Ouers, nou is die tyd om halt te roep

Die Covid-19 pandemie het ‘n slegte impak op skole. Nie alleen is skole gesluit nie, maar baie onderwysers sit sonder werk omdat hulle kontrakte het.

Dit, terwyl voorspellings lank voor die inperkings reeds daarop gedui het dat die pandemie se impak op Suid-Afrika laag kan wees, omdat ons kinders ingeënt word. Soos in Indië, waar die impak ook laag is.

Terwyl onderwysers smag om weer die gesiggies (soet en stout) voor hulle te sien, en hard agter die skerms werk om kinders op datum te probeer hou, kom ouers agter waarvoor onderwysers hulself elke dag inlaat as hulle deur die skole se hekke ry.

Goed en sleg, maar veral sleg omdat die staat se onbevoegde raadgewers op grond van min navorsing besluit het alle kinders in dieselfde klasse onderrig moet word, ongeag verstandelike vermoëns.

Klaskamers waarin daar nie voldoende aandag aan twee groepe leerders gegee kan word nie, naamlik die leerders met bogemiddelde verstandelike vermoëns en diegene wat aan die ander punt van die kontinuum wat sukkel om die basiese begrippe baas te raak.

Beide hierdie leerders word in inklussiewe klaskamers swaar gestraf oor iets waaroor hulle geen beheer het nie, naamlik dit wat hulle verstandelike vermoëns hulle toelaat om te hanteer.

Die begaafde kinders sit hoog verveeld in die klas, raak naderhand onrustig en trek maatjies wat nog nie verstaan nie, se aandag af. Word verkeerdelik as aandagafleibaar gebrandmerk, as hulle nie uitgedaag word om hulle volle potensiaal te ontwikkel nie.

Dink maar vir jouself hoe verveeld jy is wanneer jy in ‘n vergadering sit waar jy verstaan en wil aangaan, en kollegas net nie die kloutjie by die oor kan kry nie. Jy weet hoe jy sukkel om jou humeur te beheer, dan word daar van kinders met ‘n bogemiddelde vermoë verwag om lysies woorde op te sê, as jy vir hulle ‘n reël en ‘n uitsondering kan leer – en dan kan hulle enige woord spel, selfs wanneer hulle dit hoor!

Vir die outjie aan die onderkant van die kontinuum werk herhaling dalkies net beter. ‘n Paar woorde wat reg gespel kan word, is beter as ‘n stel reëls waarvan ‘n kind nie kop of stert kan uitmaak voordat dit ‘n hele paar keer met voorbeelde toegelig is nie.

Dink maar vir jouself hoe jy worstel om deur ‘n preek te sit en aandag gee as die dominee ver bo jou kop praat. Jy sit, jy lyk of jy luister, die liggies lyk aan, maar as jy uitstap en vir iemand moet vertel wat jy gehoor het, kan jy nie. Dit was bo jou begripsvermoë. Dit gebeur baie as die predikant ‘n doktorsgraad agter sy naam het en aanneem dat jy die Bybel net so goed soos hy verstaan.

Die punt wat ek wil maak, is dat elke ouer nou agterkom hoe die Suid-Afrikaanse leerplanne hulle kinders in die steek laat.

En is dit nie ‘n positiewe kant van die besluit om binne ‘n dag of ses die volle verantwoordelikheid van kinders se onderrig in hulle ouers se hande te plaas nie?

Die onderwys bestaan uit drie vennote – onderwyser – ouer – kind.

Gaan maar alle literatuur na. Die staat is nie een van die vennote nie.

Dalk ‘n oorsiener dat die drie vennote hulle plig nakom. Maar, ‘n staat wat nie besef hoe kinders in inklussiewe klaskamers te na gekom word nie, het geen reg om die inhoud van leerplanne te bepaal nie.

Ouers weet waartoe hulle kinders in staat is (goed, die meeste ouers) en onderwysers weet hoe om hulle kinders te help om hulle volle potensiaal te bereik. Sonder om boeke vol te skryf dat die staat kan dink dat daar in klaskamers gewerk word.

Sien, die punt wat ek wil maak, gaan binne die volgende paar weke bewys word. Die staat gaan die sotlikheid van oorvol leerplanne besef, afskaal en leerders gaan steeds kan presteer.

‘n Begaafde kind hoef nie 10 soortgelyke wiskunde somme te doen as hy die beginsel verstaan nie. ‘n Kind aan die onderkant van die kontinuum gaan nie beter verstaan as hy 10 soortgelyke somme probeer en elke keer misluk nie. Ek verstom my wanneer wiskunde onderwysers sê dit is oefen, oefen, oefen. Nee, dit is verstaan en toepas. As jy kan, gaan met volgende probleem aan …

Oefen, oefen, oefen gaan nie alleen sy moed breek nie, maar ook sy selfkonsep afkraak tot daar niks meer oor is om hom te oortuig dat hy weer moet probeer nie.

