Die kern: So het ek my passie na ontnugtering bly uitleef …

Die Goue Vroue pak ‘n splinternuwe uitdaging aan. Dis nou, so tussendeur hulle avonture op Rebusfontein en dan is daar boonop die maandkalender waar elkeen foto’s met ‘n storie skryf. Maar hierdie, HIERDIE IS DIE ONTKNOPING VAN ELKEEN SE DIEPSTE HARTSGEHEIME.

Diep in die hart van hierdie geel bladsye vesonke lê die geheim opgesluit.

Nie eens onsigbare ink of kodifisering verbloem die geheimenisse nie.  Elke vrou het haar ontblote geheim versigtig uit hierdie boek verwyder…uitgesny!

Met net mooi genoeg provokasie sal elke vrou dalk, ja dalk tóg! een vir een hulle bladsye terugskryf sodat die leser kan agterkom HOE en WAT en HOEKOM elkeen in haar eie reg geluk gevind het.

Ek is dan derde aan die woord. Lees die Goue Vroue se oplossings vir hulle diep geheime hier op
https://fresh.inlinkz.com/p/567e0dbec3284abbacab09e8d73f276e

***

Aalsie het die boek aangedra, sal ek asseblief na haar skryf. Frannie het klaar geskryf, hare is amper gereed en dan is dit my beurt. Sonder om te dink, antworord ek ja, dit is perfek.

Ek is op die oomblik baie besig, maar ek is altyd dadelik beskikbaar as ons Goue Vroue saam gaan skryf. Dit maak my gelukkig, al het ek die gevoel dat my bydraes nie op die standaard van die ander s’n is nie. Plan sal ek maak, ons leuse is nie verniet een vir almal en almal vir een nie.

Ek los alles net so en draf na my kamer om my iPad te kry. Frannie het lanklaas saamgeskryf nadat ‘n drama in Julie 2020 in ons blogwêreld afgespeel het. Ek is opgewonde om haar inleidende hoofstuk te lees.

My hart skok tot stilstand. Frannie skryf juis oor die opspraakwekkende gebeure in Julie 2020 toe die stigter van Rebusfontein ons verbeeldingsdorp in die niet laat verdwyn het.

Amper …

‘n Tyd waaraan ek toevallig gister gedink het – een wat ‘n groepie blogvriendinne swaar getref het. Veroorsaak het dat ons blogwêreld geskud is. In ‘n tyd toe elkeen van ons Rebusfontein nodig gehad het om van die aaklige gebeure rondom die pandemie te ontvlug. Ek en Frannie veral, ons was in die buiteland vasgekluister, kon nie na ons kinders en kleinkinders terugkom nie. Het soort van al moed verloor dat dit ooit gaan gebeur. En Una se kinders was in die Ooste vasgevang, moes vlugte huis toe kry, maar dan word dit elke keer gekanselleer. Of nee wag, ek dink hulle was so pas terug by die huis?

‘n Tyd waaraan ek nie herinner wil word nie, want ek het tydens gesprekke om die probleem te probeer oplos, net soos die ander vriendinne, ‘n hele paar messe in my rug gekry. Messe van mense wat hulle as vriendinne voorgehou het.

Waarom nou weer soontoe neuk?

Gewoonlik sou ek nie in die duister gewees het nie. Ek sou geweet het waaroor dit gaan. Maar, sedert ek WhatsApp verlaat het weens FB se ultimatum, is ek nie meer deel van die Goue Vroue se baie besige kletsgroepie nie.

Na Frannie se inskrywing vermoed ek dat daardie tyd weer in gesprekke opgekom het. En wat gaan aan? Kan die goue vrouens gedagtes lees? Want ek het met niemand oor daardie tyd gesels nie. En nou word daar van my verwag om my diepste geheime daaromtrent te ontbloot. Om te vertel hoe ek deur die gebeure geraak is.

Ek sou moes onttrek. Ek het te vinnig ja gesê.

Maar, dalkies moet ek eers vir Aalsie vra om vir my agtergrond oor die nuwe skryfopdrag te gee. Gelukkig het ek gevra, want dit is alles behalwe waaroor hierdie opdrag gaan.

