Gepubliseer in Joernaal

Kinderverhale deur die Goue Vroue

Die Goue Vroue het so pas die uitdaging aanvaar om emmerskoplysies met mekaar te deel. En mekaar te help om dit uit te leef. Dit was een heerlike vervolgverhaal van lag en avontuur en selfs so bietjie uit gemaksones druk. Myne altans, ek het in Eleon Musk se vuurpyl om die aarde gesweef.

Ons sit op Rebusfontein se stoep, elkeen met ‘n koue limonade in die hand. Ek het dit op die Kazakhstan manier gemaak, dit is nie so soet soos die Suid-Afrikaanse weergawe nie.

Ons babbel en gesels en vertel weer van die wedervaringe. Bedank almal wat ons gehelp het om ons lysies uit te leef. Woordnoot het my mos in ‘n lugballon gekry. Wat ‘n ervaring!

Die virus is goed vir ons, as ons nie kan reis nie, is die verbeelding weer goed aan die werk.

Toortsie vra of ek al aan nog ‘n tema vir ‘n vervolgverhaal gedink het.

En ek moet heel verleë erken dat ek het.

Sommer baie.

“Wat?” vra Appeltjie. Want sy moet beplan, sy het ‘n huis om gereed te kry. Die trek was lank en swaar. Laat haar aan gedigte oor osse en ossewaens dink. “Kan dit nie vergemaklik word nie?” vra sy hoopvol vir haar feëtjie. Faye sê nee, dit gaan sy self moet doen. Sy dra nie verantwoordelikheid vir so ‘n taak nie.

“Ja, nee” stem my BB Miniatuur Schnauzer saam.

“Julle moet die gekibbel in ons huis hoor as die man van die huis goed soek wat hy self gehad het. Ek help ook nie trek nie. Gee eerder morele ondersteunung.”

Sobek en Shilo stem saam. Daar hou hulle hulle uit.

Frannie stem ook saam met die diere, daai is lat wat sy nie vir haarself pluk nie.

“Maar waaroor kan ons volgende skryf?”

Dit is een groot gekekkel op die plein, elkeen het ‘n voorstel.

Una vra skool, VirgoC wil ‘n avontuur in die land van sand beleef, Woordnoot dink ons moet oor haar goue ore skryf, Positief soek iets oor plaasdiere, Trommeltjie wil al weer die wêreld vol rits, Scrapy soek iets oor die kunste en Scrapy oor die magiese wêreld van suiderligte en Sonell dink aan iets oor radio’s. Kameel wil oor kinders skryf.

En ek het ‘n idee, ons kan al die idees saamvat in een storie …

Ek Aalsie dop.

Sy maak geen voorstel nie, want ons almal weet al baie lank wat haar voorstel is.

Dan val ‘n ander avontuur voor en is ons verbeelding weer weg met ons. En dié keer is dit haar beurt om te begin …

“Aalsie, gaan jy vir ons die eerste kinderstorie skryf?”

*****

Die wêreld verander teen ‘n vinnige spoed, ons kleinkinders word met ‘n selfoon en tablet in die hande groot. Hulle draai ‘n kraan oop, kry lopende water, sit ‘n skakelaar aan en daar is elektrisiteit. Sit ‘n TV aan en kyk ‘n storie. En dink selfs oumas is, soos Steve Hofmeyr oor spoke sing, so bietjie dom as ons nie so vinnig met die tegnologie is nie. Maar, daar is baie wat hulle nie weet nie, want ons oumas was ook kinders. En ons kan stories vertel …

‘n Bundel kinderstories uit die pen van die Goue Vroue.

Kliek op hierdie skakel om die ander stories te lees.

https://fresh.inlinkz.com/p/d9a4e9bae6aa4e179beee4acc3690247

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

21 gedagtes oor “Kinderverhale deur die Goue Vroue

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.