Wat as … bloguitdaging

Woordnoot het ons uitgedaag om elke dag 100 woorde oor wat as te skryf. Ek weet nie of ek elke dag daarby gaan uitkom nie, maar laat ek dan probeer vir vandag.

***

Wat as die vliegtuie weer van môre af na Suid-Afrika vlieg? Dan is ek op die eerste een waarop ek plek kan bespreek. Ek sal eers later daaraan dink dat dit vrek duur was, dat ek liewer vir ‘n beter prys moes gewag het.

Wat as die huidige pandemie wel ‘n foefie was? Om te kyk in hoe mate die bevolking van elke land van die huis van die Here weggehou kan word. Daarmee bedoel ek nie dat die siekte nie ernstig is nie. Ek bedoel eerder dat dit verkeerd hanteer word om onheilige doelstellings te bereik. Mense kan maar vir my vertel dat die videos wat die dominee aanstuur opmaak vir in die kerk wees. Ek twyfel baie ernstig of die Here daarmee gaan saamstem. Sy huis staan leeg.

Wat as ek tog besluit het om in die onderwys te bly? My siel sou doodgedruk gewees het teen hierdie tyd omdat ek oorlaai was en moes hoor dat alles vir my gegee word omdat ek dit kan doen. Regtig? Ek kan, ek hoef nie. En toe ek loop, moes verskeie mense my take oorneem.

Wat as ek nie op daardie joolaand in 1980 na die joolplaas gegaan het nie? Ek wou nie, was baie onwillig om te gaan. Maar dit is presies daar wat die Here my en manlief se paaie laat kruis het. ‘n Oogwink. Sekondes? Minute? Om ons paaie twee jaar later te laat saamloop. Tot vandag toe.

Wat as my nek erger gebreek was toe ons die ongeluk gehad het met seun nog veilig in sy mamma se maag? Daaraan wil ek liewer nie dink nie. Ek wil die Here eerder loof dat hy my en manlief en dollatjie en ons ongebore babatjie deur die rol van die motor in die veld beskerm het. Ook dat mense kom help het. Dit was op ‘n verlate pad.

Wat as die Here nie in my lewe was nie? Daaraan wil ek ook nie dink nie, want ek het geen idee hoe mens deur hierdie pandemie se gevolge sou kom as dit nie was vir die geloof in my Skepper nie.

Foto: Uit die lug geneem op pad om op Öskemen se lughawe te land. Die punt waar twee riviere saamkom om saam verder te vloei na die see se kant toe. Wat nie in Qazaqstan is nie, die land het mos geen oseaan nie.

9 gedagtes oor “Wat as … bloguitdaging

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.