Die waaghalsige bergfietsers van Rebusfontein

Die idee vir hierdie uitdaging is deur Frannie geskep. Toe sy die Goue Vroue se kersete en manewales afgesluit het met ‘n versugting vir ‘n nuwe uitdaging. Ek het so lank gesukkel om my muse terug te kry na die winterdrame op Rebusfontein. Toe kom spring sy op my skouer, fluister in my oor.

Haai jy wat nie van nuwejaarsvoornemens hou nie.

Waarom begin jy nie ‘n bloguitdaging vir 2021 nie? 2021 skop erger as 2020 af. Toe het ons nie geweet dat die hele aarde ingeperk kan word nie. Maar dit is mos nie die eerste keer wat die Goue Vroue getroef is nie?

Vir die doel van hierdie uitdaging word elke Goue Vrou uitgedaag om ‘n ware verhaal te vertel waarin sy waaghalsig, roekeloos, dapper, onverskillig, vreesloos, uitdagend, mal, koen, riskant, gevaarlik of heldhaftig was. Met een groot verskil.

Soos gewoonlik is die res van ons karakters in elkeen se ware verhaal.

Die verhale van die Goue Vroue se waaghalsigheid kan hier gelees word https://fresh.inlinkz.com/p/f80d05d5846445598fea67b47c8a6182.

***

Onthou net, hierdie een is die eerste in die reeks, die skakel bo sal dus gereeld besoek moet word om die res van die verhale te lees …

Proloog

2020 het baie van my geverg. Moed, waaghalsigheid, vreesloosheid, dapperheid, onverskrokkenheid. En ek moet eerlikwaar skryf dat ek teen September byna hoop verloor het dat ek my kinders en kleinkinders teen kersfees sou sien. Want sien, ons sou Maart huis toe kom om ons nuutste kleinkind te ontmoet. Eerste aan seun se kant, maar ons vierde kleinseuntjie.

En toe gebeur die ondenkbare. Alle lande in die wêreld sluit hulle grense.

Ons kon nie huis toe kom nie. Ons was in Kazakhstan vasgevang, ons vlugte is gekanselleer. Maar voor ek verder vertel, moet ek eers agtergrond gee.

Toe manlief Desember 2018 die aanbod kry om in Kazakhstan te gaan werk, het ek nie gerustheid in my hart gehad nie. Dit het waagmoed geverg om hom te steun, want daar was sprake van dreigende wêreldoorlog wat deur die onmin tussen Sjina en Amerika veroorsaak kon word. En Noord-Korea het met sy atoombomme gespog, so nou en dan een gelanseer. Kazakhstan was – volgens my – ‘n plek waar bomme van mal lande kan val. En as ‘n oorlog sou uitbreek, was ek 10 000 km weg van my kinders. Hoe de ongeluk kom ek weer terug?

Die 10 000 km kon met niks minder as drie vlugte oorbrug word nie. Ust’-Kamenogorsk (Öskemen) na Almaty of Astana (tans Nur-Sultan) in Kazakhstan, dan na ‘n ander land soos Rusland, Doha, die Emirate, of Duitsland en dan eers na Suid-Afrika. Die goedkoopste vlugte het 72 uur (drie dae) geverg om tot in Suid-Afrika te kom, want die oorstane op die verskeie lughawens het tot 16 uur geduur. Duurder oplossings kon ons binne 48 uur in Suid-Afrika kry. Steeds heeltemal te veel tyd na my sin. As ek my kinders moet sien, wil ek nie so lank wag nie.

En hoe kom ek in Suid-Afrika as vegtende lande vliegtuie en skepe gebruik om mekaar aan te val? Sou Suid-Afrika sy neus uit die saak hou? Ek het getwyfel. Ek het aangeneem Kazakhstan sou beslis saam inklim, toe het ek nog nie geweet watter vredeliewende mense die Kazakhs is nie. Ek het ook aanvaar dat Rusland sou inspring, was hy nie deel van elke wêreldoorlog nie? En ons dorp was baie naby aan die grense met Rusland, Mongolië en Sjina. Toe het ek nie geweet dat Kazakhstan voor sy onafhanklikheidswording ‘n sentrale rol tydens atoombomontploffings gespeel het nie … As ek geweet het, sou ek dalk nie gegaan het nie?

