Gepubliseer in Joernaal

Die dag toe die reënkoningin vies geword het

Hierdie plasing virm deel van die volgende bloguitdaging:

Die wêreld verander teen ‘n vinnige spoed, ons kleinkinders word met ‘n selfoon en tablet in die hande groot. Hulle draai ‘n kraan oop, kry lopende water, sit ‘n skakelaar aan en daar is elektrisiteit. Sit ‘n TV aan en kyk ‘n storie. En dink selfs oumas is, soos Steve Hofmeyr oor spoke sing, so bietjie dom as ons nie so vinnig met die tegnologie is nie. Maar, daar is baie wat hulle nie weet nie, want ons oumas was ook kinders. En ons kan stories vertel …

‘n Bundel kinderstories uit die pen van die Goue Vroue.

Sinta is ‘n druppeltjie seewater en sy dink haar lewe is baie vervelig. Sy kan nie haar eie ding doen nie, sy is saam met baie ander druppeltjies saamgepers om een groot oseaan te vorm.

Vir die kinders wat in die seewater speel, is dit die mooiste iets wat hulle nog gesien het. Die see. Vir haar is die oseaan amper soos ‘n tronk. En dan word sy nog teen die ander druppeltjies gestamp en stoot wanneer die kinders in die seewater baljaar.

Twee keer per dag moet sy en haar maatjies probeer om die seewater so ver as moontlik oor die strand te stoot. En net as hulle amper aan die verste punt raak, moet hulle weer terug trek om die water so diep as moontlik in die see terug te kry.

Elke liewe dag. Die uitstoot is so bietjie lekker, want dan kan sy soms soos ‘n druppeltjie voel as sy in die sand wegkruip om net so klein rukkie lank ‘n individu te wees.

Dan raas die seekoningin met haar:

“Sinta, die son is nie ‘n druppeltjie se speelmaatjie nie. Jy gaan nog eendag so lê en kyk hoe die kinders speel en dan verdamp jy. Net so, soos mis voor die son. As jou maatjies jou nie betyds gaan haal nie.”

“Wat beteken verdamp?” wou sy dadelik weet.

“Wanneer ‘n druppeltjie te lank in die son lê, kry hy te warm en verander in ‘n gas wat in die lug kan opstyg. En nie meer terugval grond toe nie.”

Sinta het gemaak of sy luister, maar dit glad nie geglo nie. Sy kan nie in ‘n gas verander nie. Mens kan gas nie sien nie, vir haar kan jy van ver af sien.

Sinta het in die lug opgekyk en gedink dat dit glad nie te sleg klink om doer bo te dryf nie. Sy het al aan ‘n kind se vlieëer vasgeklou toe dit op die water geland het. En soos wat dit los van die water geraak het, het sy saam opgegaan en so bo-oor die strand en die huise en die pad en die gras en die diere gekyk.

Daar was snaakse diere op die aarde, hulle het nie vinne gehad nie.

In die verte was berge, sy sou graag wou gaan kyk hoe dit daar lyk. Maar die tou aan die vlieëer het dit te styf vasgehou. Sy kon nie nader gaan nie.

Toe die seuntjie die vlieër ruk om terug te gaan strand toe, het sy geskrik en laat los.

Net betyds, anders sou sy nie weer in die seewater geland het nie. Sy het daardie dag by die druppeltjies raas gekry, sy het ‘n hele paar van hulle pimpel en pers geval.

Sy was seer, maar dit was die moeite werd. Sy het ‘n ander wêreld gesien. Een wat haar bekoor het. Sy moet net gaan kyk.

Sy trek weer saam met die ander in en weet sommer dat dit nie meer vir haar lekker is nie. Sy moet haar magie styf intrek om nie pap gedruk te word nie.

In die lug kon sy haar magie uitdruk en dit was baie, baie lekker. Sy wonder waarom die vrouens op die strand sulke stywe swemklere dra. Dit kan mos nie lekker wees nie? Mens moet vrylik kan asemhaal.

