Covid-19, die ongevraagde virus van 2020

Ons sou 21 Maart 2020 na Suid-Afrika gevlieg het om eers 6 April terug te keer. Om daar te wees vir ons nuwe kleinkindjie se geboorte. En vir my ma se 80 ste verjaarsdag. Ons kaartjies is vroeg in Januarie reeds gekoop om die twee feestelike dae te gaan bywoon.

Toe tref die nuus ons, hou na hou na hou.

‘n Nuwe virus het in Sjina kop uitgesteek en het aanvanklik as die Wuhan-virus bekend gestaan. Omdat ‘n mens in hierdie stad die eerste was wat met die virus besmet was. Een mens in ‘n stad wat ‘n dier op ‘n mark gekoop het om te eet. ‘n Dier wat nie vir die mens se spysverteringstelsel geskik is nie en toe word hy siek daarvan omdat die virus van ‘n dier na ‘n mens oorgegaan het. En toe steek hy die mense om hom aan. ‘n Siekte wat die longe aantas. En dodelik kan wees.

Daar is nou selfs ‘n teorie dat die dier wat daar verkoop is ‘n siek slang of vlermuis was. Wat uit die nabygeleë laboratorium waar biochemiese wapens gemaak word, gesteel is en op die mark verkoop is. Daar word selfs vertel dat dit ‘n arme ietermago is wat uit Suid-Afrika gesteel is. Op die oomblik is die teorie dat dit wel ‘n vlermuis was.

Hoe sal mens weet wat waar is? As die besmetting in Sjina begin het? In ‘n land waar mense nie vryheid van spraak geniet nie?

Li Wenliang, die dokter, wat sy kommer oor die eerste sewe gevalle met sy kollegas per Wechat gedeel het, is gestraf omdat hy ‘n “vals gerug”  versprei het. Omdat sy kollegas, soos baie mense wat in die moeilikheid kom, skermskote van die gesprek in ‘n privaatgroep gemaak het en dit die wye wêreld ingestuur het.

Die arme man moes ‘n brief by ‘n polisiestasie teken dat hy gelieg het. Op die ou einde het hy met sy lewe geboet omdat die virus hom ook een van die statistiek gemaak het.

Hy was een van die eerste 700 sterftes in Sjina. Hy het toe nie gelieg nie!

Vandag is daar amper 5 000 sterftes wêreldwyd. Die meeste hiervan is bejaardes en siek mense, maar kinders is nie uitgesluit nie.

Soos wat die nuus versprei het, het ek die interaktiewe kaart van die virus dopgehou. Die virus het aanvanklik net in Sjina versprei. En ons is reg langs Sjina, maar daar is darem ‘n bergreeks wat ons skei.

Toe is manne, wat ‘n kongres in Singapore bygewoon het, ook besmet. En hulle het die virus saam met hulle teruggevat na hulle eie lande toe.

Daarna hoor ons van ‘n plesierskip wat nie in Japan mag dok nie, omdat die virus op die skip amok gemaak het. En die arme mense in hulle kajuite soort van gevange gehou word. Want hulle is onder kwarantyn geplaas.

My hart het stukkie vir stukkie in my skoene gesak. Terwyl die virus oor die grense van Sjina en Japan en Singapore na die res van die wêreld versprei.

As hy Dubai en Suid-Afrika tref, sou ek nie daarheen kon gaan nie. Omdat ek nie kon waag om ‘n virus ongemerk saam te dra en verder te versprei nie.

Intussen het die korona virus ‘n naam gekry sodat dit nie ‘n slegte verbintenis met Wuhan het nie, heel deftig word dit die Covid-19 virus genoem.

Die virus is egter allesbehalwe deftig.

Vandag, 12 Maart 2020, is 126 136 gevalle wêreldwyd aangeteken omdat hierdie mense siek genoeg was om dokter toe te gaan. Hoeveel het nie dokter toe gegaan nie? Ek gaan selde dokter toe as ek griep het.

Hierdie mense gaan rustig met hulle lewens voort. Onwetend dat hulle die virus versprei so ver soos hulle gaan.

Verder het 4 636 mense reeds as gevolg van die Covid-19 virus gesterf. Slegs 68 219 van al die gevalle het volkome herstel, ‘n 50% kans op volkome herstel.

