Sosiale isolasie vanuit ‘n oud-onderwyser-ala-opvoedkundige-navorser ala huisvrou-perspektief

Vanoggend is ek lus om sommer iets oor sosiale isolasie vanuit drie verskillende perspektiewe te skryf. Al drie perspektiewe is my eie.

As oud-onderwyseres

As oud-onderwyseres, wens ek dat so iets my getref het toe my eie kinders op skool was. Een-en-twintig-dae in skooltyd en die Aprilskoolvakansie om in my eie kinders te belê, dae wat niemand my kon dwing om gesinstyd te gebruik om op toere te gaan, buitemuurs af te rig en te beplan nie. Om die hele tyd sleg te voel omdat my eie kinders afgeskeep word in die proses. Terwyl ek by nabetragting wonder of hulle dit ooit waardeer het. My eie kinders sou.

Een-en-twintig dae waartydens my kinders so laat kon slaap soos hulle wou, veral as hulle siek was, dat hulle nie hoef op te staan omdat ek moet gaan werk nie.

Een-en-twintig dae waartydens ek my kinders na aan my hart kon hou, weg van kieme, weg van die invloed van ander, weg van onderwysers wat lekker moeg is so teen die einde van ‘n kwartaal en ver weg van verkeer.

Om skoon lug in te asem teen die einde van die 21 dae.

Een-en-twintig dae wat my kinders kon rus en speel so tussen die leerdery vanaf die huis. Want leer gaan daar geleer moet word, ek dink nie die skole gaan na 21 dae kan oopmaak nie.

Vir sommige ouers gaan die 21 dae nag wees … Ek het in 2008 uit die onderwys bedank, omdat kinders nie meer kinders was nie. Hoe ongeskikter ‘n kind kan wees, hoe groter aanhang het hy of sy gehad. Self prefekte slaan hulle eie skoolmaats bloedneus by die skool. Vir hulle ouers gaan 21 dae baie lank wees.

Hulle gaan na drie weke weet hoe dit voel om alleen-verantwoordelikheid vir hulle ongeskikte kinders te dra. En hulle het nie ‘n klas vol ander kinders wat aandag moet kry nie, op die meeste twee of drie boeties en sussies. Hulle gaan agterkom dat hulle kinders kan lieg sonder om te blik of bloos en geen verantwoordelikheid vir hulle dade vat nie. Selfs as maats daardeur te na gekom word.

Hulle gaan sukkel, want hulle kan, weens die sosiale isolasie, hulle kinders nie gerieflikheidsonthalwe by ‘n creché, kleuterskool, laerskool, sekondêre skool, naskool, kollege, universiteit en buitemuurse aktiwiteite gaan aflaai nie. Al maak die kinders hulle gek.

Hulle gaan verstaan waarom onderwysers vakansies nodig het, al werk hulle tydens vakansies ook. Net om so bietjie nie in die kinders se ongeskiktheid vas te loop nie. Want dit is die een ding wat vandag die onderwysers laat knak, pad vat en loop.

Die  21 dae gaan vir hierdie ouers langer as ‘n kwartaal voel. Glo my, hulle gaan besef hoe erg dit is om hulle ongeskikte kinders tuis te probeer onderrig.

Hulle gaan voel hoe onderwysers voel.

Soos diere in hokke, diere wat die hele tyd met ‘n stok gesteek word om te kyk hoe ver hulle die onderwyser kan dryf voor hy of sy oorreageer.

Ek vermoed die inperking gaan ‘n goeie uitkoms hê, kinders kan dalk met baie mooi maniere na die skole terugkeer, met ouers wat verstaan dat onderwysers se werk onmoontlik gemaak word deur hulle spruite. Mens kan net hoop.

As opvoedkundige navorser

As opvoedkundige navorser, is ek nuuskierig oor wat die impak van skielike afstandonderrig op die suksessyfers van universiteite, skole en  technikons gaan wees. Hoe skole die afstandonderrig hanteer, gaan bepaal of die impak negatief of positief gaan wees.