My gesin het egter gedink ek is met belaglike gedagtes besig. Die wêreldleiers weet dat ‘n derde oorlog ten alle koste vermy moet word. Wie gaan daarby baat? Die aarde kan verwoes word as ‘n mal land met atoombomme aanval.

Half oortuig dat ek belaglike goed dink, het ek my tassies gepak en op 5 Maart 2019 saam met manlief in Kazakhstan geland.

Ek het al daarvan vertel.

2019 het met gemak verbygegaan, my gerus gemaak. Ons het drie keer huis toe gekom. In Julie om ons huis op te pak, November op ‘n besigheidsbesoek en Desember vir kersfees. Januarie is ons terug om Maart terug te kom om baba van Staden te ontmoet.

En toe gebeur die ondenkbare … ‘n pandemie.

Alle lande in die wêreld het hulle grense gesluit. Daar was geen wêreldoorlog nie, maar Sjina het ‘n virus die wêreld ingestuur. Een wat Amerika swaar getref het, die res van die wêreld ook. Almal het daaronder gely.

Vliegtuie het op lughawens gestaan. Ons kon nie huis toe kom nie. Die jaar het waagmoed van my geverg. Maar dit was nie die eerste keer wat ek waagmoedig moes wees nie. En wie wil nou nog oor 2020 kla of kerm? Ons het oorleef, omdat ons waagmoedig of dalk roekeloos was, maar veral omdat ons ons lewe in die hande van die Here geplaas het.

Alles gebeur soos Hy dit beplan het. En die uitkoms is beter as wat ek ooit aou kon beplan.

Dus wil ek die jaar afsluit en ‘n nuwe jaar begin met ‘n bloguitdaging om mt Goue Vroue vriendinne uit te daag om ‘n ware verhaal van waaghalsigheid of roekeloosheid te vertel. Myne handel oor bergfietsresies.

***

Die uitnodiging

In 2009 kom kuier my dogter vir die soveelste keer by my met blou kolle op die bene. Weer te vinnig op haar bergfiets gejaag. Beserings om te bewys dat sy aan ‘n kompetisie deelgeneem het. Die ballerina, wat, behalwe vir netbal, geen atletiek of ander sport op skool wou doen nie, het my wildsbokkie geword. En ek was bekommerd oor haar.

Bergfiets was nuut en groot in Suid-Afrika. Wil pa en ma nie ook deelneem nie?

Dit is iets wat ons saam met haar en skoonseun kan doen. Sy was nog kinderloos en dit het so aanloklik geklink, ons kon iets saam met die besige kinders doen.

Ek sou mos nie val nie, ek sal net versigtiger wees. Met ‘n gebreekte nek na ‘n motorongeluk toe 23 jaar gelede, kon ek nie waag om te val nie. Seun het net geweier om ook deel te neem.

Ek was wel amper 50, maar ek het my hele hoërskoolloopbaan van ons huis by die vendusiekrale na die ander kant van Ermelo na Hoërskool Ermelo toe op my dikwielfiets gery.

Ek ken van fietsry, ek gaan nie val nie. Ek gaan ook nie met haar kompeteer nie. Ek gee nie om om laaste te kom nie, veiligheid is belangriker.

In hierdie bloguitdaging vertel ek van die eerste resies waaraan ek deelgeneem het en word my Goue Vroue vriendinne deel daarvan …

***

Die waaghalsige bergfietsers van Rebusfontein

Appeltjie se geliefde ry ook fiets en sy het hom raad met die aankoop van ‘n bergfiets gevra. En die raad met ons groep vrouens gedeel. Self gaan sy nie ry nie, waarom sal mens jou op ‘n fiets afsloof as daar iets soos ‘n kar is?

Ek was egter vreeslik beterweterig. Ek wou ‘n Merida Juliet bergfiets hê. ‘n Brons ene het my hart met ‘n punt getrek. Ja, hy was effens duurder, maar dit was half gerusstellend dat ek op ‘n meisie gaan ry.