Ons Goue Vroue het op ‘n dag besluit om ons diepste geheime in ‘n boek te skryf. En een dag besluit om dit met ‘n knipmes uit te sny. Ons was nie meer lus dat ieder en elk dit kan lees nie.

My werk is om die bladsy/e waarop ek my groot geheim oor hoe ek weer geluk gevind het terug te skryf. As deel van ‘n heelwordproses. Dalk kan iemand daaruit leer?

Voel ek nou so bietjie soos die skrywer van Tant Nelie se veerpluime …

***

Die dag toe hierdie hoofstuk geskryf is, het ek nie geweet waaroor om te skryf nie. Ek is gelukkig, het nie seer wat heelgemaak moet word nie. Waaroor sou ek tog wou skryf?

Aalsie het uit die bloute gevra waarom ek ‘n juffrou geword het. My antwoord was eenvoudig, vandat ek kan onthou was dit my droomberoep, al het ek van die begin af geweet dat die inkomste minimaal sou wees.

“Vandat jy kan onthou? het Adri gevra.

“Ja beslis” het ek geantwoord. “As oudste van vyf dogters, het ek agter in die slaghuis vir my kleinsussies skoolgehou. Hulle boeke gemaak, sterretjies geplak en als. En as hulle nie wou saamspeel nie, het my poppe op hulle plekke gesit en dan het ek die huiswerk vir hulle gedoen. Geraas ook as hulle stout is.”

Una het dadelik ingeval, ons klink soos ‘n tweeling. “My poppe was ook my skoolkinders.”

Ons kry ‘n koor as antwoord, bykans elke Goue Vrou is ‘n opgeleide juffrou van beroep.

“Wat en waar het jy geswot?” wou hulle weet.

“BA(Ed) aan Tuks. Hoofvakke Opvoedkunde, Afrikaans en Geografie.”

“Oe regtig?” het Postief uitgeroep. “‘n Tukkie dan?”

“Ja” het ek geantwoord, “Hoërskool, op aandrang van my Geografie-onderwyser op skool.”

“Hoe lank was jy in die onderwys?” het Woordnoot gevis.

“Ek was ongeveer 23 jaar in die beroep, sekondêre en tersiêre vlak.”

Almal weet ek is lief vir die onderwys, waarom ek die onderwys vaarwel geroep het, is egter ‘n geheim wat ek nie maklik deel nie. My skandvlek. Ek het die kinders in my klas gefaal. In die laaste jaar in die beroep.

En die seer was begrawe. Tot ek dit daardie tyd in die boek op Rebusfontein geskryf het – in ‘n poging om sin te maak en heel te word.

Terwyl die Goue Vroue die vrae gevra het om my aan te moedig. Dus gaan ek moet deurdruk en weer vertel.

“Vanaf 1983 tot 1991 het ek by twee skole in die Vrystaat skoolgehou, Welkom High (Engels) en Hamonie Hoër (dubbelmediumskool). Dit was wonderlike tye, met skoolkinders wat maniere gehad het. Hulle juffrou op die hande gedra het, nooit, ooit sou waag om ongeskik te wees nie. Daardie tyd kon die skoolhoof hulle boudjies afstof. Self het ek nooit aan ‘n kind geslaan nie.”

“My kinders was in die skool, ek was verveeld, toe skryf ek vir ‘n B.Ed (begaafdekindonderwys) in.”

“Is dit hoe jy by ‘n universiteit beland het?” wou Seegogga weet.

“Ja, vriendin, soort van. Nog voor ek uitslae gekry het, het my hoof my ingeroep.”

“Ek het gehoor jy oorweeg ‘n M?” het hy gevis en so bevestig dat my sogenaamde dominee-vrou-vriendin sy skoothondjie is. “Jy moet kies: óf die M óf skoolhou.”

“Ek was geskok. Ek het geen dae verlof gevra nie, my werk was op datum. Waar kom dit vandaan?”

“Ek het toe nog nie eens uitslae gehad nie, nie regtig ‘n M oorweeg nie. Ek was nog net adrenalienangedrewe na die eksamen, ek het geweet die uitslae gaan goed wees. Vriendin het gevra en ek het gesê ek oorweeg dit. Al het ek geweet dat finasies ‘n probleem sou wees.”