Dit gaan nie voldoende wees om die leermateriaal op tegnologiese platforms beskikbaar te stel nie. Kyk maar na die suksessyfer van Unisa versus kontakonderwys. Skokkend laag.

Tegnologie gaan op so ‘n manier gebruik moet word dat die isolasie verbreek word sodat interaksie kan plaasvind. Indien nie, kan die pandemie ‘n baie nadelige impak op akademiese sukses uitoefen.

As huisvrou-navorser

Uit ‘n navorser wat van die huis af werk se perspektief, gaan dit lekker wees om minder hemde en broeke te stryk. Nou goed, mens kon seker wens. Hy moet elke dag gaan werk, weet nie vir hoe lank nog nie.

Manlief se klere het intense stryk nodig, ek is die afgelope ruk juis besig om te help kies aan wat hy aankoop. Goed wat so kreukel dat mens ure lank moet druk en stryk, word so stelselmatig uit die stelsel verwyder soos wat nuwe inkom.

Dit beteken egter nie dat die werk minder gaan raak nie. Skielik kan jy die bed nie meer opmaak wanneer jy wil nie, want manlief slaap nog. hy kan later opstaan omdat hy nie reistyd moet inwerk nie.

Die kombuis voel, soos naweke, die hele tyd deurmekaar. Want koppies, glase, ens hoop gouer op as wanneer ek alleen tuis is.

Ek moet skielik onthou dat manlief honger kan raak, want ek is gewoond om sommer so in die loop van die oggend ‘n appel te skil, in skyfies te sny en met ‘n vurk te eet terwyl ek tik.

Nou moet ek ook daaraan dink dat hy nie meer middagete huis toe kom nie, hy kan enige tyd honger raak. Miskien moet ek oorskakel na groot ete vir middagete?

Ek het so bietjie aan die woonstel rondgeskuif. Seker iets met ‘spring clean’ te doen?

Ons het eers in die sit-eetkamer-kombuis gewerk. Hy by die eetkamertafel en ek op die bank.

Daai werk nie so lekker nie. Ek hoor wat hy met werksmense praat en as dit ‘n video-oproep is, moet ek ook in ag neem dat ek in die prentjie kan wees. So in my bandjies bloese en kortbroeke en kaal bene en voete. Mens kan mos nie die hele tyd in jou huis koes nie?

Dit is mos warm in die huis en dit word nou nog warmer omdat dit buite enkelsyfers subzero is. Die sentrale verhitting is steeds aan en die son bak die woonstel vir ‘n langer deel van die oggend warm. In so mate, dat ek die vensters oopmaak om die huis af te koel. Subzero koel baie vinniger as enige lugverkoeler af.

Intussen het ek my lessenaar, wat ek vir naaldwerk gebruik, na die slaapkamer geskuif en plek vir hom gemaak om dit sy “kantoor” te maak. Nou kan hy rustig na gesprekke luister en werk, wat die hele naweek in beslag geneem het weens ‘n ongeluk op die myn.

Myne is die eetkamertafel, dan pla ek nie wanneer hy werk nie en hy kan vir werksdoeleindes bel sonder dat ek die gesprekke hoor. Ek kan ook opstaan en kos maak, wasgoed was, skottelgoed pak en sulke dinge doen wat hom pla as ek so rondbeweeg.

Nie dat dit hom baie pla nie, hy is gewoond aan ‘n oopplankantoor waar mense hom gaan pla as hy hard aan die dink is.

Ek het die eerste dag so bietjie gespot, by hom gaan staan en gewag dat hy opkyk en toe gesê ek maak dit net so bietjie anders dat dit darem soos kantoor voel. Manlief is nie baie geneë met die tuiwerkery nie.

