Branderjaer deur Joha van Dyk speel af in die Wes-Kaapse stranddorp Stormbaai. Dit vertel die liefdesverhaal van Louw Swanepoel, seun uit die onderdorp en Deidre Anker, rykmansdogter.
Deidre het Louw en sy vier maats aanvanklik verfoei omdat hulle gevaarlike goed gedoen het om aandag te trek. Soos om van kranse af te spring en video’s daarvan te maak. Of om die wilde see aan te durf op hulle planke. Sy weet presies wat sy uit die lewe wil hê en sy werk daarvoor, met die aanmoediging van haar ma. Terwyl haar pa hom eenkant hou. Waarom word later duidelik. Deidre sukkel met Wiskunde en haar onderwyseres stel voor dat Louw haar help.
Louw presteer op skool, veral in Wiskunde. Hy is deel van ‘n groep van vyf graad 11- en 12-seuns wat vir ‘n groep gewetenlose manne, wat as die kringmakers bekend staan, aan ondergrondse boksgevegte moet deelneem om hulle eie bloedskuld, sowel as dié van Kalla (meisie), Bes se suster, af te betaal. Later word duidelik dat hulle eintlik hulle eie bloedskuld ook af betaal, hulle het net besluit om vir niemand te vertel dat hulle dalk vir Deidre se neef se dood verantwoordelik kan wees nie. Al manier waarop hulle van die skuld verlos kan word, is om seker te maak dat hulle akademies so goed presteer dat hulle nie druip nie. Omdat die seuns eers los is wanneer die laaste een matriek slaag.
Deidre raak geheg aan Louw en uiteindelik ontrafel sy die geheim rondom sy beserings, help sy hom om uit die net te ontsnap.
Aanbeveling
Ek kan die boek as voorgeskrewe boek aanbeveel. Tieners sal met die hoofkarakters kan identifiseer, ook met die idee van broederskap onder seuns. Hulle kan die impak van groepsdruk en druk van ouers herken, met moeilike gesinsverhoudinge identifiseer en sommiges van hulle mag dalk self vasgevang wees in die onderwêreld, waar bendes en gewetenlose volwassenes hulle lewensvreugde steel. Die impak van boelies op skool word ook aangespreek.
Dalk kan tieners gehelp word om te verstaan dat daar ‘n uitweg is? Die boek bied ‘n hele paar aanknopingspunte vir gesprekke in die klas.
Ek het die interessante manier van hoofstukindeling geniet. In plaas van numering of titels vir hoofstukke, begin die verhaal met Louw as titel van die eerste hoofstuk, met branders in ‘n sirkel as sy kenteken omdat hy ‘n branderryer is. Dit word gevolg met die tweede hoofstuk met die titel Deidre, en ‘n anker in ‘n sirkel as haar kenteken. Dan word die hoofstukke so afgewissel, een vir Louw en een vir Deidre tot die laaste een aan Louw gewei word. Deidre se kenteken is om verskeie redes gepas. Haar van is Anker, maar sy is ook Louw se anker. Sy hoor ook by Louw dat ‘n anker van sy pa se boot haar geliefde neef se dood veroorsaak het en hy dra ‘n anker om sy nek – wat hom waarskynlik aan die dood van haar neef herinner. Omdat elkeen van die aandenkings om sy nek ‘n emosionele betekenis dra.
Die taalgebruik pas by die van tieners, met Engelse woorde so nou en dan in die teks.
Dit is boeke soos hierdie een wat mens weereens laat besef dat skoolvakke nie alleen behoort te staan nie. Dat die gesprekke in die Afrikaanse taalklas voort kan gaan in die Lewensoriënteringklas. As die onderwyser bewus is van die dilemmas wat in die Afrikaanse voorgeskrewe werke hanteer word.
Kritiek
Ek vind die gebruik van die enkele kragwoorde onvanpas en geforseerd. Ek sou aanbeveel dat dit in opvolg uitgawes vervang word, selfs met letters en simbole, soos wat in teks gedoen kan word, indien die boek as voorgeskreewe boek voorgehou word. Alhoewel tieners so kan praat, wil ek dit nie aanmoedig nie en is dit onaangenaam om sulke taalgebruik in klasse te hanteer.
Kyk gerus na die lokprent vir die boek op Facebook by https://www.facebook.com/NBPublishers/videos/branderjaer-deur-joha-van-dyk/781949285703290/
Klink die lees werd.
LikeLiked by 1 person