Gepubliseer in Joernaal,Reisjoernaal

Die lekker van ouer word … kies jou vriende

Soms vang ek die kritiek van jonger vrouens op ons ouer vrouens op. Veral as mens saam met hulle kuier.

Daarom is ek sommer net so, op die oomblik, lus om oor die lekker van ouer wees te gesels. Om jou vriende te kies.

Ek het lankal vrede gemaak met hoe ek lyk. Geen spesiale diëte, geen oefening vroeg oggende nie. Ek eet meer as my klere los sit, word vies vir myself as hulle te styf sit (soos nou) en eet dan weer minder dat ek net gemaklik in my klere pas.

Ek het lankal vrede gemaak met plooie om die oë, mond of nek. Dit is deel van die ouerwordende proses, en nie eens onse hartedokter kon vir homself ewige jeug skep nie. Ek kyk so na Hannon as hy gesels op die TV en ek kan nie help om op te merk hoe hy weg probeer steek dat hy reeds die halfpadmerk bereik het nie.

Ek het op ‘n stadium ook, op my een suster se aandrang, botox laat spuit. Dit werk ja, plooie is vir maande lank op hok. Maar, die dokter het ook ‘n aar raak gespuit. En wie weet waar het die gif ander organe ook vir maande lank lam gemaak? Dit is egter nie die hoofrede waarom ek dit nie weer gedoen het nie.

Vir wie pla die plooie nou eintlik?

Ek sien dit soggens as ek aantrek en mooi maak vir die dag. Daarna sien ander mense my en as dit hulle pla dat ek plooie het, moet hulle maar wegkyk. Eintlik sommer vergeet om ‘n vriend te wil wees.

Want vriende kyk verby mekaar se onvolmaaktheid om veilig in mekaar se vriendskap te wees. Om die waarheid te sê, ek verkies vriende wat my aanvaar net soos ek is. Ek aanvaar hulle soos hulle is, is dit nie genoeg rede om vriendskap te vier eerder as om onvolmaaktheid raak te sien nie.

Ek het hier ‘n jong vrou ontmoet, deur my een vriendin wat my aan almal wil voorstel.

Ons het nou al ‘n paar keer saamgekuier, maar daardie vriendskap gaan nie hou nie.

As mens ouer is, of miskien as mens soos ek op verhoudinge ingestel is, kom mens goed agter wat nie in woorde gesê word nie.

Maar wel onderlangs bedoel word, met die hoop dat ek verstaan en hoor sonder dat dit in woorde gesê word. Veral as dit my as persoon raak.

Ek gaan nie sonder my grimering uit nie, maar ek grimeer ook nie volgens myself oordadig nie. Ek sit my vogroom aan, maskara en ‘n rooi lipstiffie en dan is ek reg vir die wêreld om my.

Elke liewe dag. Bad, was die gesig, doen hierdie drie dinge en dan kan ek die dag aanpak.

Ek grimeer nie gou omdat ons winkels toe gaan nie, ek grimeer nie gou omdat ek gaan gym nie, ek grimeer nie gou vir ‘n piekniek nie.

Ek is altyd reg as manlief, of vriendinne vra dat ek gou saamgaan dorp toe.

Dus grimeer ek nie vir die geleentheid nie, maar vir my eie genot.

So vra die vrou my in Januarie, toe ons twee alleen is nadat my vriendin gym toe is, of sy gou ‘n foto van my kan neem. Haar woorde daarby was egter vreemd. Sy wil vir haar ma ‘n foto van my met my rooi lippies stuur.

Ek het die gevoel gekry dat sy iets anders bedoel, maar my nie daaraan gesteur nie.

Saterdag nooi ons hulle en my vriendin-hulle om saam met ons te piekniek op die berg. Laai hulle by hulle plek op omdat hulle nie ‘n ryding het nie.

En weer word die rooi lippies opgehaal. Sy grimeer nou as sy kos gaan koop, want mens gaan nêrens anders tydens hierdie grendeltyd nie, asof mens net vir geleenthede grimeer. En ek merk onderlinge kyke op.

Sy vertel ook dat sy ‘n foto vir haar CV of so iets laat neem het, en dat haar ma vir haar gesê het dat die lippies te pienk was. En skielik maak dit sin.