Sy verluister haar aan die geselsies van die kinders en die groot mense en sy leer baie. Die kinders se mammas en pappas noem haar werk hoogwater en laagwater. Hoogwater wanneer hulle die see so ver op die strand uitstoot, laagwater as hulle die water so diep as moontlik in die see terug trek sodat die strand weer mooi oop is.

Die kinders hou van laagwater, dan kan hulle op die rotse speel; hoogwater maak hulle bang.

En Sinta?

Sy wag altyd in die water as die ander uitstoot en dan vou sy en haar maatjies ‘n golf bo-oor hulle. As die wind dan oor die golf se bokant waai, kry sy soms kans om los te kom. Vir ‘n rukkie ‘n individuele druppeltjie te wees. Wanneer sy so in die lug is, skop en skree sy alte lekker. Dan voel sy vry. Sy blink dan ook vir ‘n rukkie in die son. Voor sy terugplons in die water in. Sy sal nooit kan opstyg nie. Sy het al probeer.

Sinta geniet dit om druppeltjie te speel. Sy lag dan uitbundig en skree ook dat sy ‘n individuele druppeltjie is. Amper soos Tobie Cronje in die spook van Uniodale sing sy:

“Ek is ‘n druppeltjie, ja ek is.”

Dit is pure pret.

Dan raas die seekoningin alweer met haar. Waarsku haar teen die wind wat nie druppeltjies se maatjie is nie.

“Sinta, jy moenie so lank in die lug hang nie. ‘n Sterk wind kan jou onverwags opswiep en al die pad die lug in druk om deel van die spierwit wolkies in die blou lug te vorm.”

Die seekoningin wys dan na daardie wolkies wat soos watteballetjies lyk. Alte mooi in die blou, blou lug. Dit lyk soveel lekkerder as die seewater, die wolkies sweef op hulle eie.

Hulle word nie inmekaar gedruk nie.

Sinta weet wat watteballetjies is. Sy het een keer amper in een verstrengel geraak. Dit is daardie wit bolletjies waarop mammas salfies sit as die kinders hulle tone in die see op ‘n skerp klip gestamp het dat dit stukkend is. Sinta kan nie verstaan waarom mense se sap rooi is nie. Dit proe ook nie lekker nie. Sy weet, sy was een keer te naby aan so ‘n toon. Daarna was sy vir ‘n paar dae lank rooi en later pienk. Almal het vir haar gelag …

Sinta hou van die spierwit wolkies met hulle plat onderkante en die rondings bo. Sy wens baie keer dat sy saam met hulle kan dryf, ver weg van die see wat op een plek ingehok is. Mens noem hulle blykbaar cummulus wolkies, so vertel die wind vir haar. Hulle werk is om reën te maak.

“Wat is reën? het sy vir die wind gevra.

“Reën is die druppeltjies water wat uit die lug val en die aarde mooi groen maak. Jy het tog al gesien as druppeltjies uit die lug in die see inval?”

Toe verstaan Sinta waarom die seekoningin haar waarsku – sy wil nie hê dat Sinta hoog in die lug geswiep moet word nie. Want die afkomslag is seer. Die druppeltjies het lank gekla hoe seer hulle geval het.

So seer dat hulle hulle sout skoon weggeval het. Dan moes hulle almal bietjie sout afstaan om die druppeltjies weer sout te maak. ‘n Seewaterdruppeltjie kan nie laf wees nie.

Sy het niks oorgekom as sy van haar sout gedeel het nie. Vir haar klink dit soos pret om al die pad tot daar bo op te gaan, maar wil sy regtig van daar bo af val? Al die pad aarde toe? Want dit is wat reën doen!

Sinta het gedink en gedink en gedink.

Naderhand het sy haar koppie beslis geskud.

Ja, dit is wat sy wil doen.

Dit lyk soos pret, sy sal graag so hoog in die lug wil wees om te kyk hoe alles onder haar lyk. En as sy val, val sy mos see toe.

