Gepubliseer in Reisjoernaal

Goue Vroue, Maps.me en Mosambiek

Maps.me is blykbaar ‘n goeie toep in Europa. Manlief se tolk in Öskemen. Kazakhstan het dit gebruik om die hele Europa vol te toer. Vir ons kon hy nie oortuig om dit in Kzakhstan te vertrou nie. Want ons sal dit nooit weer vertrou nie. Nie nadat ons dit in Mosambiek getoets het nie.

Hierdie ware verhaal vorm deel van ‘n bloguitdaging: Vir die doel van hierdie uitdaging word elke Goue Vrou uitgedaag om ‘n ware verhaal te vertel waarin sy waaghalsig, roekeloos, dapper, onverskillig, vreesloos, uitdagend, mal, koen, riskant, gevaarlik of heldhaftig was. Met een groot verskil. Soos gewoonlik is die res van ons karakters in elkeen se ware verhaal. Die verhale van die Goue Vroue se waaghalsigheid kan hier gelees word https://fresh.inlinkz.com/p/f80d05d5846445598fea67b47c8a6182.

Die Goue Vroue was deur Una se vertellings van Mosambiek so meegesleur dat hulle besluit het om ‘n bussie te huur om die warm seewater aan die ooskus van Mosambiek te gaan toets. ‘n Kuslyn wat soos die Natalse kuslyn lyk. Met een groot verskil. Dit is nie so ontwikkel nie, daar is plekke wat baie naby aan ongerep is. Soos Paraiso de Chidenguela, nie te ver noord van Xai-Xai. Seker so 80 km hoër op, effens dieper om na die see toe in te ry. By die gehuggie Chidenguela, die naam van die vakansie-oord is juis paradys van Chidenguela.

Die Kaapse vrouens sou ‘n dag voor ons ry.

Appeltjie wou nog ‘n bussie reël. Juffrouens het baie kontakte, sy het een gekry wat net-net padwaardig was. Maar spotgoedkoop. Seegogga was verskrik, wou nie bestuur nie, haar lisensie het verval en sy kon dit nog nie gaan hernu nie. Toortsie se geliefde het geweier dat sy in ‘n bussie klim toe bied hy sy dubbelkajuit 4X4 aan. Geen maars nie. Hy het geweet watter wilde wragtig sy agter die stuur was, dus het hy Aalsie as bestuurder genomineer, salig onbewus van haar neiging om resies te jaag.

Trommeltjies was kastig doodmoeg na haar tuinmakery en het aangebied om agterin te slaap. Sy het geweet watter waaghalsige vrou Aalsie is. Ons almal se harte klop nog een slag te mis na die trapkarresies. Ek verstaan dat die vrouens beurte gemaak het om te bestuur, agterin te slaap en agtersitplekbestuurders te wees. Seegogga moes teen wil en dank bestuur, haar sitplek was stukkend geknyp soos haar voelers geknyp het as sy ‘n polisiekar sien.

Ons sou net buite Nelspruit beter inpas in ons vervoermiddels. Kon van Pretoria af, maar die goues van die suide het besluit om kortpad te vat (wat eintlik lang pad is). Hulle het by Bloemfontein uitgedraai om so by Lebombo uit te kom. Dit moes ons gewaarsku het teen kort paaie. Maar, helaas, dit het nie …

Die res van ons het ‘n dag later in die pad geval.

Frannie en Virgo het so pas uit Amerika en die Emirate geland. In Johannesburg. Manlief het sy Amarok aangebied en Frannie en Woordnoot het saam met my gery. Een van die dames van die suide sou ons vierde passasier wees. Aangesien ek ook ‘n wilde wragtig is, het manlief Woordnoot as bestuurder aangestel. Ons het ons lag bedwing – as hy maar weet! Sy jaag haar baaskind bang.

Ons het egter besluit om beurte gemaak om te bestuur terwyl die res foto’s neem.

