Gepubliseer in Reisjoernaal

‘n Oggend in Almaty se metro stasies

Dit is reg, jy lees reg. Almaty het ‘n ondergrondse moltreinstelsel. Die treinstelsel is nie baie lank nie, maar hulle beplan om goed uit te brei teen 2035. Mooi is dit beslis.

Ek was in Maart saam met ‘n gids by een van die stasies af. En toe moet ek die ander 8 ook sien. Dus het ek haar twee weke gelede gekontak en gevra of sy vir my op ‘n toer van die Metro wil vat.

Vrydagoggend is die d-dag. Vroeg is ek al gereed, want ek verpes dit as mense laat is. Dus is ek ook nie laat nie. Dit is die eerste keer wat ek in die afgelope twee maande wat ons hier woon alleen uitgaan. Want manlief werk nog die hele tyd van die huis af, dus doen ons alles saam. Na-ure of naweke. In die oggende en smiddae doen ek navorsing.

Volgens ons gid is dit ‘n 10-minute stap tot by die eerste stasie. Mens met haar nie glo nie. Dit is nie. Ons het seker nader aan 20 minute aan die paar blokke gestap.

My ek-weet-nie-wat-ek-versoek-nie versoek was dat ons by elke stasie ook na bo gaan om te sien waar hierdie mol uitkom. Soos ek skryf, ek het nie so mooi besef waarvoor ek gevra het nie. Maar dit was elke sent werd.

So, laat ek van die metro vertel.

Die metro bestaan uit ‘n enkele lyn, maar dit is nie in ‘n reguit lyn nie. Veel eerder soos ‘n winkelhaak, vanaf die stasie naby die Green Bazaar tot by Moskou stasie.

Ons het tot by Abai gestap, wat soort van in die middel van die lyn is, maar naby aan my huis.

Jy kan met ‘n voorafbetaalde kaart betaal, maar jy kan ook skyfies, of ‘tokens’ koop. Jy kan nie die kaart by die stasie koop nie, daarom moes ek 9 skyfies koop, wat op die ou einde te veel was. Dan gooi jy die skyfie by ‘n gleuf by die roltrappe in voordat jy na onder geneem word.

Abay (Абая)

En ek was amper dadelik spyt dat ek by elke stasie wil uitgaan na bo, kyk waar ek is en weer afgaan. By agt van die nege stasies is daar ‘n enkele roltrap wat jou van onder na bo en van bo na onder neem. Op een slag. Teen ‘n 40 grade hoek, dink my man, want dit mag nie minder as 37 grade wees nie. En 80-90 meter diep die aarde in. Hierdie foto is by Abai geneem.

Hierdie stasie se lang roltrap na onder het my amper laat besluit tee in die stad klink lekkerder as ‘n oggend op die Metro. Dit lyk nie naastenby so vreesanjaend op die foto nie. Ek wens die foto kon die ware verhaal vertel. Dit is een baie, baie lang roltrap wat ons by Abai stasie 80 meter na onder geneem het. ‘n Hele tagtig meter.

Ek wou sit, nie staan nie. Ek het effens na die ander twee opgeklim en dus was daar ‘n groot gaping tussen my en hulle. Dit was na spitstyd dus was die stasies nogal leeg. Ek het aan die reēling vasgehou en agteroor gelê. Gelukkig was daar nie baie mense nie, ons het na spitstyd gegaan.

Dit was tog die tweede keer wat ek met die trappe af is, dus weet ek nie waarom dit vir my so skrikwekkend was nie. ek skat daar kan twee redes daarvoor wees. Vriendin het vertel hoe bang dit haar maak terwyl ons soontoe stap, en dit het vasgehaak. Of, dit het in my kop vasgehaak dat 80 meter baie diep is. Almaty verwag ‘n groot aarbewing, volgens geskiedenis is daar elke 100 jaar een. Ek moet nog daarvan ook vertel. Ek wil net nog nie.

Ek dog ek gaan flou word toe ek op die eerste trap klim en toe eers kan afkyk. Gelukkig was ek reeds deur die hekke anders het ek dalk omgedraai. Ek is bly ek het dit nie alleen gedoen nie. Ek neem aan dit is tydens spitstye ook nie so vreesaanjaend nie. Ek was op en ek moes dit maar net beleef. Ek moes aan die kant vashou en my oorlewingsinstink het vertel ek mag nie val nie.

