Gepubliseer in Joernaal,Reisjoernaal

Lente is slush Puppy tyd in Qazaqstan

Interessante naam wat ek en manlief vir hierdie tyd van die jaar geskep het – slush puppy tyd.

Kyk maar na die foto, die sneeu lyk soos slush puppies wat mens in flieks koop.

Ek is mal oor slush puppies. En ja, ek weet ek is nie kinders, soos hulle in daardie een advertensie aspris verkeerd sê nie. Maar wie sê slush puppies is eintlik vir kinders?

Dit is my gunsteling drinkgoed as ons gaan fliek. En die kersiegeur trek my elke keer.

Jy weet mos hoe slush puppies lyk?

Die ys is baie fyn gemaak, lyk amper soos klein korreltjies. Jy kan dit met die strooitjie heen en weer stoot. En dan skei dit van die vloeistof. Wel, ons sneeu lyk sedert Saterdag soos slush puppies.

Want die temperatuur het tot 4°C gestyg. OK, daar moet ek net byvoeg dat ek nie weet waarom die toeps dit so weergee nie want die aanvoelbare temperatuur is nog steeds subzero.

En daar kliek ek sowaar. As mens nie in die wind is nie, voel jy wel dat dit warm is. Soos by die venster van die woonstel. Daar kan ek selfs sit en tan as ek wil. Daar kry ek sowaar warm.

Saterdagoggend moes ons op pad na die mall toe baie versigtig stap, want die hardgetrapte sneeu was glad.

Ek moes die hele tyd seker maak dat ek reg stap. Die een voet eers optel nadat die vorige een vasgetrap het. As ek dit nie doen nie, is altwee my voete onder my uit.

En hoe gaan dit nou lyk en voel as ek hard met die aarde kennis maak? In ‘n land waar ek, behalwe vir manlief, nog niemand sien val het nie. Ek het al gesien hoe mense balans verloor, maar regop bly. Soos ek – die been spiere is daarna seer van die skielike gerek, maar staande het ek sover nog net uit Genade van Bo gebly.

Ek self kan nie help om elke keer wanneer een voet so bietjie gly verlig te “oeps” nie. Met Qazaqs wat my snaaks aankyk omdat hulle die woord net ken nie. Dankbaar dat die val my sover nog gespaar is.

Manlief is ook dankbaar. Nadat my vingers ligte vriesbrand opgedoen het in November was ek doodbang vir die sneeu. Ek het soos ‘n bang kind aan sy arm vasgehou en wou nie alleen stap nie.

Toe onthou ek hoe vinnig hy die twee kere geval het. En besluit my kanse op val is dalk kleiner sonder sy arm.

Hierdie mense val blykbaar wel. Veral in Astana, die hoofstad. Daar is meer as 200 mense op een dag gehospitaliseer nadat hulle in sneeustorms gegly en geval het. En daardie kan ek verstaan, die wind het Vrydagaand soos ‘n suidooster gewaai. My van my voete probeer waai en toe hy dit nie regkry nie, ek moes agteruittree om regop te bly.

Ai tog, ek en hospitale is nie vriende nie. Hier gaan dit selfs erger wees want ek verstaan die mense nie. Nee wat, my voete moet hulle maar gedra en kyk waar hulle loop.

Laat dit my nou aan my kinderdae dink. My pa het geen simpatie getoon as ons ons maermerries gestamp het nie. En my aarde, wil ek ook nou sommer weet waar die woord vandaan kom.

Hy het gekyk na die bloed wat wil-wil deurkom of dalk regtig deurkom en gesê: “Dit is waarom die liewe Here vir jou oë gegee het.”

Ons het dit nie snaaks gevind nie. Ek het wel kuite by my pa geërf. Maar seer is seer. My ma het darem simpatie gehad.

O ja, ek het so bietjie afgedwaal. Ek wil oor slush puppies tyd vertel.

Sondagaand stap ek en manlief weer uit om medisyne te gaan koop. En wat ‘n gesig staan ons nie en inwag toe ons die deur oopmaak nie.

Die motors se bande het die warmwordende sneeu in slush puppies verander.

