Gepubliseer in Joernaal,Reisjoernaal

Om ‘n Voortrekkerjuffrou te wees ..

Ek was ‘n Voortrekker as kind en toe ek matriek was, het ek vir Voortrekkerjuffrou gespeel. Ek kan nie eens meer onthou hoe dit was nie, maar ek kan onthou dat ek in my hele hoërskoollewe net een dag nie by die skool was nie en steeds 100% skoolbesoek gekry het. Omdat ek deel van die nasionale fakkelloop was.

Ons het die fakkel van Ermelo na Bethal gedra. Mens, dit was 1978. Wonder ek nou waarom die fakkel daardie tyd so gedra is? Kan iemand onthou? Ewenwel, ek kan sê dat ek ‘n stuk van die pad tussen Ermelo en Bethal te voet gestap het.

Dollatjie was in die hoërskool Voortrekker en sy het dae se pret by Doornkloof gehad. Seun was ook Voortrekker, al manier shoe sy ma hom sou toelaat om saam met ander mense op vakansie te gaan. As mens Doornkloof, naby Kroonstad, vakansie kan noem. Ek het in sy graad 9 jaar sy span oorgevat en hulle tot matriek geneem. Hoofleierswagte en Presidentsverkenners.

Hierdie klompie was die hoofleiers, ek sal moet kyk vir foto van die Presidentsverkenners om te onthou wie van hulle die hoogste toekenning gekry het.

En sal ek die kinders se name kan vergeet? Al is dit nou 15 jaar later?

  • Agter: Rickus, Nicohan, Corrie, Marnus, Albert, Wouter
  • Voor: Vreugde, Abrie, Ek, Edna en Bianca

Ek verbeel my drie van hulle het nie Presidentverkenners geword nie, maar gaan moet seker maak. As ek nou hier name noem, gaan ek van my kinders kan ontstel as ek verkeerd is. Want sien, in my hart is hulle almal wel daar.

Die span het op ‘n stadium 25 lede gehad, van een skool en een graad. Welkom Gimnasium. Droomskool. En ons span het baie, baie pret gehad. Vandag het die Towerinne so baie met spinnekoppe te doen gehad, dat ek maar by die spinnekop ene gaan begin. Dat hulle my kommentaar op hoofstuk 4 van ons nuwe storie verstaan.

Ons het ‘n plekkie langs die Vaal en daar het ons vakansies spanwerk gedoen en baie pret gehad. Kyk net al die kentekens (op hulle baadjies) wat ons so langs die rivier verwerf het, terwyl ons saamgewerk het om spangees te bou. Maar, laat ek nou eers van die spinnekop vertel.

So besluit ek dat ons skattejag gaan hou. Ek en manlief is deur die bosse en dongas op ons plek en sommer op ons bure se plek ook. En toe steek ons regte, egte eiers weg. Hulle moes dit gaan soek, in die nag, met ‘n kaart en flitse. Wat nie gekry is nie, moes hulle die volgende dag ontbeer vir ontbyt. Hulle moes mos hulle kos gaan soek.

Nou kyk, toe ek en manlief in die dag die eiers gaan wegsteek, is daar twee bome, een aan elke kant van ‘n voetpaadjie. Die bos was dig en die paadjie was moeilik om te volg. Toe ek tussen die twee bome wil deurloop, sien ek eers die dik spinnekopdrade oor die paadjie. En toe sien ek die spinnekop.

Groot vet, ronde maag. Goudgeel met swart kolle. Hang daar in die net en wag vir iemand om in die paadjie aangestap te kom. Ek het daarna gelees dat dit ‘n skaapvanger of so iets is. Wel, ek het nie toe geweet wat dit is nie. Ek weet net die spinnekop was baie, baie groot. En ek het omgevlieg. Daar is geen manier wat ek daardeur stap nie. Ek sou al die pad terug deur die ruigtes gaan. Maar vorentoe gaan nie gebeur nie.

Manlief is ewe kordaat vorentoe. Volgens hom het hy die spinnekop doodgemaak, ek kon maar deurkom. Ek wou steeds nie, hy moes die lyk eers vir my wys. Wat hy nie kastig kon nie, want dit was vermorsel. Ek is met ‘n spoed deur die twee bome, my hele lyf was die ene adrenalien.

Maar toe wil die juffrou nie dat haar span die eiers op die paadjie gaan soek nie. Manlief en die Voortrekkers het gespot, en so is hulle toe weg om die eiers in die nag te gaan soek. Ek kon nie ontspan voor elke een weer by my is nie. ‘n Paar het geval en hulle iers was ook op die paadjie.

Manlief het my die volgende dag vertel dat hy die spinnekop nie kon kry om dood te maak nie. Dit was soos blits weg toe hy nader kom. En ek was baie, baie kwaad! Maar nou ja, ek lees die week weer in die Bybel dat ek nie so moet stres oor wat kan gebeur nie. Niks het gebeur nie en ek het my man opgeëet. Erger as die spinnekop sou kon as hy my in die hande gekry het.