Die gefotonemery van my en my lipstiffie. Ek met my rooi lipstiffie op die berg besig om te piekniek. Die fokus was nie op kan ek ‘n foto van jou vir my ma stuur nie, maar spesifiek op die rooi lippies! En mamma het waarskynlik toe ook gesê dat my lippies te rooi is …

Nou kyk, ek wil nou nie snaaks wees nie, maar ek het nog nooit gekyk watter kleur lipstiffie ‘n ander vrou dra nie. Ek kom agter as dit donker is, as dit lyk of daar niks is nie en as dit blink. Ook as ek van die kleur hou. Lipstiffie is so ‘n persoonlike keuse, en so verskriklik duur dat mense spesifieke kleure kies waarvan hulle hou. Daarom is op- en aanmerkings oor jou kleur lipstiffie beslis persoonlik van aard en word dit ook so opgeneem.

As die jonger meisies van geen lipstiffie hou nie, is dit hulle reg.

Ek val egter nie onder groepsdruk nie.

Nie toe ek as jong meisie gespot is omdat my langbroeke se ritssluiters agter moes wees volgens my pa nie. Ook nie toe almal vir of teen permanent-gekrulde hare was nie. As ek daarvan hou, dra ek dit tot ek moeg is daarvoor.

Ook wat mode betref.

As iets my nie pas nie – of seermaak – is dit nie deel van my klerekas nie. Ek verkies klere en skoene wat gematigd is, wat volgende seisoen weer gedra kan word sonder om snaaks te lyk as ek my splinternuwe klere in ‘n ander mode-seisoen wil dra. Nie dat dit my pla nie, maar modes is te erg om my daaraan te steur. Soos van wye pype na nousluitende pype van lang broeke.

Dit is egter nie die enigste rede waarom ek hierdie ‘kennisskap” ‘n vroeë dood gaan laat sterf nie.

Almal wat my blog ken, en my op Instagram volg, weet dat ek die hele tyd foto’s neem.

Saterdag het ek egter vergeet om my foon op sag te stel toe ek foto’s neem.

En toe kry ek ‘n afranseling!

Sy was besig om ‘n foto van my vriendin en haar dogtertjies te neem. Ek neem aan ek moes sit en kyk? Want toe ek skuins draai om ‘n foto te neem terwyl sy mik, kry ek die juffrou Rottenheimer kyk.

Ek het eers nie geweet wat aangaan nie, toe kliek ek my foon het ‘n geluid gemaak.

Sy het sommer net aanvaar ek steel haar pic!

Ek hou toe my my foon laer, wil dit sagter stel dat mens nie die kliek nie hoor nie, maar ek vergeet dat die foon nog op kamera is en dat die volume knoppie ook dan foto’s neem.

En daar neem my kliek-kliek en weer kliek-kliek foto’s terwyl ek die volume-knoppies druk.

En toe vertel sy kwaai oor hoe dit haar geïrriteer het toe mense haar troufoto’s so bederf het om tussenin te kliek terwyl die fotograaf, wat betaal is, probeer foto’s neem.

Sy vertel dat sy sommer al haar troufoto’s weggegooi het, want mense kyk hier en kyk daar en kyk oral in plaas van in die lens van die aangestelde fotograaf!

Nou sien, dit is daar wat my befoeterdgeid van die Fourie-kant af deurslaan.

Meer as jammer gaan ek nie sê nie, ek dink die situasie is totaal uit verband geruk. Ek het nie probeer om haar foto te neem nie, sy kon self sien dat ek net agterkoppe sou afneem as ek dit doen.

Ek dink dit was onnodig om so oor troufoto’s aan te gaan, veral as jy iemand se gas op die berg is.

Die aand vertel ek vir manlief dat ek nogal gevoel het dat die aanval persoonlik van aard was.

En hy sê toe dat hy gewonder het waaroor die kyke gegaan het wat ek van beide vriendinne gekry het.

Ek spot toe dat ek eers oorweeg het om haar te versoek om op my foon te kyk dat ek nie haar foto probeer steel het nie. My twee foto’s was van die kombers voor my …

Toe besluit ek om niks te doen nie.

Ook om nie my foto’s van die braai te deel nie. Selfs toe ek versoek word om dit wel te doen. Die lus daarvoor het soos mis voor die son verdwyn. So veel dat ek gisteraand net vinnig deur my foto’s is. Terwyl ek dit gewoonlik amper dadelik op Instagram gaan deel.

Die lekker van ouer word is om nie moeite te doen met kennisskappe wat aan venyn gekenmerk word nie.

