Om koebaai te sê

Ons het in Januarie 2019 met redelike onsekerheid in ons harte die groot stap geneem. Om ook vir ‘n jaar of drie in die buiteland te kom werk. So net voor ons kan begin dink aan aftrede.

Vroeg Maart 2019 het ons tweetjies met vier groot tasse, drie kleintjies, rekenaarsakke en Thermie op die eerste vliegtuig Na Qazaqstan geklim. Drie om tot in Ust-Kamenogorsk te kom.

Einde April het ons genoeg geld gespaar om Dusty, ons Renault, in Almaty gaan koop. Tot toe moes ons op taxi’s staatmaak, want mens koop ‘n kar in hierdie land kontant. Dit is nie ‘n probleem nie, want die vervoer is hier baie goed. Gereelde busse, baie taxi’s, treine en ook gereelde trêms na groot dele van die stad.

Aanvanklik was Ust (liefienaam vir Ust-Kamenogorsk (Russies) en Öskemen (Kazakh) vir my ‘n stad met baie lelike geboue. Almal lyk amper dieselfde, baie kort verf, lang blokke met woonstelle wat verbeeldingloos op en of ses planne gebou is.

Stoepies wat sommer so oneweredig uit geboue kom, lyk my mens besluit jy het een nodig en dan verander ‘n venster in ‘n deur met ‘n piepklein stoepie. So eenvoudig soos dit. Lyk nie selfde nie, party is baie, baie lelik en ek wonder soms of ek my lewe op een van hulle sou waag. Ons gebou is tussen twee ander ingedruk. Nuwer en ons stoepies lyk half selfde. Behalwe vir die kassies waarmee die oop stoepies toegemaak word.

Hier is een of twee mooier geboue. Soos Dedemans hotel. Op die oewer van die Irtysh-rivier wat met ‘n spoed hier verbygaan. Die rivier word stroomop opgedam. Met ‘n damwal wat een van die hoogste hek in die wêreld het. Bote word deur die hek in drie vlakke op- en afgeneem. Van die damvlak tot riviervlak. Die hekke is ingesit om riviervervoer steeds moontlik te maak nadat die wal gebou is om hidro-elektriese krag op te wek.

Ek wil graag op een van die drie rivierbote gaan ry. Ek wou van die begin af weet waarom mens ‘n rivier het, maar geen bote nie. Almal het gesê dit is omdat die stroom te sterk is. So in grendeltyd het ons dit sien kom. Drie bote wat gereed maak vir passasiers. En toe ons vlakke ligter raak, toe is die bote in gebruik. Elke uur van die dag, hoe lekker klink dit nie? Dit kan ek doen voor ons weggaan.

Manlief is nie so baie geneë nie. Ons het self ‘n boot en ons is baie kwaai oor veiligheid op ‘n boot. Die mense dra nie baadjies nie. Ons gaan wel een aand gaan, dit moet pragtig wees om teen skemer op die rivier te wees. Ons gaan net baadjies saamvat. Die wind kan saans nogal lekker koud langs die rivier waai. Daar is nog sneeu op die pieke van die hoogste berge.

En nou, na net meer as ‘n jaar gaan ons Ust groet.

Manlief wou bedank dat ons huis toe kan gaan. Maar, sy hoofde het gevra dat hy aanbly. En aanbly maak sin. Wanneer gaan Qazaqstan sy grense oopmaak? Wanneer gaan Suid-Afrika sy grense oopmaak? Wanneer gaan vliegtuie internasionaal vlieg? Want dit gaan eers op vlak 1 gebeur. Wanneer gaan vlak 1 kom?

Nou trek ons einde Junie Almaty toe. ‘n Hele 1000 km van hier, maar nader aan Suid-Afrika. Minder vlugte om daar te kom, net twee. Net drie lughawens. En Almaty is soveel anders as Ust.