Ons het nog so ‘n spinnekopstorie oor die rivier. Seuns het een keer op die bank gelê en toe skree hy ek moet kom. En daar sit een massiewe reënspinnekop op sy been. Hy het van die gekielie van sy beenhare wakker geword. Nou kyk, ou Toortsie, ek dink ek is erger as jy oor ‘n spinnekop. En toe moet ek my tiener gaan red.

Ek het twee keer oor sy been geklap om die spinnekop weg te kry en die spinnekop het gekoes! Regtig, so plat op die bene geraak teen my kind se been. Ek was absoluut histeries. Seun het toe die afklap gedoen en ek sal sy woorde nooit, ooit vergeet nie.

Toe ek buite kom en vra of hy ok is, sê hy: Nee, ma, ek hiperventileer, hoe kan ek ok wees? Laat dit my sommer aan ‘n ander dag van my kind met die mooi woorde dink. Die skoolmbel my, my kind het die naskooljuffrou se dogter gevloek en ek moet eers met haar die middag praat as ek my kind kom oplaai. Moeder julle, hy was iets soos graad 2.

Ek is nie lus om te gaan nie, stuur my dogter op om haar boetie te gaan haal. Maar sy kom terug, die tannie sê sy wil met ma praat. Daar is moeilikheid. Ek was moeg na ‘n dag van skoolhou en regtig nie lus om die trappe by Koppie Alleen laerskool te klim nie, maar ek is toe maar op.

Seun sit daar, weet nie van die drame nie. Net dat sy ma sy boudjies gaan laat brand omdat hy vloek. So vra ek wat hy gesê het, en die vrou sê my kind het vir haar dogter gesê sy is is sy Nemesis.

Moenie lag nie, ek het nie geweet wat dit is nie, maar wel dat dit nie ‘n vloekwoord is nie. Vra vir seun wat dit beteken en hy sê aartsvyand. Is dit nie verskriklik mooi nie, om so vir iemand te sê as sy jou kwaad maak!

Ek verduidelik toe vir die vrou wat dit beteken. Shame sy het gedink dit is vloek. Sy kon darem ‘n woordeboek gaan soek het, of vir hom gevra het wat dit beteken.

In elk geval, ek wou nog oor Voortrekkers gesels.

Ek onthou soveel pret saam met die span van my.

Ons het bootgery, water gesuiwer, en allerhande kentekens gedoen. Staan my kop sowaar stil. Dit was darem 2002 tot 2005. Soveel goed het intussen gebeur. Hulle is self al pappas en mammas van kleuters, seun het die jaar eers gevolg met babatjies kry.

En nou is my dogter ‘n. oortrekkerjuffrou. En ja, vir haar eie seun se spannetjie. Hulle het deur die grendeltyd ge e-kamp ( ek gaan nie eens dink hoe mens die woord sou spel nie). Dus spel ek dit sommer so. Buitendien, ek dink e-kamp is ‘n neologisme (sies), nuutskepping. Vir ‘n tyd waarin ons almal op ‘n knop gejaag is.

Deur iemand met bybedoelings. Ek lees so op die WGO se webblad en ek weet daar is fout. Iets is nie pluis nie. Moet net genoeg tyd kry om my kop daarom te kry. Al wat ek weet, die ses dinge wat ons volgens hulle geleer het in die grendeltyd laat mens se hare in die lug staan.

My pa en ma was Voortekkeroffisiere en later heemsraadlede. Ek was een en nou is my eie dogter ook een. Hoe wonderlik is dit nie as tradisies so in gesinne oorgedra word nie? Met die kleinkinders wat ook Voortrekkers is …

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

25 gedagtes oor “Om ‘n Voortrekkerjuffrou te wees ..

  1. Ons was ‘n hegte span totdat ek in st8 verbied is omdat ons ‘n 2200m² erf met ‘n tuin gehad het……tot vandag toe, meer as veertig jaar later, het van die spanlede my nie vergewe nie maar dit was nie my keuse nie.

    Like

          1. Hitler was die held en sweet die geldeenheid. Trots sou ‘n knou kry as ander kom help het. Ek het nie maklik grootgeword nie.

            Like

          1. Baie soos boontjiebredie, net effens meer sagte vesel. En effens suurderig, nie erg nie.

            Like

          2. Ek verkies waterblommetjies bo lekkergoed. Ek is ‘n Bolander en ons eet bredies. 🙂

            Like

  2. Ek was ook n Voortrekker as laerskoolkind. In 1982 het die skool wat pas oopgemaak het Voortrekkers aangebied en ek kon voluit gaan, eers as offisier en later as onder Kommandant. Toe ek hoërskool toe is het ek opgehou met Voortrekkers. Ek het wel n meisie-kadet span gehad. Dis die tyd toe meisies ook kon deel neem aan kadette.

    Like

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.