Die einde van die trap lyk soos by Gold Reef City se skag waarin daardie mynkarretjie afval, te klein vir ‘n mens om deur te gaan. Ek kan nie glo ek was so bang nie. Dit het ook nie beter geraak met die oefen by sewe stasies nie.

Ek kyk altyd by ons woonstel se venster uit, maar buk nie sommer oor om direk uit te kyk nie. Miskien pla dit my dat ek nie iets voor my gehad het wat die hoogte breek nie? Ewenwel, so land ek met baie, baie bewerige bene daaronder.

Teen die muur is ‘n kaart met die name van die stasies. Jy moet die hele tyd seker maak dat jy na Moskou of die teenoorgestelde stasie gaan, naamlik Raiumbek Batyr.

Pragtige stasie. Kyk net hoe kunstig is die bou en teëlwerk teen die mure. Hierdie stasie is in Abai straat, tussen die universiteite. Dus moet dit seker so indrukwekkend wees. Dit is ook naby die regeringsgeboue.

Die stasie is na een van die groot Kazakh digters vernoem. Abai het baanbrekerswerk gedoen deur Russiese en Europese werke in Kazakh te vertaal. Hy was van die eerste skrywers wat die Kazakhs se volksverhale geboekstaaf het. En hy is bekend vir sy digkuns. Standbeelde van hom is in lande wêreldwyd opgerig. Omdat hy as ‘n volksheld beskou word, word hy word gewoonlik in volledige tradisionele drag geklee as monumente van hom gebou word, juis om sy bydrae tot die Kazakh geskiedenis te vereer.

Die een muur het ‘n pragtige paneel wat aan hom opgedra is.

Die beligting van hierdie stasie is indrukwekkend. Onder is foto’s van die muurpaneel van ver en nader, die trein en ‘n deel van die paneel.

Daar is drie gange of gebiede, naamlik ‘n middelste een waar die paneel die fokus vorm en dan gaan mens deur koepels na die linkerkantste of regterkantste perronom op die trein te klim wat by een van die twee peronne stop. Ek het verstaan dat die trein drywerloos is, maar het sowaar eers teen die laaste stasie daarvan onthou. Toe sien ek ‘n drywer.

Hier onder is ook foto’s van dele van die paneel om ‘n idee te kry van die prag daarvan. Die Kazakhs hou baie van patrone.

Hierdie paneel is besonders. Toe klim ons op en ry ons eers reguit na die laaste stasie in die een rigting, om van daar na Moskou stasie te gaan, in ‘n logiese volgorde.

Raiymbek batyr (Райымбек батыра

Die muurpaneel by hierdie stasie is bokant die roltrappe wat mens na bo neem. ‘n Volksheld.

Raiyumbek Batyr is in 1705 in Almaty gebore en was ‘n baie bekende Kazakh vegter in die 18de eeu. Die woord Batyr beteken blykbaar held in Kazakh. Hy het ‘n belangrike rol gespeel tydens die bevryding van die Dzungars. ‘n Mongoolse groep perdevegters. Volgens die gids is daar nie vir hierdie held ‘n graf in die stad nie, want hy het ‘n spesiale versoek gehad. As hy sterf, moes sy lyk op ‘n kameel gesit word, die vlaktes in. Daar waas die kameel gestaop het, moes sy graf gegrawe word.

Ons is met die heelwat korter roltrap op na bo en met ‘n goeie stel trappe verder na bo om by die pad uit te kom. Naby die Green Bazaar, my gunsteling mark vir groente en vrugte. Natuurlik is daar ‘n appel-beeld, ons leef in Almaty, wat blykbaar vader van die appels beteken. Toe is ons weer af, om die hele rit op een slag te doen – natuurlik by elke stasie af, foto’s en weer op.

Zhibek Zholy (Жибек Жолы

Hierdie stasie is na die Kazakhnaam vir die syroete vernoem. Die syroete is vanaf die 2de eeu voor Christus tot die 14 de eeu na Christus gebruik. Hierdie stasie is naby Sentraal apteek, my gunsteling apteek in Almaty omdat hulle altyd het wat ons soek. Die mure is indrukwekkend versier. En mens stap op ‘n muurpaneel af.

