Gepubliseer in Joernaal,Reisjoernaal

‘n Babaseuntjie is vir ons gebore

Vanmiddag net na middagete is ‘n nuwe babatjie vir ons gebore. Eerste enetjie aan seun se kant, dra sy pa en sy oupa se naam. Ons vierde kleinkind, almal seunskinders.

Ingedagte stuur ek foto van babatjie vir my vriende en familie en tik die volle name, met die derde agteraan, want dit is die derde geslag met oupa se naam.

‘n Russiese vriendin kry ook die Afrikaanse boodskap, vertaal en stuur terug, hmmm, like a king?

Ek lag en skryf terug, voel so effens verleë daaroor omdat dit so opgevat kan word. In ‘n land waar daar wel konings was met iets soos die tweede en derde agteraan sy naam. Alhoewel ons kleinseuntjie ‘n Koningskind is, is hy nie ‘n koning nie. Inteendeel, in Suid-Afrika was daar nie konings nie, verduidelik ek. Ons geskiedenis is baie jonger as julle s’n.

As mens na Engels vertaal kan dit seker spoggerig klink as ek die derde agter sy naam sit?

Nee, skryf ek terug, ek bedoel net dit is die derde geslag: Oupa, pappa en seuntjie.

Sy lag en skryf die mooiste boodskappie van seënwense vir ons ou pasgebore babatjie. Vertel in Engels hoe mooi hy vir haar is. My hart loop oor. Hoe wonderlik is dit nie om sulke spesiale vriendinne te kon maak in ‘n vreemde land nie?

Nie een van my vriende het darem gedink dat ek bedoel die ou babatjie is ‘n koning nie. Of dat ek konkinklik is nie. Waarskynlik omdat hulle my ken. Ek kan seker vra net om seker te maak, het julle?

Ek moet egter bieg dat ek met die foto’tjie gespog het, al het ek nie geskryf dat hy die pragtigste babatjie is nie.

Ek sien ‘n ou pasgebore babatjie, perfek geskape, die mooiste neusie, ek is mal oor die ou mondjie. Ek wens ek kon die kombersie oopmaak en die vingertjies en toontjies tel, die sagte naeltjies sien wat geknip moet word want hulle krap hulself so maklik stukkend daarmee. My twee het altans. En vashou, al is ek bang ek laat so klein dingetjie val.

En ek dank die Here dat ons ou babatjie in die baie onveilige Suid-Afrika, wat tans in afgesper is, veilig gebore is.

Ek het, vandat die virus sy pote in die land gaan inplant het gebid.

Laat dit asseblief nie so gou opgaan soos in ander lande nie, laat die ou babatjie asseblief nie saam met baie aansteeklike mense in die hospitaal wees nie. Laat skoondogter asseblief veilig wees, sy kan nie nou aansteek nie. En hulle moet die gevaar gaan trotseer om ons ou kleinkindjie die wêreld in te bring.

Toe die polisie en weermag hulle wangedra, het ek gebid dat hulle asseblief net die kinders uitlos wat uit hulle huise moet wees. Dat daar nie probleme op pad hospitaal toe sal wees nie omdat die ou babatjie sy pappa en mamma uit die huis moes laat gaan. En die Here het gehoor, hulle veilig beskerm.

Vir my is hy die mooiste babatjie in die hele wye wêreld en ek mag maar so dink, ek is sy ouma. Ek dink so van al drie sy nefies ook.

Vandag kyk ek so na die video’s wat die drie nefies vir hulle nuwe nefie gemaak het. Mens se oë skiet sommer vol trane, want ek sou dit in lewende lywe wou sien. Toe vra ek ouma soek video’s vir haar ook.

Vanaand stuur die drie vir ouma video-boodskappies, met woorde wat hulle, net soos vir hulle nefie, self uitdink. Sommer so voor die kamera dink en praat.

