Gepubliseer in Joernaal,Reisjoernaal

As Oupa en Ouma kinderspeelgoed “mechanic” in Qazaqstan speel …

Ons twee stap verlede week van Dusty se garage af. Waar ons haar gaan bêre het. Agter om die woonstelblokke wat aan ons s’n grens. Om so bietjie uit die son te wees. Hier gaan die son mos nou eers tienuur saans onder. Sesuur skyn hy dus nog soos ‘n warm middagson in Suid-Afrika.

Dit is ‘n enkelpaadjie wat as tweerigting straat dien. As twee karre na mekaar toe ry, moet die een pad gee dat die ander een verby kan kom. Daar is ook nie ‘n voetpaadjie nie, dus stap ons in die pad en ons en karre moet vir mekaar pad gee. Normaalweg is dit nie ‘n probleem nie, dit is ‘n doodloopstraat aan die garage se kant. En min motors ry wanneer ons gaan stap.

Skielik stop die motor reg voor ons in die pad.

‘n Vrou het onder die gebou deurgekom en die twee se neude wys na mekaar. Die man staan sy staan, die vrou moet padgee.

Die vrou wat ingedraai het, moet agteruit ry om vir hom pad te gee. Sy staan egter stil. Nie benuek stil dat hy moet padgee nie, net stil en sy kyk agtertoe.

***

Laat ek hier eers onderbreek en oor ‘n insident van gister vertel. Ons is op pad van Megastore af huis toe. Moet oor die tremspoor links draai in Kazakhstanstraat in. Die motors draai so deurmekaar, en ons ry wat draai, staan gekrul om die ry wat van voor af kom en om in die ander rigting in Kazakhstanstraat in te draai.

Ons kan nie draai nie, hulle versper ons pad. Hulle kan nie draai nie, die motors agter ons versper hulle pad. Een ou maak vir ons plek om te draai, maar voor ons kan, jaag die vrou agter hom in die spasie in. ‘n Rare verskynsel in Kazakhstan. ‘n Blond. Ouerige vrou.

Aangesien beide motors linkerhandstuurwiele het, is haar deur en venster en dus sy ook voor ons kar se neus. Manlief kyk haar verbaas aan. Sy gooi ‘n vloermoer. Skuus, dit is ‘n erkende Afrikaanse woord. Manlief gaap haar verstom aan, wat haar vloermoer ‘n nuwe vlak van ongeskik laat kry. Sy draai haar ruit af! Skreeu goed vir hom. Maar ons verstaan mos niks.

Ons weet sy is kwaad, maar ons weet regtig nie waarom nie. Sy het mos haar sin gekry, sy versper ons pad. Is manlief nie die een wat kwaad moet wees as iemand moet wees nie?

En toe lag ek. Hard. Soos ‘n heks, so kekkellag. Dit is vreksnaaks. Regtig. Manlief verstaan haar nie, sy kan maar skree en raas en blaas soos sy wil. Maar, weet jy hoe snaaks is ‘n outannievloermoer as sy nie verstaan word nie?

Manlief kyk vir my en toe bars hy ook uit van die lag. Ons kyk nie vir haar nie, ons kyk vir mekaar en lag al hoe harder. Dit is die snaaksste oomblik sover nog in Kazakhstan.

En het jy al met kinders gesien? As jy nie aandag aan die vloermoeder gee nie en aanstap, is die vloermoer ook gou verby. Sonder toeskouers is daar seker geen pret aan ‘n vloermoer nie? Toe ons vorentoe kyk, is haar kar se stert voor ons. Tannie Ongeskik se baan agterom ons is oop, sy kan ry.

****

Terug by die storie.

Manlief kyk verby haar kar toe ons verby die man se kar stap. Om te sien wat die probleem is.

‘n Kleinerige dogtertjie en haar groter boetie en sussie het van skuins oor die straat gestap. Reg agter die kar in. Hulle gee nie pad nie. Die stootdriewiel, soortgelyk aan die foto, waarop sy gestoot word, staan by hulle.

