Nuwe etiket? Nee wat, ek hou sommer by goeie maniere!

Ek het geen idee hoe dit gebeur het nie, maar hierdie plasing het vanoggend van my lys van gepubliseerde plasings verdwyn. Ook van my webwerf af. Tog kon Seegogga daarop geantwoord, maar ek kan dit nie verander nie. Ook nie eens sien nie. Vir my wys dit follow this site … Dus herhaal ek dit hier en soek die probleem.

***

Onlangs kuier ons saam met vriende en vertel my een vriendin vir my dat daar nuwe etiketreëls uit is. Het ek daarvan geweet? Nee, ek het nie. En ek wil nou eers die woord etiket gaan oplees. Want ek wonder nou ernstig oor die verskil tussen etiket en goeie maniere.

Volgens Ann Dreyer verwys die woord etiket na ‘n konvensionele gedragskode met reëls en voorskrifte vir hoflike en beskaafde optrede teenoor ander in die samelewing. Die woord beteken letterlik “kom die reëls na.” Dit laat mense gemaklik voel want hulle weet dan hoe om op te tree. Hierdie reëls is vroeër dae by die huis aangeleer, maar dit gebeur vandag maar selde. Daarom moet iemand dit weer vir ons leer. Goeie maniere word van kindsbeen af in die huis aangeleer en verwys na bedagsame optrede teenoor die mense om jou. Dit maak deure vir ons oop – of toe. Dus het beide die woorde met bedagsaamheid te doen.

En juis daaroor wil ek oor drie van die nuwes etiketreëls gesels. Dit is nou die reëls wat my vriendin vir my genoem het. As dit nuwe etiket is, noem my sommer plein ongeskik. Onopgevoed. Maniereloos. Ongemanierd. Etiketloos.

Want ek verkies goeie, outydse boeremaniere.

Die eerste een is dat mens laat moet kom as jy genooi word. Tien minute laat ten minste. Want die gasvrou is steeds besig om reg te maak. 

Wel, dit is volgens hierdie gasvrou ongeskik. Ek kan beplan. Ek gee ‘n spesifieke tyd omdat dit my pas. En ek is ‘n halfuur en langer voor die tyd gereed vir my gaste. Vir ingeval een baie vroeër kom, dat ek nie met deeg aan die vingers en ‘n vuil kombuis aangetref nie. Want wat moet ‘n gas nou maak as hy te vroeg is? Buite staan en wag? 

Hierdie gasvrou hou die horlosie dop. En omdat ek ‘n halfuur vroeg gereed is, is ek omgekrap as die wyster van die horlosie verby die regte uur aanstap. Tien minute later is ek van mening dat die gas nie my of my tyd respekteer nie. Ek dink alles behalwe dat die gas ‘fashionable’ laat is. Nog minder dat die persoon bedagsaam is. Inteendeel ek dink die gas is doodgewoon ongeskik.

Die tweede een is dat mens die gasvrou nie met die skottelgoed help nie. En hier wonder ek natuurlik ernstig oor die soort mens wat die nuwe reëls opgestel het. Want ‘n bedagsame vrou sal nie van die tafel opstaan sonder om aan te bied om te help om skoon te maak nie.

Moet my nou nie verkeerd verstaan nie. Ek nooi nie gaste om skottelgoedwassers te kry nie. Ek hou nie daarvan as ander my met die skottelgoed help nie. Voordat ek soos ‘n robotmannetjie in my eie kombuis staan om te wys waar alles weggepak moet word, was ek die skottelgoed self.

Buitendien, die skottelgoedwasmasjien doen die meeste van die werk. En my gaste stap in ‘n skoon kombuis in, alles was silwerskoon voor hulle opdaag het. Dus moet ek net die borde, glase, messe en vurke en opskepbakke was.

Gewoonlik help manlief na die tyd. Ek en hy gesels oor die aand, terwyl ons die borde en glase was. Ek drink toevallig nie wyn nie, daarom is dit vir my ‘n hele kopskuif om te staan en glase met die hand was. Maar ek doen dit, want ek het die gaste genooi. En ek het die samesyn geniet.