Die seekoningin het haar gewaarsku. Sy is nie die eerste druppeltjie wat van daar bo af wil val nie. Baie voor haar was so waaghalsig. En hulle het nooit weer die pad terug see toe gekry het nie.

Want daar is diere wat die reëndruppeltjies drink. Mense gebruik dit om plante te laat groei en dan eet hulle dit op. Mense drink ook water. En hulle maak dit met slegte goed skoon om te drink.

Sy was nie bang om gedrink te word nie. Sy het al gesien hoe kinders en grootmense spoeg om ‘n druppel seewater uit hulle monde te kry. Hulle sou haar nie insluk nie.

Pure ouvroustories het sy gedink.

Die wind het gesien dat Sinta graag ‘n druppeltjie wil wees. Dit is sy werk om waaghalsige druppeltjies te soek en in die lug op te jaag. Totdat hulle so bang word dat hulle aan stofdeeltjies in die lug vasklou. En so help hulle dan om die wit cumulus wolkies te vorm.

As daar genoeg druppeltjies in die wolkie is, word hulle te swaar en val hulle grond toe. Tot die wolkie leeg is.

Maar, die reënkonigin maak mooi seker dat die wolkies nie te gou uitreën nie. Alle dele van die aarde moet druppeltjies kry.

Sinta sou die see dalk nooit weer sien nie, maar dit het die wind haar nie vertel nie. En al het hy, was sy gereed om die reis te onderneem.

Daarom sing hy eerder ‘n liedjie om haar en haar maatjies te lok.

“Kom saam, kom saam, ons gaan bietjie oor die land toer.

S u i d – A f r i ka.

Kom saam, wie kom saam?”

Sinta wou nog altyd Suid-Afrika sien. En toe oortuig sy haar maatjies om te spring, los van die seewater te wees. En voor hulle kon omdraai, doen die wind sy ding en swiep hulle hoog die lug in. Hoër en nog hoër, o p  en  o p  …

Dit was ‘n plesierige affêre. Hulle het gelag en gespeel en teen mekaar geskop, soos wat kinders op stampkarretjie-bane maak. Dit was groot pret om nie vasgedruk te voel nie.

Om hulle was alles wit. Hulle het hoog bo die aarde gesweef. Sy was nou in die reënkongin se gebied. Sy was deel van ‘n cummuluswolkie.

Sy het afgekyk en haar verstom aan alles onder haar.

Toe gil die ander druppeltjies dat sy moet koes. Voor hulle het ‘n berg se punt in die pad van die wolkie gestaan.

Die reënkongin het bevele gegee, hulle moes druk. En saam met die ander druppeltjies het sy gestoot en stoot en stoot sodat hulle oor die berg kan kom.

Hulle kan mos nie daar vassit nie.

‘n Paar van die druppeltjies het so groot geskrik dat hulle laat los het. Om as reëndruppeltjies op die berg te val. Sy het gehoop dat hulle weer gas kon word om weer in die lug te kom. Arme druppeltjies.

Die reënkoningin het geraas, hulle kan nie sit en speel nie, hulle moet harder druk as daar ‘n probleem is. Anders gaan die wolkie uitreën en dan sien hulle Suid-Afrika nooit nie.

Sinta het so hard soos sy kan help druk en hulle toe is hulle woeps oor die berg.

Aan die ander kant van die berg was ‘n groot klomp water, maar dit het nie soos die see gelyk nie.

“Kyk daar,” het sy uitgeroep. “Dit lyk soos water, maar dit is rooi. Wat is dit?”

Die wind het gesê dat dit damwater is, hulle gaan daar ook druppeltjies oplaai.

Toe Sinta weer sien, is daar ‘n hele klomp rooi druppeltjies onder hulle. En hulle was nie so rustig soos seewaterdruppeltjies nie. Hulle was soos plaaskinders, hulle speel het nie brieke geken nie.

Hulle was so bly dat hulle nie meer vasgehok was in ‘n plaasdam nie, het gevrees dat ‘n dier hulle gaan opdrink.