Sonell se twee kinders het haar gehelp om een te kies. Natuurlik sou dit net van die beste en nuutste op die mark moet wees, maar dit was onbekostigbaar. Daar was egter pragtige fietse tweedehands beskikbaar. Die advertensies het gelui dat die fietse net een keer gebruik was. Dus basies soos splinternuut.

Waarom dit my nie twee keer laat dink het nie, weet ek nie. Maar dit is mos een van my slegste eienskappe. Soms dink ek nie voor ek doen nie. En dan kom spyt heeltemal te laat …

Toortsie het uit die Kaap laat weet dit is effens ver om vir die Magalies Monster te kom. Dit is duur om ‘n fiets hier te kry. Sy gaan maar liewer die berge daar naby haar te voet aanvat. Dit voel veiliger as op ‘n bergfiets.

En dadelik val Trommeltjie by haar ferskoning in. Sy sal die lang stap oor die berge saam met Toortsie aanpak. Ai Toorts, wat is die naam van daardie stap nou weer? Vertel tog in die kommentaar. Ek neem aan julle het nie ‘n plaas gekoop nie?

Woordnoot was ook nie van plan om saam te gaan fietsry nie. Nee, hemel tog, sy stap eerder die berge in Golden Gate uit. Plat op moeder aarde. Geen ryding nodig om haar op die paadjies te hou nie. Voete is vinniger, volgens haar.

Ek het net geglimlag. Woordnoot, as jy darem weet hoeveel vinniger dit op ‘n fiets is, sal jy joune saamvat. Het jy toe te voet gegaan?

Aalsie se tweelingsuster het haar gewaarsku teen bergfietswedrenne. Dit word deur adrenalien junkies uitgelê, dit is nie iets vir vrouens wat al getroude kinders het nie. Sy het op Toortsie se wa gespring. Sy sou graag wou, maar dit is te duur om na die noorde te kom. Sy sal haar vriendinne help om die berge in hulle tuine te voet kaf te draf. Dit sal net so lank vat.

Seegogga se verskoning was geldig. Geen fiets se handvatsels is teen haar goue knypers bestand nie. Sy kon dit nie waag nie, waar sal sy hulp kry as die handvatsels breek? Die remme nie meer werk nie? Nee wat, sy sou moes bly.

Frannie was dadelik vuur en vlam. Nie om saam te ry nie, maar om vir my, Una en Positief by die eindstreep met haar mandjie brood te wag. Genoeg rede om die resies vinniger klaar te maak as wat ek graag sou wou.

VirgoC het besluit dat ons heeltemal gek is, ons gaan onsself ernstig beseer. Sy sou haar fiets swaar laai met al die salf, medisyne en pleisters en verbande om ons langs die pad te behandel. Teen sonsteek, uitputting, hitte-uitputting, dehidrasie en baie ander goed waaraan ons nie gedink het nie. Soos baie seer boude wat nie aan piepklein saaltjies gewoond is nie. Sy het vir haar ousus Una verantwoordelik gevoel.

So oefen ek, Positief en Una vir die eerste resies. Ons gaan die Magalies Monster doen.

Soos ek reeds gesê het, ek doen soms sonder om te dink. Wie by sy volle positiewe sou nie dink dat dit ‘n moeilike resies is nie? Wel, die monster in die naam het nie vir ons drietjies afgeskrik nie.

Ek en manlief oefen by die rivier op die grondpaaie. Nie voetpaaie nie, geskraapte grondpaaie.

Dolla en haar manlief oefen in die bergfietspaaie in en om die Goudstad. Mis ek daai naam nou baie … En ons vergelyk ons tye met die tye wat hulle in bergfietsresies aangeteken het. Ons kon dit mooi op die webwerf volg. Die twee van ons is baie opgewonde, ons kan die kinders laat les opsê tydens die Magalies Monster.

Ek laat weet dat ek vir die 40 gaan inskryf, manlief vir die 72. Ons was na 40mkm langs die Vaal glad nie moeg nie, ons gaan nie 10 en 20 km doen nie. Dollatjie smeek. Pa, ma. Dit is julle eerste. Asseblief ma, die 20 km, pa kan die 40 km probeer. Die monster is ‘n monster met ‘n hoofletter M.