Ust het op my gegroei, deel van my lewe geword. En nou gaan ek sommer net skryf wat ek alles gaan mis wanneer ons die einde van die maand ons tassies pak om te trek. Dit gaan (oeps) meer wees as toe ons hierheen getrek het.

Daar is Dusty wat ons sedert Mei 2019 oral heen gevat het. Na die vyf mere, die twee ski-oorde, die dam, op teen Kazakhstan-koppie om eers net na die monument te gaan kyk, maar nou ook om daar te braai. Sy gaan saam. Ons gaan nie waag om af te ry nie, al het ons haar daar gaan koop en hierheen gery. Die keer gaan die 1000 km met padblokkades gepaard.

Ek wou haar op die trein sit en saam trein ry. Hoe lekker klink dit nie? Klim 10 uur in die nag hier op en môre so naby 12 is mens in Almaty. Ons is afgeraai. Sy gaan op ‘n trok Almaty toe, sommer so saam met de ekstras wat ons hier gekoop het. Soos ‘n naaimasjien, bedkassies, laaikas, meule om wors mee te maak, elektriese braaitjie. Ag nee, laat ek ophou noem ..

Ek wil eerder skryf wat ek gaan mis.

Ek gaan my lewendige skildery mis, my uitsig op Kazakhstanberg met sy Hollywoordagtige naam en die monument daar bo.

Ek gaan die vriendelike tannies onder in ons gebou by ontvangs mis. Die hallo en koebaai as ek inkom en uitgaan. Ek het hulle die twee maande gemis wat hulle nie mag gewerk het nie. Ek weet nie eens of hulle ok is nie, weet nie hoe om te vra nie.

Ek gaan die rivier met sy dam mis, die kere wat ek op is om mooi foto’s te gaan neem.

Ek gaan die musikale fonteine mis. Dit speel nie altyd. ie, maar wanneer dit doen, is dit hemels. En dan speel hulle ook Engelse liedjies. Kan jy glo? In ‘n stad waar amper niemand my verstaan as ek Engels praat nie.

Ek gaan Metro en Arzaan mis, daar weet ek al mooi waar elke Russiese produk op die rak is wat ek al leer gebruik het. Met so nou en dan ‘n flop. Soos om my gunsteling Lays skyfies te sien en te koop sonder om te kyk. En dan kaas en uie in plaas van sout en asyn te kry. Of my gunsteling handeroom. Om dik aan my arms te smeer en dan te moet afwas want dit wil nie invryf nie, ek het handseep gekoop!

Ek gaan my slagter, as mens hom so kan noem, by die Fresh Market mis. By varkvleis. En die tannie met die hoenders. Ek hoor ek gaan nie die beesvleis tannies mis nie, vleis word wel in Almaty op ander maniere gesny. Halleluja!

Ek gaan die oop mark mis, die vrouens wat my al leer ken het. Ek weet daar is in Almaty ‘n Green Market en almal praat so goed daaroor. Ek het dit nie so gevind nie. Die oop mark is vir my heerlik, ek gaan hulle mis.

Ek gaan my vriendin Mia mis. Ons het so pas ons jaarlange vriendskap gevier. Kuiers langs dit rivier, in die berg, in die parke en in al ons gunsteling teeplekke. Maar, vir haar gaan ek steeds gereeld kan sien. Omdat ons maandeliks na Ust moet terugkeer.

Ek gaan ons gunsteling restaurante mis. Hier is honderde, een om elke draai. Hulle ken ons al. Ek hoor ek gaan hulle nie so lank mis nie, in Almaty is menu’s in Engels ook beskikbaar. Kom ek vertel waarom dit hemels klink.

Gister bestel ek in ‘n hamburgerplekkie ‘n slaai van die menu af. Geen prentjies nie, ek kom baie daarmee weg. Nee, net geskrewe woord. My vertaaltoep wil nie lekker help nie en ek kies die boonste een: herring. Vis klink oraait.