Die mure naby die paneel herinner aan die houtwerk binnekant ‘n yurt, die Kazakh nomades se tenthuise. Die ronde deel in die middel van die paneel stel die boonste lugopening van ‘n yurt voor, wat ‘n shanyrak genoem word. Om die ronde deel lyk dit soos die latwerk van ‘n yurt se muur.

Hierdie ronde deel beeld die syroete uitgebeeld, met belangrike geboue van die lande wat op die roete was, ek kan nou sowaar nie al die argitektuur herken nie.

Dalk kan julle my help om die plekke en dus die lande te identifiseer. Daar is sewe in die sirkel: (1) (2) (3) (4) Egipte – piramiedes (5) (6) – colloseum; en (7) Meksiko. Die gids weet nie waarom Meksiko daar is nie, dus sal ek ook eendag wil gaan opsoek waarom dit wel daar voorgestel word. Dit is in elk geval pragtig.

Hier is nog ‘n muurpaneel by die stasie wat dele van die syroete uitbeeld. Hulle is mos besig om die roete te herbou.

Ons is die duiselingwekkende roltrappe op en daar is ook ‘n muurpaneel bokant die trappe wat na onder gaan. Ek vermoed mens kan aan die trappe die helling daarvan sien.

Hierdie paneel beeld ‘n besonder hartseer verhaal uit wat op die syroete plaasgevind het. Volgens die gids het die Mongole ‘n vredesooreenkoms met die land aangegaan om hulle nomades ‘n veilige roete deur die gebied te verseker. ‘n Karavaan met 500 kamele is in 1219 vanaf Mongolië na die stad Otyrar nadat die vredesooreenkoms bereik is. Die diplomate is egter vermoor en dit het ‘n teenreaksie veroorsaak waartydens die stad in puin gelê is. Opgrawings toon egter tans dat slegs die sentrale deel van die stad daarop dui dat vuur betrokke was. Dus is hulle besig om die geskiedenis te probeer herkonstruktureer.

Ek was moedeloos toe ek die steil roltrap na bo sien en was dankbaar toe die gids vra of ons nie sommer lus is om na die volgende stasie te stap nie. Tien minute – ja, ja, haar tien minute is nooit tien minute nie.

Almaly (Алмалы)

Hierdie stasie se naam beteken appelagtig en dit is naby Almaty hotel en op pad na die een teater. Word seker deur teatergangers ook gebruik. Die muurpaneel is ‘n glaswerk wat, natuurlik, ‘n appelboom voorstel.

Ons het verby Abai gegaan, was mos daar.

Baikonur (Байконур

Hierdie stasie vereer die Baikonur Kosmodrome, die grootste ruimtekompleks in die wêreld. Voordat Kazakhstan onafhanklik geword het, het Rusland en Amerika bemande ruimtetuie van hier af die ruimte ingestuur. Die Baiikumar stasie was die tuiste van die Russiese ruimteprogram vanaf 1955 tot die USSR geval het en is op die oewer van die Syr-Darya rivier in die suidooste van Kazakhstan. Die volgende ruimteprogramme is van hier af geloods: Sputnik-1, Yuri Gagarin (eerste man in ruimte), Valentina Tereshkova (eerste vrou in ruimte) en baie eerstes.

Die stasie het ‘n toekoms visie, met glimmende wit ligte en blou panele en speel selfs tonele van lanserings, wat ek nie gesien het nie. Vir my was dit vaal teen die ander stasies …. Ek het die foto bo by ‘n ander blogger gaan leen, ek het dit nie so gesien met die video wat agter speel nie.

Kan nie glo dat ek dit so vlak gekyk het nie. Dalk het die video nie gespeel nie?

Auezov Theater (Театр имени Мухтара Ауэзова

Die stasie is by die drama teater en is absoluut indrukwekkend wat d*e storie teen die mure ook betref.

Foto by ander blogger geleen, ek het naby foto’s geneem. Wat ‘n absoluut indrukwekkende storie wat teen die mure uitgebeeld word. Kazakh geskiedenis en tradisies. Die groot muurpaneel beeld ‘n Kazakh troue uit.