Una en Positief oefen by die dam. Harties. Naby Buffelspoort waar die Magalies Monster begin. Ook op die grondpaaie, maar langs die hoofpaaie. Hulle tye is swakker as my en manlief s’n. Ons hou nie in gedagte dat hulle meer as ons klim en val nie. Plat is mos moeiliker as op en af? Mens rus op die afs.

Intussen skaf ons drie al die kleertjies aan. Stywe broekies, stywe hempies, skoene met cleats, pedale waarin die cleats kan vasskop, handskoene, moue wat afgehaal kan word as ons warm kry, valhelms, sonbril, salfies en gereedskappies vir die fiets. Spaar band in die saalsakkie agter die saal. Ons is gereed vir aksie.

So daag ek ek Una en Positief die Saterdagoggend by Buffelspoort op. Dit is koud, ons het ons armverwarmers, beenverwarmers en dik vessies onder ons sexy fietsrykleertjies aan.

Markus, ons Boerboel wat ons op Rebus help, was ook daar. Baie bekommerd dat ons drie Goue Vrouens nie die mas gaan opkom nie. In opdrag van almal wat nie vir die resies kans gesien het nie.

Una en Positief het hard probeer om nie te kyk hoe die man in sy fietsrykleertjies lyk soos hy voor ons staan en beduie nie. Mens sal sweer hy is nie bewus van hoe styf die kleertjies sit nie.

En nou moet ek eers afdwaal.

Ek was ‘n skaam eerstejaar, het baie beskermd grootgeword. Sonder broers het ek min van mans geweet. Toe het my koshuisvriendinne te vertelle dat my kêrel no ball room broeke dra. Ek het van ballroom danse geweet, klassiek en pragtig. Geen idee gehad wat sy broeke met dans te doen het nie. Toe vra ek maar my een vriendin, wat haar doodgelag het. Hulle bedoel die broekies sit heeltemal te styf, laat niks vir die verbeelding oor nie.

Ek was verontwaardig oor waar hulle oë op my kêrel se anatomie was. Self het ek nie daar gekyk nie. Soos nou met Markus in sy fietsrygewaad.

Toe ek dit vir Una en Positief vertel het toe ons klere geloop het, het hulle giggel.

Ek probeer hard om nie na Markus te loer nie. Dit pla dat hy ook ‘n Van Staden is. En ek het nog nie tyd gehad om navorsing oor sy stamboom te doen nie. Die man kan familie wees!

Frannie kom staan met haar mooi rokkie by ons en vertel vir Markus dat sy die broodjies spesiaal vir hom gebak het. Terwyl sy vir ons knipoog.

En ons vra toe vir Markus om liewer voor ons te ry.

Nie dat ons nie na sy stêrre wou staar nie, maar eerder dat die welbedeelde man nie na ons s’n kon staar nie.

Ons was deeglik bewus van hoe min ons eie broekies aan die verbeelding oorgelaat het as dit op die piepklein saaltjies inskuif.

En toe kom die verrassing van my lewe: Die Magalies Monster is presies wat die naam sê. ‘n Monster. En ek het dit nog nie reggekry om my voete uit die cleats te wikkel nie.

Die terrein was glad en mooi en breed waar ons weggetrek het. Uit by Buffelspoort se hek, skaars suiderig na Harties en Mooinooi se kant toe langs die teerpad en toe word ons op ‘n dun plaaspad ingeprop. Dit skei die ryers gou-gou, die bondels het gebars.

Om die eerste draai gly my fiets in dik sand en verskeie onervare fietsryers byt in die stof. Ek kan nie, soos gewoonlik my voete afgooi om te keer dat ek val nie, my voete is aan die trappe vasgehaak. En ek kry hulle nie uitgeklik nie. Genadiglik hou ek balans en sukkel ek om weer getrap te kry in die dik sand. Hoe weet ek nie, ek neem aan dit is oorlewingsdrang? Oerinstink?

Una en Positief het nie gecleat nie, hulle sukkel weer om hulle voete op die pedale te hou omdat die pad so stamperige rit veroorsaak.