“En toe?” het Virgo aangemoedig. Hoe kom jy toe daaruit?”

“Vista Universiteit, Welkomkampus, het ‘n opvoedkunde dosent gesoek, my vriendin daar het my voorgestel, ek het aansoek gedoen met ‘n kloppende hart, ek is ‘n juffrou, nie ‘n dosent nie. Buitendien, ek sou baie kort kennis moes gee. Daardie tyd was getroude vrouens kwartaalliks aangestel, dus was dit nie so ‘n groot probleem vir my nie.”

“Toe ek die pos kry, het ek 24 uur kennis gegee. Die aanstellingsdatum was twee weke tevore. Die rooikop was woedend, het gesē hy sal sorg dat ek nie weer ‘n pos kry nie. Ek was bereid om die kans te vat – hy het ultimatum gestel. Ek dink almal weet teen die tyd dat ek my nie deur ultimatums laat dreig nie.”

“Ek het gou geweet dat dit perfek was vir my. Ek het dit geniet, die studente se praktiese onderwys het ook onder my geval. Ek was nasionale hoof vir Vakdidaktiek Geografie, het vakdidaktiek Afrikaans ook aangebied en Opvoedkunde vanaf eerstejaars- tot honneursvlak. Vista het vir my M-studies betaal en ek het dit deur Unisa gedoen – Ortopedagogiek, die begaafde kind met probleme.”

Ek het eers stilgebly.

“Toe word daar gestem, word ‘n nuwe regering aangestel. Ons het in daardie tyd (einde 1994/5) na Benoni getrek. Ek het my studente jammer gekry en in Welkom agtergebly om hulle nie in die steek te laat nie. My twee kinders is solank saam met pappa Benoni toe. Dollatjie graad 7, seun graad 1. Ek het my eie kinders in die steek gelaat. Hulle moes vir die eerste keer in hulle lewe by naskool wag totdat pappa van die myn afkom.”

Ek het gesluk en verder vertel. Die letters en woorde het op die bladsy verskyn terwyl mens vertel.

“Die studente het egter nie gehuiwer om my in die steek te laat nie. Hulle het oor allerhande goed gestaak. Ek was darem nie in die spervuur nie. Dan het my twee beste studente oproerig voor gedans, van die klas weggebly en van my verwag om die klasse in te haal. Ek was tot in my tande geskok. So, dit is vir julle dat ek agter gebly het?”

“Ek wil my verbeel ek weet van die stakings,” het San ingeval.

“Ja, San, dit was erg. Die een Maandagoggend wou hulle ‘n nuwe kampusdirekteur hê. Toe ek na drie ure op die pad by die kampus aankom, is ek voor die hek voorgekeer met die boodskap dat ek terug kan gaan, die kampus is vir die week gesluit. Daar was rook, want die studente het die kampusdirekteur se kar omgegooi en aan die brand gesteek.”

“Dit was nie vir my aanvaarbaar nie. Ek het nie aansoek vir ‘n oorplasing na een van die stadskampusse gedoen nie. Hiervoor sien ek nie kans nie, net-nou is my kar volgende.”

“Jy is dan so lief vir onderwys,” het Frannie gesê.

“Ek weet, Frannie, maar ek kon teruggaan skool toe, die besluit was nodig. Ek is nie ‘n student se marionet nie. Dit is nie waarvoor ek studeer het nie.”

Ek het verder vertel:

“Daarna het ek na die onderwys teruggekeer (1995-2008). Ons het begin 1996 na Evander getrek en drie maande later na Welkom, waar ek weer by Welkom High gaan skool hou het. Begin 2002 het ek na Welkom Gimnasium geskuif om in selfde skool as my seun te wees. En daar gebly tot hy matriek klaar gemaak het. Manlief het ‘n jaar en ‘n half alleen in Roodepoort gebly, ons wou seun nie ontwrig nie. Hy het Woensdae en naweke vir ons kom kuier, en ons het vakansies by hom gaan bly.”

“Dit was wonderlike jare. Ek het my passie uitgeleef. My atlete het SA’s toe gegaan, my Voortrekkers het Presidentverkenners geword. Baie van my seunshokkiespan is gekies vir die provinsiale span. My kinders in my klasse het presteer, dit vir my lekker gemaak om hulle juffrou te wees. Toe seun met matriek klaar is, is ons Roodepoort toe.”

