Nevan, die blou-oog Siberiese Husky

Hierdie plasing vorm deel van die volgende bloguitdaging:

“Die wêreld verander teen ‘n vinnige spoed, ons kleinkinders word met ‘n selfoon en tablet in die hande groot. Hulle draai ‘n kraan oop, kry lopende water, sit ‘n skakelaar aan en daar is elektrisiteit. Sit ‘n TV aan en kyk ‘n storie. En dink selfs oumas is, soos Steve Hofmeyr oor spoke sing, so bietjie dom as ons nie so vinnig met die tegnologie is nie. Maar, daar is baie wat hulle nie weet nie, want ons oumas was ook kinders. En ons kan stories vertel …

‘n Bundel kinderstories uit die pen van die Goue Vroue

***

Nevan is in November 2018 oorlede, daarom gaan ek sy storie vertel. Die verhaal van ‘n woewekind wat ons lewens vir altyd aangeraak het. Ons blou-oog hondekind – vanuit sy perspektief.

***

Ek en my boeties en sussies is in 2005 gebore. Ons het nie name gekry nie, want ons teler het ons geregistreer en dan kon die mense kies watter naam hulle wou vat vir hulle nuwe kind, dan eers het ons name gekry.

Ons is opregte Siberiese Huskies, met pampiere en al, so sê ma.

Ek het die saak so bekyk terwyl mense ons kom kies het. En ek was so gelukkig elke keer as ek hoor dat ‘n naam gevat is. Want dit was nie vir my mooi name nie. Ek het so tussen die lyne gehoor dat name soos Skye en Nevan en Blue nog beskikbaar was. Vir twee daarvan het ek my oë gerol.

Blue, wie wil Blue wees? Ag nee man, dit pas nie by ‘n man nie. My oë het wel by ‘n mooi somersdag se lug gepas, maar Blue wou ek nie wees nie.

En Skye, die sky is so warm, ek het die hele tyd koelte gesoek, Nevan was die naaste aan goed genoeg vir my.

Ma wil altyd eers weet hoe roep sy ‘n naam voor sy kies: Skye? Blue? Ag nee wat Nêêê-Vannnnnn het beter gewerk. So vertel sy.

Verbeel jou dit? Ek ‘n Skye? Of Blue? Nee man, ek weet my oë is ‘n pragtige blou, maar hoe hoor mens nou daai naam as jy geroep word. Net soos ma ook wou weet.

En toe kom sy …

Ek het die donkerkopvrou wat kom kyk het na my en my boeties en sussies wantrouig aanskou. Hoë hakkies, mooi kleertjies. Genade tog, ons Huskies hou van stap. Hoe gaan sy ooit met my gaan stap as sy sulke nou rompies dra, met spykerhakkies en al?

Ek het gehoor dat sy vertel dat sy ‘n juffrou is. Wel, ek is ook nie lus om geleer te word nie. Toe gaap ek en maak of ek slaap. En sy sien nie die tekens raak nie, tel my op.

Sy streel oor my kop en daar maak ek my oë oop. Ek wou nie, maar dit was so lekker. En toe ek in haar oë kyk, het ek net geweet dat sy my ma moet word. Haar groen oë het geblink. En toe sy my neersit het ek nie geweet hoe ek vir haar moet beduie dat ek haar kind wil word nie. Sy het my naam gekies, betaal en toe kon sy my eers ‘n week later kom haal. Ek was blykbaar nog te klein om saam te gaan.

Aan die begin het ek in die huis gebly, maar dit was skaars vir ‘n dag. Want ek was ‘n woelige baba. Ek het op die banke gespring en nie geweet hoe om te keer dat my naels die banke krap nie. En ma was nie daarmee tevrede nie. Toe kry ek ‘n hok om buite te slaap. Later het pa en ma aangebou, spesiaal vir my en die Schnauzers. En vir ons ‘n huis onder die huis gebou. Baie oulik, met teëlvloere en al.

Die huis het ‘n motorhek gehad en my wanderlust het gereeld die oorhand geneem. Regtig, dit is nie ek was wil rondloop nie, ek hou van my huis. Dit is in my gene.

Dan wag ek langs die huis tot pa werk toe gaan. Of van die werk af kom en nie vir ma waarsku nie. En dan is ek woerts by die hek uit, nog voor pa kan keer. Met ‘n baie kwaai ma. pa kan mos onthou, dit is nie so moeilik nie.