As gaste aanbied, sê ek altyd nee, dankie, kom ons gesels nog so ‘n rukkie, die skottelgoed kan môre ook gedoen word. 

Maar, wat nou gemaak as ‘n gas van my tafel opstaan en vir my vertel dat dit nuwe etiket is om nie met die skottelgoed te help nie?

Dan sal ek nogal daarop aandring dat die gas wel help skottelgoed was. Of ten mionste haar eie eetgerei was. Anders moes sy nie saam geëet of gedrink het nie.

Want iewers moet juffrouens help om maniere aan te leer. En dit doen ons graag. En nou moet ek eers staaltjie uit my kinders se jong dae vertel.

Ons het vriende gehad wat lank by ons gekuier het. En ek het altyd gesê dat die kinders nie hoef te help om op te ruim na die gespelery nie. Nie noodwendig omdat ek met die deurmekaar huis tevrede was nie. Maar omdat ek al opgekuier was. En dankbaar was dat hulle uiteindelik gaan. Al moes ek en my kinders ‘n deurmekaar huis alleen skoonmaak.

Elke keer as ons daar was, moes my kinders egter help skoonmaak. En hulle was ongelukkig. Want hulle moes skoonmaak en regpak op plekke waar hulle nie eens was nie.

Wel, dan leer mens maar jou grootmens vriende maniere of hoe? 

Maar ek vergeet toe weer daarvan. Toe hulle weer kom kuier, roep sy soos gewoonlik in die gang af.

Kom, my vyf dogtertjies (ek het net twee kinders) pappa en mamma is op pad. En so stap ek en manlief saam met hulle kar toe.

Maar die vyf dogtertjies kom nie. Pappa en mamma sit reeds in die kar en ek stap in die huis in om te gaan roep. 

En wat kry ek?

Seun wat soos sersant-majoor in die kamer staan. En wys, en hier. Dit moet daar kom. En hier, dit moet daar kom. En dit het baie lank gevat. Terwyl ek met een massiewe glimlag op my gesig gestaan het.

Ek het my verkneukel aan die prentjie voor my. Sonder woorde uitgestap en vir die wagtende ouers gesê dat die kinders nou sal kom. Hulle help my kinders net gou om skoon te maak waar hulle omgekrap het.

En net daar loop ‘n vriendskap dood. Morsdood. Nooit weer gebel of genooi om by hulle te gaan kuier nie. En ek het ook nie van my kant af moeite gedoen nie. Want sien, as mens kan uitdeel moet jy kan vat.

My twee kon nie naastenby so deurmekaar maak soos vyf woelige dogtertjies nie. Ek het net een dogtertjie gehad. En sy was elke keer ongelukkig oor haar deurmekaar kamer. Wat mamma van haar verwag om alleen reg te pak.

Terug by die nie-aanbied-om-te-help-nie-want-dit-is-nuwe-etiket. Ek dink dit is plein ongeskik om nie aan te bied om te help nie. Daar is gasvroue wat die volgende dag werk. Wat daarvan hou om in die kombuis te kuier terwyl almal gou help om die kombuis skoon te maak.

Ek doen nie daarvan nie, ek hou ook nie daarvan as vrouens alleen in die kombuis kuier nie. Dit hou dan mos nie op nie.

Maar, ek sal altyd aanbied om te help. En as ek moet, sal ek dit nie dikmond doen nie. Want die vrou het die hele dag voor die potte gestaan om my te bederf. Selfs as die kos sleg was, sal ek help.

Dit is die minste wat ek kan doen as ek opstaan. As sy dink ek is etiketloos, moet sy maar so dink. Ek dink dit is goeie maniere om aan te bied. En te help as sy dit van my sou verwag.

Ek kan natuurlik verstaan waarom mense nie meer gasvry sal wees nie. Vriende nie nooi om by hulle te gaan kuier nie. Want hoe graag ek ook al wil bederf, net so min hou ek van dié nuwe onbedagsame “etiket.”

Bied dus maar by my aan om te help. Jy gaan twee verrassings kry. Een, ek gaan nie dat jy help nie en twee, ek gaan ook dink dat jy bedagsaam is om aan te bied. So bou mens vriendskappe.