Ernstig genoeg om aandag aan die probleem te skenk.

Gevaarlik genoeg om my te dwing om my familie en gesin teen moontlike besmetting te beskerm. Stertesyfer aansienlik hoër as dié van gewone griep.

Sy lekkerste teikens is mense wie se immuniteitstelsels ‘n knou gevang het, soos bejaardes en swanger vrouens. Of die wie se stelsels nog aan die ontwikkel is, soos jong kinders en pasgebore babatjies.

Aangesien die mense wat ek sou gaan besoek, bejaard, swanger of pasgebore sou wees, kon ons nie waag om iewers op ‘n vliegtuig of lughawe besmet te raak nie.

Nie omdat ons onsself wil beskerm nie. Maar omdat die virus oorgedra word nog lank voor die draers simptome van siekte toon.

Die virus is gevaarlik genoeg dat Sjina binne ‘n kort tydjie ‘n baie groot hospitaal opgerig het. Om die gevalle van ander mense weg te hou. Onder kwarantyn.

Gevaarlik genoeg dat Sjina vandag nog, drie maande nadat die eerste gevalle aangeteken is, eerder groot finansiële verliese ly as om mense toe te laat om werk toe te gaan. Sy mense dwing om tuis te bly en net uit te gaan as hulle kos moes kry. Om dan met beskermende klere en handskoene en maskers na buite te gaan. Om te verhoed dat hulle siek raak. Of die virus help versprei.

Gevaarlik genoeg dat daar nog nie ‘n kuur beskikbaar is nie.

Hoe gemeen sou ek en manlief wees om op drie vliegtuie en vier lughawens tussen duisende mense in te gaan om die virus op te tel en oor te dra aan ons naastes?

In ‘n land waar die virus eers verlede week sy tande kon inslaan.

Om teen die tyd wat ons weer terug is in Qazaqstan te hoor dat ons siek mense agter gelaat het. En as ons getoets word, was ons die oorsaak vir hulle siekte. Omdat ons die virus onwetend gaan oordra het.

Daarmee sal ek nie kan saamleef nie. Veral omdat ek nie sou kon teruggaan om hulle op te pas nie.

Intussen het sake so vererger dat die virus as ‘n pandemie geklassifiseer is.

Qazaqstan, wat nog geen gevalle het nie, het hulle maatreëls selfs strenger gemaak as wat dit tot nou toe was.

Tot nou toe was alle reisigers vanuit Sjina vir twee weke in kwarantyn geplaas. Net nadat die eerste gevalle in Sjina aangeteken is.

Later is ander lande ingesluit. Om seker te maak dat ons virusvry bly. Navorsers het lankal reeds voorspel dat die virus hom nie gaan laat bind aan Sjina nie. Dat hy die grense gaan oorsteek en mense in alle lande op aarde gaan besmet. Ons is reg langs Sjina. Padlangs.

Nou is die maatreëls selfs strenger. Ons word verbied om na ‘n lys van lande te reis.

Dié lys sluit tans nog Suid-Afrika en Dubai uit. Maar vir hoe lank? Sodra meer as ‘n sekere getal gevalle in ‘n land aangeteken is, word die land op die lys van verbode lande geplaas.

Hoe voel ek daaroor? Ek gee nie om nie. Qazaqstan kyk en leer en word wys. Hulle dra ons gesondheid op die hart. En die van hulle burgers.

En ek is dankbaar.

Sodra die gevaar verby is, gaan ek na Suid-Afrika. Daarom moet ek virusloos bly.

Sjina het, lank voordat dit as ‘n pandemie verklaar is, onmiddelik na afstandonderrig oorgeskakel.

Twee onderwysers wat ek ken, was in Suid-Afrika op vakansie toe die virus uitbreek. En hulle is steeds in Suid-Afrika omdat Sjina hulle verhoed om terug te gaan voor die probleem opgelos is. Hulle moes vinnig leer hoe om afstandonderrig te doen, te assesseer en alles. Skool gaan aan. Op ‘n afstand.

