Gepubliseer in Reisjoernaal

Inkopies vir my hare saam met ‘n Koreaanse vriendin

Toe ons einde Januarie 2020 wildvreemd in Kazakhstan geland het, het die een tolk van Almaty ons gehelp om die week gemakliker om te kry. Sy het vir ons getolk. En so het ‘n band oor internasionale grense heen gevorm. ‘n Vriendskap met een van die jong vrouens van Kazakhstan.

Sy is van Koreaanse afkoms. En ja, sy dink Koreaanse produkte se gehalte is beter die gehalte van die produkte wat in Kazakhstan op die rakke is. Al kry mens bykans alles wat in Suid-Afrika te koop is op die rakke hier. Natuurlik met Russies op die etikette.

Haar hare blink. Dit lyk gesond en ek besluit ek moet beslis eerder die produkte koop wat sy gebruik. Dit was egter nie in Ust-Kamenogorsk op die rakke nie. Ek het verlede jaar al geskryf oor hoe die weer my hare hier beïnvloed.

Dit kry maklik elektrisiteit en plak dan aan alles om my vas. Maak sulke lang vingers wat aan alles om my wil vat. Of dit plak teen my vas. My voorkop, my wange, my hande. My klere. So asof die hare verlief is, of dalk eerder in ‘n trans. Hulle soek aandag.

Toe ons in Almaty aankom, bel ek haar. Sal sy asseblief vir my wys waar ek haar haarprodukte kan koop.

So is sy saam met my na Dostyk toe. Waar ek die produk by Nature Republiek kon koop. Goed duur, bykans R400 vir die kleine houertjie. Maar my hare hou daarvan. Hulle lê soek teen my skouers af, los my en ander rondom hulle uit en blink. Want sien, die haarsjampoe is spesiaal vir die probleem met my hare gemaak.

Ek kyk rond terwyl die vrou iemand anders help en sien pakkies gesigmaskers. Wil een uithaal om te kyk, die meisie verduidelik ek moet al vyf vat as ek koop. Vriendin tolk vir my.

Nee, dit werk eintlik so: Dit is in pakkies van vyf opgemaak. Ek moet tien vat, dan kry ek nog tien by. Dus twintig maskers. Ek staan die somme en maak en besluit dit is nie te veel vir die twintig maskers nie. Maar ek gaan so wraggies nie twintig van een soort koop nie.

Nee, dit is reg, ek kan vier verskillendes kies. So kies ek avokado, aalwyn, she butter en groen tee. Daar was baie meer, maar dit het my skoon deurmekaar gemaak, dus het ek by die vier gehou.

Altesaam het die haarproduk en die maskers my R600 uit die sak gejaag. Ek betaal nie sommer soveel vir my haarprodukte nie. Ook nie vir velprodukte nie.

Tog voel my vel soos ‘n nuwe sikspens nadat die maskers so tien minute op was. Laat manlief lekker skrik. Maar dit is deurskynende velletjies papier.

Ek gaan hom nog een van die dae inwag met daardie gekleurde room wat mens aansmeer en wag dat dit droog word. Kry mens dit nog? Ek sal vir groen gaan, dit behoort hom goed te laat skrik as hy dink ek is met ‘n marsvroutjie vervang.

Die foto met die masker is geneem en vir my kinders gestuur om hulle bang te maak. Ek het my oë maar weggesteek hier.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

16 gedagtes oor “Inkopies vir my hare saam met ‘n Koreaanse vriendin

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.