Die derde een is dat mens nie die wyn oopmaak wat vir die gasheer gebring is nie. Goeie genugtig! Daaroor het ek gemengde gevoelens. As die wyn nie by my kos pas nie, sal ek dit nie oopmaak nie. 

Maar as die gasheer- of -vrou my wyn oopmaak, gaan ek baie, baie daarvan hou. Manlief kies altyd van die beste wyne om saam te vat as ons gaan kuier. Daarom gee ek nie om as die wyn oopgemaak en gedrink word as ek dit as persent vat nie. Dit is ‘n geskenk ja, maar ek weet dat dit waardeer word as dit oopgemaak word. En nie agter in ‘n kas ingedruk word nie.

Ek moet natuurlik my verset teen die woord etiket verduiddelik. Ek verstyf elke keer wanneer ek die woord etiket hoor.

Tante Emsie Schoeman het boeke vol daarvan geskryf. In my jongs dae. In watter hand jy watter mes en vurk moet vashou. En watter eetgerei waar moet staan. En geld daarmee gemaak. 

Terwyl sy self onbedagsaam was.

So stap sy een dag jare gelede in ‘n winkel in terwyl my sus staan en wag om gehelp te word. En verloor sy ‘n slaafse volgeling. My sus.

Sy het pas as haarkapster begin werk in Pretoria se middestad en het gou uitgeglip om goed te koop. Buig mevrou etiket bo-oor haar, druk haar belangrike inkopies voor my sus se gesig verby en dring daarop aan om eerste gehelp te word. Sy is haastig. En sy is eerste gehelp!

Regtig? Hoe bedagsaam is dit?

Daarna is ek in absolute verset teen enige iets wat sy etiket noem. Lees ek nie wat sy skryf nie. Want as mens vir ander reëls oor die lewe wil saamstel, moet jy baie goeie maniere en bedagsaamheid aan die dag lê. Anders is jy soos ‘n klinkende simbaal, die lawaai oorverdowend, sonder om sin te maak.

Toe sy skryf dat dit nie mooi is om wit skoene te dra nie, is ek die winkels in om ‘n paar spierwit hofskoene te koop om saam met my wit rok te dra. 

Die juffrouens wat haar gevolg het, was geskok. Christa was egter in verset. As dit volgens haar nie mooi is nie, is dit vir my besonders mooi. Nou nog.

Ek het geglimlag vir hulle swart en goue en silwer skoene by wit. Wat nie so mooi soos wit lyk nie. Maar dra sou hulle dra om te bewys dat hulle van tante Emsie se etiket bewus is.

As sy vir my wil vertel wat etiket is, moet sy eers verstaan wat maniere is. 

Goeie, outydse, boeremaniere. 

Ek verkies maniere bo etiket uitgedink deur mense wat duidelik geen idee van maniere het nie. Wie dit uitdink, moet eers verstaan wat maniere is. En as maniere nie etiket is nie, wel, wees gewaarsku. 

Dan vee ek my af aan etiket. En as iemand dink dat ek etiketloos is, mag dit dan so wees. Ek laat my nie deur belaglike reëls inperk wat deur lui mense uitgedink is nie. Want dit is al wat sin maak. Hulle is self te lui om ander te help. Was dalk nie eens by hulle eie huise skottelgoed nie. Hulle hande die saligheid belowe.

Ek kom nie laat omdat een of ander mens dit nou as etiket beskryf om laat te wees nie. Ek is betyds. is betyds. Dus moet my gasvrou maar weet dat ek haar onverhoeds gaan betrap as sy van my verwag om laat te wees. As sy ‘n tyd gegee het, is dit die tyd wat ek voor haar deur opdaag. Selfs so bietjie vroeg. Omdat ons haar tyd respekteer. En ek gaan ‘n gas as onbedagsaam beleef as sy laat is. Omdat iemand vir haar vertel het dat dit etiket is.

So, hoe gaan mens die probleem oorkom?

Dat ek nie vies is omdat ‘n gas laat is nie?

Dalk moet ek maar die woord STIPTELIK agteraan die tyd plaas? Dat hulle wel verstaan dat my tyd ook gerespekteer moet word.

