Ek is BB, die Miniatuur Schnauzertjie

Hierdie plasing vorm deel van die volgende bloguitdaging:

“Die wêreld verander teen ‘n vinnige spoed, ons kleinkinders word met ‘n selfoon en tablet in die hande groot. Hulle draai ‘n kraan oop, kry lopende water, sit ‘n skakelaar aan en daar is elektrisiteit. Sit ‘n TV aan en kyk ‘n storie. En dink selfs oumas is, soos Steve Hofmeyr oor spoke sing, so bietjie dom as ons nie so vinnig met die tegnologie is nie. Maar, daar is baie wat hulle nie weet nie, want ons oumas was ook kinders. En ons kan stories vertel …

‘n Bundel kinderstories uit die pen van die Goue Vroue.

***

My naam is BB, en ek is ‘n geregistreerde sout-en-peper Miniatuur Schnauzer, dus het ek ‘n wit baard en ooghare, wit aan my voete en ‘n grys lyfie. Volgens my mensma (ma) se pa is ek ‘n opregte brak. Almal wat my sien sê ek ‘n pragtige hondekind, my ma se mooiste woewe kind.

Al moet ek dit self sê. Sy wil nie, sy vertel dat sy nie tussen haar kinders kies nie. Almal is ewe pragtig.

Ek is deel van ‘n baie groot gesin. Ek het ‘n ma en ‘n pa en hulle het twee kinders wat al getroud is. My mensboet het ‘n vrou en ma se een kleinseun. En my menssus het ‘n man en ma se drie ander kleinseuns.

Dan het ek self twee seuns, Shilo en Sobek, wat by my en ma en pa bly. En Seth, my ander kind bly by boet. Ek het baie ander kinders gehad, maar ma het gesê ons kan onmoontlik na almal kyk. Toe kry hulle hulle eie ma’s en pa’s.

En dit is ook maar goed, want die kinders van my hou my baie besig. Ons almal is lief vir ma en pa.

Ry 1. Fotosessie na ‘n gekammery, die kinders sit selde stil dat mens ‘n foto neem. Ek sit voor links en kyk vir die kamera. Ai tog, nou weet ek waar menssussa se seuns hulle houding oor foto nemery vandaan kry en lekker slapie saam met Shilo. Ry 2 fotosessies. Ry 3: Hier was ek dikbek vir mamma. Sy het baie gelag toe sy my so in die hoekie kry, want sy het nooit haar kinders in die hoekie laat staan nie. En toe doen ek dit self … En Shilo, dit is mos hoe ‘n man se baard moet lyk.

O ja, ek het vertel dat ma nie wil sê dat ek die mooiste is nie. Maar weet jy wat? Sy wil dit net nie voor die ander wil sê nie. Sy sê wel ek is haar mooiste meisiekind. Al weet sy ek weet ek is die enigste roos tussen die twee dorings. Of is dit eerder ‘n lelie?

Volgens ma het sy ‘n maatjie nodig gehad wat saam met haar in die groot huis kon bly omdat pa lang ure gewerk het. En toe soek sy my. Want, ons ras se voordele is legioen: hare so na aan mens s’n dat mense selde daarvoor allergies is, ons hare val nie uit nie, ons het sagte geaardhede en ons is werklik ‘n mens se beste vriend.

So sê ma, want ek volg haar oral waar sy gaan. Nie meer so baie soos toe ek klein was nie, daarvoor het ek my twee seuns Shilo en Sobek aangestel. Ek lê nou bo in die mandjie, want ek het mos al geleer. Sy kan nie ver gaan as sy na haar kamer of badkamer toe gaan nie. Maar, as sy die trappies afgaan, dan hol ek saam.

Ek is mal oor die buitelug.

Sy dink sy speel sokker saam met my. Almal dink Web Ellis of so iemand het rugby ontdek. Wel, hy het by ons geleer om ‘n bal nie rond te skop nie, maar eerder op te tel en weg te hol. As sy die bal vir my so skop-skop, keer ek die bal so twee keer met my voorpote, net om te keer dat dit nie te ver gaan nie. Dan wag ek vir haar. Sy is regtig baie stadig hoor. En as sy by my kom, byt ek dit vas ek hardloop vir haar weg.