Waarom sou dit nou nodig wees om die hele tyd op iemand se kleur lipstiffie te hamer? Ek hoef nie my lipstiffie te verander om aanvaar te word nie.

Waarom sou dit nodig wees om so aan te gaan oor troufoto’s?

Dit was besonder aangenaam om te sien hoe sy stilbly toe ek maak of ek die angel mis.  Want sien, ek het ‘n ander karaktertrek gesien van iemand wat nie my vriendin gaan word nie.

Vriende van ons het ook op my dogter se troue foto’s geneem, so saam met die fotograaf. En dit is van die mooiste foto’s wat ek het. Betaalde fotograwe stuur mos net die foto’s wat volgens hulle perfek is. Al het hulle 3 keer meer geneem … En ek het so in die stilligheid dankie gesê dat my dogter nie ook so opgetree het oor haar vriendin se oom wat ook foto’s neem nie.

Die ding is, my lus vir kuier is by die venster uit.

Mag ek byskryf dat dit vir my ‘n absolute pyniging is om die hele tyd in Engels te gesels.

Ek hoef nie.

Hoe sê die Engelse: “Been there, done that, got the t-shirt.”

Ek kan in Afrikaans byvoeg dat ek nie baie van die t-hemp hou nie en dat dit na hierdie skrywe op die ashoop gaan land.

Hier mis ek Afrikaans.

Ek mag van buite soos ‘n verstokte tannie lyk wat alleen in haar huisie sit.

Ek kuier egter die hele tyd saam met my blogvriendinne op ons WhastApp-groep in Afrikaans, saam met my kerkmense in Afrikaans, alleen saam met my Afrikaanse man op die berg, in Afrikaans. Ure saam met my ouers en susters.

Ure met my kleinkinders op video-oproepe, waar ek kekkel soos ek lag vir hulle dinge. Ure saam met my kinders. Ek is mie alleen nie.

Ek hoef nie in Engels oor koeitjies en kalfies te probeer gesels …

 

Ons drie op die berg. Kennis, vriendin en ek, wat bykans dubbeld so oud soos hulle is. My lipstiffie mooi netjies aangesit.

 

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

34 gedagtes oor “Die lekker van ouer word … kies jou vriende

  1. As ek eendag dalk af en laf raak om ‘n skelmpie aan te hou, sal sy verseker nie ‘n jong wilgerlatlyfie in ‘n minikini wees nie. Ek kyk hulle so as hulle min of meer kaalgat van die strand af kom, dis 300 meter ver, om skaamteloos in hulle naaktheid tussen ons te kom eetgoed koop, skynbaar eet hulle enigiets behalwe kos, wys lyfies vol belofte maar ogies vol van doodse leegheid. In drie jaar se tyd het ek nog net vyf regte mooies gesien, want hylle hartjies en ogies het geglimlag. Maar hier is ‘n hele paar anties van my ouderdom en selfs ouer wat gees in hulle het, wat aantreklik is omdat hulle eg is. Hulle is mooi binne en meesal aan die buitekant ook. Nekplooitjies kan oulik lyk wanneer dit gepaard gaan met die sexyste ding aan ‘n vrou, daardie glimlag wat diep uit die hart uit kom. Eendag het ek vir ‘n 80-jarige tannie op Vishoek se promenade gevra of sy weet hoe mooi sy die dag laat lyk het. Want haar mooi was as gevolg van soveel meer as die rooi in haar netjiese klere, of die goed versorgde hare of haar geriatriese wilgerlatlyfie. Haar mooi het helder geskyn diep uit haar siel uit en die hele seestrand aangenamer gemaak. En ek dink dis wat sexy regtig is.

    Like

      1. Ek hou ook daarvan maar mits ek nie die draer ooit hoef te soen nie 🙂 Ek gril vir lipstiek, of lippespiek soos my dogter dit genoem het. En Kaye los so graag rooi lippe op my bles. Hahaha, dan los ek dit daar as ek nie uigaan nie, totdat sy dit weer self verwyder. Ek hou ook nie van lipstiek op ‘n teekoppie nie net soos wat ek gril as ek sien mense tik hulle as af in ‘n piering in ‘n restourant. Ek het fensie tannies dit gesien doen. En dan het ek mos die ding met rooikoppe en veral nie met blondines nie. Dis dalk die Viking-bloed in my. Sal nie regtig weet nie.