“Het jy toe daar ook skool gehou?”wou Scrapy weet.

“Ja, Scrapy, ek het oorplasing na ‘n stadskool gekry. Dit is daar (2005-2008) waar my droomberoep in ‘n nagmerrie verander het.”

“Wat het gebeur?” wou Trommeltjie weet.

Ek het lank geswyg, want dit is hieroor wat ek nie wil praat nie.

Sonell het geskimp dat ek dit nie daar kan laat nie en ek het in breë trekke gebeure tydens my laaste drie jaar in die onderwys opgesom:

“Stadskinders is anders as plattelandse kinders. Hulle ouers ook, dink hulle besit die skool. Dalk was dit juis omdat die regering onderwysers se mag in die klas ondermyn. Dalk omdat kinders onder die nuwe regering nie meer gestraf mag word nie.”

Ek het stilgebly en enkele gevalle uitgelig wat my passie soos ‘n vuur verteer het. Tot as oorgebly het. En toe deurgedruk. Geheime vertel wat ek diep bewaar het. Omdat dit my laat voel het dat ek faal …

“‘n Seun het in die eerste jaar ‘n koekie uit sy kosblik in my klas vir ‘n jong seun gegee en gedink dit is ‘n geweldige grap toe die seun totaal uithaak. Ek het hom kantoor toe gevat, geen idee gehad wat in die koekies was nie. Dit was dagga en die seun is geskors. En raai wat? Die kinders het my uitgekryt omdat dit volgens hulle my skuld was dat hy geskors is.”

“Anders as op die platteland, het sommige stadskinders hulle met drank en dwelms besig gehou- met noodlottige gevolge in een spesifieke geval. Piet Beyleveld is uitgeroep, maar kon nie agter die kap van die byl kom nie. Ek het van die partytjie geweet, die een belhammel het my die Saterdagoggend by ‘n robot voorgekeer. Gebedel vir drankgeld. Net so!”

“Sjoe!” San was geskok.

“Tydens my laaste jaar het die volgende drie gevalle my laat besluit dat ek nie meer wil skoolhou nie.”

Ek het geweifel om te vertel, want ek is seker hulle gaan my nie glo nie. Tog moet dit uit, ek moet daardie kamers oopmaak en lig laat kry.

“Ek het my vertroue in kinderopvoeding verloor. Ek kan vakinhoud aanbied, vir hierdie kinders het ek nie kans gesien nie. Hierdie drie gevalle klink soos in ‘n siek boek oor misdaad in Amerikaanse skole in slegte gebiede. Dit het in ‘n vooraanstaande skool gebeur, ‘n Afrikaansmedium skool.”

“‘n Graad 8-dogter het my van lipstiffiepartytjies kom vertel. Asof hierdie skaam juffrou behoort te weet wat dit is. Ek het gevra en was geskok. Van hulle laerskooldae af oorgebring hoërskool toe. Hulle dra verskillende kleure lipstiffie en die seuns spog daarna met hoeveel kleure hulle op hulle privaatdele kon versamel. Ek kon nie glo ‘n kind vertel so iets vir my nie. Geen grootmens het al so iets vertel asof dit normaal is nie. Kon nie die ouers kontak nie, maar met sulke kennis wou ek ook nie opgeskeep wees nie.”

“Die finale strooi was toe ‘n graad 11-dogter se ma my een nag gebel en uitgeskel het oor haar kind se punte. Volgens die ma het ek nie van haar kind gehou nie. Die Katolieke kind wat niks verkeerd doen nie – volgens die ma. Ek het maar nie vertel dat sy haar panty se kleur met die seuns bespreek het terwyl ek probeer skool hou nie. Glad nie oplet nie, bo-oor my praat as ek haar aanspreek. Haar kind, haar probleem. Sy sou my nie glo nie.”

“Ek het my bedankingsbrief geskryf, manlief het gelees en gaan ingee. Die hoof wou nie aanvaar nie, het gesê hy sal die ouer inbring en aanspreek. Hy het, ek het steeds nie my bedanking teruggetrek nie. Ek was klaar.”

