Charyn Canyon in Qazaqstan: ‘n moet ervaring

Ek voel so bietjie skaam om te noem dat ek Geografie 3 agter my naam het omdat ek, toe ons in Januarie 2019 besluit het om Qazaqstan toe te kom, so min oor hierdie land geweet het. Dan kan ek myself darem verweer dat Qazaqstan tot Desember 1991 agter die ystergordyn versteek was en dat ons die destydse Soviet Unie as een groot landmassa beskou het. Qazaqstan was maar een van die aanhangsels, die fokus was op die huidige Rusland, met Moskou as die hoofstad. Ons het nie eens geleer dat Almaty die hoofstad van Qazaqstan is nie omdat Qazaqstan in die groot massa opgeneem is.

Toe ons uiteindelik besluit om hierheen te kom vir werk, kon ek maar min oor die land te lese kry. Misien omdat Qazaqstan eers verlede jaar ernstig aandag aan toerisme gegee het. Aldus ons gids wat ons voorverlede naweek ‘n blik op Almaty en die Charyn Canyon gegee het.

Wat ek wel kon agterkom, was dat Qazaqstan ‘n land van uiterstes is. Qazaqstan is die negende grootste land, maar die bevolking is so yl versprei dat die land iets soos 64ste op die ranglys van digsbevolkte lande is. As ek van uiterstes praat, is dit hoofsaaklik op die landskap en klimaat gemik, hier kom mens nie regtig ‘n verskil in sosiale stand agter nie. Seker maar omdat die land nou maar bykans 30 jaar onafhanklik is. My Geografie-hart sien die uiterstes in die natuur om my.

Ons het die stad al bietjie plat gery, ek sal nogal dink van hoek tot kant. Hier is nie Sandton-agtige paleise nie. Die meeste mense bly soos ons in woonstelle. Met baie goeie rede, sal ek dink. Want jy is vir die oopskraap van jou eie huis se opritte verantwoordelik.

En o my genade, laat ek nou maar eerlik wees, daai werkie is nie vir my nie. Daar is geen manier waarop ek sal aanbied om die oprit te gaan skoonmaak as die temperatuur subzero is nie. Want glo my, ons subzero speel maklik by -38ºC rond.

Hier het ek ontdek dat die Qazaqs nie van Facebook hou nie, hulle is Instagrammers. Daarom het ek ook ‘n rekening oopgemaak. So tussen ons, ek verkies Instagram. Dink ekke.

So het ek een oggend op my Instagrammuur gekyk en die allermooiste rotsformasies gesien. Geel en oranje en rooi lae rotse, uitgekerf deur wind-, sand- en watererosie. ‘n Canyon.

Ek moes dadelik weet waar dit is en so ontdek ek dat die canyon in Qazaqstan is, so 230 km van Almaty af.

Dus was ‘n besoek aan hierdie canyon, elke keer wanneer ons in Almaty was, op my wenslys. September was ons vir ‘n lang naweek in Almaty, maar ons het nie ‘n dag beskikbaar gehad waarop toere na die canyon gedoen word nie. Ek het nie besef dat dit ‘n daglange uitstappie is nie.

Toe manlief vandeesmaand vir besigheid na Almaty moes gaan, is ek natuurlik saam. Hy sal my darem nie alleen tuis los nie, daar is dinge om te doen, plekke om te verken. Dit was langnaweek en ons kon vyf dae in die eertydse hoofstad oorbly. Aangesien ons naby die bedrywighede van die stad wou wees, moes ons self die akkommodasie betaal, die maatskappy betaal net vir verblyf in sekere hotelle.

Maar dit het min gepla, ons het ‘n wonderlike hotel bespreek: Almaty hotel. Maklik om te onthou as jy die stad en canyon eendag wil besoek.

Ek het aan die werk gespring, geGoogle oor toere en ontdek dat Show Me Almaty privaattoere aanbied. Ek, manlief, ‘n bestuurder en ‘n gids om die cayon vir ons te gaan wys. Hoe gelukkig kan ons twee nie wees nie.

Die toer was, in Qazaqterme nogal duur. Ons het 49 000 tenge (heelwat meer as R2000) vir die daglange uitstappie betaal. Veel eerder dit as om saam met ‘n klomp rumoerige toeriste in ‘n bus te wees, maar ons was ook versigtig vir die SARS-CoV-2 virus wat sedert Desember verlede in Sjina amok maak. Dit is nou die virus wat die Covid-19 siekte in die mens veroorsaak.