Toe nie. Volgens hierdie artikel is dit wel etiket om betyds te wees. 

Ek sal bietjie verder moet soek om die een te kry waarvan my vriendin gepraat het. Vir nou raai ek dat ‘n gekskeerder daardie een geskryf het …

En ek neem aan gekskeerders skryf heelwat artikels oor etiket. Seker om in die mou te lag as mense dit volg.

Want ek lees ‘n ander een waarin dit klaarblyklik nie etiket is om goue juweliersware te dra nie. 

O my jitte, en daar haak ek nou behoorlik vas. Regtig? Pas goue juwele nie by die skryfster nie? Het sy slegte herinneringe aan goue juweliersware? Dalk nog nooit gekry nie? Want daar is geen manier waarop ek my goue juweliersware vir wat ookal anders gaan verruil nie.

Dit het ek gedoen toe ek twintig was. 

Plastiese juweliersware gedra toe dit hoog mode. En as dit nou is, wil ek graag vir haar skryf. Doet so voort. Dra wat jy wil, maar moet asseblief nie jou persoonlike ervaring op ander afdwing nie en dit onder die etiket van etiket nie.

Dit het absoluut niks met etiket te doen nie. Dit wil eerder soos nyd voorkom. Afguns. Of so iets.

Dit is wel uiters ongemanierd om te beweer dat ons wat goue juweliersware dra, van bling hou. Om jou standpunt te probeer verdedig. As jy nie daarvan hou nie, goed vir jou. Dra net mooi wat jy wil … Maar moet dit asseblief nie met etiket verwar nie.

Noem my dan maar dom en outyds en etiketloos. 

Lyk my daar is een massiewe verskil tussen etiket en maniere.

Goeie, boeremaniere, bedagsaamheid.

21 gedagtes oor “Nuwe etiket? Nee wat, ek hou sommer by goeie maniere!

  1. Ek stem saam met baie wat jy hier geskryf het: ek is die een wat betyds opdaag – ses uur is ses uur in my boek. Daar is ‘n probleem met gaste wat ‘fashionably late’ aankom want ek beplan my kosvoorbereiding sodat alles sal reg wees op die regte tyd. Danksy die virus het ons lank laas mense tuis genooi – ek sal van voor af moet begin …

    Liked by 1 person

  2. Plein ongemanierd of “rude”(wat is Afr nou weer?) Om ander in ag te neem is goeie maniere en dit moet natuurlik kom. Daar moet sekere reëls wees. Die mens kan nie in harmonie leef as hul nie ander in ag neem nie. Daardie wit skoene kan ek ook onthou. Ek het bv n paar vreeslike hoë hakskoene persent gekry. Wittes van alle kleure. Ek was heel heilig op hulle en my nie gesteurn aan etiket van geen wit skoene nie.

    Liked by 1 person

  3. Ek het nogal gewonder oor die plasing wat verdwyn het. Ek kon dit op e-pos sien maar nie op die blog self nie.
    Ek self glo in goeie maniere, nie mode giere nie. Nataniël sê in een van sy boeke: Mens drink nooit rooiwyn saam met hoender of vis nie ….. tensy jy rerig wil. Ek steur my min aan sosiale konvensies, waar mense wil voorskryf wat jy mag of nie mag nie, maar glo in basiese maniere

    Liked by 1 person

    1. Ek dink ek het ‘n moontlike verklaring daarvoor. Ek het die plasing moontlik per ongeluk uitgevee toe ek dit hersien het. Dus kon mense dit per e-pos kry en kommentaar lewer, maar toe is dit nie meer op my werf nie. Tog wonder ek, is dit moontlik?

      Liked by 1 person

  4. ek is altyd betyds, leef op my horlosie en is gruwelik vererg vir mense wat altyd laat is. Dis sommer swak maniere, en die verskoning van ek het nie tyd nie, is sommer net laf. En ek het ook die klassieke goeie maniere gevolg en my eie kop gevolg, op ‘n rustige manier. Slaafs ‘n mode of manier van dinge doen nagvolg? nie ek nie.

    Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.