Njet, sê sy, sy het dit nie. Iets anders, met ‘n mooi glimlaggie. Ek probeer weer kyk, kry nie vertaal nie en sy stel iets voor. Babbel in Russies, help my niks. Ek vat maar. Net om vandag lekker sleg te voel. Hoender met gerasperde kaas wat ek kon wegskuif, maar mayonnaise ook. Op blaarslaai. Doodskoot met brood ook. Los die brood, eet die slaai …

Nou ja toe, ek moes in die jaar maar meer moeite met die aanleer van Russies gemaak het. Dit kan ek in Almaty doen. Ek gaan klas loop en die taal onder die knie kry. Want daar is formele klasse. Hang nou net af of dit daar arm en been gaan kos. Maar ek gaan klas neem. Dink ekke.

Ust kan nie met Almaty vergelyk word nie, sy wil ook nie. Hierdie ou tannie word vanjaar ‘n hele 300 jaar oud. Wil nie met Almaty vergelyk wat die helfte van haar ouderdom is nie. Sy wil nie met haar ou hoofstad kompeteer vir aandag nie. Sy is op haar eie baie, baie mooi. Sy het op my gegroei.

Ek skryf nie verniet op my Istagram #liefoskemen nie. Ons woon rustig hier. Misdaad is bykans zero. Ons polisiemanne wys vriendelik as ons verkeerd is in grendeltyd. Stap saam met my vriendin huis toe toe sy langs die rivier gaan stap toe sy nie mag nie. Rand haar nie aan nie, ons moet mos na die grendeltyd steeds ons polisie vertrou?

Ek gaan later byskryf wat ek alles gaan mis, soos dit by my opkom. Ek dink ek gaan die bekendheid mis.

Ek gaan nie die winter mis nie. Ust dink dit is baie oulik om na -38 te daal. Ek het al daaroor geskryf, dit is baie, baie koud. Dit is begin somer, en dit is nou warm. Twee maande gelede het die snueeu dik gelê, nou is alles maar alles groen en blomme blom in volle glorie. Dit is halfvyf saans steeds baie warm +33. Almaty is meer gematigd, sy raak nie sommer onder -10 nie.

Ek lag vir my sus, sê vandag sy vries toe dit 8 in SA is. Wel, nooi ek, kom voel hier wat koud is. Maar dit is eintlik verkeerd. Ons huise is in die winter so warm dat ons met bandjies bloese en kortbroeke in die huis loop. Daai sal ek nie in SA doen nie …

Maar o my genade, daar wag in Almaty iets lekkers. Vriende wat Afrikaans is, net soos ek.

My hartstaal.

My liefdestaal.

My moedertaal.

Die taal wat ek die beste by my eie ma geleer het.

Die een waarin kleinseun gisteraand vir oupa laag vang. Niemand sien dit raak nie, oupa Facetime sonder hemp. En toe kom die stemmetjies wat sy ouma soos ‘n heks laat lag. Skuus Towerinne, ek lag so as ek pret het. Want sien, die stemmetjie vra:

“Is oupa kaal?”

Ek wou my besimpeld lag. Want hulle bel ons mos so, my en oupa apart, dat ons elkeen kan foon vashou en gesels. Oupa was nie kaal nie, slaapbroekie aangehad. Maar ouma was nog mooi kuis in haar uitgaanklere. Ons was rivier toe.

Sou lekker skaam gewees het as ek ook slaapklere geklee was. Want daai skaammaak het my dollatjie my gegee toe sy klein was. Nou is dit oupa se beurt.

So staan manlief en my pa jare gelede en kyk onder die enjinkap van sy nuwe wiele. Ons was BMW-mense. Oupa het van Ermelo in Welkom kom kuier. Staan sy by my en pa en oupa by die kar. Sy was nog klein, ek wil skat so agt of nege.

Ek kan nie onthou hoe dit gebeur het nie, maar toe kom die stemmetjie:

“Oupa, my ma en pa slaap kaal.”

My pa staan geskok. Manlief stamp sy kop teen die enjinkap van die kar. Juffrou ma raas sommer. Jy kan mos nie sulke goed vir oupa vertel nie? Oupa sê wel, dan moet ons nie kaal slaap nie. En ek staan met rooi gesig.

