Gepubliseer in Reisjoernaal

Oggend in President Park, Almaty

Gister besluit ons twee dat ons iets gaan moet doen. Die dae word weke word ‘n maand terwyl ons ingeperk is, manlief moet van die huis af werk. Dit voel soos ewigheid, anders as in Ust waar die weke gevlieg het omdat hy werk en naweke anders is.

Dus, gaan ons naweke nou anders as die week maak. Ons sit in Mado’s en maak ons planne. Daar is ‘n Central Park wat ons wil besoek, met ‘n dam en selfs bote. In die stad.

En dan is daar Shymbulak, die ski-oord. Ek sal nog van die pragtige plek vertel. Ons kan tot by die eerste stasie ry en daar Sondagmiddagete eet. Dit maak volgens 2GIS 10 uur oop.

Toe ons opstaan, sous dit. Die stad is in een vaal waas gebêre en dit is so mooi. My plaasdogterhart kan nooit kwaad wees as dit reën nie. Daar is nog baie dae om goed te doen.

Teen 11 uur is die reën verby, dit is net effens koud. Dus is ons gewapen met baadjies kar toe, ons moes almten duurste op daardie berg baadjies koop toe ons hier kom vakansie hou het.

Opgewonde is ons die berg op, ons is al ingeburger, ken die pad. Reguit op met Dostykstraat en dan net op en op en …

Voor ons staan polisiemotors wat die pad versper. Aikôna, waarheen is jy op pad? Ons besluit om nie eens te probeer vra nie, die houdings sê julle gaan nie op nie, alle parke is gesluit.

Nou vir wat de ongeluk maak hulle dit dan nie soos al die ander plekke op 2GIS bekend nie? Ons het na die uitstappie uitgesien.

Keuse nommer twee is Presidentspark, die park waarvan die vroulike bestuurder van menslike hulpbronne my vertel het. Die een wat ek sien as ons op die snelweg na Metro ry.

So is ons soontoe, ons weet waarna om uit te kyk. Ons weet ook hoe stresvol dit is om ‘n plek te kry waar ons kan afdraai om aan die ander kant van die pad te kom.

Anders as wat ons vermoed het, kry ons dit maklik reg om om te draai.

Wat ‘n pragtige park!

Ek kon nie die hele raam inkry nie, sal probeer las en kyk hoe werk dit. Ingang na die park toe, appel (natuurlik, Almaty = appel stad), woorde op die een kant van die pilare en die fontein uit ander hoek.

Ek het al genoem dat mens ‘n vrou se hand in die parke kan sien, ek is mal oor die vorms en kleure blomme wat daarvoor gebruik word. Monument van Nursultan Nazarbayef, die eerste president van die land, wat 30 jaar lank in die stoel was. Hy is verlede jaar vervang.

Daar is altyd perde iewers in Qazaqstan, hierdie is nogal baie mooi. En die eekhorinkie het by my kom staan, baie nuuskierig en niks bang vir mense nie.

Daar is ook altyd speelparke vir kinders. En pragtige blomme. Wat, soos op die ander foto’s gesien kan word, in patroontjies geplant word. Die geles lyk vir my baie, baie soos Afrikanertjies. Het my verbeel dit ruik ook so.

Nog foto’s.

Daar is in al die parke bane vir fietse en vir mense. Ean al die parke word gratis besoek, geen toegangsgeld nie. Hoe lekker is dit nie? En natuurlik is dit skoon. Altyd skoon. En in Almaty is gras – wat gesny word.

Toe sluit ons die middag af by Coffee Boom, naby Kinopart en Little Brazilian restaurant.

Lekker seekosslaai, pizza vir manlief en gemmer, lemoen en mint tee vir my. Lag ek lekker vir die foto van my. Ek lyk op almal die laaste tyd kwaai, sal seker moeite moet dien om seker te maak ek glimlag steeds wanneer manlief uiteindelik die knoppie gedruk het. Die son het my gebyt …

Ons het verniet baadjies saamgevat. En ja, ek glimlag darem ook …

Ons sal dit seker weer doen. Die park is baie groot, het deur klein deeltjie gestap. O ja, en ek oorweeg Little Brazilian vir my verjaarsdag.

Hooffoto: Fontein by President Paerk, Almaty, 3 Augustus 2020

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

9 gedagtes oor “Oggend in President Park, Almaty

  1. Goeiste maar die kos lyk heerlik! Jy ontaard nou in ń uitmuntende toerleier, Christa, ek voel sommer tuis saam met julle in jul stad.

    Like

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.