En toe het ek baie lank stilgebly. Want hierdie laaste geheim moet ook uit.

“Ook goed so” het ek verder vertel. “Gedurende my kennismaande het ‘n verskriklike ding in my klas gebeur. En ek praat nooit daaroor nie. Dalk sou dit help as ek dit ook oorvertel. Dat ek heel kan word, weer kan glo dat stadskinders nog kinders is …”

“‘n Graad nege dogter wat by ‘n ander skool geskors is, is in my klas gesit. In een van my klasse het sy en ‘n seun saam in ‘n bank gesit, al mag hulle nie. Die klas was oorvol, mens kan nie sien wat onder die tafels aangaan nie. En toe – ten aanskoue van die maats rondom hulle – het sy toegelaat dat ‘n seksuele daad gepleeg word, met haar.”

“Ek was voor besig met antwoorde en het NIKS gesien nie. Na die klas het die meisies vir my gevra hulle wou pouse met my praat. Toe vertel hulle dit vir my. Ook dat my klas nou ‘n nuwe naam het: KFC.

Ek het nie verstaan nie.”

“KFC?” het ek dom gevra.

“Juffrou weet, die leuse?”

“Ek het steeds nie verstaan nie. En een, ‘n baie voorbeeldige dogter het my die lig laat sien met: “Finger licking good!”

“Dit was die finale strooi. Vir openlik seksuaal-aktiewe kinders het ek nie kans gesien nie. Ek het nie eens sulke vriende nie. Ken nie sulke grootmense nie.”

“Het dit by die hoof gaan aangee, ook dat ek van die daad onbewus was. Want ek het nie in my wildste drome gedink dat ek vir seksdade in my klas moet uitkyk nie. So iets het nooit op die platteland gebeur nie. En ek was op 48 tot in my siel geskok – ek weet nie wat hy aan die sak gedoen het nie.”

“Maar die onderwys het vir my finaal sy glans verloor. Ek het nie weer aansoek gedoen vir ‘n pos nie. As dit is wat by een van die vooraanstaande stadskole gebeur, wil ek nie weet wat by swakker skole gebeur nie. Ek was klaar met skool, ek het gevoel dat ek elke kind wat dit moes aanskou gefaal het.”

“Ek het nie gesien hoe ‘n meisie in die klas ten aanskoue van maats bevat is nie. Ek is ‘n getroude vrou en het nie die tekens raakgesien nie. Ek het gevoel dat ek gefaal het. Maar ook dat ek nie hier oor kans sien nie.”

Die Goue Vroue was stom. Hoe word mens heel na so iets?

Ek het verder vertel.

“Ek het my in navorsing oor die onderwys ingegrawe, my PhD voltooi en daarna navorsing gedoen – spesifiek oor die onderwys. Dit het gehelp om die seer heel te maak, tot ‘n vriendin my ‘n seer steek voor haar vriendinne gegee het.”

“Sy wou een keer weet waarom ek nie meer skoolhou nie. Ek het net gesê dat ek my passie vir die onderwys verloor het. Die ding kon ek nie woorde gee nie. En toe antwoord sy:”

“Dan het jy nooit ‘n passie gehad nie.”

“Regtig?”

“Dit het diep getref.”

“Is dit die seer wat ek moes leer verwerk?”

“My passie is doodgedruk, tot in sy fondamente geruk. Ek het gefaal, onskuldige kinders het waarskynlik gesien … en ek het voor gestaan en klas gegee. Onbewus van die drama wat afspeel …, maar dit sou ek nie oorvertel nie.”

“Ek kon my passie vir juffrou wees steeds uitleef, ek hoef nie in ‘n klas te staan nie. Ek het geleer dat mens nie skool hoef te hou om ‘n passie vir die onderwys te hê nie.”

“En met die Here se genade het ek heel geword.”

“Dit kon ek daardie dag, meer as ‘n dekade later, aan myself erken. Ek is heel, daardie kamers moes oopgemaak word om die sweer te laat uitbloei.”

“Hoe het ek heel geword?” het hulle oë gevra.

“In die eerste plek deur gesprekke met my Skepper, dit het my gedra.”

