Waterloos langs die water

Ek het al vertel van ons twee maande in Kathu. En dat een van die slegste dele daarvan was om elke tweede dag gedurende die dag waterloos te wees. Blykbaar werk Sishen myn aan die waterpype, maar die week voor Valentynsdag was ons vir vier dae sonder water.

Baie sleg as jy opstaan, huis skoonmaak en onwetend die laaste water in die pype daarvoor gebruik. Om die stort se krane oop te draai en geen druppel water te vind op ‘n dag waarop daar water moes wees nie.

Wel, die waterloosheid het my gereed gemaak vir ‘n waterlose einde Februarie langs die rivier. Ook vier dae lank, met die een verskil, daar was saans ook nie water nie. Dit terwyl ons goed uitsoek om saam te bring Kuruman toe. Omdat ons hier in ‘n ongemeubileerde huis ingetrek het.

Die rede vir die waterloosheid was die oopmaak van vyf sluise van die Vaalrivier om te verhoed dat ons later die maand oorstroom. Die Vaalrivier was reeds 105% vol. Ek het die vorige dag ‘n e-pos aan die hoof van Waterwese gestuur om die man te herinner aan sy belofte in 2011 dat die dam ordentlik bestuur sou word. Sodat dit nie weer nodig is om te veel sluise gelyk oop te maak nie.

‘n Nadeel daarvan is dat ons twee pompe in die rivier beskadig is. Die een wat water vir die grasperk voorsien sowel as die een wat water vir die huis voorsien. Manlief kon die een pomp glad nie kry nie, ons dink hy is stroomaf gevoer. Die ander een was so vol modder dat hy geblaas het. Of so iets.

Gewoonlik sou ek kla omdat ek nie water het nie. Todat manlief in die rivier klim om die probleem op te los. Dié keer was ek gewoond aan waterloos wees. Danksy Kathu. Dus het ek aanbeveel dat ons kanne vat en water by ‘n garage gaan kry, om skottelgoed te was en so aan. Ons is gewoond daaraan om drinkwater vir die rivier te koop. Daarvan het ons genoeg gehad. Maar manlief kan nie so vuil word om ‘n pomp te probeer herstel nie, daar is nie water vir skoonmaak nie.

Vreemd, nê, dat ons langs die Vaal rivier vol water woon. En tog waterloos kan wees. By ons is die Vaal so 100 m of meer breed en tot 30 m diep. Dus is daar oorvleod water. Dit kan nie gedrink word nie en ons gril ook nou om daarin te swem weens die riool wat stroomop in die Vaal gepomp word. Ons is dus soos die mense in die droogte geteisterde dele van die Kaap wat langs die see woon met soveel mooi, skoon water wat nie gedrink kan word nie, ook nie oor plante en gras gegooi kan word nie. By ons is die vuil water egter goed vir die grasperk.

Toe besluit manlief hy het genoeg gehad. Die dompelpompe in die rivier word ‘n las. Elke keer skade as die watervlak verander, of as die rivier se stroom versnel weens die oopmaak van sluise.

Ons gaan vir water boor.

Vriend word gebel en hy gee nommer van ‘n man wat water aanwys en boor.

Manlief wys waar hy water wil hê. Want sien, ons het ‘n boorgat by die rivier. Maar die gat is ver. an die huis af. En ons het aan die begin soveel probleme daarmee gehad dat ons die gat toegemaak het en dompelpompe in die rivier gesit het. Die water is egter bruinerig wanneer dit in die huis inkom, al het manlief verskeie filters by die tenk ingesit. Darem baie skoner as wat dit in die rivier is.

Die man kry op twee plekke water. Reg in die middel van die ingang van die stoor waar die boot geberg word. En neffens die stoor, ver genoeg weg dat die gat maklik gebruik kan word. So 80 m diep om ordentlik water te kry. ‘n Goeie aar volgens die man.