Saterdagoggend net voor 8 wag die gids, ‘n jong vrou, reeds vir ons in die voorportaal. Dit was die vorige dag warm en ek en manlief het oorweeg om ligte baadjies aan te terk. Gelukkig het sy, en nie die bestuurder nie, vir ons gewag. Want sy het ‘n dik baadjie, mussie en handskoene aangehad. Die bestuurder, ook ‘n jong vrou, was nie warm genoeg geklee nie. Ons het dus die gids se voorbeeld gevolg en warm aangetrek.

Dit het die vorige dag gesneeu en dit het steeds gesneeu. Die sneeu het soos ‘n dik wolkkombers oor die stad kom lê. Die bestuurder het twee dae tevore vir my en ‘n vriendin Almaty gewys, ek moet nog van hierdie wilde uitstappie vertel…

Pure Qazaqstyl vertrek ons die oggend betyds van die hotel af. Dit is onder normale omstandighede ‘n drie uur lange rit, maar dit het heelwat langer geduur omdat sig op baie plekke beperk was omdat dit op plekke hewig gesneeu het.

‘n Groot deel van die pad het ons op ‘n pragtige hoofpad gery. Soos ons verstaan, het die Sjinese die pad gebou om die outydse syroete weer ‘n werklikheid te maak. Die Qazaqs gebruik die hoofpad om in Sjina produkte te gaan koop omdat hulle dit daar spotgoedkoop kan koop. Voorheen was dit blykbaar ‘n nagmerrierit na die canyon toe.

Ek weet nie hoekom ek so rigtingbeduiweld was nie, maar ek het gedink ons ry in die teenoorgestelde rigting van die Sjinese grens. Intussen het ek verstaan dat ons reguit in die rigting van Sjina ry. Die land waar die virus amok maak. Ek dink my broek het so bietjie gebewe omdat ek vir my en manlief in die penarie gedruk het.

Sonder om te vreemd te klink, wou ek by die bestuurder weet hoe ver ons van die Sjinese grens af is. Want ons het nie visums darvoor nie. Asof ek belangstel, maar ek wou weet hoe ver die gevaar van my af is, die een waarheen ons so doelgerig op pad was. Sy het iets soos 200 km geantwoord en ek het besef dat ons baie naby aan daardie grens gaan kom. My skuld!

Op hierdie hoofpad het ons agter twee sneeuskrapers vasgeval, die een so effens skuins agter die ander een, een in elke baan van die hoofpad.

Het jy al op ‘n hoofweg in die reën gevoel dat jy nie kan verbygaan nie omdat die mis wat die wiele opslaan jou sig beperk? Wel, ek sou nie by die skraper verbygaan nie want die wit sneeu wat opgejaag is en die wit sneeu wat geval het, het soos ‘n di, ondeursigtige gordyn gelyk.

Sy het verbygegaan, nie in haar baan gebly nie en toe ek weer sien, is die groot wiel van die stootskraper reg langs my venster. Die skrapergedeelte te naby aan my sin.

Ons het dit met millimeters gemis! Sy het ni reguit gery nie en ons later die dag vertel dat sy self geskrik het, dit was die eerste keer wat sy in sulke gure weer bestuur het!

Almal in die kar se oë was groot. Manlief sommer stil geskok. Hy wat so baie te sê het as ek bestuur, het geen woorde gehad nie. En hy het nie soos ek en die bestuurder aan die kant van die sneeuskraper gesit nie! Ek moet byvoeg dat ek ook baie te sê het as hy bestuur en daar was gevaar, ek was ook stomgeslaan. Ewenwel, ons is veilig daardeur. Met die Here se genade.

Nie veel later nie, het ek ‘n baie groot nood ontwikkel.

Nou kyk, ek weet nie hoe die Qazaqvrouens dit op die lang paaie uithou nie. Daar was nie een enkele garage soos ons dit ken langs die pad nie, dus ook geen toilette.

Ek het al vertel van ons wedervaringe op die 1000 km hoofpad tussen Almaty en Ust. Met twee Qazaqs saam met ons in die motor en geen toilette langs die pad nie. Of wel, daar was by piepklein garages buitetoilette  met gate in die grond en die allervreeslikste reuke. Dus het ek die Qazaqmeisie se voorbeeld gevolg en bosse langs die pad geïdentifiseer en die ding op die outydse manier gedoen. As ek moet hurk, verkies ek vars reuke om my.

Hierdie keer was ‘n probleem. In die eerste plek was ons op ‘n hoofpad met geen bome of struikies langs die pad nie. Sien eerste twee foto’s onder.