Ek is dan oor die straat, reguit na die brakke wat my so koggel omdat ek nie gaan stap nie. Lag vir hulle en dan byt hulle mekaar, want hulle kan my nie byt nie. Dan hardloop en regs om die draai, af in die straat. En gaan pieps ek teen elke paal. Dit is mos my vallei hierdi, ek moet die laaste pieps pieps. Partykeer moet ek hard druk om iets uit te kry, maar merk merk ek die plek.

As ma agterna kom, maak ek of ek haar nie ken nie. Of, wag tot sy by my is, en dan spring ek met een spoed weg. Sy kon my nie vang nie. Dan stap sy boos garage toe, haal haar kar uit die garage en dan is ek in vir ‘n ding. Want sy kom my met haar wiele soek.

En slim is die vrou gewis, hoor. Maar nie so slim soos ekke nie.

Dit is warm in die estate, te warm vir ‘n Husky, dan sleep jy tong, my pote brand, ek sweet dat die sweet so spat. Maar oorgee doen ek nie. Gewoonlik wip ma haar dan, sê vir my deur die ruit sy gaan huis toe, ek kan maak net mooi wat ek wil. En dan doen ek dit, maak net wat ek wil. Daar is ‘n hele estate se honde om te tart, ek bedoel groet, ek is mos ‘n oulike kind.

Dan klim sy in haar wit BMW en ry skool toe, lekker kwaad vir my. Maar ek weet haar oë soek my, sê nou iemand ry my raak. Of gee my vir die SPCA, ek hoor mens word daar doodgemaak ook. Kastig aan die slaap, maar die wat slaap kom nie weer terug nie. Ek is ‘n Husky, ek weet wat die verskil tussen dood en lewendig is.

Ek slaap nou en ek kan nie terug gaan nie. Ek kyk net af na hulle, verlang na hulle en wens so bietjie dat ek soeter was. Of nie, dan het ek nie geweet hoe sy my soek nie.

Ma was kwaad en pa moes plan maak. Toe koop hulle ‘n bandjie vir my nek met sulke twee ysterpennetjies wat aan my nek moet raak. En plant drade in die tuin. Ek het hulle so gekyk en gedink dit is ‘n dom plan, ek kan bo-oor daardie drade hardloop. Sonder om eers te spring.

Die eerste keer het ek verstaan waarom hulle die hek oopgelos het om te kyk wat ek doen. Toe ek naby die draad kom, het dit gepiep-piep en toe ek nog wou wonder wat so maak en nog nader gaan, toe kry ek die allervreeslikste steekpyn in my nek.

Net daar waar die twee punte van die bandjie teen my nek raak.

Dit het nie gehelp om my wanderlust te stop nie.

Ma vertel vir almal as ek die dag wou uit, kon dit nie keer nie. Ek het so tjankie gegee, my boude na die een kant geswaai, so tjankie gegee en my n]boude na die ander kant geswaai en dan was ek vry.

Ek het altyd eers oor die straat gehardloop na die twee rooi manne toe. Hulle goed opgevryf tot hulle mekaar byt omdat hulle my nie kan byt nie en dan is ek daar weg,. Veral as die een lyk of hy bo-oor die muur gaan spring van boosaardigheid.

Ma was bekommerd oor my as ek uitgekom het. Want Husky’s weet blykbaar nie hoe om weer terug te kom nie. Ek moet bieg, ek weet regtig nie so mooi nie. En is dan besig om almal die hoenders in te maak in hulle erwe. Later het sy my sommer twee dae lank gelos, nie kom soek nie. Dan was my hart baie seer.

Die wagte was ook bang vir my. Dan het ek so na hulle gestap en net met my blou oë gekyk. Hulle het ma vinnig gebel, gesê waar hulle my gesien het. Een het my sowaar die een keer aan die halsband gevat en huis toe gevat.

Die een keer was ma weer kwaad omdat ek uit is. Toe sy weer sien, drukmiemand die voordeurklokkie. En wie is by die hek? ‘n Vrou wat my taxi-drywer gespeel het, sy wou weet of ek ma se kind is. Ma het ja gesê en in my oor gefluister:

“Jy beter jou gat in die erf kry, as jy vandag weer maak of jy my nie ken nie, gaan ek jou veearts toe vat.”

Ek het my yskoud geskrik, ek het geweet wat die veearts doen. Mens sou dink veeartse is oulike mense, maar ek het al gehoor hulle maak ook woewe aan die slaap. Ek het mooi ingestap, sy het geklink of sy die daad by die woord gaan voeg, sodra my taxi-drywer weg is.

Ma vertel sy het my gekoop omdat boeta uit die huis is. Hy was universiteit toe. Pukke. En toe is sy alleen. Ek sou die maatjie wees, want Huskies hou van swem. Weet nie waar sy daaraan gekom het nie, ek het swem verpes. Met alles in my.