        Like

        1. Hmmm, Pete, my man hou ook nie van rooi wat afgaan nie. Dus koop ek Revlon se colorstay overtime. Omdat dit die hele dag hou en nie soos ander lipstiffie af is voordat ek buite is nie. Die het twee kane, die een kant het die kleur en die ander kant ‘n deurskynende glans wat bo-oor aangesit word. Dan gaan geen rooi af nie, ek kan my kleinkinders opsoen.

          Liked by 2 people

          1. K het ook sulke magic lipstiek wat anders lyk as wat dit kleur gee en dan nie afsmeer nie. Ek hou nogal daarvan.

            Like

  2. Nou wat sou hulle besiel? Ek dink h7lle is jaloers op jou. Jawat. Ssnbsulkes steur mens jou nie. Op ons ouderdom weet ons gelukkig wie ons is en steur ons ons nie meer aan katterigheid nie.

    Like

      1. Ek het nog nooit raakgesien dat iemand se lipstiffie oordadig is nie. My eie is bloedrooi( as dit nie afgeeet is nie), want n oulap se rooi mask mooi. Ren ek word vanjaar 70jr oud.Ek het daai foti van julle 3 so bekyk en besluit jy is verreweg die mooiste,( en waarskynlik die slimste ook, né!)! Dis die wat hulle so suur is!

        Liked by 1 person

  3. Ai, vroumense! Waarom party vroumense altyd persoonlike aanmerkings moet maak verstaan ek nie. Dit getuig van swak smaak, swak opvoeding, swak styl en lae emosionele ik. Hulle gee hulleself weg en weet dit nie eers nie! Beslis nie vriendingehalte nie. Meeste van alles skrik die negatiewe gesindheid teenoor my my so af dat ek maar vlug van sulke vrouens af. Hoekom teruggaan vir nóg pakslae? Ouderdom is fantasies, want in ons het daar meestal die mooi oorgebly – daarom ontstel mense se lelike bedoelings ‘n mens. Daarom ontstel dit ‘n mens om te sien waarmee baie vrouens hulle koppe besighou. En behoede ons – dat hulle hulle kinders ook so leer!

    Baie liefde!

    On Mon, 25 May 2020, 06:02 Dr. Christa van Staden, wrote:

    > Dr Christa van Staden posted: “Soms verkyk ek my aan die jong meisies van > vandag, maar ek vang veral hulle kritiek op ons ouer vrouens op. Veral as > mens saam met hulle kuier. Daarom is ek sommer net so, op die oomblik, lus > om oor die lekker van ouer wees te gesels. Ek het lankal vred” >

    Like

      1. Weet net 2 dinge: dit gebeur met ons almal en sulke mense soos daardie vroue het ‘n ernstige selfbeeldprobleem. Hulle sal enige vrou aanvat om beter te voel oor hulleself – nie net vir jou nie. Nou ja, mag jy gou hiervan vergeet en onthou: vir my is jy ‘n baie oulike, veelsydige vrou.

        O ja! Ons het ‘n kollega gehad wat ouer as ons was. As ons nie lipstiffie aangehad het nie het sy gesê: “Waar is jou lipstiffie? Kan ek vir jou leen? Hierso…”
        Ons het altyd só gelag daaroor en natuurlik ons lippies aanhou verf! Selfs nou in die oggend – al werk ek nie!
        In my eerste jaar van skoolhou was ek partykeer laat. Sonder grimering! Eendag, tydens een van die klasse, sê ‘n dogter:”Ag, nee…alweer sonder grimering!”
        Dit het my gemotiveer om te verf al is ek laat! 😄😄😄

        Like

  4. Sulke mense kan my net laat grinnik – diegene wat só erg aan ‘n minderwaardigheidheidsgevoel ly dat hulle ander mense moet afkraak om beter te kan voel. Want dis al wat dit is, jy weet?

    Like

  5. Daar vertel jy nou n storie wat so waar is en ook herself gebeur. Ek het so paar jaar besluit om op te hou om almal se guns te wil when. Ek het besluit: ek kies self met Wie ek vriende wil wees en wie nie. To hell with those who don’t agree. Selfde met skryf in Afrikaans. Ouens hier moan oor ek Afrikaans blog omdat hul nie verstaan nie. To hell with them too.

    Like

  6. Dankie tog vir ouer word…dis so bevrydend!!!!!! Wat vriende, kos, klere en als aanbetref! Ek laaik jou rooi lippe. Sal nog eendag my storie oor lipstiffie deel…..

    Like

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.