Dubai en Abu Dhabi het, toe die eerste gevalle daar aangemeld is, ook na afstandonderrig oorgeskakel, byna die hele land onder kwarantyn geplaas. Om ‘n wegholveldbrand te verhoed. Gevalle het vermeerder, maar nie soos in lande soos Italië nie. Omdat hulle stelsels in plek gesit het.

Lande kyk na paspoorte om te weet vanwaar reisigers kom. Veral as hulle van lande kom waar baie gevalle is.

In hoe mate help dit? Ek weet nie, want daar is mense wat ander se lewens in gevaar stel omdat hulle meer as een paspoort het.

En die een gebruik waar daar die minste gevalle is. Italië is tans ‘n plek om te vermy. Nou gebruik hulle Kanadese paspoorte.

So keer hulle dat hulle paspoorte gefynkam word. Om hulle reisplanne na te gaan. En stel ander se lewens in gevaar.

Nou waarom skryf ek hierdie artikel vandag?

Ek is moeg vir die WhatsApps wat deur onverskillige mense aan my gestuur word. Hoofsaaklik van mense wat so vir my wil sê dat ons oorreageer.

Veral vir daai WhatsApps wat deur onverskilliges, of sal ek hulle liewer “ignorant” noem, aangestuur word met simpel grappe oor die virus.

Ek gaan nou op al die WhatsApps reageer. Want ek kan myself nie vertrou met woorde aan die mense nie. Ek vind die boodskappe empatieloos, maar so leer mens vir wie jy oor jou leed kan vertel. En vir wie nie.

Ek deel die boodskappe in afdelings op.

Die fataliste

Die WhatsApp boodskappe wat te vertelle het dat ek die virus in elk geval gaan kry, almal in die hele wêreld dit gaan kry. Ek wil nie hierdie soort boodskappe kry nie, want ek is nie ‘n fatalis nie.

Daar is metodes om jouself teen die virus te beskerm. Een daarvan is om weg te bly van plekke waar mense saamdrom.

Verder kan hulle maar kanse vat. Is dit nie hulle soort onverskilligheid wat die virus wêreldwyd versprei nie?

Die virus-het-nie-vlerkies spotters

Die WhatsApps wat te vertelle het dat mens nie maskers moet dra nie omdat die virus nie vlerkies het om te vlieg nie.

Regtig?

Watter virus het vlerkies nodig as mense in jou gesig hoes as jy in die gangetjie staan om van die vliegtuig af te klim?

Dit het verlede Woensdag met my gebeur toe ek van die vliegtuig wou afklim in Almaty.

Die oom het aan die regterkant van die paadjie gestaan en wag. Sy gesig in die igting van die aankomende verkeer. Toe ek by hom kom, hoes hy oopmond in my gesig!

Sy spoeg ongevraagd in my onbeskermde gesig!

Ek het vir ‘n oomblik oorweeg om hom een vuishou in die gesig te gee, omdat dit juis oor mense soos hy is wat ek nie kan waag om Suid-Afrika toe te gaan nie.

Ek het myself oortuig dat hy nie die virus het nie omdat daar volgens amptelike statistiek nog geen gevalle in Qazaqstan is nie. Dat die kans dat sy hoes se spoegdruppels die virus bevat, te klein is om iemand aan te rand en in ‘n tronk te beland in ‘n land waar ek die taal nie verstaan nie.

Toemaar, ek sou nie slaan nie, maar dit help nie veel om myself te verontskuldig nie, want my kyk was daai Engelse soort van kyk:

If looks could kill …

Dit is eintlik nie net nodig om maskers te dra nie, dit is eerder nodig om soos maanmannetjies aan te trek as jy op ‘n vliegtuig klim.

Op pad terug na Ust Maandag, het niemand op die lughawe gehoes nie. En glo my, ek hoor nou elke hoes.

Niemand nie. Want jy sal summier getoets en gekwarantyn word.

Toe die vliegtuig opstyg, toe begin die oopmondhoesery.

Toe hoes die ou wat agter manlief gesit het, oopmond en luidrugtig, sy kop na my sitplek gedraai, en ek voel die wind daarvan in my hare.

Almal waarsku moet nie aan jou oog, neus of mond vat nie.

Niemand waarsku teen die spoeg van hoesers wat in ons hare invlieg nie.

As hy die virus gehad het, was dit vir my koebaai Meraai. Jy is gekorona!