Tot dusver was hy elke dag uit, want hulle moet die ongeluk ondersoek en planne maak. Dan het ek die kans gevat om nog buite te gaan stap. Terwyl ons kan. Ek verstaan dat ons stad dalk onder kwaratntyn geplaas kan word as hier 5 gevalle is. Of dit gaan gebeur, weet ek nie, maar ek weet dat ons ingeperk gaan word. Tot iets soos 22 sektore. En dan mag jy slegs binne jou eie sektor beweeg.

In die winter sou dit hemels gewees het, ek het ingebly omdat dit so koud was en omdat ek oral moes koes om nie te val nie.

In die somer kan dit dalk ‘n perd van ‘n ander kleur wees … as alles buite so mooi is en ek moet in ‘n woonstel bly.

Intussen geniet ek dit om manlief by my in die huis te hê.

Ek vermoed ons sal so hier en daar ‘n ligte woorde-oorloggie moet oorleef, want ons sal daaraan gewoond moet raak om in mekaar se spasies te wees tydens werkstyd.

Dit maak dit egter nie sleg nie, inteendeel, ek skat ons kry so oefentyd vir aftrede. Hoe geseënd is dit nie.

Een-en-twintig dae om na aan mekaar te leef. ‘n Tyd wat ons sommer laat besef wat belangrik is. Gehaltetyd. Samesyn. Tyd om voor die Here stil te raak.

As ouma

In hierdie tyd is ons eerste kleinseun aan seun se kant gebore, ons het klaar drie seuntjies aan dollatjie se kant. Word ek ‘n ouma van ‘n vierde kleinseuntjie. Ons het so baie daarna uitgesien om die knapie te ontmoet, nou moet dit wag.

Baie meer as 21 dae.

Dollatjie geniet dit by die huis. By haar kinders. En ons kry prentjies om ons aan hulle te herinner. ‘n Jakaranda-boom vir ouma. Dit is raak saamgevat.

Ek verlang na die Jakaranda wat nou seker besig is om sy blaartjies oor die erf te strooi.

Ek kry video’tjies was die seuns vir hulle ouma maak, en my hart huil, soos baie ander oumas s’n wat in Suid-Afrika is, maar nie mag gaan kuier nie weens die inperking.

Ek wens ek was nou in Suid-Afrika, naby my kinders en skoonkinders, naby my kleinkinders, naby my ouers.

Naby seun wat ‘n pappa geword het terwyl sy ma ver weg is.

In ‘n tyd wat mense tot hulle huise beperk is.

En ek bid:

Liewe Heer, beskerm asseblief die gesin van my, almal van hulle, dat ons na hierdie inperking weer in mekaar se arms kan wees. Amen.

 

19 gedagtes oor “Sosiale isolasie vanuit ‘n oud-onderwyser-ala-opvoedkundige-navorser ala huisvrou-perspektief

  1. My kleinkinders in Noorwee gaan voort met al hulle lesse en skoolwerk al is hulle al drie weke weg van die skool. Hulle kry hulle werk elke dag, kan inskakel om met hulle onderwysers te praat, en stuur hulle werk skool toe wanneer dit klaar is. Ek weet van onderwysers hier wat dieselfde probeer doen – veral met hulle matrikulante.

    Liked by 1 person

    1. Als goed en wel van die aanlyn. Maar wat van jou ouers en kinders wat dit nie kan doen nie. Finasiele impak? Of die wat nie toegang het nie. Wat van die persepsie program? Ek miss daai snot gesiggies. Daai onvoorwaardelike liefde en drukkies. En mis die normale malhuis van sport en akademie. Ek miss my kinders en kollegas.

      Like

  2. Verskeie lande het vyf, ses dekades gelede reeds tuisskoolstelsels gehad. Israel, Australië, Kanada, ens. Party was interaktief dmv tweerigtingradio, ander was statiese leerplanne. Dan word onnies nie geslaan nie. Of seun en meisie wat pouse gou oor die straat glip huis toe om twintig minute later hygend en blosend by die skool aan te meld. Funksionele biologie in speeltyd. Kinders is mos deesdae grootmense.