Dan sit ek dit neer en wag dat sy dit weer moet kom vat. Ek maak of ek na haar hand gaan byt, maar sy weet ek sal haar nooit byt nie, Dan tel sy die bal op, gooi dit weer en so speel ek en sy rugby as sy dink ons gaan sokker speel.

Dit is pure pret.

Ek het al so vir my ma se onkunde oor woewe gelag.

Sy het vir Nevan, die Siberiese Husky gehad toe sy my gaan haal het. Ook ‘n ontwerpershond. Papiere en al. Daarmee bedoel ek dat ons twee rasse baie deftig is …

Maar hy kon nie in die huis bly nie.

Ry 1: Ma en my twee kinders, Shilo en Sobek, hulle het haar tydens die belangrike fotosessie amper in die visdam laat beland, ek het so gelag en Nevan, my Husky boetie. Ry 2: Ek lê, dit is my plek en Shilo en Seth sit agter my, en by boeta se hokkie. Ry 3: my leeensreddingsbaadjie (ek is nie te gelukkig nie) en sonbrilletjies BB by boeta se hokkie in Krugersdorp.

Ek was so nuuskierig om die man met die mooi blou oë te ontmoet, maar sy het my die eerste baie lang ruk in die huis gehou. Sy was so bang dat hy my vir soetkoek sal opeet. En ons kon net deur die glasdeure vir mekaar staar.

Hy was ‘n romantikus, nie ‘n vegter nie. En hy het my bewonder, sou my nooit byt nie.

My geregistreerde naam is Illonka van Arendsig, want my ma is ‘n teler, sy het my na haar kennelnaam oorgedra. Hmmm, iets wat jy nie kon raai nie, nê! Want sy sit mos heeldag agter haar rekenaar.

Ma is ‘n geregistreerde teler van Miniatuur Schnauzers. Want sien, sy het planne gehad, my babas moes ook geregistreer word.

Toe boeta my die eerste keer sien, het ek sy hart gesteel. En daar pas hy my naam aan na Bederfde Brak. Ma wou niks weet nie, toe word dit afgekort na BB. Baie min mense weet egter waarvoor BB staan.

Ons geheim. Al wat ek weet is dat dit my baie, baie goed pas.

Ma het meer as 300 km gery om my te gaan koop. Vir niemand vertel sy ry nie, al die pad na Piet Retief in Mpumalanga.

Ek was die grootste baba van my werpsel. En die laaste om te gaan. Ek het haar gesien, wou hare wees, maar ek het sommer net gedink sy gaan my nie vat nie. Ek het gehoor sy wou een van die nuwe babas vat. ‘n Kleine ou dingetjie.

Ek is egter baie, baie slim. Ek het haar so in haar oë gekyk, en een van daardie kyke gegee. Niemand gaan my vat nie, wat gaan van my word? En toe kry sy my net daar lief, die ander babas het nog rondgehol, toe is ek al in haar arms.

Haar poplappie. Ek is aan die begin met die mooiste bandjies bederf, die ene kristalletjies en pinek. Altyd pienk. Nie meer nie, Sobek sal daarvan kan vertel.

En so is ons twee terug Johannesburg toe. Ek het al die pad op haar skoot gelê, dit is steeds my gunstelingplek as ons ry. En sommer gou was ek die dame van die huis. Volgens haar die baas van die plaas.

Daar is baie stories oor my en ma wat ek kan vertel.

Die dag toe ek Nevan uiteindelik kon ontmoet, het hy aan my geruik. Sy het my verskrik opgetel, maar ek was nie bang nie. Het sommer vir Nevan geknor, dit is my ma hierdie. Bly weg.

Sy het Nevan se lip opgetrek en met my geraas.

“Kyk sy groot tande, BB!” het sy gewys.

“Nevan is ‘n wolf, hy sal jou vir soetkoek opeet en nog kos wil hê. Jy kan nie vir hom knor nie.”

Ek was nie beïndruk nie. Nevan het klein tandjies gehad. Waarmee eet die arme ding, het ek gewonder. en hoe kou hy bene?

