Scrapy vra die ander dag dat ons oor skoene skryf, dus is hierdie weer deel van ‘n bloguitdaging.
Ek het op universiteit nêrens gegaan sonder my hemelhoë polvye nie. En moes baie mooi vanaf Madelief na die kampus stap om nie my enkels te breek as ek in ‘n gat op die sypaadjie of die teerpad trap nie. Maar veral om te keer dat my hakke nie nerfaf gekrap word as hulle in die teer vashaak nie. Maar mooi was mooi en ek was kort en ek wou nie so kort voel nie.
Terwyl ek juffrou was, het ek die mooiste, hoogste skoene gedra. Hoe hoër die hak, hoe meer het ek van die skoen gehou. As een paar gekoop is en lekker pas, is ek die volgende dag winkels toe om nog ‘n paar te koop. In ‘n ander kleur. Want dun hoë hakke hou nie.
Ek het selfs op my hoë hakke hokkie en atletiek afgerig. Soms die skoene uitgeskop en kaalvoet aangegaan, maar nooit, ooit tekkies gedra nie. Dit was tot baie later in my lewe vir my baie lelik.
Vir ‘n rok sal ek nie baie betaal nie. Want ek kan dit self maak. Vir ‘n skoen sal ek nogal betaal as dit mooi genoeg is. Altans toe sou ek. Maar ek sal ook nie buitensporig betaal nie. Dan kies ek ‘n skoen wat ek kan bekostig. Want hoë skoene se hakkies loop baie, baie vinnig lelik.
Hoe ek al probeer keer het, het niks gehelp nie. As jy weer sien, sak die hakkie in ‘n gleufie of gaatjie weg. Om jou soms so ongemaklik tot stilstand te ruk. Die skoen kan selfs oor jou hak gly en uit wees. En dan staan jy daar met die hak wat moet uit sonder om die hakkie op te mors. Baie van balans af, met die een hakkie in die pad en die ander baie hoë ene steeds aan die voet.
Dikwels werk dit nie, dan is daar riwwe en gleuwe oor die hak. En moet ‘n pragtige skoen weggegooi word. Want dit kan nie herstel word nie. Dink ekke, het nog nooit probeer ingee daarvoor nie. Kan mens?
Vir ou-tannie-dikker-hakke het ek nie kans gesien nie.
Tog het ek nadat Diana sulke skoene mode gemaak het, daarvan gedra. Omdat my soort mooi skoene ‘n ruk lank nie so maklik in winkels verkrygbaar was nie.
My trouskoene was fyn goue sandale, ek was min in my lewe lus vir ‘n hofskoen. Hofskoene was vir skoolhou, saam met sykouse. Dan het ek maar met my sykouse gespeel om nie so vervelig te lyk nie. Nate agter, kolletjies, strepies, verskeie skakerings vanaf wit tot by swart. Ek het selfs pienk kouse gedra as die lus my beetpak.
Toe dra juffrouens nie meer hofskoene nie en verdwyn sykouse van die rakke af. Nie die gewones nie, die mooies. Dit het egter nie te veel gepla nie, want ons kon sandale dra.
Sandale is vir my skoene, wat by enige baie deftige uitrusting gedra kan word. Mits dit baie mooi en baie deftig is.
Toe ons na Kazakhstan gekom het, het my skoensmaak verander. Die vrouens hier dra plat, balletagtige skoene, plat toe skoene wat soos tekkies lyk, plat stewels en plat hofskoene. Want sien, hier stap almal waar hulle wil wees. Daar is wel vrouens wat op baie dun hakkies balanseer. Ek is so dankbaar ek is oor daardie stadium.
Ek dra ook plat skoene, plat stewels en plat tekkie-agtige skoene. Ek het een paar hoër skoene en dit dra ek baie, baie selde, net as ek mooi wil lyk. Hoe praat ek dan nou, eerder deftiger wil lyk. Anders is plat skoene die lekker van die lewe hier. Ons stap roal waarheen ons wil gaan.
My een sus het mos vir my pa vir die waarheid vertel dat my kuite korter geword het omdat ek sulke hoë skoene gedra het. Dat ek nie anders kan as om op my tone te loop nie.
Die op die tone loop het ‘n ander geskiedenis. Toe ek klein was, het ons op plase en plot gebly. En as jy platvoet loop, kry jy voet vol duwweltjies. Op die tone is beter, kleiner plek om op grond vas te trap. En kleiner plek waar jy gesteek kan word. Ek sal nou nie weet of die steek van die doring dan harder en dieper is nie, ek weet egter wel dat dit help om nie die hele voet op die aarde neer te sit nie. Ook as daar vars beesmis is waar jy moet loop. Weet nie of dit blote gewoonte is nie, of dalk oorgeërf. Van my kleinseuns is ook maklik op die tone.