    Ek het elke wegvakansie waardeer, dan is daar nie uintjies om uit te spit of vakkundige handboeke vir Pa se vak wat met tegniese sketse toegelig word nie.

    Ek onthou lemoene by Zebediela, Mokopane se grot, katoen by Clercy, die Potholes, Strijdomtonnel, Long Tom Pas, God’s Window, Satara, Skukuza, Shingwedzi, elke olifant, kameelperd, gompou, waterbok, nyala of vlakvark wat ek ooit gesien het. Wildehonde wat rooibokkie van agter af opvreet terwyl haar voorpootjies nog maal in ‘n ylingse vlugpoging. Animals are our friends, animals are cuddly. Maar mens kan ruite nie eens edn duim ver afdraai nie, cheetah en luiperd kan plan maak.

    21 Dae van hongertafeltjies, soet, swart moerkoffie tussen Hopetown en Strydenburg, waar die telefoondrade hartseer sing.

    Sekretarisvoël wat formeel stap, hoogmoedig, op soek na ‘n onverskillige ou rinkhalsie.

    21 dae van ontvlugting, weg van Pythagoras want Wiskunde is regtig Grieks. Of lekker tongknopers en ‘n sensasionele slaapwandelende Lady Macbeth, gesien deur die oë van Roman Polanski. Matriekseuns kry ook verrassings op skool.

    21 dae van skape se stertkante skionknip, doseer met ‘n spuitkannetjie, of magiese kuns om ‘n melkkoorskoei uit die dood te laat opstaan. Of om jou arm te sny op ‘n see-anemoon by Black Sophie en perlemoene so groot soos Kewerwieldoppe wettig en met permitte, twintig voet diep te gaan uitduik.

    21 Dae van bok bekruip en agterna biltonge ophang, want blesbok by The Meadows of springbok naby Meiringspoort maak lekker droog.

    21 Dae van duisende voet klim tot by die Thomas-hut, of smal grondpaadjies by Stettynskloof of die Oubergpas.

    21 Dae wat my steeds inspireer en voortstu vyftien meter bo straatvlak in my katstad waar ek my esrste meelogie op ‘n tak gesien sit het; ons het 2018 hier ingetrek en sien nie inheemse voëltjies nie, totdat dit buite stiller raak en die enkele ou klein veervoetjie op ‘n takke twee meter van my venster af kom sit. Om binne-aars te sit lag vir die geïnterneerde stadsmense.

    Vandag waardeer ek my onderwyser-pa se reisbeleggings in ons. Hoeveel kinders is gewys hoe lugversorging werk deur te toer deur ‘n deelsvoltooide Goue Akker of Tygerberghospitaal, hoe ‘n damwal se tonnels binne lyk of hoe water gesuiwer word by Stettynskloofdam, Steenbrasdam of by Riverton aan die Vaalrivier?

    21 dae van waag waar mense skryf OORTREDERS SAL GESKIET WORD want dan moet daar iets moois wees om te sien.

    Jou kinders sal onthou, Christa.

    Liked by 1 person

  3. Ek het onderwys Februarie 2009 vaarwel toe geroep. My laaste vier jaar by n privaatskool met net agtergeblewenis was n riller. Tog was ouers veral mal oor my omdat ek kinders so baie geleer het. Dit daar gelaat. Snaaks genoeg is ons hier al van begin van die jaar al besig om meer aanlyn skool te hou. Dit vorder blykbaar goed met die lock down. Nou is dit nog vakansie want hul het vakansie voorentoe gekuif. Oor twee weke gaan die aanlyn skool begin.
    Aan die eenkant is ek gelukkig om alleen te wees. Ek pla niemand nie en doen maar daagliks my huislike dinge. As ma en ouma is dit baie swaar om so naby te wees en nie kontak te hê nie.

    Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.