Gepubliseer in Joernaal

Afrikaanse Podsendings

Ek sien vanoggend dat my een van my gunsteling tydskrifte, Rooi Rose, sy eie podsendings het. Dit is nou stories en so aan waarna mens kan luister. Op die web, en op toeps soos die Apple Podcasts toep (foto).

En daai het ek mos nou nodig terwyl ons vlieg.

Ek moet manier kry om myself soveel ure lank besig te hou. Want manlief druk sy nuwe iPods (oorfone) in sy ore en luister musiek.

En dan sit ek soos kiepie met my eie gedagtes. Verveeld.

Behalwe as ons in die daglig vlieg en ek my vensters mag oophou. Dan neem ek foto’s van die aarde ons.

Ons het Januarie 2020 oor hierdie meer gevlieg op die pad vanaf Almalty na Ust in Qazaqstan. Die aarde om ons is steeds goed gevries.

Dan vergeet ek heeltemal van manlief langs my. En dat hy dalk ook sal wil kyk.

Ek bedoel die mag oophou in aanhalingstekens, want sommige vlugte vereis dat ons vensters toe hou. Al skyn die son lankal!

Die ding is, ek moet myself besig hou. Want vir manlief mag ek nie pla as sy oorfone in is nie. Ek kan, as ek lus is vir ‘n vuil kyk.

Maar ek wip my dan so vir die kyk wat ek kry omdat ek hom in sy musiektrans pla, dat ek nie meer vir gesels lus is nie.

Tussen ons, ek dink nie hy luister regtig nie, ek dink hy slaap so half en half. Want, hy moet dan mos lankal al daai liedjies se woorde uit sy kop ken! En hy doen nie … Dit toets ek gereeld. Dan vra hy waarvan ek praat …

Die flieks wat mens kan kyk, is nie sleg nie. Maar ek is al moeg nadat ek gesoek het tussen die klomp wat beskikbaar is. Buitendien, jy ook net soveel flieks na mekaar kyk.

Ek het al vier na mekaar ingepas, maar ai, dit was ook nou nie so lekker op die oë nie.

Ek kan my rekenaar saamvat, maar ek is gewoonlik in die bevoorregte posisie om agter ‘n baie groot man te sit.

Een wat die sitplek tot amper op my skoot laat sak. As hy sy gewig daarop plaas. Ek kan dan die hare op sy kop tel!

En soms is ek net so effens geamuseerd as ek wonder of dit sy vrou nie pla dat hy eintlik basies tussen my bene lê nie.

Want sien, ek kan nie my bene bymekaar hou as sy sitplek so laag deur sy gewig afgedruk word nie.

Net soms kry ek ‘n kind of jong meisie voor my, so min dat ek nie daarop kan reken dat my TV-skerm nie opgedruk moet word dat ek darem ook TV kan kyk nie.

Gister lees ek in Rooi Rose oor hulle gratis radio. En ek moes net gaan soek. So pas al rrRadio (Rooi Rose) se podsendings afgelaai. Dan kan ek my iPods mos gebruik om bietjie na interessante besprekings te luister. En ‘n storie of twee.

Die Dans met die rooi rok klink na ‘n interessante storie!

Maar nou ja, toe ek eers sien daar is wel op Apple Podcasts iets wat ek kan luister, toe moet ek mos verder soek.

Tik die sleutelwoord Afrikaans in. En kry ek toe die VivA Afrikaans podsendings.

En dit kan ek beslis vir onderwysers aanbeveel. Om vir leerders aan te beveel. Wat met spelreëls sukkel.

In hierdie 31 episodes gesels Gerhard van Huyssteen en ander taalkundiges oor die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS) om so bietjie meer oor die moets en moenies van spelling te vertel.

Ek neem aan almal wat DSTV het, het al die reeks Op Die Spel gevolg waarin leerders met mekaar meeding oor wie die beste kan spel?

Wel, Gerhard is die taalkundige en Rian van Heerden is die aanbieder van daardie program. Gerhard is redelik goed bekend onder ons Afrikaanssprekendes as ‘n kenner van die taal.