Una se manlief het sy 4X4 ook aangebied. Sonell, Virgo en Positief het saam met haar gery. Virgo wou nie saam met ons ry nie. Sy het haar ousus (aka broer se vrou) te veel gemis. Una se man het ‘n klap teen die bak geklap, soos mens ‘n perd aanjaag en geskreeu: “Rook hom, Una, die pad moet vinnig klaar kom. Mosambiek wag …” Hy het gedink dat sy ‘n versigtige bestuurder is en dit nie ter harte sou neem nie. Wel …

Ons van die noorde het mekaar by die eerste pitstop op die N4 ontmoet, die een net nadat ons deur Pretoria is. Die res het ons klomp by Matsula tussen Nelspruit en die Lebombo grenspos ontmoet.

Tussen ons het ons al die selfoon diensverskaffers gedek. MTN, Vodacom, Telkom, Afrihost, Cell C en nog ander internetverskaffers op ons ipads. Ons sou wel sein kry, een van die verskaffers sou werk, het ons ons liefies vertel. Moenie komkommer nie, ons is die Goue Vroue, hoe dan anders?

Maps.me is op my foon gelaai om die pad aan te wys. Net vir ingeval. Want dit het nie ‘n sein nodig nie, werk met GPS of sateliete of so iets. Die ander het dit ook op hulle fone gelaai.

Nadat ons ons boeglam gesukkel het om deur die grenspos te kom, is ons op die hoofpad na Maputo, wat ons almal as Lorenzo Marques geken het. Una het ons teen die boewe by die hek gewaarsku, mens kom nie daar weg sonder om omkoopgeld te betaal nie.

Die man wat ons kastig wou help, het sy alie afgeskrik toe Virgo haar samjoorstem gebruik en hom waarsku om ons uit te los. Toe ons almal soos een man Een vir almal en almal vir een dreunsing het hy bes gegee. Veral toe ek die gumbootdans met ‘n klap op elke voet inlei en almal lustig inval. Moenie met hierdie vroue mors nie.

“Christa,” sê Trommeltjies “waar het jy dit geleer?”

Ek lag en verduidelik dat ek die LO juffrou was toe ‘n kollega dit in ‘n opvoering ingewerk het. En die kinders het in my periode geoefen. Het gekyk en skelm by die huis geoefen. Ek was nie verras dat die Goue Vroue dit ken nie, hulle het net ‘n inleiding nodig en dan volg hulle.

Die pad was mooi, skaars 48 van die 93 km na Maputo toe kondig Maps.me aan dat ek links af moet gly. Kortpad na Paradiso, dan ry ons die ringpad – of is dit nou die kringpad – mis. Ek wil nie, maar Toortsie dring daarop aan dat ek moet stop. Die Kapenaars is moeg gery. Hulle kom al die pad van die Wes-Kaap af. Bredasdorp om presies te wees.

Ons stop, hou kajuitraad.

Una is baie ongelukkig, dring daarop aan dat die vrouens op hulle selfone se kaarttoeps moet kyk en ja, geen toep toon die kortpad as ‘n alternatief aan nie. Inteendeel, hulle weet nie eens van so ‘n pad nie. Almal wys ons moet op die hoofpad bly. Die algemene gevoel is dat ons kortpad moet vat, daar word gestem en ek, Una en Virgo verloor. Al ken Una die land beter as ons.

Ons was skaars op die pad, toe is dit ‘n grondpad, plek-plek vol modder as gevolg van daelange reën. Daai tyd het Mosambiek swaar reën gehad. Oorstromings oral.

Toe ons kort daarna ‘n gehuggie bereik, wil ek omdraai grootpad toe. Maps.me wys ons moet in een straat regs op draai, ek wys deur die ruit vir Una en Aalsie, wat toe weer agter die stuur was, dat ek wil omdraai. Toortsie moes kyk wat die ander antwoord. Volgens haar wys hulle ons moet aanploeter, daar is seker ‘n groot pad net na die gehuggie. Iets soos kyk noord en foeter voort, dink ek by myselwers, maar ek het verloor, moet die pas vat.