Ek is die afgelope drie dae in my winterstewels met wol in. Dit het skielik baie koud begin word en gewone skoene en kouse hou nie my voete warm nie. Dit is absoluut heerlik snoesig, daarom is ek besonder dankbaar dat ek huis toe gaan. Voor hierdie herfs soos ‘n baie erge winter word.
Goeie genugtig, as dit nou reeds -3 grade Ceslius word, wil ek asseblief nie weet hoe die winter gaan wees nie. Ek skat hier kom een baie koue winter in Almaty …
Hooffoto: Dit is die soort skoene wat ek sou koop, blinkertjies op hakke en al.
Ek staan altyd in verstomming en kyk na die mooi hemelhoë hakke, Christa, maar dis waar dit bly. Ek is lief vir plat skoene, nie tekkies nie. Was altyd, selfs op universiteit. Meestal sandale.
LikeLiked by 1 person
Ag lekker, Toortsie, ek is nou ook daar. Hoe platter, hoe beter.
LikeLike
Mmmm, dis Una hier…😂
LikeLiked by 1 person
Oeps, skuus, Una.
LikeLike
😉😂🥰
LikeLiked by 1 person
Nog net 5 slapies vir julle!💃
LikeLiked by 1 person
Sien dit is wat gebeur as ek vorms vir self-isolasie invul, wag dat manlief goed vir my aanstuur, en dan op my blog gaan kuier.
LikeLike
Ja-nee, daardie hoë skoene was vir my ook baie mooi eb het hul baie gedra maar as dit by sport afrig gekom het het ek tekkies met sokkies gedra! Dankie dat jy tog jou skoene beskryf het. Jy is die een wat my Wasdag weer oopgeblaai het toe ons oor skoene gepraat het.
LikeLiked by 1 person
Dankie Scrapy, daai is waar, is dit nie.
LikeLike
Beslis.
LikeLike
Lekker gelees. Ja, ek was ook baie lief vir die hakkies. Dit is elke dogtertjie se droom om so ‘n mooi hoë hakkie te dra! As jy agter babas aan hardloop verdwyn die hakkies egter stadig maar seker na diep agter in die kas.😄
LikeLiked by 1 person
Daai is waar, maar ek het die hakke eers so vyf jaar gelede heeltemal weggegooi.
LikeLike
😄😄😄💞
LikeLiked by 1 person
Toe ek jonk was het ek ook op my tone geloop vir dieselfde redes as wat jy beskryf.
LikeLiked by 1 person
Dit is so lekker om met jou te gesels. Ons het soortgelyk grootgeword.
LikeLiked by 1 person
Ek het ook net hoë hakke gedra….Maar na die bunion operasie is ek maar op die paltterige mooi sandale in die somer en warm skoene in die winter.
LikeLiked by 1 person
Ja, ek skat ek gaan ook by die bunion operasie deel kom. Voel of ek op iets loop. Is dit seer?
LikeLike
Ek was by n fantastiese dr. Hy doen gewoonlik nie albei gelyk maar ek het daarop aangedring. Ek het n redelike hoë pyndrempel. Dit was glad nie seer en dis nou al 10jr terug.
LikeLiked by 1 person
Ek sal beslis ook twee gelyk doen. Wat klaar is, is klaar.
LikeLike
Ja wat…ek was bang as hy een doen en dis te seer gaan ek nie die ander een laat doen nie
LikeLiked by 1 person
Lg ek nou lekker, dink dit is my rede ook ….
LikeLike
Nou toe nou!’n Onderhoudende storie en dìt oor skoene! Knap!!
LikeLiked by 1 person
Ag dankie, Letty-Anne, ek speel al so lank met Scrapy se idee.
LikeLike
Ek het net eendag na skoolgee op hakke en toe met gepaardgaande seer voete, belsuit basta met hoë hakke. Ek het een paar voete en hulle moet my lewe lank hou.
LikeLiked by 1 person
Ek het weer al die pad op my hakkies gegaan, tot ek ophou skoolhou het in 2008. Ek is wel spyt oor die puntskoene wat ek gedra het, my tone was dood, hoor.
LikeLike
Baie interessant. Dit moet verseker ‘n kuns wees om met daardie hoë hakke regop te bly, wat nog van loop. Vir my sê ‘n mens se skoene nogal baie van sy menswees. Ek is gladnie bevooroordeeld nie, dis net vir my interessant. Ek kan seker groet met “Mooi loop!”
LikeLiked by 1 person
Dit is nogal, baie studente sukkel maar goed op hulle hoë hakke op verhoë.
LikeLike