Haar net so aangekyk van jy weet nie waarvan jy praat nie.

Toe trek sy my lip oop om vir my te vertel dat ek pieperige tandjies het. En staar verstom na die massiewe slagtande in my mond. Nevan het ook geskrik. Ek ken nie veel van ons geskiedenis nie, maar ma vertel dat Miniatuur Schnauzers vanaf Dobermans geteel is.

Regtig, hoor.

Ek kan dit jie glo nie, maar ma sal nie jok nie. Mens sal dit nie dink met ons baarde nie, maar as die baard af is, het ons sulke lang snoete soos Dobermans. Vandaar die naam – Schnauzers – snoete of neuse in Duits.

Die gedagte was om ‘n kleiner hondjie te teel, een wat muise in Duitsland kan jag. Ek verstaan natuurlik glad nie die logika daaragter nie. Want, Miniatuur Schnauzers het baarde en lang hare wat geskeer moet word.

As ek op die plaas agter iets die gras in is, lyk ek soos ‘n spektakel.

Die dorings klou in my baard en snor en ooghare vas. Dit koek in my hare in en dan moet ma dit uitkry. En ek sit nie stil nie, ek haat dit. Soms moet sy my kaal laat skeer as ons te lank op die plaas was. Ek kan nie help nie, daar is goggas en goeters in die gras. Ek moet gaan kyk, ek is ‘n nuuskierige dame.

Ek is baie, baie kleinserig, daarom vat ek die kaalbasloop straf bo stilsit vir dorings uithaal. Soos op een van die foto’s gesien kan word.

Ry 1: Kyk hie oulik het mamma die babas gepak, sy het bie gehelp. Mamma en ‘n jonge Seth en Sobek. Ry 2: So het ek gelyk toe ons by die see was. My hare het so gekoek, dit moes kaal geskeer word. In die mandjie waarin hulle my gesmokkel het. Ry 3: Speel-speel in mamma se handsaken ek is op my gelukkigste bo-op haar skoot.

Ek sit nie sommer stil dat sy dit uithaal nie. Maar, ek sit lank genoeg stil dat ek nie soveel raas soos Shilo kry nie.

Die meeste van die tyd vat sy my vir ‘n sny en hare kam. Sy vertel dat my hare se gedoenery meer kos as wat sy bereid is om vir haar eie hare te betaal. En dit is ‘n tweemaandelikse ding. Ek is baie, baie in my noppies as ek van Waggy Tails af kom.

Partykeer reël sy dat hulle ons klompie kom oplaai. Dan gesels ons en die man wat ons kom oplaai land en sand. Skinder ook so bietjie. Maar dit is sy skuld, want hy begin met:

” … en wat kan julle my vertel?” as hy ons oplaai. Wie sou nie vertel nie?

Ek is ‘n waaghalsige meisie.

Ek ry saam met ma op haar quad. En moenie haar laag vat nie, hoor. Sy lyk maar prim en propper, op die quad geniet sy dit om te jaag. Dan moet ek my staan ken, want ek wil nie sit nie. Ek bekyk elke boom en grassie en beweging. En as ek ‘n meerkat sien, mik ek om kastig af te spring. Sy keer dan met een hand, gryp sommer my agterpoot vas. Raas met my. En dan weet ek sy gee sommer baie om vir my.

So paar jaar gelede het sy ‘n bevlieging gekry. Sy wil ‘n dam met koi-vissies hê. Ek kon dit net nie help nie, sy het nie vir my vertel dat sy goed in my drinkwater gooi nie.

Toe ek nog so staan om te drink, sien ek net ‘n oranje ding in die water. My drinkwater en hol ek om en om die dammetjie om hom daar uit te pluk. Ma was tereg bang dat ek die vissies gaan vang. Toe bederf sy ons pret en sit ‘n heining om.

Ek is absoluut gek daaroor om akkedisse in die tuin te jaag. Het al so paar keer met die kriewelende stertjie by my voete gestaan. Akkedis het weer weggekom. Ma raas dan, ons tuin is seker die enigste tuin in die stad met stompstert akkedisse.

“Hoe lyk dit vir jou, BB?”