Die pad is lelik, verspoel en vol dongas. ‘n Klomo verlate voetpaaie wat Maps.me as paaie aansien en ons daarop stuur. Ek gooi noodligte en stop voor een diep donga net daar in die plaaspad, reg voor die diep donga vol water wat die pad versper. Daardeur gaan ek nie ry nie. Klim uit en die ander vrouens klim ook uit hulle bakkies.

Ons besluit dat ons nie verder kan nie, ons gaan vassit en wie gaan ons help? Daar is geen motors op die pad vandat ons die gehuggie verlaat het nie. Net voetgangers, fietse en donkiekarre. Ons gaan die toep toemaak en Google of Apple maps gebruik. Toe kom die skok: niemand van ons het opvangs nie.

Ons is in die grammadoelas van ‘n vreemde land vasgevang.

Net Maps.me ken die pad daar uit. En ons weet nie of ons die toep moet vertrou nie.

Frannie stop die eerste voetganger wat verby kom, vra waar Maputo is? Ons verstaan nie, hy praat Portugees. Xai-Xai? ook nie. Sy laat egter nie op haar wag nie, keer nog mense voor. Selfde storie, ons verstaan hulle nie. Maps.me moet ons red, en ons dink hy het ‘n vendetta teen ons.

Woordnoot besluit dat sy wel vir die watergat kans sien nadat ‘n perdekar sukkel-sukkel deurgekom het. Die passassiers sopnat omdat die sitplek so naby die water gekom het. Sy boender ons in die Amarok en die ander besluit dat hulle vir eers aan duskant gaan wag. As Woordnoot deurkom, kan die ander bakkies ook.

Die Amarok gly in die water in en toe gly ons, daar is geen traksie nie. En toe vat die wiele vas en ons sukkel gly-gly teen die ander kant op. Ons is uit en parkeer ‘n ent vorentoe, hardloop terug om die ander aan te moedig. Die wiele dik van die modder.

Aalsie sit die Kaapse bakkie in eerste rat, diff lock en alles aan wat aan moet wees en sy jaag die water in. Dit spat een massiewe boog na ons almal wat weerskante van die gat water staan. Ons gil en hardloop net betyds weg. Toe ry sy ook gly-gly teen die oorkanste kant uit. Die bakkie besmeer met modder, sy kan skaars sien waar sy moet ry.

Positief was agter die laaste bakkie se stuur. Ons was benoud, die gat was die ene modder en ons het net gebid dat sy veilig deurkom. Sy het te stadig ingegaan en toe vrek die bakkie in die middel van die gat water.

“Moenie die deur oopmaak nie,” waarsku Sonell toe sy sien dat die water aan die deure raak.

Na vele probeerslae vat die bakkie weer, gee sy vet en daar sukkel die laaste bakkie uit die watergat.

Maps.me is baie tevrede, ons is steeds op die regte pad.

Elke keer word ons teleurgestel, as dit gewys het dat ons oor paar km gaan draai, is ons net weer op ‘n kleiner pad gegooi.

Op een stadium wys Maps.me dat ek links moet draai. Ek kyk uit vir ‘n pad, sien niks en ry aan. Die ander bestuurders ook. Maar ons is verby. Seker maar ‘n fout, besluit ons, maar Maps.me kerm – ons moet omdraai, ons is verby die pad.

By die “pad” stop ek. Dit is geen pad nie, dit is ‘n grasstrook tussen hoër bossies. Maar Maps.me is tevrede, dit is waar ons moet in.

Die “pad” wys op die groot foto.

Appeltjie staan op die bakkie en kyk in – ons kan seker maar daar ry, dit lyk breed genoeg. En so is ons die veld in, al agter die aanwysings van ‘n mal toep aan. Dit is geen pad nie.

Ons kom weer by ‘n plaaspad uit, die keer slingerend. Die pad word al nouer tot ons hoor hoe die bosse om ons die bakkies krap. Daar gaan drie befoeterde mans vir ons wag. As ons ooit lewendig hieruit kom.

