Gepubliseer in Joernaal,Reisjoernaal

Waterlose, kraglose Kathu …

Toe ons in Januarie 2019 na Kazakhstan getrek het, het ek gewonder hoe ek ooit my navorsing daar sal kan doen. Gaan daar genoeg krag wees? Wat van internet? Die land is relatief arm teen Suid-Afrika. Ongeveer 30 van sy geldeenheid (Tenge) is ongeveer 1 Suid-Afrikaanse Rand werd. Maar dit was ‘n ligte bekommernis, toe is ons land deur load shedding geruk – daagliks. Ek het gewonder of my rekenaar dit gaan hou?

Krag word mos net afgesit, want daar is probleme. Onderhoud is iets waaraan nie aandag gegee word nie. In Kazakhstan het ek in die 18 maande wat ons daar gebly het, enkele kragonderbrekings gekry. Kan op een hand tel. En dit was bloot om noodsaaklike herstelwerk aan pype van horingou geboue te maak. Öskemen is vanjaar 300 jaar oud. En esteties was nie op die Russe se lys van noodsaaaklikheid toe geboue gebou is nie.

Water was altyd in die pype. Alhoewel dele van Kazakhstan baie droog is, was Öskemen ‘n waterryke stad. Ek het nog nooit vertel nie, want dit het my geskok, Ek het groot geword met “Spaar die water, die ou mense wil dit drink.” as liedjie wat ons daaraan moes herinner dat Suid-Afrika ‘n waterprobleem het. Dus laat ek watre nie sommer net loop nie.

So vra ek vir ‘n jong vrou wat vir my man gewerk het, waar ek ‘n prop kan kry toe ons saam by ‘n vakansiehuis aan die oewer van Öskemen dam was en ek die skottelgoed wou was. En haar antwoord? Sy weet nie wat ‘n prop is nie. Toe ek verduidelik, sê sy dat hulle nie proppe gebruik nie, die water loop sommer net so en dan was jy jou skottelgoed. Dit mors, na my mening, nie net water nie, maar sommer ook seep.

So gesels ek met vriendin wat in Struisbaai bly. Haar dogter hou hier skool.

Volgens haar is gedeeltes van Kathu gereeld vir drie dae en langer nog sonder water. Dit is nie lekker gedagte nie, want ons kn nie die kraanwater drink nie, ons moet water koop.

Ons is al drie weke hier, dink ekke. Ek slaak ‘n sug van verligting, ons bly seker in ander deel van die dorp. Ons het water.

Sondagaand kom verhuurder hier aangeklop.

Ons gaan Maandag en Donderdag waterloos wees, hulle werk aan die pype in die dorpie. So van 7 tot 5 geen water in die pype nie.

Toe manlief egter die stortkrane voor 5 oopdraai, was daar nie ‘n enkele druppel water nie. Twee ure voor dit af sou wees! Dit is nou nadat ons voel-voel deur ‘n stikdonker huis moes sukkel. Want ons is kragloos ook.

Die ketel se water is vir skeer gebruik en ek het gelukkig die vorige dag wet wipes gekoop. Ons kon met lappies afvee. Nie ‘n vriendelike man as hy sonder sy oggend stort moet gaan werk nie, want ons kon ook nie ‘n koffietjie drink om wakker te word nie.

Ons sukkel met ons fone se liggies deur die woonstel. Terwyl dit buite sous. In die woonstel is dit voor vyf in die oggend steeds pikdonker, veral as dit bewolk is. Die reëndruppels is goed vir die siel.

Probleem wat ek ondervind is dat hierdie babadorpie tot drie keer per dag ‘n beurt het om kragloos te wees. Drie keer!

Seker maar omdat hy so klein is dat dit nie in drie dele gedeel kan word nie. Dit lyk so half asof die hele Noord-Kaap sommer saam kragloos is. Interessant hoe manlief weet dat daar nie krag is nie, sy radio is dan ook in die kar dood.

Ons glimlag daaroor, dit is werklik anders in klein dorpies.