Sy was heeltemal te bang vir my om my in te sit as sy die Schnauzers laat swem. Dan het sy vir pa gevra. Of vir boeta as hy naweke huis toe kom.

Hulle het hulle verstom aan hierdie baie groot wolf was geruisloos in die water insak en dan swem. Geen druppel wat spat nie. Nie soos die Schnauzers wat een kakefonie veroorsaak as hulle ingesit word nie. Ander kant klim ek uit en my hele houding sê jy sal nie weer waag nie. Nie gou nie.

Op ‘n dag het die vrou by Waggy Tails wat my hare kam vir ma gesê sy moet dit nie doen nie. Huskies se hare vat te lank om droog te word. Die nat moet nie so op ons velle bly nie. Daarna het sy by my gesit, ek het altyd met my groot kop op haar skoot gesit, my gevryf en gesê sy is jammer.

“Dit was darem net ‘n paar keer” sou ek wou sê. Maar ma het dit nie so lekker verstaan nie. Sy het wel gesien my oë lag. Ek was ‘n happy chappie.

Ma het vir BB gekoop toe ek so vier of vyf was. Ek kan nie presies onthou wanneer nie. En toe lag sy toe sy vir BB my tande wil wys om haar bang te maak. En sien my tande is kleiner as BB s’n. Ek het so skaam gekry, weet sy dan nie?

Huskies is minnaars nie vegters nie.

En o my genade, was BB nie die mooiste meisie wat ek nog ooit gesiens het nie.

Ma het al haar dae met my gehad toe BB reg was om kinders te kry. Ek het geneuk en gehuil soos ‘n wolf, al om die huis.

“Ek wil BB hê, ek wil BB hê.”

Dan raas ma: “Nevan, jy is te groot, BB is ‘n ou klein hondjie.”

Op die ou einde het sy plan gemaak.

Peper op arme BB se stert. Dit het jie gewerk nie. Ek het genies en steeds vir BB in ‘n hoek probeer vaskeer. Die tyd stap aan, as dit verby is, moet mens weer wag. Kom BB! Kom!!!

BB was alte gewillig, ma moes plan maak. En toe sny sy ‘n gaatjie uit ‘n papmers doek. En sit dit vir BB aan. Ek weet jie wat hulle in babadoeke sit nie, maar BB het daarna nooit weer geruik soos voor die tyd nie.

Later het ma besluit dat ek veearts toe moet gaan want ek kan nie my lus beheer nie. Toe ek weer sien, was daar minder van my as jy nou verstaan wat ek bedoel. En dit was baie seer, ek wou net lek om die seer weg te lek. Na ‘n paar dae was ek beter. Ma het gesê dat my lus nie meer uithang nie, ek weet nie wat sy daarmee bedoel nie. Weet jy?

Ry 1: Ek eet alles wat ma eet, appels ook. En die dag het ek baie koud gekry. Ma het toe een van haar duvets gaan haal om my warm te maak. Ry 2: Ma wou nooit naby my kom as ek eet nie, sy sou niks by my vat soos sy met die Schnauzers maak nie en kyk net my oë.

Ma het min foto’s van my want ek het altyd weggekyk as sy foto’s wil neem. Nou is ek spyt.

Ek is net een keer saam rivier toe, daarna het ma vir my babawagters gekry om te sorg dat ek kos en water het. Want sien, daardie naweek was ek soos regtig baie stout. Volgens hulle natuurlik.

Hulle het bokke op die plaas gehad. Sulke regtige windgat boerebokke. Steve was rammetjie uitnek, het my gepes. Hy was groot hoor. En het baie kinders gehad. Toe pa hom gekoop het, het hy hom Steve genoem – gehoop ek sal baie kinders by baie vrouens kry. Ma het gesê sy dink nie dit is ‘n grap nie, Steve sorg vir al sy kinders. Anders as Naas Botha, wat sy seun nie wou leer ken nie. En ni4mand spot met Naas nie!

Ewenwel, die bokke het so in ‘n ry om die draai gehardloop gekom. Pa het hulle gejaag. Ma het hy die kombuisvenster gestaan, so het ek gesien. En ek wou haar beïndruk met my ingebore vaardighede, sy het altyd gewonder hoe werk dit. Toe hardloop en langs die bokke en so vinnig soos blits pluk ek een aan die nek grond toe. Soos ‘n leeu sou maak, het ek ma later hoor sê.