Toe raak Maps.me nog maller. Ons moet weer draai, sien geen spore nie, die bosse om ons is te na aan die pad vir ‘n halwe bakkie. Ons moet daar in. Ons ry verby, sy moet ander pad soek, maar sy laat ons agteruit ry tot ons haar instruksies volg. Ons moet daar in.

Trommeltjie staan op die bakkie se dak en kyk in. Sy dink die pad word wel breër vorentoe en die eerste bakkie ry in, die takke skurend en krappend oor die vensters, teen die deure en oor die dakke.

Om ‘n draai gil Toortsie verskrik toe ‘n vrou met ‘n panga reg voor ons in die pad staan. Woordnoot rem en ek is amper deur die voorruit. Die bakkies agter ons amper in ons in.

Ons is verskrik. Wat nou? Maar sy tree uit die pad. Bewerig ry Woordnoot verder.

Ek sien voorspooksels van 12 Goue Vroue wat iewers in Afrika in ‘n heksepot kook. Ons het vir kilometers geen mense gesien nie, net bouvalle van Vodacom winkeltjies en huisies. Ons is alleen in Afrika tussen die bosse. Ons kan nie eers ‘n pin aan ons mans stuur om hulle te laat weet waar ons is nie. Niemand gaan ons ooit weer kry nie.

Sy kyk ons net aan en tree uit die pad.

Ons wil nie verder nie, wat wag vorentoe? Ons kan nie omdraai nie, die bosse is teen die pad, eintlik oor ons karre. Ons moes nooit daar ingery het nie, verwoord Seegogga ons almal se gevoelens.

Toortsie verwyt, ons moes nie so suinig gewees het nie, die tweerigting radio’s sou nou handig te pas gekom het. En ek weet dieselfde gesprek is in die twee ander bakkies aan die gang. Nie een van ons gaan uit ons karre klim nie, ons moet maar op handgebare staatmaak.

Die bestuurders is moeg, maar nie een van ons sien kans om te stop en plekke te ruil nie. Ons gaan nie in daardie plek ons bakkies oopsluit nie. Waar is pangavrou se maatjies? Die Afrika tromme het die boodskap seker al mooi aangestuur – drie bakkies met bang vrouens is die bosse in. Vreesloos beskryf ons beslis nie. Dapper ook nie, eerder roekeloos waaghalsig.

Die bosse maak oop en die pad word weer ‘n verlate plaaspad. Langs die een kant is mans met pangas besig om gras te kap, kyk op en sien ons.

Woordnoot gee vet, so wragtig, hulle gaan eers die bakkie moet vang. Ons ander hop soos balletjies in die bakkie rond. Agter ons wys die stofwolk dat die twee ander bakkies volg.

Ons gee minder om oor wat voor ons aangaan, ons wil net van die pangas af wegkom. Ons het genoeg van die gebruik van die wapens in Afrika gehoor. Hier gaan ons nie gevang word nie.

Toe gebeur dit wat ons die hele tyd gevrees het. Ons word tot stilstand gedwing.

Die pad het weer links geswenk, en al drie bakkies het dieselfde spoor gevolg. Bo-oor ‘n afgesnyde boom waarvan die stam nie tot op die grond afgesny is nie.

Al drie bakkies se vrouens het ‘n massiewe stamp gevoel, ‘n geskeur van metaal gehoor en al drie se bestuurders het gestop. Ons is in groot moeilikheid, so het dit geklink.

Die drie bestuurders is om die bakkies, ons ander het beter as bobbejane wag gehou. Nie eens ‘n voëltjie kon beweeg sonder dat ons dit sou sien of hoor nie.

Als reg, die bande het nie gebars nie. Dit was ‘n verligting, maar ek was nie gerus nie. Ek het metaal hoor skeur, iets was fout. So lank die wiele draai, moet ons Maps.me volg om uit die gemors te kom.