Laat ek nou eers verduidelik. Ek is skaam, baie, baie skaam. Het nooit eens saam met my eie dollatjie gebad nie. Ook nie voor haar aangetrek nie. Daai is mos maar privaatdinge. Ek kom van kinderdae volledig geklee uit my kamer. So grootgemaak. Deur ‘n ma net so skaam soos ekke. En ek vind werklik nie fout met skaamwees nie.

Manlief ook nie. Hy is nie die soort wat gou kaalbas kombuis toe stap nie. En ons kamerdeur is toe as ons aantrek.

Ons moes seker maar iewers gesê het ons is kaal om net nog ‘n rukkie te slaap terwyl sy en haar boeta op is. Mens moet maar mooi onthou wat mens vir jou kinders vertel. Jy weet nooit wanneer hulle dit uitblaker nie. En dan kan jy, soos ek, met ‘n rooi gesig staan as jy onskuldig is.

Want dit is nie ‘n gesprek wat ek met my pa sou wou voer nie. My pa het ons nie eens op die plaas toegelaat om in ons swemkleertjies te loop as die werkers op die werf was nie. Ons moes toe tot by die toontjies. En dan vertel my dolla so iets vir haar oupa! Onwaar, maar ons het so gesê, en ons moes die pas vat …

Vertel ek dit gisteraand vir haar toe ons Facetime en lag ons ons slap. Regtig ma, het ek dit gedoen? En ek kry sommer sulke heimwee na die fae toe ek my kinders nog onder een kombers kon toemaak. Nie dat ek die dae van nou mis nie. Ek lag my ‘n papie vir my kleinkinders se pret …

En dit is die ding. Ek mis die Afrikaans wat uit hulle mondjies kom. Nou kan ek darem Afrikaans in Almaty gaan praat. Saam met ‘n vriendin. Wat net so Afrikaans soos ek is.

Dit is ook waarom ek my blogvriende so baie geniet. Afrikaans bo! Terwyl ek in Qazaqstan is, is hulle en my kinders en my man sover my enigste skakels met Afrikaans.

My hart se punt. Afrikaans!

Die taal waarin ek my die beste kan uitdruk. Ek kan nie wag om die stad te gaan verken nie. Saam met ‘n Afrikaanse vriendin.

13 gedagtes oor “Om koebaai te sê

  1. Nou die dag gaan koop ek gou knopies vir Bea se truitjie by n groot materiaal en kuns winkel. Soek tussen knopies en daar vang my oor dadelik die “Ja jong, dis so mooi om te sien.” “Ek wil nog met waterverf verf. Nooit kans gehad nie.” Kom manlike antw: “Onthou …” Ek het geglimlag vir pa se verduideliking. Jong vroutjie was besig om ouers dinge te wys. So luid, opgwonde en uitbundig.
    Ek het stilletjies omgedraai en geloop. Ek is maar n stil outjie en sulke opgewonde pratery maak my benoud. Tog was dit lekker om Afrikaans te hoor. Jy gaan jou tweede woonstadium geniet met die Afrikaanse vriendin.

    Like

  2. Ek het só lekker gelees. Baie dankie vir die deel. Sterkte met die trek se werkery. Mag alles maklik gaan. Geniet die nuwe ervaring. Ek dink dit gaan baie lekker wees – veral met die Afrikaanse taal waarin jy lekker sal kan kuier. Liefde!!!

    On Sun, 31 May 2020, 16:05 Dr. Christa van Staden, wrote:

    > Dr Christa van Staden posted: ” Ons het in Januarie 2019 met redelike > onsekerheid in ons harte die groot stap geneem. Om ook vir ‘n jaar of drie > in die buiteland te kom werk. So net voor ons kan begin dink aan aftrede. > Vroeg Maart 2019 het ons tweetjies met vier groot tasse, drie k” >

    Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.