Kathu – die warm dorp?

Ek lê bykans elke oggend en luister na die reën op die sinkdak van die afdak voor ons woonstel in Kathu. ‘n Warm dorp? Ek het dit nog nie so beleef nie.

Toe ons besluit het om ‘n rukkie in Kathu te kom bly terwyl manlief aan ‘n projek werk, was die eerste kommentaar van mense dat ons vanaf ‘n baie, baie koue plek na ‘n baie, baie warm plek trek.

En ons het gelag. Dit is vreemd inderdaad.

Almal weet dat ons so pas van Kazakhstan af kom waar die temperatuur sewe maande van die jaar in Öskemen onder vriespunt gespeel het met laagste temperature van -38 grade Celsius in ons stad in die noorde van Kazakhstan. Ek het al heelwat stories oor ons ervaring in Kazakhstan geskryf. Soos hierdie ene. https://christavanstaden.com/2019/11/19/hoe-koud-is-dit-in-qazaqstan-ma/ en hierdie ene https://christavanstaden.com/2020/03/17/sneeu-spykers-die-lekker-wat-ek-nie-wou-toets-nie/.

En nou gaan werk my man by ‘n myn naby Hotazel, waar die temperatuur van die hoogste in die land kan wees, gemeet aan die naam Hot as Hell waarvan Hotazel afgelei is.

Daar is nie eens ‘n soortgelyke vergelyking vir koue temperature nie, is daar? Cold as ice gaan nie werk nie, want glo my, ons yskaste vries goed teen 17 grade Celsius kliphard. Daardie temperature is dubbeld dié van ons vrieskaste!

Ewenwel, manlief het begin Desember hier begin werk, twee weke sonder my. Nie regtig gekla dat hy warm kry nie, net genoem dat hierdie mense lugverkoelermal is. Elke liewe kantoor het lugverkoelers, dit gaan hom nog siek maak.

En toe kom ek op 27 Desember saam. ‘n Datum wat ek nie lig gaan vergeet nie, die Here het ons pad vir ons gelyk gemaak, ek het begin twyfel of ons dinge moet hou soos dit is. Sal later daarvan vertel, vir nou is dit nog in ‘n breekbare stadium. Ons glo en vertrou egter dat dit wel goed gaan afloop, hou dit net eers so bietjie vir onsself.

Ek het nog nie die behoefte aan ‘n lugverkoeler erg beleef nie, want die son skyn soggens, die weer kom hier teen drie-uur op en teen die tyd wat manlief huis toe kom, reën dit al katte en honde.

Ons verstaan dat dit uitsonderlik is. Dat dit jare en jare gelede so gereën het. Dat die aarde hier smag na die reën. En ek glo dit, want die mense het nie tuine nie. Daar is rooi grond om die huise. Nie sand nie, sommer net harde, droë rooi grond.

Wat my wil laat navorsing doen oor die ‘seeding’ van wolke, of die menslike inmenging met die wolke om dit op ander plekke te laat reën. Toe ek gou opsoek. sien ek dat Suid-Afrika die metode ontwikkel het, in November 1997 gepubliseer.

Dit behels dat iets wat soutkristalle produseer aan die vlerke van ‘seeding’ vliegtuie geheg word wat in opwaartse lugstrome onder die basis van wolke losgelaat word. Hierdie proses versnel die vorming van reëndruppels, en beïnvloed dus die plek waar die reën gaan val. Ek lees dat die proses in 2001 gestaak is, dus is dit nie die rede vir die reën wat nou weer hier val nie.

Maar die regering het in Desember 2019 gesê dat hulle die oes van vog en besading van wolke weereens oorweeg om die waterskaarste in Suid-Afrika te bekamp. Lees gerus hier. Ek neem aan dit is nie reeds in werking nie, die regering is nie bekend vir die uitvoer van projekte nie. As hulle het, sou hulle dit beslis gebruik het om die wonder van hulle ‘master’ plan te beskryf … Noudat dit dae lank in Kathu reën.