“Tweedens het ek my passie verskuif:

Vanaf kinders na BB, Shilo en Sobek. My drie Schanuzers is my kinders, leer by my. En ek geniet dit om die groei in hulle intelligensie te sien. En natuurlik speel ek ook juffrou met my kleinkinders. Hoe dan anders? Eenmaal ‘n juffrou, altyd ‘n juffrou.

Vanaf kinders na onderwysers. In RSA-onderwysers, my groep vir onderwysers op Facebook, maak ek seker dat onderwysers mekaar nie boelie nie. Moeilik om te glo, maar hulle doen as mens nie oog hou nie.

Vanaf in die onderwys staan na navorsing oor die onderwys, spesifiek oor leer en onderrig. Wanneer ek navorsing doen, is ek verantwoordelik vir my wen of verloor, aanvaar of verwerp van my artikels of hoofstukke. My sukses of mislukking. Ekke alleen.

Daarmee kan ek saamleef. En dalkies kan my navorsing onderwysers help. Dan is daar ‘n hoër vlak bereik.”

Ek het met die volgende afgesluit:

“As ek kan, kan jy ook uit ‘n moeilike posisie ontsnap, jou passie in ‘n ander rigting kanaliseer. Kyk net, moenie dat ander jou boelie nie.”

En juis uit my slotwoorde kan jy aflei dat ek steeds passievol oor my beroep is. As daar ‘n les te leer is, dan het dit ander gehelp dat ek die geheim in die lig gebring het … Ek self het ligter gevoel.

Tog kan ek steeds die leuse van KFC nie verdra nie.

Word ek na daardie dag teruggepluk as ek dit lees, maak nie saak of ek in Amerika, Kazakhstan of Suid-Afrika by ‘n KFC stop nie.

Dit het vir my vieslik geword.

***

Ek het na San se huisie gestap, die boek oorhandig en gevra: “San, sal jy asseblief jou geheim en heelwordproses weer vertel dat dit in dieboek kan verskyn? Ek sien jy brand om te vertel …”

Prentkrediet:

https://www.onlygfx.com/wp-content/uploads/2018/03/grunge-broken-heart-4.png.

29 gedagtes oor “Die kern: So het ek my passie na ontnugtering bly uitleef …

  1. Christa, jy het jouself oortref! Dankie dat jy jou passie na hoër hoogtes gevoer het.Dit kon nie maklik gewees het om hieroor te skryf nie, maar dis uitstekend geskryf. Interessant genoeg het ek juis gister vir die eerste keer van “rainbowing” gehoor…dis nou al die verskillende lipstiffies.Ai!

    Liked by 3 people

    1. Baie dankie, Letty-Ann, dit was moeilik om dit in woorde te stel. Ek het jou inskrywing se dialoogvorm toe probeer en dit het gehelp om die storie te vertel. En dan wonder mens waar kom seksueel-oordraagbare siektes vandaan? Ek dink die feit dat kinders tans seksopvoeding op skool kry, maar heilige goed common.

      Like

  2. Christa, ek staan geskok, nes jy. Endie ergste is dat ek nie sou weet hoe om op te tree nie. Want sulke mense het die manier om ons ‘onskuldiges’ stupid te laat lyk.
    Dankie, dit was nodig dat jy hierdie storie skryf.
    Ons mis jou op ons kletsgroep.
    Jy skryf fantasties, staan nie een tree terug vir enige Goue Vrou nie.
    O, nee, daardie aaklige gebeure op Rebusfontein is diep begrawe. Ons het nie daaroor gesels op ons groep nie. Vreemd wel dat dit die afgelope week in my kop ook gemaal het.
    Ek weet beslis dat jy ‘n passievir die onderwys het. Ek het dit ook, maar het nie so lank voor ‘n klas uitgehou nie. Om geen rede nie, dalk eerder my persoonlikheid? Maar my passie vir opvoeding en om ander te help, kan niemand van my wegneem nie. Selfs al hou hulle nie altyd daarvan nie.
    Het ek gesê dat ons jou mis op ons kletsgroepie?
    Toe ek die soortgelyke foto iewersgesien het, het ek gedink aan ‘n speurverhaal. Ek het dit nie genoem nie en toe kom Aalsie met hierdie heerlike uitdaging.