Want ek vat gereeld aan my hare om hulle te beheer weens die statiese krag wat dié tyd van die jaar in my hare is.

Ook omdat ons nog steeds subzero is. Dit is dus mussie op, mussie af, stryk die hare glad. Heeldag, aldag. As ons in en uit geboue gaan.

So sou ek die virus onwetend na ander vlakke en myself kon versprei. Sonder dat ek onhigiënies was.

Die man het geklink of dit sy laaste asem was.

En dit is juis mense soos die twee gevalle op twee kort vlugte wat my laat besef het, ons kan ons nie op vliegtuie en lughawens teen ongemanierde, ongepoetste buffels beskerm nie.

Nie as ons baie naby aan duisende toeriste deur lughawens gaan beweeg om die 10 000 km na Suid-Afrika te reis nie. Nie as hulle nader as een meter om ons op vliegtuie sit nie.

Soos ek verstaan, word die virus wel oorgedra as iemand direk in jou gesig hoes.

Daarom het die virus wel by wyse van spreke vlerkies.

Mens moet ten minste een meter van ander af wees om die vlug van die spoeg te keer. Hoe kry jy dit op ‘n vliegtuig reg? 

Die was-jou-hande-net-dan-kry-jy-dit-nie WhatsApps

Nou ja toe. Hier is twee groepe WhatsApps wat vir ny aangestuur word.

Moenie jou hande was nie, want jy verwoes die bio-iets op die vel.

In die eerste plek is dit grillerig om daaraan te dink dat onsigbare goggas op my vel leef. Tweedens is ek nie van plan om ongewenstes met die naam van Covid-19 speelplek op my hande te gee nie.

Die was-jou-hande-die hele-tyd boodskappe is beter.

Jy moet jou hande baie was want die virus kan, volgens ‘n Amerikaanse navorser, tot een week lank op die oppervlaktes waar spoegdruppels land wag om ‘n nuwe gasheer se lyf binne te dring.

Daarom mag die hand wat aan die oppervlak raak, nooit aan jou oog, neus of mond vat nie.

Groot probleem, as ons, volgens die navorser, tot 99 keer per dag onbewustelik aan hierdie drie areas van ons gesigte raak.

Hoe was jy jou hande die hele tyd op ‘n vliegtuig?

Die platvloerse WhatsApp waarin spot gedryf word met mense wat voorsorg tref

Hierdie platvloerse WhatsApp walg my.

Kom van Suid-Afrika. Die land waar van alles ‘n grap gemaak word. In Afrikaans.

Dit is in swak Afrikaans geskryf met platvloerse taal. Die hele relaas gaan oor mense wat voorsorgmaatreëls tref om nie die virus op te tel nie en hoe dom hulle is.

Van maskers dra tot hande was.

En natuurlik dat ander goed meer mense doodmaak as wat die virus kan.

Dan eindig die pateet met die volgende woorde:

(Vrywaring want apparently sukkel party mense om parody en sarkasme raak te sien: As jy ‘n swak immuniteit stelsel [spelfout] het, wees versigtig en paranoïs)

Waarom sou ek my aan die inhoud van die WhatsApp steur as die persoon platvloers is, oor ernstige sake, volgens homself, sarkasties is en net probeer om sy ‘parody’ die wêreld in te stuur?

Die een wat net in sy drome literêre pryse kan wen, tog word dit ryklik uitgedeel. Vir my aangestuur met ek stem 100% saam.

En dan is die persoon ‘n sissie, bekerm homself in die fynskrif teen moontlike vervolging as mense hom ernstig sou opneem. Soos die Engelse sê:

I rest my case …

Die video-greep van ‘n Amerikaanse TV-stasie

In die videogreep het ‘n Amerikaanse dokter die media aangevat omdat hulle veroorsaak dat mense die virus vrees.

Dit is nou dieselfde virus wat die eerste dokter doodgemaak het. Ek kan raai waarom hy mense teen voorsorgmaatreëls wil waarsku.

Die winter is amper verby en hier kom ‘n virus wat sy sakke gaan volprop.

Hoe kan die media nou so lelik wees om sy bankbalans aan te tas.

