Gepubliseer in Joernaal,Reisjoernaal

Afwagting – artikel in Sarie

Verlede jaar, nog voordat die pandemie my in ons woonstel in Öskemen, Kazakhstan, ingeperk het, het ek Sarie gekontak omdat hulle onderhoude wou voer met Suid-Afrikaners wat in ander lande woon. Hulle mag my maar kontak.

En terugvoer gekry, hulle wou graag onderhoud met my voer. Die vrae is gestuur en ek moes navorsing oor Kazakhstan doen om dit te kon beantwoord. Ek was verstom, het gedink ek weet al alles van Kazakhstan, ons het toe al reeds ‘n jaar daar gewoon.

Die artikel was – as ek reg onthou – geoormerk vir die Mei 2020 uitgawe – maar toe word die “e-pos uit” ‘n ander land artikels vervang met Suid-Afrikaners se stryd teen die pandemie.

En so het ek al amper daarvan vergeet, was dit nie vir blogvriendinne wat wou weet wanneer dit nou uiteindelik geplaas gaan word nie.

Nou is dit gereed vir die volgende uitgawe van Sarie (Maart/April uitgawe). Ek het in Januarie die proewe gekry, byskrifte gegee en die proewe as korrek aanvaar. En daar is afwagting in my hart.

Gaan die mense dit lees? En gaan hulle van Kazakhstan hou? Soos ek van die ysige land hou? Het ek genoeg geskryf om mense lus te maak om die land te gaan besoek?

Maar veral, gaan hulle oor die Goue Vroue raaklees?

Want die deel oor wat ek in Kazakhstan doen, is deur die redakteur verkort. Die Goue Vroue was sommer uitgesny, toe vra ek dat dit net asseblief weer genoem moet word. Dat ek saam met ‘n groep vriendinne vervolgverhale skryf – aanlyn. En ek hoop dat dit raak gelees gaan word.

Ek kyk so na die foto’s wat ek vir die artikel gekies het, en die wat hulle nie gekies het om te plaas nie.

En dit voel soos ‘n ander heelal, asof ek nie 18 maande van my lewe daar gebly het nie. Ver van my verwyderd. Al is ons skaars 4 maande terug in Suid-Afrika.

Ek sou nou in die woonstel gesit het, verkluim het as ek uitgegaan het want dit is nog ver onder vriespunt, stadig geloop het om te keer dat ek gly en val en nie weer kan opkom nie. Nou loop ek met warmer klere in die huis en met koeler klere buite. Dit is somer in Suid-Afrika.

Ek sou die veiligheid van die land waardeer het. Wens ek kon die bewuswees van ander mense se veiligheid hier kom inent.

Ons trek oor drie weke Kuruman toe, bly tans in Kathu. Die eerste ding wat ‘n vreemde vrou in Kuruman vir my op straat gesê het toe ons gaan huis soek het was: “Hou jou handsak vas!”

Maar dan weet ek ook dat ek net moet sorg dat ek veiligheidbewus bly.

Want dit is net hier in Suid-Afrika waar ek wil bly. Dit was baie erg om van Maart 2020 tot September 2020 verhoed te word om huis toe te kom.

Dit wil ek nie weer beleef nie.

‘n Stukkie van my hart is egter in hierdie ysige land weggebêre. En ek dink met heimwee terug aan pragtige oomblikke in ‘n wonderskone land.

Ek gaan beslis een van die dae in my blog begin terugblaai en die artikels oor ons lewe in die land van ys weer lees. Ek het in Kazakhstan bykans elke dag artikels oor ons lewe as buitlanders gedeel. Want dit was vir jou ‘n ding om nie verstaan te word nie.

En mag ek skryf? Dit is een rede waarom Kathu vir my baie spesiaal is.

Hier praat die mense Afrikaans, my taal. In die winkels, as ek kos koop, wanneer ek in die restaurant sit. Dit is fantamagories!

Na 18 maande waartydens ek soos ‘n kind gevoel het wat die taal nog nie magtig is nie … verstaan mense my. Verstaan hulle Afrikaans.

As jy die Sarie-artikel sien en lees, lewer asseblief hier kommentaar. Sal graag wil hoor wat jy daarvan dink …

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

6 gedagtes oor “Afwagting – artikel in Sarie

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.