En dan kyk ek liewers af en weg, dat sy nie sien dat ek baie in my noppies is nie. Hulle het nie heeltemal weggekom nie.

Ek het al twee keer babas gehad. Sy wou my net een keer laat dek, om ‘n maatjie vir myself te maak (haar woorde). Want die maatjie moes my oulike karaktertrekke oorerf. Ook haar woorde. Sien, ek sê mos, sy hou baie van my.

Om dit reg te kry, moes sy my by ‘n ander teler aflaai. Boeta terg haar dat sy my pimp is. Ek weet nie wat dit is nie, maar sy moes die regte kandidaat soek, onderhandel vir die prys om die ding gedoen te kry, my een week by die ander teler los. En sy kan goed kies, hoor. Ons was dik pêlle.

En dan moes ma hartseer wag dat die week omkom. Want sy was bekommerd, ek moes buite in ‘n hok saam met die mannetjie leef. Ek is toe nie so ‘n ou poplappie wat net van huislewe geweet het nie. Ek en die eerste klompie babas se pa het lekker gespeel so tussen die werkery deur. As jy nou verstaan wat ek bedoel?

Ek het saam met ma en pa in die bed geslaap. Vandat ek kan onthou. By hulle voete. Winter en somer. Onder die komberse en lakens. En so het ek geslaap tot nadat ek die tweede keer babas gekry het. Na die eerste keer het sy Seth en Sobek gehou. Seth, ‘n swart en silwer Schnauzer en Sobek, ‘n sout en peper Schnauzer, soos sy mamma. Toe Shilo en Santjie bykom en sy vyf van ons in die bed wou sit, het pa sy speelgoed uit die pram gegooi.

So sê ma.

Toe moet ons in mandjies slaap. Maar as pa nie daar is nie, is ek altyd by haar in die bed. Snoesig teen haar rug.

Ma het, toe daar vyf van ons was, gekla die haarsnyery kos ‘n fortuin. Amper R1000. Daarom het sy haarself geleer om ons hare te sny. Dit was egter nie ‘n lekker werk nie. Daar was hare in haar neus, oë en ek het haar die lelikste kyke gegee terwyl sy sny. Daarna het sy gesê dit is baie makliker om vir die kinders se haarsny-uitstappies te betaal. Tyd is geld, volgens ma.

Ek haat bad met ‘n passie! As sy eers so suutjies roep waar is ons as sy in die badkamer ingaan, sluip ek stadig en skoorsoekend – haar woorde – nader. Maar as sy die sjampoe uithaal, is dit kisboude vir my.

Hulle voel sommer lam. Dan draai ek om en sluip terug na my mandjie toe. Lē net buite haar bereik op die bopunt van die trap. En as sy naderkom, dan vat ek die pad.

Ry 1: Ek is darem vreeslik trots op my babas, hier soentjie ek vir Silo en ek kyk van doer agter hoe mamma foto’s neem. Ry 2: Ons nuwe bed het Schnauzers op en ek moes ‘n panty dra toe ek lê dat Sobek my wond lek waar die nierstene uitgesny is. Ry 3: So lyk die kinders as ma hulle wil bad, nie happy chappies nie. En my gunstelinh posisie – op my rug in die son.

Ek weet dit help nie, sy kom kry my en bad my dan ook sommer heel eerste. Soms kry ek haar terug, dan skud ek my hare woes en vinnig voor sy kan keer. En moet sy die spieëls ook skoonmaak. Sy lag egter lekker, want dan is sy ook onverwags nat. Dan noem sy my ‘n karnallie.

Ek haat swem. Maar ma is ‘n juffrou en juffrouens leer hulle kinders. Ook om te swem, al kan sy nie self te waffers swem nie. Die eerste keer het sy met my in die swembad geklim. En moes sy mooi keer, want my naels het haar naeltjie en maag en skouers rooi gekrap. Ek wou net uit. Sy wou nie bes gee nie, ek moes leer om van die diep kant af na die veiligheid van die trappies te swem.

Voor ek kon keer, los sy my en sê: “Swem, BB, na die trappies se kant toe.”

