Vreeslose Goue Vroue in Fresh Markets in Öskemen

Hierdie ware verhaal het ‘n kinkel in die kabel, dit vorm deel van ‘n bloguitdaging:

Vir die doel van hierdie uitdaging word elke Goue Vrou uitgedaag om ‘n ware verhaal te vertel waarin sy waaghalsig, roekeloos, dapper, onverskillig, vreesloos, uitdagend, mal, koen, riskant, gevaarlik of heldhaftig was. Met een groot verskil.

Soos gewoonlik is die res van ons karakters in elkeen se ware verhaal. 

Die verhale van die Goue Vroue se waaghalsigheid kan hier gelees word https://fresh.inlinkz.com/p/f80d05d5846445598fea67b47c8a6182. 

***

Die Goue Vroue het soos een man besluit dat hulle by my in Öskemen (Ust’-Kamenogorsk) in Kazakhstan wou kom kuier. Hulle het gedink ek weet nie, maar ek het via die grapevine gehoor dat hulle my nie regtig glo hoe dit is om vleis en groente en alles op die mark te koop nie. Dus besluit ek dat die eerste uitstappie na die mark sal wees.

Ook dat ons van publieke vervoer gebruik gaan maak. Want dit is nou een ding wat mens nie in Suid-Afrika kan doen nie. Alhoewel, ek wonder wie ons sal probeer beroof as ons opspring en ons leuse skree: Een vir almal en almal vir een? Ek dink tog ons groepie kan maar die busse en treine hier saam-saam aanpak. Sal dit nou nie waaghalsig wees nie?

Ek het hulle twee-twee in die Dedeman hotel op die oewer van die Irtish rivier ingeboek. Hulle was vreeslik verras, want geboue is Öskemen is regtig baie, baie lelik. Daarom lyk die hotel indrukwekkend.

“Sjoe,” sê Toortsie, dit is regtig ‘n pragtige rivier. Kyk hoe blou is die water.” Ek stem tevrede saam.

Ja, waarskynlik omdat die water so verskriklik koud is, verduidelik ek. Groot dele van die Öskemen dam hoër op vries in die winter. En die rivier word deur smeltende sneeu gevoed.

“Verbeel ek my of is die stroom baie sterk?” wil Sonell weet. Sy moet nog mooi seker maak van strome want haar twee woelwaters wil gereeld in die water in. Ek verduidelik dat dit wel teen ‘n stink spoed deur ‘n deel van die stad vloei as gevolg van die hidro-elektriese stasie by die Öskemen dam.

Ek het gewik en weeg of ek taxi’s moet bestel. Of eerder bus vat. Die trem gaan ongelukkig nie in die rigting van Fresh Market nie. Bus het gewen, dit was na spitstyd en die busse is ‘n lekker ervaring. Oud, maar lekker.

Woordnoot was baie opgewonde oor die kamers en die ontbyt. Sy het bykans heelnag op die vensterbank gesit om na die rivier onder haar te kyk. Haar gedagtes ver van dinge wat gedoen moet word. Ons het die aand drankies in die hotel gedrink voordat ek gaan slaap het.

Ek het gedink hulle het saam met my gaan slaap. Toe nie, hulle het Vodka ontdek. En die skinkers in Kazakhstan het nie brieke nie. Die vrouens lyk egter uitgerus, hulle het brieke aangedraai.

Na ‘n heerlike ontbyt met uitsig oor die rivier is ons reg vir Freshmarket. Ek so effens bekommerd omdat ek soveel vrouens aam met my vat wat in die moeilikheid kan kom.

Ons het uit die hotel gestap, regs gedraai, verby Mia se woonstelgebou gestap, om die nuwe winkelsentrum en by Mieken oor die straat gestap om aan die ander kant van die pad te kom. Hier ry die motors mos aan die verkeerde kant van die pad.

Die bus het gekom en ons almal kon inpas.

Aalsie se gedagtes was egter by die ou bus. Sou hy hou? Daarom het sy amper haar wind uitgeskrik toe die kwaai buskondukteur bakhand voor haar staan. Ek het darem vir almal gesê hulle moet 90 tenges gereed hou om te betaal. Skaars R3 vir hoe ver jy ook al met die bus wil gaan. Sy het outomaties betaal en die vrou het na die volgende Goue Vrou gestap.

Ons is oor die brug en die Goue Vroue het hulle verkyk aan die mooi skoon rivier. Toe het hulle die groot Moslem kerk aan die regterkant van die pad bewonder. Ek sal later meer daarvan vertel. Ons is verby die eerste robot en net nadat ons die teater en die skool vir begaafde kinders aan die linkerkant gekry het, het die bus by die halte naby Freshmarket gestop.

Ons is vinnig af, die bus gee nie baie tyd nie, daar is roete om voltooi te word. En toe stap ons die mark binne. Of liewer deur die eerste stel deure, want daar is nog ‘n stel deure om die koue in die winter buite te hou.

