Sal ek reis om ‘n referaat by ‘n kongres te lewer?

Ek wag vandag vir ‘n e-pos van Researchgate af en kry dit nie. Hulle beveel aan dat ek onder die gemorspos gaan kyk, maar dit is nie daar nie. Daar is wel twee ander e-posse wat my aandag trek.

Die een nooi my om tussen 15 en 19 Julie 2022 ‘n referaat by die Wêreldkongres vir Onderwys (World Congres of Education) te lewer en/of aan die hoof van ‘n sessie te staan (chair). Ek moet met die organiseerder in verbinding tree. Ek word blykbaar genader weens my uitstaande bydrae tot navorsing in die onderwys.

Dit laat my hart sommer vinniger pomp, want ek verkies om my artikels in Afrikaans te skryf. Hoe weet hulle van my? Hoe ken hulle my titel? Hoe het my naam by hulle opgekom? Dit is ‘n baie groot kongres, tog het my naam opgekom.

Die tweede een nooi my om tussen 25 en 27 Maart 2022 ‘n referaat by die 7de jaarlikse wêreldwye kongres van die kennisekonomie in Macau (Sjina) te lewer.

Dit is my belangstellingsveld, ek sal vir die meeste van die sessies ‘n voorstel kan indien. Studente word afgeraai om in Afrikaans navorsingsverslae te skryf omdat hulle hulle mark beperk. Hierdie twee e-posse bewys die teendeel. Navorsers maak, net soos ek, op Google staat om te vertaal om werke te lees waarin hulle belangstel.

My bloed bruis in my are. Dit is werklik ‘n groot voorreg om genooi te word. Ek voel besonder geëerd. Dit is die tweede en derde keer wat ek genooi is. Ek is in Suid-Afrika al genooi om die hoofspreker te wees – wat ‘n stresvolle ervaring. Maar nie oorsee nie. Vir die oorsese kongresse moes ek aansoek doen om te praat. ‘n Voorstel indien.

Dit is een van die stresvolste goed wat ek al ooit aan myself gedoen het. Om by ‘n konferensie of ‘n kongres ‘n referaat te lewer.

Ek het al by die Internasionale Netwerk vir Sosiale Netwerk Analise in Duitsland en Amerika referate gelewer. Hamburg en St Petersburg in Florida. Dus is ek bekend aan internasionale gehore. Ek het ook in Windhoek by ‘n kongres gepraat. In al drie gevalle het ek die kongres geïdentifiseer, moes ek ‘n voorstel instuur en kon ek eers praat as ek terugvoer gekry het of dit aanvaar is of nie.

Hierdie twee kere word en genooi om die voorstelle in te stuur. Selfs om aan die hoof van ‘n sessie te staan.

Dit is terselfdertyd een van die grootste voorregte om genooi te word om by ‘n kongres te praat en een van die stresvolste gebeurtenisse in my lewe.

Die stresvlakke styg, nie omdat ek bang is dat dit nie goed genoeg sal wees om aanvaar te word nie. Dit is die maklike deel, ek weet presies hoe om dit te skryf dat dit wel aanvaar sal word.

Die stresvlakke styg eers wanneer die brief kom dat dit wel aanvaar is, want dan is ek in vir ‘n ding.

Dit is maklik een van my grootste vrese om voor ‘n gehoor te praat.

Reeds op skool het ek baie moeite gedoen met toesprake, prente reggehad en alles. En as ek moes praat, het ek na aan trane gevoel. Die prente skoon vergeet, die toespraak afgerammel en gaan sit. Dankbaar dat dit verby is.

Nou wonder jy seker hoe ek ‘n onderwyseres kan wees?

Wel, ek is meer van ‘n fasiliteerder as onderwyseres. Ek verduidelik die werk en dan gee ek oefeninge wat daarop gebaseer is. Die kinders is dus die meeste van die periode besig om self met die nuwe kennis te werk. Dit is hoe hulle leer. Hulle vat maar min in as hulle vir juffrou moet sit en luister.