Toe is ons uit die bosse uit. Die bestuurders moes stop, die Goue Vroue het ‘n massiewe nood gehad. Voor ons weer in die bosse ingaan, moet ons eers die veld in. My deur wil egter nie oop nie. Woordnoot stap om die bakkie en haar gesig sê moeilikheid. Ek moet liewer ander kant uitklim. Die deur is ingeduik, die bumper amper tot op die wiel ingeduik. Die twee ander bakkies lyk ook so.

Ek, Una en Toortsie staan verskrik. Manlief is baie gesteld op sy motors, hierdie skade gaan ons moeilikheid besorg. Daar is gelukkig nie sein dat ons die mans kan laat weet nie.

Buitendien, ons nood is nie weggeskrik nie, dit was eerder erger.

So gaan sit ons daar langs die pad in die veld in ‘n sirkel met ons rûe na mekaar. Ons soek nie verrassings nie. Die dag het ‘n hele paar slegte verrassings gebring.

Toe word die pad egter breër, ry ons deur gehuggies wat bewoon word en nog later draai ons skaars buite Maputo op die ring pad na die noorde. Ons het vier ure in die grammadoelas verdwaal. Ons kon binne ‘n uur al op die pad gewees het. Ons kon al in die see afgekoel het. Maar gebede word verhoor, ons is veilig uit die grammadoelas uit.

Ek het verniet gevrees dat ‘n rivier ons gaan keer. En dat ons nie weer die weg uit die plek gaan vind nie. Ek kon die liefdesverhouding met my sitplek laat vaar, geen geklouery aan die sitplek was meer nodig nie.

Toe begin ons fone piep en hou nie op nie. Vriendelike boodskappe van manliefs wat later kwaai boodskappe word. Waarom laat weet ons nie waar ons is nie. Nog later kommer in die boodskappe. Hulle het Paradiso gebel, ons is nog nie daar nie.

Ons antwoord, stel gerus, vertel dat ons nie sein gehad het nie maar laat ‘n belangrike stukkie detail uit.

Die skade aan hulle ryperde.

By Chedinguela, die dorpie waar ons moet afdraai na Paradiso toe, word ons deur die agterstrate gelei. En toe weer die grammadoelas ingestuur. Asof ons nie genoeg gehad het nie. Die pad is verspoel en ons ry die meeste van die tyd op tweebeenspore wat langs die pad uitgery is.

En toe moet ons weer deur ‘n massa water gaan. Geen idee hoe diep dit is nie. Kyk net hier …Woordnoot het deurgebeur, en die ander het gevolg. Dit was sanderig en die water het oor die neuse van die hoë bakkies gestroom. Net toe ons vrees dat dit in sou kom, is ons ander kant uit. Kyk die video as jy my nie glo nie …

En toe is ons by Paraiso, ‘n paradys in die grammadoelas. Ek het manlief gebel en hy was woedend toe hy hoor ons het van die grootpad afgewyk. Ons kon ‘n bom of twee laat afgaan het, daardie soort wat tydens die burgeroorlog gebruik is. En ek was so dankbaar dat ons veilig deur die grammadoelas is.

Daar was geen plek waar ons die bakkies kon laat regmaak nie. ‘n Werker by Paraiso het ‘n yster gaan haal en die deure oopgeforseer, sodat ons ten minste met moeite by deure kon uit.

Die eerste aand het ons al agtergekom dat die vrou wat kastig Mosambiek ken, swak produkte aan ons afgesmeer het. Daar was geen muskietnette nie. En die muskiete het ons opgevreet. By die restaurant. En ook in ons slaap. Hulle was mal oor die salf.

Die volgende dag het ons gelyk asof ons ‘n siekte het, met baie jeukende knoppe in ons gesigte, hulle het nie van die bloed in ons lywe gehou nie. Ons het soos blare met die knoppiesiekte gelyk. Waarom hulle ons lywe nie gelies het nie, kon ons net raai. Seker nog suur van die dag se gebeure. So is ons toe dit skaars lig was terug dorpie toe, ons soek muskietgoed. Daarna kon ons slaap, het alles gespuit wat te kope was, alles aangesmeer ook.