Positief het in haar spore vasgesteek. Daar voor haar oë was hulle besig om mielies te kook. Die geur het die plekkie gevul. En voor ek kon help, is sy eers daarheen om met handgebare ‘n mielie te vra. Sy het eers Engels probeer en ‘n blanko uitdrukking gekry. Toe slaan sy na handgebare oor. Die getalle was egter onverstaanbaar. Sy het geen benul gehad van hoeveel sy moet betaal nie – en ek ook nie. Maar ek kon wys dat die vrou die bedrag moet skryf en toe kon sy betaal.

“Christa, skuus man,” laat sy hoor. Ek het gedink dit is onmoontlik dat niemand Engels verstaan nie. Ek het gelag, ek beleef dit elke liewe dag. Het die taal probeer leer, dit is ‘n onmoontlike taak.

Toe ons deur die tweede stel deure is, sien Appeltjie die heuning aan die regterkant raak. Sy is dadelik daarheen en ek het haar sommer jammer gekry. Öskemen produseer meer as 40 soorte heuning, sy gaan lank staan en proe. En dan nie weet watter een om te kies nie. Maar sy kom reg, wys na die een wat sy wil koop en wys dat die vrou dei bedrag moet skryf,

Una het al die grdroogde vrugtes raakgesien. En die neute. “Kyk hier julle,” laat sy hoor. Hier is makadamias, ek dog dit is net in Suid-Afrika te koop.” Ek vertel haar toe dat dit eintlik van Australië afkomstig is, maar dat die oosterse lande besig is om hulle eie te produseer. Die doppe word nie afgehaal nie, dit kry ‘n sny in. En dan kry jy so silwer gereedskappie wat daarin druk en gedraai word om die neut oop te breek. Dit is klaar gesout en baie lekker.

By die eerste vrugtestalletjie koop Seegogga piesangs en lemoene en appels. Ek wys vir haar watter die lekkerste is. En sy stap, soos mens in Pick ‘n Pay maak weg na die volgende stalletjie, met die vrou agter haar aan. Ek gaan red gou, want mens moet by elke liewe vrou waar jy kies betaal. Dit is nie ‘n supermark nie.

Toortsie is sommer erg gewip. Want by elke stalletjie waar ons aandoen en iets koop, word die vrugte in sy eie sakkie met handvatsels gepak. Al daardie gemors gaan see toe, raas Toortsie. En ek weet, maar hoe gaan ons dit nou aan mense verduidelik as hulle nie ons taal verstaan nie? Buitendien, hoe gaan hulle die pakkies dra? Want almal stap of ry bus of taxi.

By die rakke vol kase en melkprodukte staan die vrouens hulle en vergaap. Jy kan gekondenseerde melk in liter bottels koop, soortgelyk aan ‘n koeldrankbottel.

“Wat is dit?” vra Trommeltjies terwyl sy ‘n harde ronde witterige balletjie in haar hand vashou. Voor ek kan verduidelik, proe sy en spoeg dit fat dit daar trek.

“Dit is kurt” verduidelik ek. Dit word as Kazakhstan se nasionale kaas beskou. Daar loop ‘n storie dat uitlandse mans in konsentrasiekampe in Rusland honger was en dat hulle baie verontwaardig was toe vrouens hulle met klippe gegooi het. Na baie beduie het hulle uiteindelik verstaan, opgetel en geëet.

Die Goue Vrouens het elkeen ‘n pakkie gekoop. En ek kon nie wag om hulle gesigte te sien as hulle dit op die bus byt nie. Trommeltjie was nie fitterig nie. Hulle moes maar een pakkie gekoop het om te deel. Daardie kaas is nie lekker nie.

Voor ek kan red, het Frannie haar hand uitgesteek om ‘n bekertjie melk by een van die vrouens te neem om te proe. Haar oë het vol trane geskiet en haar gesig het vertrek en toe spoeg sy dit terug in die bekertjie met “Ag nee, sies man.” Dit was perdemelk. En die Kazakhs waardeer dit nie as jy dink hulle spesiale kos is sleg nie.

Ek kon nie help om te lag nie. Ek het haar so jammer gekry.

Toe draai ek na die vleisafdeling, waar bees, skaap en perd in stukke gekap is. Uitgestal op tafels lê. Met byle gekap. Vreemde snitte.

Una het na die een stuk vleis gewys en gevra hoe mens die splinters van die bene afkry. Ek kon net lag. Met moeite, dit is hoe. En dan mis jy steeds soms van die splinters. Om hulle in jou mond te voel as jy op ‘n stuk vleis byt.

“Jy weet, Christa, toe jy vertel het van jou man wat vir die vrouens gesê het hulle verkrag die vleis, het ek gedink hy is so bietjie voor op die wa. Hierdie vleis lyk vermorsel, hoe hou jy daarmee uit?”