Daar is mense wat mens wil laat verstaan dat wiskunde moeilik is, dat net die slimstes dit kan doen. Toe nie? As jy verstaan, kan jy toepas. Soveel anders as in ‘n taal, waar jy die hele tyd kreatief met jou kennis moet omgaan om punte te verdien.

Ouers het nou twee maande tyd gekry om te sien hoe hulle kinders oorlaai word. En hulle doen nie eens ‘n onderwyser se administratiewe take nie.

Ouers het nou geleer waarom hulle begaafde kinders nie meer wil skool toe gaan nie, dit breek hulle spoed ook as hulle moet kyk dat hulle kinders herhaal en herhaal en herhaal. En hulle maak reeds besluite.

Ouers het reeds besluit: Goed, juffrou het soveel werk huis toe gestuur, maar haai, daai is mos die staat se probleem. My kind verstaan, ons is klaar vir die dag.

Of … My kind verstaan nie, kom mamma of pappa dink aan nog maniere om jou beter te laat verstaan. Wat hulle help verstaan dat juffrou nie op Pietie pik as sy vir hom nog werk gee nie. Sy help.

Dus, waarom kyk ons nie na die positiewe kant van die saak nie.

Inklussiewe onderwys is nie goed vir ons kinders se volwassewording nie. Vir wie dit goed is, weet ek nie.

Vir die staat? Dit is nou dieselfde mense wat verseg om te erken as hulle foute maak en net aanploeter met inperkings tot alles tot stilstand gekom het. Skole ook.

Soos ‘n dieselmasjien in Qazaqstan in die winter wanneer iemand nagelaat het om seker te maak dat die masjien in goeie werkende toestand is. As die enjin eers onder in ‘n oopgroefmyn afgeskakel word wanneer die winterkoue se temperature na -50ºC daal, kan dit nie weer aangeskakel word nie. Nooit weer nie. Dit moet weggesmyt word.

En dit is wat in Suid-Afrika nodig is om ons kinders te red van die oormaat werk wat nie klaar gemaak kan word in ‘n inklussiewe klas nie.

Inklussiewe onderwys laat leerders in die steek. Die matriekslaagsyfers “styg” jaarliks, want ongeveer die helfte van ons kinders verlaat die sisteem om nooit matriek agter hulle name te skryf nie. Hoe kan dit as “verbetering” beskou word?

Ek wil dus afsluit met die versoek aan ouers.

Julle het nou kans gekry om te verstaan wat juffrou se probleem in die klas is. En jou Pietie en Sannie is maar twee kinders in haar klas waar sy 45 en meer kinders moet hanteer.

As die  kinders volgens vermoëns in klaskamers onderrig word, kan jou Pietie en Sannie net soveel aandag in die klas kry as wat jy nou tuis vir jou kind gee. Om seker te maak jou kind verstaan.

En dit is genoeg rede om positief oor die saak te wees.

Raai wat?

Kinders hoef nie boeke en boeke en boeke vol kennis (eintlik inligting want dit is iemand anders se kennis en moet nog hulle s’n word) uit hulle koppe te leer nie.

Vandag se kennis is môre tweedehands. Verouderd. Argaïs.

Iets soos regtig? Het julle regtig gelo dat daar net soveel planete is? Hoe het dit gebeur dat nog een opgespoor is? En as daar is, is daar nie nog meer nie?

Kinders moet leer om saam te werk, of om hulle eie leer te rig, om self te besluit ek weet nou alles wat ek moet weet om goed te presteer.

Hulle moet leer om probleme op te los, probleme self te identifiseer en self antwoorde daarvoor te vind.

Hulle moet 21ste eeuse vaardighede aanleer om gereed gemaak te word vir beroepe wat nog nie eens bestaan nie. Om in die beroep self te leer en nie vir iemand te wag om hulle te leer nie.

Ons het mos nou die verantwoordelikheid vir ons kinders se opvoeding.

Dit is mooi netjies in ons hande geplaas.

Kom ons staan dan saam om onderwysers se hande te vat, hulle administratiewe laste te verlig en so te help dat hulle tyd het om ons kinders ordentlik te onderrig.

Elkeen op sy vlak van verstaan. Want ons kinders is nie almal soortgelyk nie, hulle kan nie deur ‘n worsmasjien gedruk word nie.

Hulle verskil en hoef nie sleg daaroor te voel nie. Ek kan nooit verstaan waarom daar geen probleem mee is om rugbyspelers en netbalspelers en hokkiespelers te kategoriseer volgens vermoëns nie. Eerste span, agtste span.