Derde foto wys die toilet waarvan ek ondertoe vertel. Die groot foto wys hoe dit buite gelyk het, nie goeie tyd vir ‘n noodstop langs die pad nie. Daar was niks waaragter mens sou kon skuil as die nood dan te groot is nie. By die dele wat die pad hoër as die omliggende dele was, sou ek die hoogteverskil kon gebruik, maar daar was heinings wat keer dat motors daar afgly. Dit was buitendien baie, baie koud, die ys het teen mens se gesig vasgeslaan as jy uit die kar klim (sien mens dit op die foto’s?).

Ons het verby afritte na verskeie klein dorpies gery wat net 3 km weg was en daar sou ons maar moes indraai.

Ek het my egter met die bestuurder vergis. Ek het mooi gevra hoe ver dit na die naaste toilet is. Sy het geantwoord 10 minute of 40 minute, wat kies ek. Ek het gesê 5 minute of 2 minute verkieslik, maar 10 moet dan seker maar doen. En dankbaar teruggesit, want sy het verstaan.

Toe nie!

Ons het verby die afritte na verskeie klein dorpies gery. En ek het manlief so gekyk en gevra dat hy moet red. Hy het stilgebly en ek het weer gevra hoe ver die toilette is. Ons het by die volgende afrit ook verbygery en daar was geen dorp in sig nie.

Toe sê ek vir manlief gelukkig is daar ‘n kombers op haar sitplek, want ek het mos gevra! Ai tog, dit het ook nie gehelp nie.

‘n Hele ent verder is sy uiteindelik by ‘n afrit af, ek skat dit was die 40 minute ene. Sy het by ‘n plek gestop (sien vorige foto bo regs). Het mooi en alles gelyk, ek het sommer oor die mooi gekyk en om die hoek verdwyn na die toilet toe. Om ‘n gat in die grond te kry, darem netjies in stand gehou en soort van reukloos.

Van daar af het ek nie veel van die bestuurder gehou nie. ‘n Vrou is een mens wat ‘n vrou se nood in hierdie toiletlose land moet kan verstaan. En sy doen nie. Vir haar vertrou ek niks …

Dit was die laaste dorpie waardeur ons gery het. Daarna is ons oor vlaktes en deur poorte tussen berge om weer oor vlaktes te ry. Ag nee wat, dink ek so by myselwers, ons gaan nooit daar aankom nie.

Ek het gevra dat ons by ‘n monument stop. En mensig, ky gerus na ons gesigte en hare, ons het baie, baie koud gekry sodra ons buite was.

Intussen ry ons toe al ‘n hele lang ruk al langs die canyon, ons was op pad na God se wonderwerk toe. Hulle noem dit Little brother van die Grand Canyon. Ek dink dit dat sommer broer genoem word. Dit is mos uit die aarde gekerf, dus het ek verniet na berge gesoek.

Die Charyn Canyon strek vir 154 km al langs die Charynrivier, wat vir die uitkerwing van hierdie wonderwerk verantwoordelik is. Die Charynrivier is as gevolg van die erosie een van die diepste riviere in die noordelike Tien Chan berge. Sjina lê aan die ander kant van die canyon, wat ‘n natuurlike grens tussen die twee lande vorm. Wind, and en weer en water het oor ‘n tydperk van 12 miljoen jaar (skat hulle) die wonderlikste landvorme in lae rooi, bruin, oranje en geel lae sandsteen uitgekerf.

Ons het eers verby die afdraai na die Charyn Canyon Nasionale Park gery om foto’s by Caste Corner te neem. Interessant né, die Ingelse naam vir ‘n uitkykpunt in Qazaqstan.

Die vrou ry nie stadiger om draaie en haarnaalddraaie nie en ek het net gebid dat daar nie motors van die ander kant af aankom nie. Dan was ons Koebaai Meraai in ‘n baie, baie verlate deel van Qazaqstan. Om een van die haarnaalde het ons om ‘n punt van die Canyon gery. Omgedraai en teruggekom en op die kant van die afgrond gestop, ek alweer aan die gevaarkant.

Nou moet ek eers verduidelik, dit was verskriklik koud. Ysreën en sneeu gemeng en die wind het met mening gewaai toe ons daar bo staan en in die lieflike canyon afkyk, met ‘n ou babariviertjie daaronder wat glad nie lyk of hy die uitkerfewerk sou kon doen nie.

Sy het besluit dat ons teen ‘n baie steil helling, skaat maar hoe steil as jy na my eerste foto hoeronder kyk, moet af, die mooiste foto’s word daaronder geneem. En net so tussen ons, ek was nie verniet bang om daar af te gaan nie, ek sien baie min mense deel foto’s van die punt waar ons gaan staan het om foto’s te neem.