En ek kan nie help om te huil nie, ek wil daar wees, dit self sien en hoor. Ek sou daar gewees het.

As my vriende my kans gee, spog ek wel met my kleinkinders. En dit is so lekker, want die meeste van my vriendinne is self oumas, hulle verstaan. My vriendin in Kazakhstan (Mia) verstaan selfs meer, sy kan nie haar susterskind gaan ontmoet nie.

Ek dink hulle is die oulikste kleinkinders in die hele wye wêreld. Ek mis hulle te veel, wil hulle naby my hê. My vriende weet hoe seer my hart was toe ek nie kan waag om te gaan nie omdat ek ‘n virus onwetend kon saamvat en agterlaat.

Ons was by elkeen van ons eerste drie kleinkinders by hulle mamma in die hospitaal toe die kleintjies gebore is.

Nou sit ons hier in die vreemde, ver van die kinders, met ‘n virus wat gekeer het dat ons gaan om daar te wees vir seun se eersteling.

Ons gaan beslis moet opmaak met drukkies en soentjies, maar veral met liefde.

Ons gaan beslis ook moet opmaak met drukkies en soentjies en liefde vir ons drie groot manne.

Ek lief om hulle my babas te noem, maar mag nie al is hulle nie regtig groot nie. In elk geval, nie waar hulle kan hoor nie. Dit kan mens natuurlik verstaan, ek vermoed ouboete terg mens lekker as hulle wil en dat die woord “baba” ‘n gunstelingwoord kan wees om te gebruik.

Ek kyk so na sy neusie en mondjie en ek moet met my vriendinne saamstem, dit is ‘n Van Staden babatjie daai. Hy lyk soos sy pappa.

Manlief kom trots by die huis, daai babatjie is pragtig, lyk soos sy pappa, wat by implikasie beteken dat hy soos sy oupa lyk. Want seun lyk so baie na sy pa dat hy te vertelle het dat hy nie gebore is nie, hy is gekloon.

Hiermee wil ek sommer vir seun en sy vroulief laat weet dat ons so opgewonde is oor die babatjie, so lief vir julle is en wens dat ons daar kon wees, soos ons sou wees. Ons wens julle net die beste toe met die grootmaak van ons kleinkindjie. Die Here het vir hom, net soos vir sy drie nefies, ‘n baie spesiale ouerpaar gestuur.

Ons kan nie wag om te sien wat hy alles vermag onder julle wakende oë nie. mag die Here vir julle die wysheid gee om hom groot te maak.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

10 gedagtes oor “‘n Babaseuntjie is vir ons gebore

  1. Baie baie geluk. Ek kan dink jou hart is vandag hier in Suid-Afrika. Ek weet die Here behoed en bewaar ons kinders. Dankie vir interesante blogs. Sien uit na ‘n foto van die boetatjie.

    Like

  2. Baie geluk met die nuwe kleinseun. So wonderlik dat alles goed gegaan het. Die mooi woorde het jou mooi gesindheid teenoor hom en sy ouers openbaar. Dit was vir my ‘n pragtige skryfstuk. Mag jy hom op druk en soen as jy hom sien.

    Baie liefde!

    On Tue, 31 Mar 2020, 19:05 Dr. Christa van Staden, wrote:

    > Dr Christa van Staden posted: “Vanmiddag net na middagete is ‘n nuwe > babatjie vir ons gebore. Eerste enetjie aan seun se kant, dra sy pa en sy > oupa se naam. Ons vierde kleinkind, almal seunskinders. Pas by my, ek is ‘n > seuntjie-ouma. Ingedagte stuur ek foto van babatjie vir my vriende” >

    Like

    1. Dankie my kind, ek waardeer dit regtig baie. Ons verlang verskriklik baie. Sodra die virus se tande getrek word, is ons op die eerste vliegtuig Suid-Afrika toe. Intussen maak video-oproepe soos gisteraand die lewe vir ons twee makliker.

      Like

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.