Pa was dadelik by om te red. En te raas. Die man het nie verstaan dat ek nie wou doodbyt nie, ek het net gehelp om die bokke plat te trek. Hulle het vir hom weggehardloop, dit stoute goed. Hy het nie verstaan nie. Net geraas.

Ma was dadelik by. Ek weet nie hoe sy so vinnig om die hoek gekom het nie, maar sy was langs my. Gedink pa gaan my doodskiet. Soos hy al so baie gedreig het. Asof hy sou, het sy dan getroos. En ek het haar geglo, maar die dag was ons nie in die stad nie. Ons was by die rivier.

Dié aand op die stoep sê pa vir ma:

“Het jy gesien hoe hy die boj plattrek? Ek was totaal geheel en al beïndruk.”

Toe gesels pa en ma oor spiergeheue. Dat dit dalk in my ingebou is, want waar sou ek nou ooit kon leer om so te jag? Daarna het ma ‘n houtoog gegooi wanneer ek met BB, Seth, Shilo, Sankie, Sobek en die tes van haar Miniatuur Schnauzers gespeel het. Sy het geweet hoe maklik ek hulle sou kon plattrek, as ek sou wou.

Daardie naweek het egter amper my lewe gekos. Toe ma weer sien, wil ek nie happie biltong vat nie. En dit is een ding wat ek nooit, maar mooit gelos het nie.

Ek het siek gevoel, die veearts het gesê ek moet Doxycycline kry. Ek het bosluiskoors gehad. Het ek gesê pa het nie van my gehou nie? Vir hom was ek net rede dat hy raas kry. En dan raas hy sommer met my. Bose kringloop. Dit is wat dit is.

Ek wou net help, van kleins af.

Die een dag het hy boompies geplant, maar dit het nie reg gelyk nie. Toe hy die volgende oggend van bo af kyk, het hy met ma geraas.

“Kyk wat het daardie brak van jou gemaak!”

Ek wou nog sê ek is ‘n wolf nie ‘n brak nie, toe sien ek ma se gesig. Sy was kwaad. Ek het die boompies in die nag uitgehaal en onderste bo in die gat geplant. Het vir my reg gelyk. Waarom was sy so kwaad?

Ewenwel, waarom ek dit nou vertel, is omdat pa saam met my siek geword het. So dag of twee later. Gekla oor vreeslike hoofpyne en toe ma hom dokter toe vat, kry hy iets wat soos Doximan klink. Ma het gelag, gesê dit gaan werk. Doxidog – doximan – medisyne vir bosluiskoors.

My gunsteling tydverdryf was om te kyk hoe die duiwe my kos eet. Hulle het gepalakelala, Nevan kan ons nie vang nie. En die kos gevat. As hulle mooi vet was, het ek opgespring en hulle uit die lug gehaal.

Dan was ma kwaad vir my. Sy koop mos my kos. Ek dink ek het ekstra vitamienes of so iets nodig gehad. Ma was baie ontevrede as sy die vere en oorblyfsels van die arme duif moes optel.

Arme duif, watwou? Ek laat my nie deur ‘n snuister terg nie, moes net egduldig wees tot daar genoeg vleisies was om die wraak soet te maak.

Op een van my omswerwinge het ma my twee dae gelos om self huis toe te gaan. Ek was honger, niemand het vir my kos gegee nie. Toe kry ek ‘n blikkie en druk my tong daarin. Dit eas ‘n baie groot fout, die blik het my tong in die lengte middeldeur gesny. Die enigste een wat sou kin help, was ma. Toe sy by die hek iitry om my weereens te gaan soek, het ek oorkant die straat gelê en myself vreeslik baie jammer gekry. Daar was bloed oral oor my pragtige wit pels.

Ma het vergeet dat sy kwaad was, uitgespring en my oor die straat geroep toe dit veilg was. En toe vat sy my veearts toe. Daar was niks wat hy kon doen nie, die tong sou self herstel. Ek was dus vir ‘n rukkie geterg met Nevan die slang, oor my gesplete tong. Maar eers toe ma sien my tong kom weer reg. Daar was so happie uit die een punt van my tong. So sou ma altyd wees hierdie Husky is haar Husky as sy my moes uitken.

Die wanderlust het my verlaat die dag toe ma my met die rooi Pajero kom soek het. Die tuinman het my laat uitkom en hy is saam met ma in die kar om my te soek. Dit het liggues gereën. Ek het elke keer op ‘n hoek of by ‘n huis getsaan en kyk hoe hulle naderkom. Stilgestaan as sy stop. En as Searge uit die kar is, het ek weer weggehol. Toe ma my die hoeveelste keer kry, het ek aan haar kant van die kar gestaan. Sy het vir Searge gesê hy moet agter die kar wag.