Hulle het van beeste en skape en varke gepraat … Hulle was moeg gestoei, hulle wil nie opgedrink word nie. Dit is waarom hulle hulself klein gemaak het om ook nou in die lug te sweef, so saam met Sinta en haar maatjies in die cummulus wolk.

Sinta was verstom.

“Nee man,” het sy gelag,” die water spoel net deur hulle en dan gaan dit weer in die dam in. Julle is verniet bang.”

Die plaasdamdruppels was verstom dat Sinta so kan dink. Hulle het al gesien hoe die druppeltjies in die diere se monde wegraak. Om nooit weer terug te kom nie. En hulle kon nie help nie.

Toe vertel Sinta vir hulle dat die diere in die seewater kiewe het. Dit maak oop en toe en so stroom seewater deur die diere, dit word nie gedrink nie. Sy was al een keer te naby aan die kiewe en toe gly sy deur.

Dit was heerlik, sy was vinniger uit as wat sy in is. Die seekoningin was sommer trots op haar.

Die seewater- en plaasdamwaterdruppeltjies het alte lekker gespeel. In die lug gedryf. En toe begin hulle stoei.

Die plaasdamdruppeltjies het te warm gekry en gedruk en gestoot en geskop en selfs so bietjie te hard gestamp. Om na die boonste deel van die wolk te gaan waar hulle kon afkoel. Dit was heerlik koel daar.

Maar die rooi van die plaasdamdruppeltjies het bo-op Sinta en haar maatjies gedrup. Sinta wou nie rooi wees nie, sy was baie trots op haar seegroen velletjie.

Sinta en haar maatjies het dan weer gestoei en gedruk om boontoe te gaan. Hoër as die plaasdamdruppeltjies. En hulle het gelag dat hoor en sien vergaan. Die wolkie al hoe groter en groter en groter gedruk.

Die wind het eerste besef dat hulle ‘n probleem het. Altwee groepe druppeltjies wil bo in die wolk wees. En soos wat hulle opgegaan het, het die buitekant van hulle velletjies gevries. Hulle het te swaar geword.

Die wind het met hulle geraas.

“Stop dit, het hy gewaarsku. “Die reënkonigin slapies, sy gaan baie, baie kwaad wees as julle haar wakker maak.”

Die twee groepe druppeltjies het egter so lekker gestoei dat hulle nie ag op die waarskuwing geslaan het nie. Buitendien, hulle het die reënkoningin nog nooit gesien nie.

Die volgende oomblik het hulle geskrik.

‘n Lang, kwaai vrou – die reënkongin – het in die middel van die wolk kom staan.

“Kyk wat het julle aangevang,” het sy gesis.

“Ons moes nog tot in Namibië gereis het. Hierdie wolk is vir die woestyn bestem. En nou is die wolk te hoog, te groot, te swaar om verder te gaan.”

Toe eers staan Sinta stil om te kyk wat om hulle aangaan.

Die wolk se basis was steeds plat, maar dit was nou donkerder om hulle. En die wolk was baie, baie hoog. Baie, baie hoër as al die cummuluswolkies om hulle.

Die reënkonigin het haar regterkantste arm in die lug uitgeswaai om die wolk te toets. Sal hy hou?

Maar nee, dit het met so ‘n punt na die een kant uitgestaan.

“Die aambeeld het gevorm,” heet sy op die druppeltjies geskree.

“Ag nee,” het sy gegil. “Julle het ons cumuluswolkie in ‘n cumulonimbus wolk verander. Hierdie gaan nie ‘n gemaklike rit wees nie.”

Sy het na Sinta en die ander druppeltjies gestaar.

“Kyk hoe lyk julle, julle gaan alles op die aarde vernietig, julle is nie meer druppeltjies nie, julle is haelkorrels!”

Sinta het haarself warm gevryf sodat die yslagie smelt. Sy wou nie ‘n haelkorrel wees nie.

Die reënkoningin was baie kwaad vir die druppeltjies en het haar arms in alle rigtings geswaai. Met elke swaai het die haelkorrels teen mekaar gestamp. En dan het ‘n spierwit lig hulle verblind.