Dit was net genade dat die vrou haar gesien het.

Ek stap verby en wys vir die kinders hulle moet agteruit staan. Uit die pad uit. Hulle is in die motor se pad. Hule verstaan, probeer, maar sukkel en toe verstaan ons die probleem.

Die driewiel staan erg skuins na ons kant toe. Sy agterwiel naaste aan ons het uitgeval. In al die mandjies is speelgoed. Die kleintjie staan beteuterd met die wiel in haar hand.

Maar hulle het ‘n probleem. Hulle kan nie verder nie.

Ek stoot manlief nader, vra of hy nie kan help nie. Want ek het seker al vertel. Hy is mos, volgens homself, ‘n “handy man.” Hy het in die jaar hier al ‘n hele gereedskapkas gekoop en volgemaak. Hy het selfs ‘n boor. Maar dit is by die huis.

Ons moet help om reg te maak, die kinders kan nie verder as ons nie help nie.

Ons beduie met die hande en glimlagte dat ons gaan help. Hulle kyk ons uit en wag dat ons help.

Manlief tiep die karretjie op sy sy en poppe en speelgoed val uit die mandjies uit. Hulle staan verskrik.

Ouma tel vinnig op, mens kan sien manlief het nie sussies gehad nie. Weet nie hoe om met dogtertjie speelgoed te werk nie. Dit mag nie val nie. Dit is hulle kinders. Ek tel op en stof sommer ook af soos ek aangee.

Interessant dat hulle ons twee so vertrou.

Manlief probeer die wiel insit en ek soek die skoef wat dit moet vasdraai op die ongelyke teer.

Kry niks. Kry darem die “washer.” Gits ek weet sowaar nie wat dit in Afrikaans is nie. Het op plaas grootgeword. Waar pa van washers en moere en boute gepraat het.

En onthou toe sommer ook hoe dogtertjies sommer ‘n hou op die boud gekry het as hy roep vir bobbejaan ‘spanner’ en ons met ‘n “shifting” soos ek die woord onthou aangedraf gekom het. Weet steeds nie wat die regte woord vir hierdie stuk gereedskap is nie. Ek kon net nooit onthou dat die een met die lang bek die bobbejaan is nie. Later het ek met kleur vereenselwig. Die oranje is die bobbejaan, die silwer ene die ander ene.

Iedergeval, hier het goed gekort om reg te maak. Volgens manlief het ‘n bout gekort om die wiel vas te maak. En die stuk yster wat deur die wiel moet steek om dit vas te maak.

Nou kyk, ek weet nie van seuns nie, maar ons popwaentjies het ook wiele gehad wat uitval. En daardie wiele was aan een lang, dun as vas. Wat net weer deurgedruk moes word. So stap ek om en ja, daar steek lang deel aan die ander kant deur die wiel. Ek wys, manlief druk terug. Die stuk yster het gaatjie deur en ‘n ystertjie of soort pennetjie moet daardeur steek om die wiel in plek te hou.

Hy het seker iewers anders uitgeval. Daar was niks.

Ek soek, maar kry nie stukkie yster nie, sal mens dit ‘n pennetjue noem?

Maar oumas kan ook planne maak.

Ek bied die ringetjie van my sleutelhouer aan. Dit kan werk, maar is effens te dik. Manlief sukkel om dit deur die gaatjie te druk. Natuurlik nog nuut ook, dit wil nie lekker maklik oopdruk nie.

Toe kom ‘n man in weermag klere ook by ons stop. Om te help.

Hy blah blah blah in Russies, ons verstaan nie. Weet nie of dit hulle pappa is nie, maar hy verstaan wat ons probeer doen. En hy het ook ‘n plan.

Hy haal sy bossie sleutels uit sy sak, draai ‘n ringetjie uit en dit pas beter as myne. Buig ook makliker oop.

Die wiel is terug en daar gaan die drie.