Dit is nie stresvol nie, behalwe vir die eerste paar dae tot ek die kinders se name ken. Daarna is hulle my gehoor, en weet ek hoe om elkeen by die werk betrokke te kry. Of sal ek sē het ek geweet? Want ek het my beroep, wat ek altyd as my droomberoep beskou het, verlaat weens uiters ongeskikte kinders en ouers by ‘n welvarende skool in die stad. Ek het net nie meer kans gesien vir ongeskikte kinders wat leuens vertel as hulle werk nie gedoen is nie.

Ek kon my passie eerder uitleef deur my Miniatuur Schnauzers te leer. Wat ek natuurlik ook doen. Hulle moet selfs dans.

As jy ‘n navorser is, is referate by kongresse ‘n belangrike navorsingsuitset. Ook as jy gegradeer wil word. Ek dink egter ek het my kwota gehad. Genoeg by nasionale en internasionale kongresse gepraat om te bewys dat ek dit wel kan doen.

Ek het myself die laaste keer belowe dat dit die laaste keer was wat ek by ‘n kongres gaan praat. En dit was ‘n lekker konferensie, die eerste keer wat ek in Afrikaans kon praat. Wat ‘n eer.

Dit is egter nie die spanning werd nie.

Ek is, tot dit my beurt is, so gespanne dat ek niks inneem waaroor die ander sprekers praat nie. As ek aan die hoof van ‘n sessie staan, kan ek besluit dat ek eerste moet praat. Die sessie begin. Sien ek daarvoor kans? As ek nie eerste is nie, gaan ek net mooi niks hoor wat die ander sprekers sē nie. Want my aandag is by die oomblik wat ek self daar gaan moet staan. Hoe gaan ek repliek op die sessie lewer?

My eerste referaat was by ‘n kongres in Namibië. Die saal het twee uitgange voor gehad. En al waaraan ek tydens my sessie kon dink, was dat ek kan opstaan en by die deur uitstap en niemand sou eers weet dit is ek wat nie vir my sessie opgedaag het nie.

Die oudstekindsindroom het my egter verhoed om so onverantwoordelik te wees. Dit was lekker, maar die spanning sal my laat omkap.

Gelukkig is beide Singapore en Macau, Sjina, nie op ‘n lys van plekke waarheen ek (nog) wil reis nie.

Ons was ‘n week in Singapore in Januarie 2010. Ek is seker ek het alles gesien wat daar te siene is, die stad is sommer die land ook. Piepklein. Sal seker nie so bedompig warm wees nie, dit gaan darem winter se kant toe.

Goeie beplanning van organiseerders, anders sal mens eerder gaan vakansie hou as om referate te lewer. Of eerder, as om na ander se referate te luister … Joune aframmel en daar gaat jy …

Sjina wil ek nie besoek nie. Nie voorheen nie en beslis ook nie nou nie. Selfs al is die temas vir die sessies besonder aanloklik. My veld. My belangstelling. Hulle het beslis hulle huiswerk gedoen, dit lok my.

Ek kan nie help om raak te lees dat twee lande uit die ooste kongresse organiseer nie. Weet hulle iets wat ons nog nie weet nie? Gaan ons dan maskerloos by ‘n kongres kan wees? Of gaan dit aanlyn wees? Miskien moet ek eers daaroor uitvra voor ek dit net bloot nie aanvaar nie. Sal aanlyn makliker wees?

Sien, dit is wat my vies maak oor myself. Ek begin sowaar daaraan dink …

Die liewe ego is vertroetel.

As dit aanlyn is, is die bal dalkies net speelbaar?

18 gedagtes oor “Sal ek reis om ‘n referaat by ‘n kongres te lewer?

  1. Baie geluk met die uitnodigings! Jou ego kan maar gevlei voel. Betaal hulle vir d vervoer en verblyf? Gaan jy seker in Engels praat? Jy ken mos jou storie? Maar die Covid gooi ons om. As dit nie aanlyn is nie, en jy sien dalk nie kans nie, kan jy die briewe uitdruk en ek sal dit vir jou raam- as bewys dat jy eenkeer so genooi is.

    Liked by 1 person

  2. Jinne!Wat ‘n kompliment!!Ek stel voor jy doen dit vir hulle op die groot skerm vanuit Suid-Afrika.So kry hulle die inligting eerstehands en jy sny die spanningsfaktor effektief uit.Trots op jou!

    Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.