Naby die troue toneel, is agt ronde panele wat tradisies uitbeeld. En dan is daar naby die uitgang ook agt. Ek bied hulle hier in geen besondere volgorde aan nie. Elke keer soos horlosie loop.

Kazakh met sy arend en perd; Etenstyd in ‘n yurt, die arend met sy klappie op sy kop is ook daar, Musiekmaak is groot deel van tradisionele Kazakh se lewe; Oupa en ouma speel groot rol tydens kinders grootmaak in Kazakhs se lewe.

Ouma en ma maak bruid vir troue gereed, die toringagtige hoed op die voorgrond is bruid s’n; Familie is belangrik, elke Kazakh gesin moes arend en skaap gehad het; Jag, kyk die perd en arend en die wolf op sy rug; Baba in sy kot in die yurt, ouers met arend en skapie ook by.

Dans is deel van die Kazakhs se tradisies; ‘n Tipe van ‘n tou sport wat ‘n tradisionele Kazakh sport/spel is; Ryker familie by hulle soldaat, net ryker families het kamele gehad; Tradisionele dans.

Musiek is deel van kultuur; Henneparty voor die troue; Tradisionele sport, een ruiter het ‘n bokkie of iets en die ander een probeer dit by hom afneem; Nog ‘n tradisioneel sport, sien die vriendelike gesigsuitdrukkings.

Buitekant hierdie stasie is die indrukwekkende teater – vir drama. Hier is verskeie teaters, Almaty is die kultuurstad.

Ek moes my maar weer staal vir die trappies af – en die roltrappe na onder. Vriendin moes huis toe, sy het ‘n aanlynbegrafnis gehad. Wat toe weens load shedding nie kon plaasvind nie.

Alatau (Алатау

Hierdie stasie is ook pieperig versier teen die stasies in die stad. Dit is eintlik nie lekker om so daaraan te dink nie, want dit beeld Almaty aan die hange van hierdie majestiseuse berge uit op die een paneel bokant die tonnel waaruit die trein kom – en aan die ander kant slegs die berge.

Ek sal in die week meer oor hierdie bergreeks vertel. Almaty lê aan die voet van die berg wat 350 km strek. Nie lelike mosaïek afbeelding nie, voel net afgeskeep teen die ander stasies. Daar is een perron, mens klim aan een van die kante op die trein in die rigting waarheen jy wil gaan.

Sayran (Сайран)

Hierdie stasie is vernoem na die mensgemaakte meer in die stad, wat 1 km van die stasie af is. Die stasie is maar valerig, maar die muurskildery op die tweede vloer skep die indruk van water en kinders en kuier en vrede. Algemene kenmekerk van Kazakhstan. Dit bestaan uit twe verdiepings.

As jy net die trappies opgaan, kan jy na foto-uitstallings kyk. Die derde fot in die eerste ry is van ‘n van die singende sandduin, dit maak geluide as mens daar afgaan. Die een onder hom is van Kaindy meer, ‘n plek waarheen ek beslis wil gaan. Dit is ‘n ingesinkte vallei, daarom is die bome in die meer. Ek het al so bietjie daarvan vertel in een van die towerin stories. En dan moes ek die veldblomme van die berge ook afneem.

Aangesien ek nog na die mensgemaakte meer wil gaan, het ek besluit om nie op te gaan nie. Ons sal self bo regkom en ek weet waar die meer in die stad is. Sissie, is ek nie?

Moskva (Москва

Dit is vir nou die laaste stasie, die metro is besig om uit te brei. En as ek nou teleurgesteld was, is dit seker te verstane.

Die rooi stel natuurlik Rusland voor. Die rooi puntjies op die rooi stel die punte van die Kremlin muur voor. Daar is ook ‘n tweede vloer, maar ek het nie opgegaan nie. Ook nie na buite nie, want ek wil, weer na hierdie stasie toe kom. Saam met manlief.

Daar is blykbaar winkelsentrum met ‘n Marks & Spencer. Ons gesin was in 2002 in hierdie baie duur winkelgroep se tak in London, sal dus net moet gaan kyk hoe hierdie een lyk. Om aandenkings vir die kleinkinders te koop. Hulle mamma en pappa was maar in graad 9 (seun) en op universiteit (dogter) toe ons in London was vir die baie slegte verloor van die Bokke op Twickenham – 3-53, omdat Janus binne minute van die veld gejaag is.