By Paraiso het ons so stuk-stuk van die spanning ontslae geraak. Volmaan, wit strand, warm water om in te swem. Ons twaalf Goue Vroue die enigste gaste. Etes in ‘n restaurant wat op die see uitkyk. Ons spanning het weggesweef.

Hoe dan anders? Is dit nie pragtig nie?

Pragtige restaurant, ons het egter gesukkel om die Portugese kelners te laat verstaan wat ons wil eet. Ons het ook die ligtoring naby Paraiso gaan besoek. Nadat ons lelik verdwaal het daar aangekom. Op die bestuurder se geradbraakte aanwysings staatgemaak. Weereens die onbekende aangedurf, moes die laaste baie kilometers te voet aandurf, met geen idee wat in die bosse kan skuil nie. Glyend op,kokende warm sand. Die uitsig het dit die moeite werd gemaak …

Die vrees dat die muskiete malaria kon dra, het mettertyd verdamp. Ons het mos ons malariapilletjies gesluk. Twee weke na die vakansie het ons geweet, ons kon maar verder ontspan, ons het die gevaar ook vrygespring.

Ek en Toortsie het lig daarvan afgekom, hulle wou ons mos nie vetrou nie. Ons het geweet hoe waaghalsig Aalsie en Woordnoot is. Hulle verweer was dat ons hulle nie reggehelp het nie. Ons s’n?

Een vir almal en almal vir een. Ons gaan mos nie teen mekaar draai nie?

Una se manlief het liewer stil gebly. Hy wou haar mos aanmoedig om die rook uit die bande te ry. Nuwe bande sou veel meer as die paneelwerk aan die deure kos …

Ons ander het nog nie weer Mosambiek gaan besoek nie. Maar Una het te vertelle dat haar hart na al die jare steeds wild in haar borskas klop as hulle die 48 km vanaf Maputo bordjie bereik. Dan mik haar manlief om daar af te draai om te gaan kyk waar sy sy bakkie so beseer het en sy sweer, sê sy, sy pluk die stuurwiel liewer uit sy hand en waag ‘n ongeluk op die hoofpad as wat sy weer daar afdraai. Ten minste sal iemand kan help …

Ons neem haar nie kwalik nie. Daar is ‘n vinnige pad na die noorde en dit draai by Maputo eers na die noorde. Nie 48 km voor Maputo nie. Dit weet almal. Behalwe Maps.me …

Paraiso de Chedinguele se webwerf se skakel

Onthou om die ander verhale van waagmoed van die Goue Vroue te gaan lees. Hier is die skakel weer …

‘n Paradys waar mens se siel kan rus …

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

26 gedagtes oor “Goue Vroue, Maps.me en Mosambiek

  1. My skoonseun en sy lugbemanning is lelik beroof in daardie omtes. Hy het baie gevlieg in die noordooste van Mosambiek. Ons groot groepe sendingvriende is daar beroof. AK47’s kan nogal oortuigend wees. Ek verkies die Namakwa Weskus of die Tankwa en sulke plekke vir avontuur. Was immers drie keer ge-kidnap in my lewe, een daarvan op ‘n eilandjie in die middel van die see. Sendingwerk het sy avontuur.

    Liked by 1 person

  2. Die tipe vroue wat die Drakensberge blootvoets kan oortrippel, verseker. Wens ek was die vlieg teen die voorruit. Dit moes iets gewes het om te aanskou.

    Liked by 1 person

  3. Kyk nou net vir jou, jy vat ons so waar as vet Mosambiek toe. Ek is super beïndruk, Christa!! Ek het die video waardeer, so tipies van die paaie. Well done, goue vrou!💃

    Liked by 1 person

  4. Dankie tog dat almal saam gestaan het. So ‘n katastrofe kon skeuring veroorsaak het. Ek wed jou die Portugese kelners praat nou nog oor die avontuurlustige Goue Vroue wat in hulle mans se 4×4’s rindrits.

    Liked by 2 people

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.