Sy vat egter ook nie nonsens as mens nie wil af nie, sy het teruggestap, my hand geneem en saam met my daar afgegaan. Dit is sulke tye wat ek wens dat ek soos ‘n ou tannie lyk, ek is mos amper ene? Ek het mos al die beperkings van my lyf oor baie jare beproef!

Keuseloos moes ek saam, ek hou nie van ‘n scene nie. Verkies die aandag op ander eerder as op my. Al het ek gevrees dat ‘n voet gaan gly en dat ek soos ‘n tolbos daar gaan afrol en oor die afgrond gaan verdwyn. Selfs teen die kant van die afgrond was dit nie plat nie. Dit is dan wat mens wens die vervlakste rivier is tot bo om die val te stuit.

Maar o my genade, was dit die moeite werd! Kyk net die pragtige foto’s wat ons daar geneem het. Ek en manlief het geweier om in die sterk wind te staan op die punt van die afgrond waar daardie man op die eerste foto staan.

Die moeite werd om af gedwing te word, is dit nie? Laaste foto is die bestuurder (links) en gids (regs). Die foto sê nie alles nie, dit het moed gekos om in die ysreën te staan vir foto’s. Daai oop hand van my wys sy is gevries …

Daarna is ons terug met die pad om na die nasionale park te gaan. Weereens het ons verby die normale parkeerplek gery en op die rand van die afgrond gaan stop om foto’s te neem. Die vrou het geen vrese nie, ek sou nie daar bestuur nie, mens moet ‘n 80-punt draai op die rand van die afgrond maak om om te draai. Sy het en ek sweer, as dit manlief wwas, het ek uitgeklim al bestuur hy baie beter as sy.

Ek het na die pad daaronder gestaar en my verwonder aan die rotsformasies. Op baie van die foto’s is die sneevlokkies duidelik sigbaar, ek wens ek kon die spoed van die wind ook sigbaar maak.

Vergelyk maar met die ander kant van die canyon om te begryp hoe dipe die agtergrond agter ons twee is…

En toe laai sy ons by trappies na onder af en sê dat sy ons sal inhaal. Ons is af en af en af, ek weet nie hoeveel trappies nie. Maar my Garmin sê dat ek op die dag 11 verdiepings opgeklim het. Dit was die stel trappies op pad terug. My lyf het ook gedink dit is soos om die trappe van ‘n wolkekrabber uit te klim! Toe ons die weer na die tyd moes aandurf.

En toe is ons onder, in die diepte van die canyon, om op ‘n gelykvlak afdraende verder te stap. Dit was volgens haar 2 km, ek dink dit was veel meer. Volgens my Garmin het ek op die dag 70 vloere afgeklim. As mens die 11 vloere van die trappies aftrek, het ons die ekwivalent van 59 vloere gesak terwyl ons stap.

Die ysige wind het teen ‘n verbysterende spoed in die canyon afgejaag en ons met ysig-koue stampe in die rug voorwaarts gestu.

Langs die pad het sy vir ons landvorme uitgewys wat al name gekry het. Amper soos beeldhouwerke. Ek het my handskoen vinnig afgepluk, foto geneem en weer in my handskoen en sak gedruk om dit weer warm te kry. Dit was bykans dadelik rooi en pynlik.

Ek was maar versigtig, ek het mos hier ligte vriesbrand gekry in al tien vingers. Dit kon ek nie weer toelaat nie, hulle dink reeds ek is ‘n Tender African Flower.  Ewenwel, ek het baie minder foto’s geneem as wat ek sou wou …

Sien jy die sneeuvlokkies op die foto’s?

En toe kom ons om ‘n hoek en voor ons lê die mooiste rivier, een wat mens aan die rivier by die Botaniese tuine in Roodepoort laat dink. Die kleur van die water amper soos die kleur van die water by die Seychelles en Mauritius. Water waarin ek nie wou val nie. Dit was regtig na aan onuithoudbaar koud.

Op die wal van die rivier is ‘n eco-village, waar mens tee en kos kan koop. In die vakansieseisoen wat nou eers begin. Toe was alles toe. Ek was koud en moeg en het regtig uitgesien na warm word voordat ons die 59 verdiepings op en die stel trappe wat 11 verdiepings na bo klim, aandurf.

Ons word egter na ‘n piekniekhokkie geneem waar ons eintlik maar in wind en weer aan die eetgoed moes smul.

Die twee vrouens het die hele pad rugsakke gedra en toe hulle dit oopmaak, tower hulle slaai, koekies met roomkaas, ‘n fles warm tee, twee bakke warm eetgoed en selfs ‘n bak gesnyde appels daar uit.