Erger as die son op sy warmste dag. Daar was nie hitte nie, net die vreeslikste klapgeluide wat saam met die lig gekom het. Sy ht al gehoor die mense praat van donderweer. Wel, dit was vreeslike harde geluide.

Sinta was spierwit geskrik.

Die wind het geraas. “Kyk wat het julle veroorsaak, daardie weerligstrale wat sy maak, is nie goed vir die diere onder op die aarde nie. Ek gee pad, julle is ongehoorsame druppeltjies. Ek gaan julle nie meer in die lug hou nie.”

Die volgende oomblik is alles wat Sinta in die lug hou, weg.

Val sy.

Sy voel hoe die druppeltjies wat haelkorrels geword het in haar lyfie instamp. Sy huil omdat sy te stadig is om uit hulle pad te kom. En dan sien sy hoe die aarde onder haar wit word. Die veld word verwoes. En dit is hulle skuld, hulle moes nie so gestoei en gestamp en gestoot het om heel bo uit te kom nie.

Sy sien hoe die aarde al nader en ander en nader kom. Sy vrees vir haar lewe, want daar is geen oseaan onder haar nie. Die keer het sy te ver gegaan. Sy gaan nie weer huis toe kan gaan nie.

Onder haar sien sy ‘n lang stroom water, hoor sy die druppeltjies in die rivier sing. Hulle is op pad see toe en is opgewonde oor die reëndruppeltjies wat gaan help dat hulle vinniger daar kom.

Sinta was een van die gelukkige druppeltjies, sy het in die Oranjerivier geval.

Die rivier se druppeltjies was egter vies vir haar, sy was te sout om tussen hulle te woon. Toe hulle eers hoor wat gebeur het, is hulle nie meer kwaad nie, die reën wat sy en haar maatjies veroorsaak het, gaan help dat hulle vinniger by die see uitkom.

Aangesien Sinta die see ken, stoot hulle haar vooruit, al die pad see toe. Hoe baie hulle ookal van haar hou, daar is nie vir ‘n seewaterdruppeltjie plek in die rivier nie.

Die reis terug see toe was lank en swaar.

Die reënwater het die rivierdruppetljies te vinnig aangejaag, hulle het hulle amper stukkend teen rotse en boomstompe en klippe gestamp.

‘n Paar weke later stoot die rivierdruppeltjies Sinta doodmoeg oor die laaste sand, in die see in.

Die seekoningin was so bly om haar weer te sien dat sy ‘n fees gereël het om haar te verwelkom.

En Sinta?

Sy weet nou dat sy nie ‘n gas wil wees nie. Ook nie deel van ‘n cummulus wolkie nie. En beslis nie weer deel van ‘n cummulonimbus wolk nie.

Sy was gelukkig, sy was die enigste seewaterdruppeltjie wat die pad terug see toe gevind het.

Nou speel sy steeds oor die rand van die golwe en dit gaan steeds met ‘n gelag en geskree gepaard as sy vir ‘n oomblik ‘n druppeltjie is.

Maar, sy maak nou altyd seker dat sy twee maatjies se hande styf vashou. Want so is hulle te swaar om weer in die lug opgeswiep te word.

Die wind het sommer opgehou om te waai waar sy en haar maatjies is. Hy kan hulle nie weer uitvang nie.

Soms sien sy die ligte in die cummulonimbuswolke wat oor die see gevorm het. Dan onthou sy dat sy een keer lank gelede ook daar bo was. En is sy dankbaar dat sy nie daar is om die reënkoningin se woede te aanskou nie.

Want haar ore tuit selfs hier onder as die weerligstrale blits en dit donderweer terwyl die reënkoningin gil en skree.

Kliek op hierdie skakel om die ander stories te lees.

https://fresh.inlinkz.com/p/d9a4e9bae6aa4e179beee4acc3690247

***

Foto’s: Seevakansie by Umdloti en rooi water by Red Sands Lodge, Kuruman.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

4 gedagtes oor “Die dag toe die reënkoningin vies geword het

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.