Ek kry die mense jammer wat na hom luister, die Sjinese hof het in ‘n uitspraak oor die verspreiding van die “vals gerug” gesê:

As die mense tog maar na die vals gerugte geluister het.

Wat ek nie kan verstaan nie, is dat niemand deur die dokter kyk nie, al is die virus nou as pandemie verklaar. Die TV-stasie het hom genadiglik kortgeknip.

Die prent van die vliegtuig met almal wat buite op die vliegtuig sit omdat iemand gehoes het 

Is ek veronderstel om vir die foto te lag?

Intelligente mense sal wel uit wil klim as iemand nies of hoes.

Is hy getoets? Lieg hy oor waar hy vandaan kom? Was sy hand daar om die virus tot homself te beperk? Het hy sy hand daarna gewas?

En as hy die virus het, hoe veilig is die mense om hom?

Die WhatsApp oor die eerste sterfgeval in Suid-Afrika

Hierdie WhatsApp is een van die gemeenstes wat ek tot dusver ontvang het.

Ek lag nie as mense ‘n boodskap aanstuur waarin met die dood gespot word asof daar reeds ‘n sterfgeval in Suid-Afrika is nie!

As een van die eerste gevalle reeds in ‘n kritieke toestand in ‘n hospitaal lê, is my eerste gedagte dat die persoon dood is.

Hoe gemeen is dit?

As die persoon se man of vrou die boodskap kon kry? Hulle sou nie tot die belaglike laaste sin gelees het nie.

Oorreageer ons?

Ek twyfel ernstig as mens lees dat die virus toe wel na Suid-Afrika oorgedra is.

En dat daar binne ‘n week 17 gevalle is, waarvan een van mens tot mens oorgedra is en die res van ander lande af kom.

Ek twyfel baie ernstig as ek lees hoe lugrederye soos Turkish Airways en Emirates geld verkwis om hulle vliegtuie te ontsmet.

Ek twyfel baie ernstig as ‘n universiteit soos die Universiteit van Pretoria alle vingerafdrukmasjiene buite werking stel sodat studente slegs met behulp van kaarte die kampus kan betree.

Ek twyfel baie ernstig as ‘n land soos Sjina oppervlaktes bespuit om die virus hok te slaan. Mense in kwarantyn geplaas het, steeds hou en duisende rande bestee om spesiale hospitale te bou.

Ek twyfel baie sterk as Amerika se president so pas vlugte vanaf Europa gekanselleer het. Om sy land teen verspreiding van die besmetting te beskerm.

Ek twyfel baie ernstig as my ma op ‘n toerbus na Kaapstad klim en met longontsteking terugkom. Nog lank voor die korona in Suid-Afrika geland het. Omdat mense op haar toerbus gehoes het en die kieme so versprei het. Die korona versprei net so, net baie vinniger.

Die WhatsApps wat impliseer dat ek nie ‘n Christen is nie omdat ek voorsorg tref

Volgens die Bybel moes mens, wanneer jy in gevaar verkeer en aangeval word, jou wapenrusting aantrek. Ons doen, ons beskerm ons gesin en familie. Dit kos ons bykans R30 000 om die vliegkaartjies na Desember te verskuif, maar ons doen dit, omdat ons gesinne en familie saamstem dat die kans net te groot is om die virus aan te dra.

Ek kan nie maskers dra nie, want selfs as ek sou wou, is almal in Qazaqstan uitverkoop.

Ek gaan gaan wel myle van hoesers af bly. Ook van mense wat die maatreëls minag.

Ek gaan nie handskoene dra nie, want ons dra die hele dag buite dik warm handskoene. In ‘n winkel wil ek asseblief tog net en baie dankie handskoenloos wees.

Maar, ek gaan kyk waar ek vat. En daai hande weg van my gesig en ander hou. Doelbewus.

Ek gaan nie in beknopte plekke ingaan waar mense nader as ‘n meter aan my staan nie. Omdat ek uit ondervinding weet dat daar mense is wat oopmond hoes, in my gesig. Die virus vlerkies gee.

As ek daar ingaan, soek ek moeilikheid. En, anders wat mense ook insinueer, het dit niks met my geloof te doen nie.

In dieselfde Bybel waaruit aangehaal word dat die Here my sal beskerm, staan ook dat ek my deel ook moet doen as daar gevaar is.