My iMac, sy word te veel verkeerd afgeskakel. Daaraan kan ek niks doen nie, ek blaas soos ‘n blaasoppie op omdat ek nie weet hoe lank gelede ek die dokument waaraan ek hard werk geberg het nie. Die tye wat op Eskom se skedule is, verskil van die tye wat ons kragloos is.

Ek leer om weer soos in die dae voor ons in Kazakhstan gebly het, gereeld te berg.

Tik en berg, tik en berg, tik en berg.

Want ek sukkel om weer ‘n sin te skryf soos ek dit reggemaak of uitgedink het voor die rekenaar af is. Die dokument word ook op ‘n eksterne stokkie geberg. Dat dit nie saam met my rekenaar moed opgee as sy nou mooi vies is nie.

Dinsdag het ek water en krag gehad. Woensdag, ‘n dag voor Donderdag, is ek sonder water. Geen waarskuwings nie. Seker sewe-uur se kant, want manlief kon stort. Ek kon nie, het weer nie geweet ek gaan waterloos wees nie.

Verhuurder is weg, al die gordyne is dig getrek, ek dink hulle is dalk vir vakansie weg. Dus vra ons agent wat aangaan, ons het geen water nie. Hy het verkeerd verstaan, dit is Woensdag wat ons waterloos sou wees. Halleluja, ons het net bekommerd geraak dat ons nou dae lank sonder water gaan wees. Soos vriendin se juffrou-dogter in Kathu wel ondervind.

Ek is beïndruk met Kathu. Die agent het kennisgewing aangestuur. Hulle laat die mense presies weet wanner]er ons waterloos gaan wees. Dus moet ek vra of sy weet wanner]er die krag af gaan wees.

Dat mens kan beplan. En die rekenaar afsit voordat sy sommer net afgaan.

Wat my by ‘n punt bring.

In die onderhoud wat Sarie met my oor Kazakhstan gevoer het, het hulle gevra wat ek gaan mis as ek terugkom Suid-Afrika toe. Die lysie wat ek opgenoem het, is steeds waar.

Maar hoe kon ek vergeet dat dit wonderlik was om in ‘n arm land te bly waar water en krag elke dag beskikbaar was! Omdat die mense beplan, onderhoud doen, sorg dat die inwoners krag en water het.

Ek raak gewoond aan die platteland, is darem naweke daaraan gewoond om met superstadige internet langs die rivier klaar te kom. As ek opvangs het.

Ek kyk so na die sirkeltjie wat laai en laai en laai en laai. Laat my dink aan daardie afvertensie van die vrou wat op die reeinspoor lê, die man wat aangehol kom om haar te red en dan draai en draai en draai die sirkeltjie met die trein wat op haar afstorm.

Dit is nie lekker nie, laat my soms vergeet wat ek wou doen terwyl ‘n bladsy laai en laai en laai en laai en laai en laai …

Ek doen nou sommer ander goed terwyl ek wag dat goed laai.

Bly jy dalk hier?

Is daar ‘n beter skedule as Eskom s’n om te weet wanneer ek regtig sonder krag gaan wees?

Ek kla nie, hoor.

Die lug is soveel skoner as in die stad. Dit is ‘n baie, baie groot pluspunt van hierdie ou mooi plattelandse dorpie in die Noord-Kaap.

Aan ‘n stadige internet raak mens gou gewoond.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

16 gedagtes oor “Waterlose, kraglose Kathu …

  1. Jammer om te hoor van julle water en krag probleme. In hierdie dorp het ons lankal gewoond geraak aan min water – die vier stoor damme is leeg: intussen kry ons water van die Oranje Rivier deur die Vis Rivier,maar die waterpype bars, of die pompe breek …Eskom kragonderbreukings is nie die enige rede om kragloos te wees nie: as die wind sterk waai weet ons die ligte sal afgaan want dit is jare gelede dat iemand van die munisipaliteit die bome gesnoei het …

    Liked by 2 people

  2. Christa,ek ken daai sirkeltjiedraai gevoel. Gisteraand krag en internet gehad maar Netflix se sirkeltjie het net gedraai en (héélwat) later het ons agtergekom die kabel maak nie goed kontak nie en voilá!

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.