Ek het die water so gekyk en gedog sy is nou heeltemal kens. Oral was daar een trappie bo die water, die randsteen. En dit is waar ek sou uitklim. Ek het omgevlieg en na die rand geswem. Die een naaste aan my.

Geskop en gevoel hoe ek begin sink. Ek het water getrap, daar was geen ander trappies nie. Toe vat sy my bietjie nader aan die onsigbare trappies, sê ek moet swem. Ek het gesien die kant is nader en soontoe geswem, maar sy het my gekeer en gelei – ek moes net reguit vorentoe swem.

Soos in ‘n gala.

Dit het ek darem verstaan en toe ek weer voel, was daar trappies onder my voete. Waarom het sy nie van die begin af gesê die trappies is by die ronde kant nie? Reguit vorentoe nie? Ek verstaan rond. Soos ‘n bal. En reguit.

Nie onsigbaar nie.

Ek het hooghartig uitgeklim, vir Nevan geknor en hy het gelag.

Sulke lang wolwegeluide. Sy sou nie waag om hom te probeer intel nie. Dus moes ek maar leer swem tot boeta van die universiteit af kom om Nevan in te tel. Die ma van my is darem nie altyd ‘n sissie nie.

Sy sê sy weet Nevan is ‘n wolf. En sy gaan nie met hom sukkel nie. So het Nevan te vertelle gehad. Nevan het vreeslik vriendelik geraak wanneer ek gereed is om babas te kry. Dan het hy sulke lang huile al om die huis gehuil. Dit het ma lam gemaak.

Sy het eers vir hom vertel hy is te groot, maar hy het nie daarvoor geval nie. Toe maak sy maar ‘n plan.

En raai wat was dit?

Ek moes Pampers doeke dra. Sus het toe ook babas gehad. Gesê ek is bedorwe brak, dit is baie duur doeke ek moet nie so dikbek wees nie. Sien, BB?

Ry dwars: Ek is mal daaroor om saam te ry , mamma spog met hoe ek lê, in absolute vertroue dat sy my nie sal laat val nie. En ek het mos gesê, ek was al by die see. Kolom af: Mamma het sulke foto’s van al my babas geneem, te cute vir woorde. En groot foto: Wel, ek was ‘n baie goeie mamma, hier lê ek dat almal ‘n drinkbeurt kry.

As ma en pa begin tasse pak, staan ek en die kinders by die voordeur en wag hou. Want ons weet ons gaan dan plaas toe. Soms is ons verkeerd, dan moet ons bly dat hulle kan gaan koskoop. Toe ek klein was, het ek in ‘n handsak saam met haar dorp toe gegaan.

Regtig!

‘n Pienke wat boeta en sy vrou vir haar gekoop het. Toe was hulle nog net duifies, nou het hulle al ‘n kind.

As ons plaas toe gaan, tel pa ons elkeen versigtig op. En sit ons in die mandjie wat spesiaal vir sy bakkie gemaak is. Ons weet al, ken die ritueel. As ons by die estate se hek uit is, is ons drie lankal in droomland. Eers wanneer ons by die grondpad afdraai, so drie ure later, raak ons weer wakker. Ruik ons die veld, die bome, die rivier. En weet ons dat ons weer ‘n naweek gaan kuier.

Die een keer het ons baie langer gery, so sewe ure lank. Die kar het ons langs die pad gelos. Toe het boeta vir ma kom oplaai en gevat om ‘n kar te huur om huis toe te kon gaan. En ons het saam met pa agterop die groot trok gery. Dit was baie pret, want daardie dag was daar vier van ons. Katryn, sussa se Schnauzer was ook saam met ons. Ons het die hele tyd by die venster uitgekyk. Pa is ook baie lief vir ons, ma was vertsom dat hy agter op die trok gery het.

Tans kuier ek en my twee kinders by Seth, by boeta. Ons het 18 maande daar gekuier terwyl ma en pa in Kazakhstan gaan bly het.

Ek het geen idee waar dit is nie. Sy het net verduidelik dat ons drie dae in die onderkant van ‘n vliegtuig sou moes bly om daar te kom, En dat dié wat daar land, vol van hulle eie poef en gemors is. Ag siesa man. Ons kuier lekker by boeta.