    Liked by 2 people

      1. Ek weet nie of jong onderwysers deesdae opgelei word om so iets te hanteer nie. In ons dae was so iets nie eers in die gedagtewêreld van die onderwysers of hulle opleiers nie. Dis erg dat ons wêreld so verskriklik agteruit geraak het en baie keer het daardie kinders veronderstel om Christenouers te hê.

        Liked by 1 person

  3. Christa, hoe jammer is dit nie dat ń juffrou met so ń liefde vir haar vak uit die sisteem ‘geboelie’ is. Ek lees jou seerkry raak, en ek glo en hoop jy is nou weer heel.🤗

    Liked by 3 people

    1. Baie danie, Una. Skoolhoofde en kollegas kon dit nie tegkry nie, want my saak was met die kinders voor my in die klas. En toe hulle agteruitgaan, was ek nie bereid om met die verval saam te leef nie. Dit was vir hulle een massiewe grap …

      Liked by 1 person

    2. Ek is heel, dit was net nodig om dit te deel. Ek was nog altyd bekommerd as ek dit deel, gaan die vraag wees: Nou wat het jy gemaak dat kinders so in jou klas optree. Niks, my klere was swart om enige deursigtigheid te vermy, ek het nie oor seks met kinders gepraat nie en vir hulle gesê ek ken Afrikaans en Geografie, hulle moet dit met hulle LO onderwyser bespreek. Maar vir sulke openlike seksdade in jy klas het ek nie kans gesien nie. Ek was dankbaar ek het dit nie self gesien nie. Wat sou ek dan doen?

      Liked by 1 person

  4. Ek deel jou ontnugtering met die onderwys. Maar wil byvoeg dat ek ongelooflik teleurgesteld is in die meeste ouers se voorbeeld en opvoeding. En dit is nou in ‘n bose kringloop.
    Vriendin, ek voel wel jy moet nie voel jy het die onskuldiges gefaal nie. Jy was bloot besig om op die bord te verduidelik. Ek voel onderwysers word kwalik geneem vir dinge buite hulle beheer. Hulle het die swartskape van die samelewing geword.

    Liked by 3 people

    1. San, ek stem saam met jou. Die Departement van Basiese Onderwys faal onderwysers. En ouers maak dit nie maklik nie. Hulle beskou ons nie meer as vennote nie, maar as iemand wat deur hulle kinders beledig kan word.

      Like

  5. AI, Christa, wat ‘n nare ondervinding. Moet asb vitr geen oomblik dink dit was jou skuld of dat jy die kinders gefaal het nie. Dit is so hartseer om van die sedelike verval te lees. Dit is net so hartseer dat die wat die verkeerde goed sien, nie die moed het om op te staan en jou in kennis te stel nie. Hoe hartseer is dit dat kinders sulke goed in ie openbaar doen – om ander te skok?
    Ek self het ook ‘n passie vir die onderwys – maar ek sal nooit as te nimmer weer na ‘n gewone hoerskool toe gaan nie, al het so-iets nooit eers in my klas gebeur nie. Ek hoop jy het dit weggeskryf en is genees.

    Liked by 2 people

    1. Dankie Seegogga, ek dink ek het nogal. Ek het dit nog nooit met iemand bespreek nie, dit was lekker om dit hier in die openbaar los te laat. En te laat gaan. Ek voel ligter, dankie vir die ondersteuning.

      Like

  6. Pragtig geskryf Christa, kan net dink hoe diep gewortel hierdie seer was. My dogter is ń maatskaplike werker en is al jare by skole betrokke. Ek was al tot in my wese geskok oor wat by skole azngaan. Dan praat ek nie van Hoërskole net nie, maar by Laerskole.

    Liked by 1 person

    1. Trommeltjies, baie dankie. Ek voel nadat ek dit geskryf het dat ek seker kon bly. Ter wille van die enkele kinders. Maar dan weet ek my siel sou doodgaan. Ek het by die skool dikwels gevoel soos dier in hok. Wat deur een of twee kinders in elke klas met stok gedruk word tot ek reageer. Met die res wat toeskouers speel. Ek geniet wat ek nou doen – dit bied die uitdagings wat mens nodig het om te groei.

      Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.