Maar die kind wat sy buitengwone verstandelike vermoëns ten toon stel, en die een wat sukkel, mag nie gekategoriseer word om spesiale aandag te kry nie. Inteendeel, die begaafdes moet hulle talente onder die maatemmer wegbêre.

Ek kan ook nie verstaan waarom daar nie klasse moet wees waar mens aandag kan gee aan die outjiies wat sukkel nie. Dat hulle ook aha oomblikke kan beleef. Kan voel hoe dit voel om iets eerste reg te kry. Om te leer dat hy of sy ook kan.

Hulle is uniek. Soos God hulle geskape het.

En verdien om so hanteer te word.

20 gedagtes oor “Ouers, nou is die tyd om halt te roep

  1. Daar is baie onderwysers (en ouers) wat hulle bes doen om die kinders aanhou lesse te gee onder hierdie omstandighede. ‘n Groot probleem is die onsekerheid oor wanneer die skole gaan oopmaak. My kleindogters in Noorwee het Woensdag terug skool toe gegaan vir die laaste vyf weke van die skool jaar. Hulle dra nie maskers nie, maar moet in hulle klasgroepe bly; hulle moet hulle hande gereeld was; baie van hulle klasse word in die buite gehou (dit is lente daar); en moet hulle eie potlode ens gebruik. Die skool ure is verkort en die kinders mag net per klas buite wees (elke klas het hulle eie pouse).

    Like

  2. Ek wens so ek kan toegelaat word om my klas van 42 Graad 1’s self te bestuur! Nou na die laaaaang breek! Ek sal graag met 10 of dalk 12 op ‘n dag van 8 tot 1 wil werk. Dan gaan hy huis toe met iets om te oefen of te doen. More ander groep. Dink net hoeveel meer beheer ek sal kan uitoefen om te help dat ons veilig bly maar terselfdertyd ook hoeveel meer sal ons bemeester kry!
    Groete Louise

    Like

  3. Die artikel oor inklusiewe onderrig was baie interessant en baie waar!

    Die feit dat bitter min regerings genoeg wil begroot vir die onderwys speel ‘n baie belangrike rol. Klein salarisse, min onderwysers en ‘n algemene oningeligte houding teenoor leer is ons ondergang. Dit is ook alles die rede vir die worsmasjien en wee, o, wee daardie groot getalle in die klasse. Daar word nie geleer nie. Daar word ge’baby sit”. Ag, daar is soveel gesindheidsprobleme in en teenoor die onderwys, dat ek net wens vir lig en rigting daar! Wat is jou oplossing vir inklusiewe leer? En hoe voel jy oor selfleer? Liefde!!!

    On Fri, 15 May 2020, 08:18 Dr. Christa van Staden, wrote:

    > Dr Christa van Staden posted: “Die Covid-19 pandemie het ‘n slegte impak > op skole, wat gesluit is, onderwysers wat tuis sit sonder werk. Terwyl > voorspellings lank voor die inperkings reeds daarop gedui het dat die > pandemie se impak op Suid-Afrika laag kan wees, omdat ons kinders ingeën” >

    Like

    1. Ek hou van selfleer, maar die kinders moet eers die verantwooreelikhede aanleer. My nagraadse studente kon nie hulle leer self rig nie, baie van hulle altans. Vir inklussiewe onderwys het ek nie oplossing nie. Maar ek dink wel dat tuisskool ‘n moontlikheid word. Of klein skole, wat nie deur die staat beheer word nie. Wa is jou gedagtes daaroor? Ek weet net baie slim en baie sukkel kan nie in een klas werk nie.

      Like

      1. As ek dink aan my eie selfleer: my ma het by my gesit en my geleer hoe om te leer en huiswerk self te doen tot in gr. 4. Daarna leer jy self en vra net met moeilike tye raad. Ek het my eie kinders ook so geleer en selfleer was nooit ‘n probleem nie. Hang maar van die ouer af om daardie roetine en pligbesef in te bou. Tuisskole is vir my die oplossing (soos van die huis af werk). So kan daar op internet dan onnies wees wat lesse aanbied vir begaafdes. Ander onnies bied aan vir gemiddeldes en ander vir stadiger leerders. Kinders behoort vroeg toetse af te lê oor in watter groep hulle hoort. Dan, na die uitslae bekend is, skakel ouers by die regte groep onderwysers in.
        Ek het op hierdie idee gekom toe ek by ons skool se leessentrum gewerk het. Deur middel van daardie program leer die kind self, word getoets oor die vakinhoud, pas dit toe ens. Die kinders was ongelooflik geïnteresseerd en ongelooflik onafhanklik. Ek kon sien iets is hier geskep vir die kind van ons tegnologiese tyd. Dit het perfek gepas! En die moontlikhede is eindeloos!

        Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.