‘n Baie oulike Bybel toep om aan te beveel

Ek het verlede jaar voorgeneem om die Bybel van hoek tot kant te lees. En aangeneem dat ek dit in ‘n jaar kan doen. Sonder die nodige ondersteuning, is dit egter ‘n moeilike taak. En toe ek weer sien, het die jaar verbygegaan en die Bybel is nie deurgelees nie.

Die week soek ek ‘n toep op die AppStore en ontdek twee gratis Bybeltoeps. Die eerste een is getoets, maar as ek eers elke vyf sekondes na ‘n advertensie moet kyk, is my moed gebreek.

Kan ek eers hier stop en vir die advertensiemense vertel hoe dom hulle planne werklik is? Ek hoef nie te kyk nie, ek kyk weg, gaan doen ander goed en kom terug as die X uiteindelik verskyn om my uit die gemors te kry. Ek stel nie in speletjies op my foon belang nie. Ek wil nie hekke oopmaak om vir ‘n pop ‘n pad te maak nie. Ek wil nie Candy Crush speel nie. As jy weer sien, moet jy die hele tyd seker maak waar jy kliek, ander steel die toep geld uit jou rekening wat met AppStore gekoppel is. As ‘n toep my met advertensies pes, is dit Koebaai Meraai, ek soek ‘n ander toep.

Die tweede toep is hemel op aarde, ek geniet dit vreeslik baie en ek kan dit om verskeie redes aanbeveel. Hooffoto. Die toep lyk so in AppStore.

In die heel eerste plek is dit in perfekte Afrikaans beskikbaar, iets wat my hart vermurwe in hierdie land waar ek net Russies en Qazaq hoor. Met bietjie Engels. Ek lees op my iPad, maar die skrif is mooi groot op selfone dat mens selfs sonder bril sal kan lees.

Jy kan leesplanne kies, waarvan baie video’s en podcasts insluit.

Hierdie plan laat jou toe om na die boek Handelinge te luister. As jy dit kies, kry jy voorstelle vir ander boeke waarna geluister kan word, byvoorbeeld Psalms, Spreuke, ensovoorts.

Sodra jy ‘n leesplan kies, kan jy kies of jy dit op jou eie wil lees, of saam met iemand anders. Jy kan ook kies wanneer jy met die plan wil begin sodat die persoon wat jy nooi om saam te lees of luister, kans kan kry om die toep af te laai en die plan te begin. Ek dink ek gaan my sus nooi om die Psalms saam met my te begin luister.

Ek weet nie of ek ‘n fout maak nie, maar ek kon nie die uitnodiging regkry nie. Dus het ek na my planne gegaan, die skakel gekopieer en vir my sus per WhatsApp gestuur. Sodra sy dit oopmaak, sal sy op die aanvaar ikon kan kliek om saam met my te luister van Maandag af. PS: Die skakel is onderaan hierdie plasing as jy dalk saam wil begin luister.

Ek het begin met die deel van my voorneme om die volledige Bybel te wees. Dit is juis daarmee wat die toep my help. Een van die leesplanne help om die volledige Bybel in een jaar te lees.

Ek is ‘n oud-Voortrekker. Ons leuse is Hou Koers, dus is dit vir my lekker as die toep vir my elke dag daaraan herinner dat ek steeds op koers is. In die spesifieke woorde:

Op Koers!

Ek is op koers, na ‘n week lees ek steeds elke dag uit die Bybel. Die manier van aanbied, sal veral vir die jonger geslag lekker wees omdat die Ou Testament in chrologogiese volgorde gelees word, die Nuwe Testament bygevoeg word om sake verder te verduidelik en die leesplan afgesluit word met ‘n geskikte Psalm of Spreuke.

Dit eindig egter nie daar nie. Die lewe kan gebeur en mens kan agter raak. Dit is nie ‘n probleem nie omdat die toep jou ook help inhaal as jy agter geraak het. Dit is ‘n baie goeie voorbeeld van hoe leer gefasiliteer kan word.

Daar is ook ‘n kalender waarop jy jou vordering kan volg. En vele ander maniere waarop jy die leestyd genottyd kan maak.

Byvoorbeeld deur boekmerke te skep, versgedeeltes in kleur te merk (ek skryf nie in my Bybel nie, dit kan dalk vir my werk?), jy kan notas maak en natuurlik leef ons in die tyd waarin baie glo dat leer speel-speel gedoen moet word. Dus is daar ook kentekens wat verwerf kan word.

As ek van die kentekens wil verwerf, moet ek my houding verander en wel in hierdie aanlyn-Bybel van my skryf. Vir nou moet ek eers daardie sprong maak – om wel in my Bybel te skryf. As jy deur kentekens gemotiveer word, is dit ‘n oulike toep om jou ook daarmee te motiveer om met jou leesplan vol te hou.

Nou wonder jy seker waarom ek hierdie artikel skryf?

Ek is in die heel eerste plek ‘n oud-juffrou, en ons onderwysers is geneig om nuwe kennis met almal te deel.

Tweedens baat ek by die motivering om die Bybel van voor tot agter te lees, soos wat ek verlede jaar al beplan het. Nou hou ‘n toep vordering van my vordering, terwyl die Bybel op ‘n heel ander manier vir my ontsluit word. As teks onduidelik is, is daar ‘n koevertjie waarop geklik kan word om die teks te verduidelik.

Laastens het my towerin-vriendin die week geblog dat sy motivering verloor omdat sy nie meer Bybelstudieklasse kan bywoon nie. Liewe Toortsie, kliek op die Psalms saam met my te luister. Ek sien dit gaan ons 71 dae neem om die boek deur te luister. Teen daardie tyd behoort die land weer oop te wees, hoop en bid ek. Ek het die Psalms gekies omdat dit in almal se smaak sal val.

Almal wat saam wil luister, is welkom om op die skakel hieronder te kliek om saam na die Psalms te luister.

Sal jy hierdie Leesplan, Deur die Bybel – Luister na die boek van Psalms, saam met my lees?

O gits, ek wonder hoe dit gaan klink? Dalk is dit in Engels? Want dit is mos luister en nie lees nie.

Toe moes ek eers gou gaan luister. Wel, dit is in pragtige Afrikaans, ek geniet die leser se stem. Wat ‘n voorreg! Om so op my eie, of dalk saam met baie van julle, Maandag na die Psalms te begin luister. Mens kan selfs aan die einde van elke dag se luister notas maak. Kan net lekker wees om dit saam met ander te doen. Hoe dit gaan werk, sal ‘n nuwe leerervaring wees.

Hierdie oulike toep is in baie, baie tale beskikbaar. en ek kan verstaan waarom dit vanoggend al reeds deur bykans 423 000 000 mense afgelaai is.

Jy kan hier kliek om die toep af te laai, anders is dit op toepwinkels beskikbaar.

Volg hierdie stappe om jou toep se taal na Afrikaans te verander.

Is dit nie wonderlik om sulke perfekte Afrikaans te lees nie?

Gesels gerus saam as jy die toep reeds gebruik. As jy saam gaan toets, gesels asseblief ook saam. En as jy ander leesplanne vind wat goed is, deel asseblief die leesplanne, ek sien daar is vir huwelike, angs, vreugde ensovoorts. Ek hou vir eers by die twee.

2 gedagtes oor “‘n Baie oulike Bybel toep om aan te beveel

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.