Die weermagman stap ook in die rigting wat hulle stap. Ek weet nie of hy hulle pappa is nie. En of hy, soos ons, net gou gestop het om drie kindertjies te help om ‘n ryding weer gangbaar te maak nie. Hier hoef kinders nie weermag of polisie te vrees nie.

Ons twee stap lag-lag in die koelte onder die bome huis toe.

Die Afrikaanse ‘mechanics’ in Qazaqstan … Oupa trots omdat hy kindertjies gehelp het. Ouma stil-stil trots omdat sy darem kon onthou hoe kinderspeelgoed se wieke werk.

Dit was sommer lekker om die drietjies uit hulle penarie te verlos.

Al verstaan ons mekaar nie. Hulle verstaan darem ‘n glimlag, die universele teken of is dit nou simbool? van vrede.

Wonder ek nou eers wat hulle die aand vir pappa en mamma gaan vertel het. Hoe is ons beskryf? Hoe vreemd was dit nie vir die kinders om mense raak te loop wat nie hulle taal kan praat nie. Ek het mos al vertel dat ons uitlanders in ons stad ‘n vreemde verskynsel is. Hulle het darem nie bang gelyk nie …

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

37 gedagtes oor “As Oupa en Ouma kinderspeelgoed “mechanic” in Qazaqstan speel …

  1. As die enigste dogter met drie broers moes ek gou leer wat die verskil tussen ‘n bobbejaan ‘spanner’ en ‘n ‘shifting spanner’ was! Ek is bly julle kon die kinders help. Soos jy vertel is ‘n glimlag ‘n boodskap van vriendelikheid – en dankbaarheid – in alle taale.

    Like

  2. So, ‘n Russiese militêre sleutelringetjie word ‘n spy wat die waster moet teëhou. Dis nou oulik.

    En dat sendelinge Qazaqstan toe geroepe word as prêmmekennieks om poplewentjies te red.

    Ek kan dink hoe my oudste sou gelyk het as ek haar Sweet Caroline op die grond moes laat val het.

    Terloops, ek was in ‘n tegniese hoërskool waar ons alles van wasters en spye geleer het. Spy soos in spei en nie spaai nie. 🙂

    Like

      1. Kennis is kineties toegedien in die dae van feitekennis op skool. Oom Epol het so ‘n berugte klereborsel gehad.

        Like

          1. Die opvoedkundige metodes en klaskamertegniek van daardie jare was effektief maar gebruikersonvriendelik. My eie Pa was ‘n riller en verskeie seuns het al oor die jare heen die pad gevat en begin hardloop. Ek het hom in die klas gehad en dan weer tuis.

            Like

          2. My Pa hanteer my soos ‘n stiefseun as my vrouki naby is; hy wou altyd dogters gehad het maar my Ma wou nie

            Like

          1. Ja, daardie beduie is ook altyd vir my so lekker om te doen. Daar n vroutjie van Nepal en haar Eng is maar amper nie maar ons kuier te lekker, net omdat ek aanvaar sy kannie Eng praat nie. Baie van my kennise(wil hul nie regtig vriendinne noem nie) doen net nie moeite om haar te verstaan nie.

            Like

          2. Ons drie susters is al drie onderwyseresse. Dit was enigste ekstra geleerdheid wat n vrou kon kry. My pa het ons al drie laat leer wat ek baie waardeer maar ai, die onderwys is maar nie my liefde gewees nie.

            Like

  3. ‘n Pragtige vertelling. En die beste van ander help, is dat ‘n mens self so goed voel na die tyd! So asof die goeie die slegte wéér oorwin het! 💖

    On Mon, 22 Jun 2020, 06:00 Dr. Christa van Staden, wrote:

    > Dr Christa van Staden posted: ” Ons twee stap verlede week van Dusty se > garage af. Waar ons haar gaan bêre het. Agter om die woonstelblokke wat aan > ons s’n grens. Om so bietjie uit die son te wees. Hier gaan die son mos nou > eers tienuur saans onder. Sesuur skyn hy dus nog soos ‘n warm ” >

    Like

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.