Toe preek sy vir my.

“Of jy klim vandag in hierdie kar, self, of ek gaan laai jou by die DBV af. Ek is moeg gesukkel, jy wil nie by my wees nie. As ek ry, was jy my kind. Dan is ek klaar met jou.”

Toe stap ek om die kar en klim voor by haar in. Daarna het ek nie weer by die hek uitgegaan nie. ‘n Man weet wanneer sy laaste kaarte gespeel is.

Ek was dertien jaar oud, redelik oud vir ‘n Husky, toe die ding my tref. Ek kon nie meer lekker loop nie, het dag en nag gehuil van die pyn.

Ma en pa is veearste toe, die nuus was sleg. My rugwerwels het inmekaar vasgegroei, daar is nie veel wat gedoen kan word nie. Ek was nog onder verdowing, het salig in my droomwêreld sonder pyn gelê. Toe bel die veearts ma, sê vir haar hy kan medisyne gee, maar die pyn is te groot vir hierdie kind van haar.

Dit is beter as ek aan die slaap gemaak word.

Woorde wat ma gevrees het.

Ma was hartseer, dokter het gevra of my my wakker moet maak en dan aan die slaap maak. Want dan kon sy groet. Ma was te hartseer om te kom groet, sy het my jammer gekry. Om wakker gemaak te word en dan aan die slaap. En sy kon dat nie oor haar hart kry om te kon staan en kyk hoe die dokter my aan die slaap maak nie. Dit kan sy nie doen nie. Nie staan en kyk hoe die lewe uit my gaan nie.

En ek het verstaan. Ek was deurmekaar, die hondehemel het vir my gewink. ‘n Plek waar ek pynloos kon wees. Die dokter het gespuit en ek is saggies daar weg.

Ek het oor die huis gaan draai, gekyk hoe ma op haar bed lê en huil. En toe gaan drukkie ek haar. Sy het geweet dit is ek wat kom groet. Saam met ons aan die baie lekker dele van ons lewe saam gedink. Toe sy beter voel, het ek verder gegaan.

Ek het geweet dat sy my altyd lief sal hê. Sy het my altyd kom soek as ek weghol, by my gesit en my hare uitgekam al het haar neus daarvan gejeuk. Sakke vol van my wolle. En party keer het sy geskrik as ek grom as sy hare uittrek wat nog vas is. Aan my stert het sy nooit geraak nie, niemand raak aan my stert nie. Nou nog nie, dit is my vlagpaal, my vlag, my trots. Myne.

Ek het altyd by die hek gewag as hulle uit is. Of as hulle mense kry. Dan het ek so lag-gesels saam met die gaste. Mos gesê ek is ‘n minnaar nie ‘n vegter nie. Sommige mense was egter altyd vir my bang. My blou oë het hulle ontsenu. Goed so ook, hulle wou ek nie naby my ma toelaat nie.

Tot wedersiens.

***

Tot weersiens Nevan! Ek mis jou, jou vriendelike lag wanneer jy my sien, die min kere wat jy soos ‘n wolf gehuil het.

Onthou jy hoe het ons jou soos ‘n wolf laat huil? Pa het dit ingesit, dan begin BB huil omdat sy net nie meer kon uithou nie en dan het jy ingespring en ons laat hoor hoe ‘n regte-egte wolf moet huil. Ek mis daardie huil saam met ons so baie. Ons huis is nou sommer stil, ons laat BB nie meer soos ‘n wolf huil nie, dit maak die verlange ondraaglik. Maar ag ma, dit was te oulik as sy die nekkie so rek en die mondjie so rond maak om saam te huil. Tot jy inval. Dan was sy stil om na jou te luister. Julle was ‘n pakt!

***

Die ander verhale kan hier gelees word: https://fresh.inlinkz.com/party/d9a4e9bae6aa4e179beee4acc3690247

10 gedagtes oor “Nevan, die blou-oog Siberiese Husky

    1. Ag vertel toe, Keeshond? Is dit daardie met die dik pelse? Nevan het na een in die estate toe gehardloop. Toe sê ek vir seun die hond is nie bang vir Nevan nie, en moet ek hoor dat die betrokke soort hond gevaarlik is omdat die pels so dik is dat daar nie raakgebyt kan word nie. Hy sal vir Nevan vir poeding opeet. Daarna het ek nooit weer met Nevan verby hulle huis gestap nie, hulle hek het gereeld oopgestaan. Met die hond by die hek.

      Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.