Die toer het 10 uur begin, vriendin het halfeen geloop en ek het drie-uur doodmoeg by die huis ingestap.

My kuite het gekramp, my voete wou net rus en ek was dankbaar dat ek gemaklike skoene gedra het. Ons het in die 5 ure net op twee dele van die treinritte gesit, die res van die tyd het ons gestaan! Geloop, of trappe geklim!

Die metro beplan om verder uit te brei. Nog twee stasies maak volgende jaar oop en dan sal daar teen 2035 meer lyne beskikbaar wees.

Garmin dink ek is ‘n fikse poppie wat die dag baie geoefen het. En daai is waar, ek het die oggend amper 12 000 treë gestap.

Ek was 14 stelle trappe op en 21 af. Ek is verbaas my pols het nie baie hoër gemeet nie. Was ek dan nie so bang vir die trappe nie? Goeie genugtig, geen wonder ek het nie geweet of ek mens of mol is nie.

En toe kry ek gister die beste nuus oor ons lewe die afgelope 18 maande in Kazakhstan. Ons gaan huis toe. En skielik is alles om my pragtig! Ons kan weer tussen ons eie mense gaan woon. God is ons genadig.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

19 gedagtes oor “‘n Oggend in Almaty se metro stasies

  1. Sjoe! Dit is baie interessant om al hierdie mooi stasies saam met jou te sien. Kom julle terug om te bly, of net vir ‘n vakansie. In elk geval, dit gaan lekker wees om hier te wees.

    Liked by 2 people

      1. Ons gaan terug, Anne. Dit is soveel anders as wat ons kon beplan het, maar terselfdertyd is die vooruitsigte soveel beter. Die Here se plan vir ons is soveel beter as wat ons sou kon beplan het. Ons is Hom dankbaar.

        Like

  2. Ek het die inskrywing só geniet. Die stasies is omtrent mooi versier. Ek hou van nasies wat dinge om hulle versier! Hulle maak die lewe ekstra mooi.

    Ek sou nie al daai trappe oorleef het nie. Wens ek was so fiks soos jy!

    Ons gebede is verhoor. Julle gaan huis toe. Ek het ‘n knop in my keel gekry. God is goed!💙

    On Tue, 08 Sep 2020, 06:06 Dr. Christa van Staden, wrote:

    > Dr Christa van Staden posted: ” Dit is reg, jy lees reg. Almaty het ‘n > ondergrondse moltreinstelsel. Die treinstelsel is nie baie lank nie, maar > hulle beplan om goed uit te brei teen 2035. Mooi is dit beslis. Ek was in > Maart saam met ‘n gids by een van die stasies af. En toe moet ek” >

    Liked by 2 people

    1. Letty-Anne, die inperkings het mens laat besef dat die aarde toe nie globaal is nie. Dat elke land sy eie goed kan en gaan doen. En dat ons hier kan vassit as ons net wou kom om hulp te verleen. Ons sien verskriklik baie uit en dinge het soveel vinniger gebeur as wat ons beplan het – maar natuurlik ook soveel beter uitgewerk as wat ons kon beplan vir die vlug Suid-Afrika toe. Die Here is in beheer, al dink mense soms dat hulle is.

      Liked by 1 person

  3. Liewe Aarde, ek het hierdie inskrywing ontsettend geniet en mens kan net verdwaal tussen al die mooiheid!! Sjoe, die plek IS mooi!! En toe heel laaste die goeie nuus!! Ek is so bly vir jou! Jy het my jaloers. Eers bly jy in hierdie mooi plek en nou terug na SA! Jy se 3 Augustus? Is dit nie 3 Oktober nie? Ai, jy gaan mooi herinneringe he van die tydjie hier in Europa. Ek glo julle het ‘n lekker tydjie gehad, maar God het jou gedagtes gelees en plan gemaak. 🙂 Sterkte daar!

    Liked by 1 person

    1. Nikita, dit is so ‘n mooi kommentaar dat ek sommer knop in my keel kry. Dit is waar, God het my verlange raakgesien en ‘n plan gemaak. Ons het nie die plan gemaak nie, dus is ons so dankbaar dat Hy uitkoms gegee het. Dot is, ek sal moet gaan regmaak.

      Like

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.