Toe dun ons verder uit op ‘n voetpaadjie, wat tot my absolute skok, oor die damwal gaan. ‘n Smal wal, geen plek vir ‘n fietser om by ‘n ander een verby te gaan nie.

Aan die een kant is die wal so hoog soos boomtoppe, kan ek nie eers die grond of water ver onder sien nie. Aan die ander kant is die wal ook hoog genoeg dat ek seer gaan kry as ek daar afval.

Toe trek die twee afgronde my. Soos die dag in matriek toe my pa my toegelaat het om sy vragmotor op die pad tussen Volksrus en Ermelo te bestuur. En toe hy weer sien, mik ek vir die afgrond waar die pad hoog oor die Vaalrivier gaan. Hy het oorgeneem en ons gered.

Hier was ek op my eie. Met my voete deel van die fiets. Al,wou ek, kon ek nie voete van die pedale afhaal en stap nie. Ek sou bo moes bly om my nie des duiwels te val nie. Ek het net geweet ek wqs. ie gereed om ‘n sosatie aan een van die bome te word nie.

En ek weet ek het gebid. Ag Here, help asseblief. Hoe kon ek so onnosel gewees het? Wie is so mal om mense oor die pad te stuur? Met geen beskerming aan een van die kante nie.

Toe ek die oorkant van die wal veilig bereik, stop ek by ‘n boomstomp waaraan ek kan vashou. Ruk en pluk verbete aan die een pedaal tot my voet los is. En toe ek met die been veilig op moeder aarde staan, ruk en pluk ek om my ander voet los te kry.

Hierdie cleats gaan my dood veroorsaak!

Una en Positief is verby my, wou help, maar ek het gesê hulle moet gaan. Ek kom nou weer by.

Toe haal ek die skroewedraaier uit my saalsakkie, skroef die cleats onder my skoene los en gooi dit saam met die skroewedraaier in die saalsakkie.

Markus het probeer verduidelik dat ek nie moet nie, mens raak dit uitcleat gewoond. Ek het sy raad in die wind geslaan. Soos wat die pedale die res van die pad met my gemaak het. Die klipharde onderkante van cleat skoene kan nie op die trappe vastrapplek kry nie. En dan is my ritme uit, moet ek weer ritme vind.

Die voetpad was uitgetrap, met hoë walle aan die kante. En klippe om elke hoek en draai. My bene het gereeld ‘n krap gekry as my voet van die pedaal gegooi is. Maar ek moes die gevaarlike resies voltooi.

So vyftien kilometer in die resies in het ons ‘n grondpad bereik. Die een wat agter om Buffelspoort dam loop. Daar het ek vir Una en Positief ingehaal. Hulle het pap wiele gekry. En Markus het gehelp om bande te ruil.

Ek het gemaak of ek nie die skroewedraaier in Una en Positief se hemde se rugsakkeis gesien het nie. Net geknipoog. Mooi man, mens kan self vir die pap wiel sorg. Wonder of Markus dit weet?

Toe is ons weer van die pad af, af teen ‘n verskriklike steil helling wat veroorsaak het dat malles by ons verby vlieg. My voete was reg om te keer, af van die pedale af. My vingers was spierwit soos wat dit die remme styf getrek het. Met baie min spoedvermindering na my smaak.

Onder het die breërige paadjie ‘n skerp draai gemaak. En toe sien ek dat ek aan die een kant teen die rotse is. En ‘n gapende afgrond aan die ander kant. Ek het my lam geskrik toe ‘n malle van agetr skree dat ek pad moet maak, hy wil verby kom.

En ewe uitdagend teruggeskree. Gaan verby, as jy kan, waar de ongeluk moet ek heengaan?

Hy moes maar agter ons drie bly tot die pad weer op gelyker grond was. Waar mens veilig pad kan gee.

Nog was dit die einde nie.

Net voor die eindpunt moes ons deur die rivierloop gaan.

Ek is af, het my fiets teen die steil wal afgestoot, deur die rivier geloop en ander kant gly-gly teen die steil wal my fiets uitgestoot.

En die laaste meters na die wenstreep gery.

So saam-saam het ons drie oor die wenstreep gery. Ons leuse uitgeskree:

Een vir almal en almal vir een.

