls is deur ‘n Duck-Duck-Go soektog opgelewer.

15 gedagtes oor “Ek, manlief en VVVs by Grand Oasis Casino in Kuruman

  1. These are possibly barn swallows or perhaps white-rumped swifts, both of which swoop down or dive-bomb humans they feel are too close to their territory – believe me, we don’t use our front door all summer because of the aggressiveness of the swifts which took over a lesser-striped swallows nest a few years ago. Even though the ceiling you describe is very high, these swallows might feel the presence of people are a threat to their nestlings. The adults are very protective, although their dive-bombing is unlikely to do you any harm. Other birds that do this are fork-tailed drongos.

    Liked by 1 person

    1. I really did not know that swalloes do this. My husband played chicken dit not move at all. But I could not, I dived down on my arms. I do realise that he knows that I will be better off than him when he dives into me, and that he would turn away before contact, but o my word, I could not sit still and wait for his decision … They were quite scary. I did not have time to check colours.

      Liked by 1 person

  2. Liewe aarde, nie geweet dat swaeltjies dit doen nie. Ons het ‘n nessie onder die dak by ons huis op die plaas gehad en hulle was altyd baie vredeliewend – die nessie was reg by my broer se kamer – wat ‘n buitekamer was en dalk was hulle ons te gewoond om so op te tree. Oor kiewiete – ek hou nogal van hulle en in ‘n bos hier naby ons, is ‘n vo-el met presies daardie roep, maar duidelik nie ‘n kiewiet nie, maar tog ‘weird’ dat dit presies daardie roep van ‘n kiewiet is. Ek hoor hom baie in die vroe-e oggende en dan laat dit my so half en half terugverlang waar hulle op die skoolterrein in die een hoek ‘n nes gehad het – waar ons vir ‘n goeie paar jaar gebly het – skool vir blindes/swaksiendes.

    Liked by 1 person

    1. Dankie, ek met eerlik wees ek hou nie daarvan nie, maar dit is lekker as ander mense dink dit is mooi. Dit laat my wel verskriklik baie vroulik voel. Ag siestog, dit is erg, maar ek neem aan julle geniet dit baie.

      Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.