Gedagtig aan my gastro probleem as ek melk, gis, koring, eiers of mielies inkry en die vrou wat nie verstaan wanneer ‘n nood ‘n nood is nie, het ek besluit tee gedrink en die gesnyde appels. Ek weet mos nou twee dinge: daar is nie toilette langs die pad nie en sy stop nie. Veertig minute te laat is baie te laat …

Ek kon sien die bestuurder is afgehaal omdat sy een van die koekies eers gesmeer het en toe aangebied het, maar ek was min gepla. Ek het nie gesien dat sy hande was nie en die SARS-CoV-2-virus was ‘n werklikheid langs ons in Sjina. Toe het die virus nog nie vastrapplek in die land gekry nie, die eerste gevalle is eers die week daarna aangeteken.

Later die dag vertel sy vir ons dat sy die vorige dag reisigers uit Singapore na die canyon geneem het. Ek het elke haar in my lyf voel regop staan.

Singapore was een van die lande wat die eerste deur die virus getref is. En ek het aan deurknoppe gevat waaraan die reisigers gevat het, aan sitplekke gevat waar spoegdruppeltjies nog plek vir die virus kon bied om vir my te wag. En ek het die hele pad suiglekkers uit my handsak gehaal, opgesuig en nie aan handewas gedink nie. Dit was mos nie nodig nie?

‘n Paar dae later is die eerste besmettinggevalle in Qazaqstan aangemeld.

Qazaqstan moes seker, net soos Suid-Afrika, ‘n land geword het waarheen besoekers wil kom, omdat die virus nog nie hier vastrapplek gekry het nie. Vergetende dat hulle die virus kan dra en versprei. Beide lande het daarna die eerste virusbesmettings aangemeld.

Dit is dan wanneer geloof jou moet dra anders gaan jy gek word.

Tog het ek onthou dat haar kuggies droog geklink het. Elke keer as sy hoes sonder om haar hand voor haar mond te hou, het ek inmekaar gekrimp en agter my jas se kraag weggekruip. Die vrou het ‘n klein dogtertjie en haar ma se werk stel haar gesondheid in gevaar. En almal saam met haar in die kar.

Ewenwel, langs die piekniekplek het ‘n kombi-bakkie gestaan. Lekker outyds.

Ek en manlief kon hom oopmond soen toe hy ons al die pad terug boontoe vat. Al moes ons die 11 verdiepings trappe weer boontoe klim. Moet sê, kudus vir die persoon wat dit uitgelê het. Nie te hoog nie, ons het maklik tree vir tree geklim. Maklik? Na die eerste draai was dit allesbehalwe gemaklik, ek was amper op. My asem was weg.

Op pad na die canyon het ons by ‘n monument langs die pad gestop. Op pad terug het het ons verby ‘n trop perde gery. Of hulle die sogenaamde Prezwalski’s is, wat onlangs as uitgesterf verklaar is al is daar nog 2000 oor, sal ek nie weet nie. Mooi was hulle beslis. So vretende in die sneeu, met vulletjies by die ma’s.

Kyk net hoe kyk die vulletjie vir ons. Ek wou nie ruit afdraai nie, ek was verkluimd.

Dit laat twee gedagtes opkom.

Ek moet bel om te hoor of ons bestuurder steeds gesond is. En ek is dankbaar Almaty is vandag, saam met Astana in kwarantyn geplaas. Niemand mag die twee stede ingaan of verlaat nie. Sy kan dus nie weer so lank saam met potensiële draers in ‘n motor sit nie – ses ure en selfs meer … Ons is agtuur weg en het eers vyfuur die aand weer by die huis gekom. en ek sal weer moet gaan, as dit warm is.

Beveel ek die avontuur aan? Beslis. Hulle bied ‘n tweedaglange toer ook aan, dan slaap mens saam met die bestuurder en gids in die canyon. Mens moet net sorg dat dit nie ‘n stormseisoen is nie. Die loop waar ons gestap het was droog, maar dit het blykbaar onlangs na ‘n groot storm oorstroom en die eko-village heeltemal verwoes.

Toe moes die mense in die canyon teen die hange skuiling soek. En as ek so na die foto’s kyk, is die meeste van die hange beslis te steil vir ‘n mens om te klim …

 

 

 

 

 

4 gedagtes oor “Charyn Canyon in Qazaqstan: ‘n moet ervaring

  1. ‘n Lekker avontuur. Die man op dïe een foto op die punt van afgrond (waar julle nie wou staan nie) staan in Afrika 😊 Dit is soos die rots waarop hy staan vir my lyk. Geniet terwyl julle nog kan!!!

    Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.