Ons het baie verlang, maar sy het kom kuier.

En Seth is ‘n goeie gasheer, hy deel sy bed met ons. En daar is ekstra beddens ook.

Boeta se vrou het ons geleer om vir ons kos te wag. Tot sy ons roep. Ma lag daaroor. Sien sê sy, dit is nooit te laat om ‘n ou hond nuwe truuks te leer nie.

Watwou! Oud? Hond? Ekke?

Ag nee wat, ons ras word 18 jaar en ouer. En ons word mooi opgepas. Kry gereeld ons inentings en medisyne. Ons gaan nog baie lank lewe.

Ek het laas jaar ‘n operasie gehad. Massiewe nierstene moes uit. Man, laat ek julle vertel. Dit was seer. Maar ek is nie sissie nie. Het wel raas gekry omdat Sobek die wond oopgelek het. Toe maak sy plan, maak vir my ‘n panty. Ek was vies, toe piepie ek dit nat. Toe maak sy twee.

“Een in die was en een aan die bas,” het sy my geterg.

Die wond het mooi toegegroei.

Ma en pa het ons alweer agter gelaat, hulle het drie maande in Kathu gaan bly. Hulle bly in ‘n plek waar hulle ons nie mag hê nie. Dit voel vreeslik lank, maar ek speel met Splinter die kat. Sit voor die deur en keer dat hy uitkom. Boeta dink dit is baie oulik van my. En ek hou baie van hulle babatjie.

En nou het ma laat weet, sy kom ons haal.

Nog net ‘n paar slapies, ek dink dit is minder as 14. Dan kom haal ma ons om te bly waar sy gaan bly. Dalkies in Kuruman, ek wonder waar is dit?

So ver soos Kazakhstan?

Nee, ek dink nie so nie, hulle sê ons gaan sewe tot agt ure in die kar wees, dit is darem nie ‘n vliegtuig nie, dus kan dit nie te ver wees nie. Buitendien, pa ry nie vinnig nie. Nie meer nie, vertel ma.

Ek sien gereeld vliegtuie in die lug. En nee wat, pa sal nooit met sy Amarok so vinnig kan ry nie. Dit moes dus baie nader wees. In Suid-Afrika, want ma sê sy gaan nie sommer weer oor grense nie. Kathu is klaar te ver na haar smaak.

Dalk, as ek baie mooi vra, gaan ons nie so ver weg nie.

Dalk kom hulle uiteindelik huis toe?

Dit was so lekker toe hulle terugkom van Kazakhstan af en ons weer in die groot huis in die stad gebly het.

Pa se hart trek rivierhuis toe. Ma sê dit is te gevaarlik vir twee ou mense.

Watwou!

Hulle twee is nie oud nie … en ons drie sal mos wag hou!

Ons is ook nie oud nie …

Ek sien uit na die avontuur.

Dit is mos daar waar ek ‘n lewensreddingsbaadjie moet aantrek as ek saam op die boot wil wees. Ai tog, wat ek nie alles sal doen om saam te gaan nie.

Hoop nie die Vaalrivier gaan vanjaar weer in die huis kuier nie. Ek was nog ‘n ou babatjie toe dit laas gebeur het. 2010 en 2011.

Maar ek onthou. Daardie water is ‘n vuil kleur, nie so mooi blou soos die see nie. En ek kon bo-oor die water die ander kant van die rivier sien … Maar ma moes hard werk om alles weer skoon te kry.

Ek was al by die see. Kaapse see. In ‘n mandjie ingesmokkel en so het ek die hele tyd saam by die see gekuier. Sonder dat enige iemand weet. Want ek wat BB is, weet wanneer ek in die handsak moet lê en maak of ek niks sien en hoor nie. Moet vergeet dat ek ‘n stemmetjie het.

Dan groet ek vir eers, dalkies vertel ek eendag meer …

Dit is nou eers die ander se beurt, ek moet hulle gaan afrig.

***

Kliek op hierdie skakel om die ander stories te lees … https://fresh.inlinkz.com/party/d9a4e9bae6aa4e179beee4acc3690247

5 gedagtes oor “Ek is BB, die Miniatuur Schnauzertjie

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.