Ek moet my wapenuitrusting aantrek.

Ek kan nie, soos ‘n Uilskuiken, op die punt van ‘n hoë rots staan as die wind so erg waai dat ek ‘n paal nodig het om aan vas te klou nie en dan glo dat dit die Here se werk is om my te beskerm nie.

As dit my tyd is om te gaan, sal niks my kan red nie.

Buitendien, hoe kan ek ons hier beskerm?

My vriende maak kontak met buitelanders, die motor waarmee ons die naweek ses ure en langer op die pad was, het die vorige dae reisigers van Singapore vervoer. Een van die lande wat vermy moet word.

Ek het dit eers gehoor toe ons amper weer tuis was.

En toe pla dit my. Die gids het die hele tyd in die kar gehoes … Wat as die reisigers haar aangesteek het? Wat as hulle die kiem op die agterste sitplekke en deurhandvatsels versprei het?

Gaan nie help om my daaroor te verknies nie, maar ek moet versigtiger wees. Paraat!

As dit nie my tyd is om die aarde te groet nie, moet ek my deel doen. Die Here sal die res voorsien. So glo ek.

Foto: (c) Michigan Ross Universiteit se webblad oor die virus.

17 gedagtes oor “Covid-19, die ongevraagde virus van 2020

  1. Ek hoor jou bekommernis en my hart huil vir jou wat só uitgesien het om hier te kom kuier en nou nie kan nie. Ek dink beslis ‘n mens moet dit ernstig opneem as jy so tussen mense ingehok word soos op ‘n vliegtuig.

    Like

  2. Ek was onlangs op ‘n vliegtuig van Johannesburg tot Port Elizabeth: vier (almal jong) mense het maskers gedra. Vanoggend by die lughawe sien ek dat amper almal wat uit ‘n vliegtuig kom het maskers gedra. Hierdie virus is geen grap nie.

    Like

    1. Dankie Anne, dit is goed om te weet. Ons pas ons mooi op en sodra ons kan vlieg sonder om aan te steek, is ons op die vliegtuig Suid-Afrika toe. Ek is so dankbaar om te lees dat mense hulle verstand gebruik. Dit is, soos jy sê, geen grap nie.

      Like

  3. Partykeer lag mense sodat hulle nie moet huil nie.

    Ek stem saam daarmee dat ‘n mens die nodige voorsorgmaatreëls moet tref en nie die noodlot tart nie. Tog moet ‘n mens perspektief ook behou. So ek was my hande nou meer gereeld vir 20 sekondes en langer. Verder los ek al my kieme in my werksarea en huis soos dit is. Laat Covid-19 met hulle vuisslaan om by my uit te kom.

    Ek vind dit ironies dat al die voorsorgmaatreëls dieselfde is as om griep en verkoue te vermy. Tog gaan ons nie tot sulke uiterstes of griep of verkoue te vermy nie. Dit kan ook lewensgevaarlik vir mense wat oud, swanger en sieklik is. Die mensdom reageer ook nie so verwoed vir griep nie.

    Like

    1. Dankie, Xena, ek was ook hande meer en langer en die vel voel al lekker seer. Die probleem is dat daar geen hulp is nie en dat die sterftesyfer 30 keer groter is as vir ‘n gewone griep. Dat dit fataal is as te veel mense gelyk in ICU moet wees, want lande kan dit nie hanteer nie. Daar word nou selfs besluite geneem om te kies om oues en te siekes te laat huis toe gaan om daar aan asemnood te sterf. Ek het die nare gevoel dat ons nie alles weet nie …

      Like

      1. Ander data wat ek gesien het, wys weer dat griep amper ‘n 100 keer meer sterftes het as griep. Ek weet darem ook nie dat dit waar is dat hulle mense huistoe stuur om te sterf nie.

        Ek sien die nuutste is dat mense wat ligte simptome het, nie eers getoets word nie. Hulle word huistoe gestuur om te self-isoleer en gesond te word. Hulle tel dus nie onder die amptelike syfers nie. Dit die mortaliteit aansienlik hoër lyk.

        Like

Laat 'n boodskap na Toortsie Kanselleer antwoord

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.