Die Geografie-juffrou in my weet dat daar ander redes vir die veranderde reënval kan wees. Want El Nino en La Nina doen sulke goed. Droogtes afgewissel met baie reënval. Maar faktore beïnvloed die impak wel.

La Nina bring koue, nat lug die land in. El Nino sorg vir droë, warm weer.

En La Nina is die oorsaak van die reën in Kathu.

Daar is reeds in September 2020 voorspel dat La Nina hierdie jaar vir nat en koel toestande oor die oostelike helfte van Suid-Afrika verantwoordelik gaan wees. Ons het in Umdloti in Desember die sonskyndae net-net gehaal. Ons was ook net-net buite die inperkings, ons kon net die 16de Desember nie strand toe gaan nie. Dus was ons seevakansie uit die boeke. Ons het na twee jaar so na die see verlang.

Die mense hier praat van sulke reën in die 1960’s laas gekry, dus is dit die Here se genade wat vrylik uit die hemel vloei om die verskroeide aarde hier groen te maak. Buite die dorpie is die grasvelde groen, die kameeldoringbome pragtig.

Wat ek eintlik wil vertel, is dit.

Ek was nogal skrikkerig om Kathu toe te kom. Vir baie, baie koud is daar die regte klere om jou warm te maak. Die teenoorgestelde is egter nie waar vir baie, baie warm nie. Selfs kaalbas gaan nie werk nie, as jy te warm kry, oorverhit jy.

Ek het nog nie in Kathu so warm gekry dat ek alles wou uittrek om af te koel nie. So warm het ek al in Rustenburg gevoel in my jong dae toe manlief een vakansie daar op die myn moes werk. Ek en my baba het in die koue bad gespeel om af te koel.

Die afgelope paar dae staan ons sommer so in die donker op as manlief vyfuur om die pad myn toe te vat. Want dit is bewolk. Of dit reën.

Die reën drup-drup so op die sinkplaat van die afdak voor ons kamervenster, dan klink dit eerder soos musiek soos wat dit al harder en harder val. En drup-drup dit weer. Tans kom die son so naby 11 deur die wolke sodat ek wasgoed droog kan kry. Party dae …

Hemels.

My toep sê dit gaan vandag hard reën, die maksimum temperatuur word op 20 grade Celsius geskat.

Wat my bring by nog ‘n verskil in die lewe in Kazakhstan en hier, in Kathu.

Daar het ons die weertoep daagliks dopgehou. In die winter voordat ons dit uit die huis waag. Want die huise is warm binne, so warm dat mens met bandjiesklere loop. En dan kan jy vries, letterlik, as jy uit sou gaan en jouself per ongeluk uit ‘n gebou sluit. Want daar loop jy in die winter in ‘n supervrieskas rond, ene dubbeld so koud soos ‘n vrieskas.

En dan maak ek sommer net my oë toe en sê dankie liewe Heer. Dankie dat ons veilig terug is in ons land. Dankie dat U ons beskermer is. En baie dankie vir die wonderlike reën wat U mildelik oor Kathu laat val.

Seën ons land asseblief in hierdie tyd. Was asseblief alle virusse uit die lug.

37 gedagtes oor “Kathu – die warm dorp?

  1. Ek verkyk my aan die videos wat rondgestuur word wat wys hoe nat die wêreld in daardie geweste is. Interessante skrywe, Christa, ek wonder ook dikwels oor reën patrone.

    Liked by 1 person

  2. Ek dank God saam met jou. Ek eer Hom.
    Destyds toe die seedingbesigheid goed was, het iemand gesê: Die tye het darem verander. Vroeër is op terroriste geskiet en gebid vir reën. Nou bid ons vir ons veiligheid en skiet vir reën.