Ek het gelag, gerusstellend. Jy raak daaraan gewoond, daar is nie ander keuses nie. Soos met die virus se inperkings. Swem of sink. Eet of bly honger.

En toe sien VirgoC die dik wit worse raak. Ek het gevoel hoe die kos in my keel opstoot, soos elke keer as ek verby die tafels met perdevleis loop, toe sy my roep om te verduidelik.

Die reuk sit my af, die kleur sit my af en die idee dat hulle perdevleis (kanina) eet, sit my af.

Dit is perdewors verduidelik ek en toe stap ek vinnig na die toegemaakte hokkie met varkvleis. Wat, anders as die vleis in die groot afdeling, met ‘n saag gesaag word. Tjoppies soos ons dit ken. Boud sonder splinters.

En … wors. Die enigste plek in Kazakstan waar ons wors kon kry wat soos ons wors lyk.

Ongelukkig het ek uitgevind dat van die dun worsies met perdevleis gemaak is, verduidelik ek. Dit is waarom ek en manlief ‘n masjien gekoop het om ons eie wors te maak.

Een van die vrouens roep vir Woordnoot nader. “Stêak?” vra sy? “Mêdallion?” Woordnoot is verras, sy wil die medalion (fillet) probeer. Toe die vrou die stukkie bleekwit vleis aanbied, sien ek Woordnoot se oë. Dat sy gelees het wat ek geskryf het. Dat hierdie mense die hele bees en perd eet, die geslagsdele ook.

Toortsie staan nader, so vinnig soos ek.

Ons fillet is rooi, nie hierdie melkerige kleur nie. Ons vermoed dit is iets heel anders as ‘n fillet verduidelik ons in Afrikaans vir Woordnoot wat verskrik agteruit tree.

“Nee man, Christa, regtig? Eet hulle geslagsdele?”

Ongelukkig ja, dit is ‘n delikatessen wat nie sommer in ‘n restaurant te koop gebied word nie. Maar tuis word dit vir gaste aangebied.

Toe vaar die vrouens in die geskenkwinkeltjies in wat aan die ander kant van die mark is. Koop vir hulle kinders en kleinkinders geskenkies, ook vir die manne in hulle lewens.

Seegogga het by die visse gaan staan. Sy en Trommeltjie en Toortsie het verwonderd gekyk na al die soorte vis met hulle koppe steeds aan. Die reuk van vars vis maak my naar, dus het ek en Frannie liewer na die brode gestap.

“Sjoe'” laat Frannie hoor. “Jy het nooit geskryf dat hier soveel brood en broodprodukte koop is nie.”

“Ja,” voeg die res by. “Kyk al die tuisgemaakte koekies wat mens so per boks kan koop.” En hulle koop elkeen vir hulle ‘n boks – wat soos ‘n nartjie boks lyk – vol koekies. Ek glimlag. Die Kazakhs bak volgens manlief baie lekker, hulle behoort dit te geniet.

Daarna het hulle hulle verkyk aan alles wat ingemaak word om te eet. Geel pampoentjies, uie, sampioene, alles wat ons ken en baie meer. Elkeen het vir haar ‘n bottel gekies.

“Julle is darem baie waaghalsig om so in die vreemde sonder ‘n tolk oor die weg te kom.” laat een van die vrouens hoor. “Dit was baie moeilik om te koop.” “Mens kan nie net wys en betaal nie, hulle wil met jou gesels. En ons het so sleg gevoel, want ons kon net soos dom mense glimlag.”

Ag nee wat, troos ek. Hulle dink nie julle is dom nie, hulle ken nie uitlanders nie. Wou met julle praat. Ek wens ek kon in die 18 maande wat ek daar was met een regtig gesels. Nie net ja en nee knik nie.

Die vreeslose Goue Vroue het sowaar goed te koop gekry, sonder om ‘n woord Russies of Kazakh te verstaan.

High five vir julle!

***

Hmmm, dink ek so by myselwers, ons is waaghalsig, maar darem nie roekeloos nie. Ons kyk die kat uit die boom, proe aan niks wat aangebied word nie, maak seker wat ons koop om te eet.

Want ons gaan nie perdevleis eet nie. Ook nie snaakse kase of geregte nie.

Hulle eet darem nie ander diere nie. Of laat ek liewer skryf, ander diereprodukte word nie op die mark te koop aangebied nie. Ek weet hulle jag bere en wolwe. Dink darem nie hulle eet dit nie?

Tussen al die goed wat te koop was, was daar kos wat ons kan eet. In ‘n land waar niemand ons verstaan nie.

***

Die bly in Kazakhstan en die Fresh Market is waar, die karakters is in ons storie in Kazakhstan ingebou.

12 gedagtes oor “Vreeslose Goue Vroue in Fresh Markets in Öskemen

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.