Dinsdag was d-dag, dit is nou die 9de Maart 2021.

Die middag bel manlief met die goeie nuus. Water is op 26 m raakgeboor, ‘n baie goeie aar. Hulle gaan tot op 60 m boor, net vir ingeval.

Ek verstaan nie die volumes so lekker nie, maar die aar kan ons tenk binne 5 ure volpomp. En dit is blykbaar baie goed. Dit is in ‘n rotsformasie, wat impliseer dat ons skoon water kan verwag, geen modder in die water nie.

Dus gaan ons die naweek rivier toe om ‘n pomp in die gat te sit om weer water in die huis te hê. Dié keer verkies ons ‘n boorgat bo dompelpompe in die rivier. Ons het meer beheer oor die toestand van die pompe, kan nie meer pompe verloor as die water van die Vaal se stroom versnel nie.

Ek sou vreeslik graag ‘n windpomp wpu opsit, lekker outyds. Wat sulke kreungeluide maak as die wind waai terwyl dit water pomp, Ek hou dit maar vir myself, want manlief en hoogtes is nie maatjies nie. ‘n Boorgatpomp werk dan beter vir my.

Miskien, een dag, maak ons die ander boorgat weer oop. Sit ons ‘n windpomp daar op. Veral as ons sou besluit om ‘n plaasdier of twee in die veld te sit. Vir nou is die veld dierloos om onnodige aandag van ons plek weg te hou.

Intussen het ek die naweek by die rivier lekker gelag oor die waterloosheid. Toe tref dit ons mos op ons eie plek waar ons vir die water verantwoordelik is. Karma of so iets, ek wou mos kla oor mense wat nie hulle werk doen nie. Daar is ander redes ook waarom mens nie water het nie. Die natuur doen ook sy ding aan pype en pompe.

Die lekkerste lag het gekom as ek die nat lappies (wet wipes) uittel om myself te was … 10, 12? Hoeveel sal genoeg wees om skoon te voel. Want … seun en skoondogter meet die vuil doeke van kleinseun aan die hoeveelheid nat lappies wat nodig is om sy boudjies weer skoon te kry. Ses is blykbaar ‘n baie, baie vuil doek …

13 gedagtes oor “Waterloos langs die water

  1. ‘Water, water everywhere, nor any drop to drink’ – from ‘The rime of the Ancient Mariner’ written by Samuel Taylor Coleride in 1797 about a sailor becalmed in the sea with no fresh water to drink. Ons was verlede week sonder water in die krane – en nou sluit die munisipaliteit die water af elke aand. Ek hoop julle boorgate vir julle water vrede sal bring.

    Liked by 1 person

    1. Dankie Anne, ek skat ons kan sonder water ook vrede vind, maar sjoe, ek mis ‘n bad met bietjie water in, al is dit vaal en bruin. En al dink ek dat dit nie skoon kan was nie, voel dit beter as met nat lappies. Vreemd, is dit nie?

      Like

    1. Seegogga, van Parys en die Vaaldriehoek se kant word skoon riool in die Vaal gepomp. Ons sal nie skoon voel nie, vril op die oomblik vir die gemors in die water. Voorheen, toe ons gekoop het, het ons heerlik in die rivier geswem.

      Like

  2. Interessant. Sjoe dis nou ‘n storie. Ek’t ook neffens die Vaalrivier grootgeword. Plaas Kromdraai buite Potchefstroom. Water is lewe. Ek hoop dat die water volhoubaar is. Skoon, natuurlike boorgatwater word al hoe skaarser.

    COVID het ons lewens omgekeer. Ag dit klink seker al alledaags. Ons is nou Kapenaars, maar die kar en motorfiets se nommerplate wys nog NW. Ons is nognie wynkenners nie en bry ook nognie. Hier koop ons ook drinkwater. Dit het al deel van ons leefstyl geword. Ons natuurlike waterbronne is goud werd.

    Groete

    Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.