    Liked by 2 people

  3. Ek vermoed dat ek aardrykskunde sou geniet. Het dit tot st 7 gehad en die goed het vir my sin gemaak. Ons kon dit nie verder neem nie, maar ek sou seker maar die syfervakke gekues het as ek kon. Daardie tyd.

    Liked by 1 person

  4. Daardie spuit van wolke om te verhoed dat dit hael en te laat reen het hul in bisveld ook in begin van oefeninng gedoen. Baie interessant gewees om te sien en dan ook die resultaat te sien. Mense is baie vindingryk as hul wil.( Eks ook n geografie gekwalifiserde persoon dis hoekom dit lekker is om dinge te weet.) Geniet jou hot as hel later.

    Liked by 1 person

      1. Jong dit was in laat sewentigs dat hul in Potgietersrus begin het om met klein vliegtuigies(een op n slag) en een of ander vloeistof wat hul gespuit het uitgestuur het na die aankomende donker wolke. Hul het ook geweet watter is hael wolke want daardie jare was daar nogal baie hael wat die tabak so verrinneweer het. Dit was regtig nog in begin stadium gewees en ook nie baie wat dit gedoen het nie. Daar was spesifiek een ou met sy vliegtuigie wat dit in die somer gedoen het.

        Liked by 1 person

          1. Ek onthou daar was altyd opwinding in die lug as die wolke so opsteek. Daar was maar n klein vliegveldjie buite Potties spesiaal vir die vliegtuigie. Almal het gepraat as daar gespuit gaan word of as dit besig is om te gebeur. Was met tye bietjie te laat gewees ook nog daarby.

            Liked by 1 person

  5. ek kan glad nie hitte uitstaan nie. My kop is duidelik en ek is pap pap pap. so ek is bly vir jou part dat dit nog nie warm is nie. Die seeding is vir my net so interessant. Daar was eenkeer ‘n program daaroor op tv national geographic as ek dit nie is het nie, en daarna het mens nooit weer daarvan gehoor nie.

    Liked by 1 person

    1. Ek kan jou goed glo, Woordnoot, ek kan dink dat ek ook hier sal wil bly. In my eie huis. Tans is dit nie so lekker nie, maar darem ook glad nie so sleg dat ek kerm om huis toe te gaan nie. Die kameeldorings groei op my.

      Like

          1. Ek verstaan maar ek gaan julle tempteer…gaan n paar op Telegram en wapps sit…net vir die lekkerte daarvan

            Liked by 1 person

  6. Dit gaan maklik 78 grade warmer as Oskemen word; selfs meer. Maar snags kan ook koud word agv straling; het mos in my jeug daar in PW Botha se oopplanhotel geslaap, sommer so neffens ‘n bos in die veld, my weermagtrommel lekker diep begrawe vir ‘n kussing. Algaande leert men en ons oorleef in die sand. Een nag skiet die hopelose bokfanteriste die waterpunt murtu en ons moet SKEER met BIER waarvoor ons BETAAL en niemand mag ‘n sluk vat nie. Later dieselfde dag verlang mens na yskoue Leeutjie of Kasteeltjie wat koud genog is dat jy hom met mes en vurk kan eet. Want daai son skyn sommer regaf na jou toe, vat nie eens ‘n draai nie en dit in die winter. Warm en koud kan hy raak en sy pers stof was lank deel van my dieet. Troepie kla oor sand in sy kos en die sammajoor berispe hom, hy is hier om sy land te verdedig en nie om te (vr)eet nie. Ja, seg troepie, ek is hier om dit te verdedig en nie om die plek op te vreet nie! hehehehe

    Liked by 1 person

    1. Sal later klaarkyk, dit het my sommer nou in heimwee. Ek is baie lief vir daardie mense, die land ook. Ons was maar sissies, het nie in sulke tye oo ver paaie gegaan nie. En weet net een ding. Daar is nie toliette of slaapgeriewe langs die pad nie, En die mense is arm, ek wonder waar hulle kos vandaan sou kry.

      Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.