Die lekker van die VivA-podsendings is dat dat afdelings van spelling in aparte episodes van hierdie podsending bespreek word.

Jy kan byvoorbeeld kies om na ‘n bespreking van afkortings, los- en vasskryf, diftonge en dies te luister omdat elke episode benoem is na die ooreenstemmende hoofstuk van die AWS.

Ek sou onderwysers nogal aanraai om na die episodes te gaan luister en te besluit hoe hulle dit in die klaskamer kan gebruik, veral om die betrokke afdelings van die AWS aan die leerders bekend te stel. Maar ook om hulle te laat verstaan waarom sekere woorde gespel word soos dit gespel word.

Hier verwys ek spesifiek na die afdeling (dink dit is hoofstuk 8?) oor die gebruik van die gravis-teken.

Het jy byvoorbeeld geweet dat daar net vier woorde in Afrikaans is wat ‘n verpligte gravis-teken het?

Die woorde is dè (vat!), hè (wat sê jy?), nè (stem jy saam?) en appèl (regsterm, om van appel wat mens eet te onderskei).

Die leerders kan ook meer oor die gravis-teken se gebruik op Maroela-media se bespreking daaroor lees.

Volgens Maroela-media dui die gravis-teken die uitspraak aan, naamlik dat die è as ‘n ê uitgespreek moet word. Dit is natuurlik nie reg nie, in Afrikaans gebruik ons die kappie op die ê om aan te dui dat die vokaal as ‘n ê en nie as ‘n e uitgespreek moet word nie.

Soos in hê (ek wil dit hê). As die vokaal deur ‘n r gevolg word, is dit onnodig, soos in perd. Want mens kan perd nie uitspreek sonder om die ê-klank te vorm nie. Volgens Van Huyssteen dui die gravis-teken lae klem aan. Anders sal die woorde verkeerd uitgespreek word. En dit sal die regte verklaring wees.

Ek kry toe ook die podsendings wat deur VivA aangebied word.

Ek kry toe ook die VivA besprekings oor die Woordeboek van die Afrikaanse taal. En daarna moes ek dadelik luister. My pa gebruik juis Hempie raak my nie nou die dag vir my. Wat vir my vreemd op die oor is!

En natuurlik lees ek toe raak dat daar ‘n gesprek oor taalopdragte is. Nie vir die klaskamer nie, maar hoe tale bevorder moet word!

Dit moet beslis geluister word!

Kyk sommer ook Gawies, Japies en so aan.

Het jy al daarna geluister? Hoe bruikbaar klink die podsendings vir jou? Ek dink dit het ‘n plek in die klaskamer. En by die ouerhuis.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

9 gedagtes oor “Afrikaanse Podsendings

  1. Baie interessant, Christa. Ek luister altyd na VIVA se podsendings – ek leef mos op daardie webtuiste. Sonder VIVA kan ek nie Afrikaans skryf nie. Ek betaal maar elke jaar my fooie sodat ek kan gebruik maak van al die woordeboeke. Die podsendings is ‘n fantastiese idee vir skole en onderwysers, want ‘n mens leer makliker as jy beide kan lees en luister. Christa, daai idee van die man op die vliegtuig wat tussen jou bene lê – it’s cracking me up. Ek sal nooit weer kan vlieg sonder om die hele pad te sit en giggel nie.

    Like

    1. Skuus Hester, daardie beskrywing is uit pure frustrasie geskep om die lagwekkende in die situasie te probeer raaksien. Dankie vir die saamgesels, so kan mens saam leer watter webwerwe goed is om van te weet. Wat beloop die fooie?

      Liked by 1 person

          1. Daar is spesiale aanbiedinge vir skole ook. Vra een van jou onderwysvriende om op die VIVA site in te gaan en te gaan kyk na die beskrywings van die items onder die winkelmenu. Hulle kan ook instede van lidmaatskap, besluit om die woordeboeke apart aan te koop – die WAT is bv. R300 per jaar en die HAT R500 per jaar vir subskripsie.

            Like

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.