My dogter het my doodbenoud ingewag. Sy en haar man was al uitgerus.

Manlief het lank nadat die meeste mense weg is, eers daar aangekom.

Ons het ons lelik met die Magalies Monster vergis. En ons was dankbaar dat ons nie die langer resies gedoen het nie. Ek sou nie die 40 km kon klaarmaak as manlief so gesukkel het nie. Manlief sou beslis nie die 72 km kon voltooi nie.

VirgoC moes baie seerplekke dokter na die tyd. Ousus Una het ‘n lesing gekry, dit is nie vir ons nie.

Una en Positief het vendusie gehou, hulle uitrustings en alles verkoop. En verstaan waarom die fietse geadverteer word as net een keer gebruik. Ek wou my wiele ook verkoop, maar manlief gee nie so maklik op nie. Dus het ek aangehou, met die Goue Vroue se ondersteuning al die pad.

Ek het ongelukkig nie foto’s van die Magalies Monster nie, daar was nie tyd vir foto’s nie. Hier is so paar om te bewys dat ons wel bergfiets gery het. Die eerste een en die middelste een in die kolom was by ‘n baie slegte resies geneem. By Van Dalen kaasplaas naby Harties. Dit het die vorige nag erg gereën. Ek het geweier om af te ry, kon skaars loop. Toe help ‘n gewillige man my. Manlief ry mos vir my weg … Ons moes ook so onder deur paaie gaan. Ek was water nat, vol modder en dit was baie koud. My Juliet staan nou en stof opgaar.

Ek en manlief het ‘n hele paar medaljes verower voordat ons opgehou het. Dollatjie het babas gekry, ek het soms na hulle gekyk terwyl manlief en hulle aan ‘n resies deelneem. Toe hou hulle op. En ons het nie veel later ook opgehou nie.

Ek wonder of Una en Positief spyt is dat die Magalies Monster hulle laat besluit het om op te hou?

***

Elkeen van die resies het een ding gemeen gehad.

Net soos 2020 het jy nie geweet watter mal pad ‘n afrenalien junkie (ala politikus) vir jou uitgedink het nie. Ek sal nog van meer vertel, elke resies was ‘n uitdaging.

Jy het egter geweet jy is in die ding, dat jy moet swem (ek bedoel trap) as jy wil oorleef. Dat niemand dit namens jou kan voltooi nie. Dat daar nie hulp langs die pad is nie. Maar dat God naby is, dat jy in die stryd die hele tyd met Hom kan gesels.

En dit is die een ding wat ek in 2021 wil indra.

Ek wil weer, soos ‘n dekade gelede, waaghalsig raak. Nie roekeloos nie, net waaghalsig. Om 2021 te trotseer. Niks kan mens se spoed stuit as jy die Here saam met jou in die stryd indra nie.

***

My wens vir jou is dat jy ook waaghalsig gaan wees.

Iets nuuts gaan probeer.

Uit gemaksones gaan beweeg.

Om ten volle te leef!

‘n Struikelblok, of dit nou ‘n pandemie is of nie, mag jou nie jou definieer nie.

32 gedagtes oor “Die waaghalsige bergfietsers van Rebusfontein

  1. Ek is mal oor fietsry. As kind was dit al vervoermiddel wat in ons huis was. Bib toe, OK toe, skool toe. Noem dit. Ek het jou rit geniet maar ja…vir die 1e keer toe wel gaan stap (en klim) en sal maar eers daar vashaak. Dankie vir die bemoedigende uitdaging!

    Liked by 2 people

  2. Christa, jy het reggekry wat g’n niemand nog kon nie! My eerste resies op enige iets! En sowaar daar maak ons klaar… Carien moes my ń paar dae lank met letterlik alles help, die pyne was oral. Een vir almal en almal vir een!

    Liked by 1 person

  3. Dit was n heerlike vertelling Christa, maar ek is bly jy het my laat stap. As ek die bergfiets roetes so kyk, kry ek ń naar kol op my maag. Veral in Kanada, ons het op die trails gaan stap, ek kon nie glo enige regdenkende mens ry met ń fiets op daardie paadjies nie.

    Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.