Kompleet met die vloeistof wat op plekke saamkom. Dit het diep slote waar die bande die sneeu losgemaak het. En dit is baie tricky om in hierdie slush puppies te loop.

In die water wil mens nie loop nie, al is ons sneeuskoene waterdig. En nou verstaan mens ook waarom die verkoopsmense jou duurder skoene laat koop met die waterdig onder jou neus gevryf.

Nou is ek bly. Onthou, die water is yskoud. En die opgehewe stukke bied geen vasgetrapplek nie omdat dit uit los yskorreltjies bestaan.

En ja Toortsie, jy is toe reg. As mens daar verkeerd trap, kan mens wel gly soos jy gewaarsku het. Jou voete sak onverwags diep in die sneeu weg. En onder daardie slush puppies kan bevrore dele wees. Wat wel jou voete wat reeds gly onder jou gaan uithaal.

En dit is nie net ons wat sukkel nie. Die eerste motors wat oor die los sneeu wil ry gly en val in die sneeu vas.

Die wat na hulle kom ry in een spoor wat al dieper en vol water word.

En kan jy glo? Gister en vandag val die sneeu weer lekker lank. Om die meeste van die spore te bedek. En natuurlik ook die slush puppies daaronder.

Vandag gaan ek nie sommer buite stap nie. Want ek weet onder hierdie laag sneeu is ‘n pappery.

Ek het mos al vertel dat dit lekker is om buite te stap as dit sneeu. Omdat mens nie so maklik op die korrelrige sneeu gly nie. Wel, die keer is dit anders. Daai slush puppies het nie tyd gehad om eers te vries nie. En die nuwe sneeulaag is vanoggend oor dit gestrooi. Is dit Pete wat op ‘n keer geskryf het dat dit soos versiersuiker lyk? Wel, dit strooi soos versiersuiker of meel gelykmatig oor die aarde. Om die slush puppies vanoggend vir die blote oog weg te steek.

Daardie opgehewe gedeeltes wat die motors se bande uitgrou gaan goeie glyplanke bou. Nee wat, vandag het my navorsing al my aandag!

In hierdie land van ons het jy nie net klere vir die vier seisoene nodig nie, jy het ook skoene vir die vier seisoene nodig.

Sandale, gewone reënstewels, reënstewels met wol binne en skoene en stewels wat met wol en pels gevoer is om jou voete warm te hou.

Verkieslik stewels, want my bene vries waar broek en skoen vergeet om mekaar te ontmoet. En daai gebeur mos met elke tree wat ek gee.

So terloops, ja, die titel is reg gekies. Oor ‘n week of twee is dit amptelik lente in Qazaqstan.

En raai wat? Ons het dan vier dae lank vakansie om die koms van die lente te vier.

Al is dit nog ysig buite, hou hulle fees. OK, goed, laat ek beter stel, hou ons fees. Ek is mos nou een van hulle.

Ek sal meer daarvan vertel. Sal bietjie deur foto’s moet gaan.

Dié jaar vier ons daardie vier dae in Suid-Afrika. Om die koms van ons vierde kleinseun te gaan vier. En herfs in Suid-Afrika. Hoe weird is dit?

Hmmm, ek het gister toe die sneeu so gesmelt het dat ‘n stukkie gras onder oop was, ‘n foto geneem. Wat sien jy?

In die regterkantste onderste kant? Kyk mooi …

Groen gras! Onder die sneeu wat tot gister nog dik daarop gelê het.

Hoe vreemd is dit? Dit kan een van twee dinge beteken. Óf dit was nog groen toe dit begin sneeu het en dit het so onder die sneeu bewaar gebly. Óf die natuur weet dit is einde Februarie! Lente!

Ek voel nou sommer of ek saam kan sing:

Dis heerlike lente, die winter is verby … en toe ken ek nie die volgende woorde nie. Gaan Google en kry die video’tjie!

Kyk gerus saam. Dit is in Afrikaans, maar o my jitte hoe het dit nie my hart laat goed voel nie!

Gesels gerus saam as jy kan raai waarom!

So terloops, hier by ons in Oskemen smelt die sneeu op die berg veel gouer as op die grond tussen die geboue waar die son nie bykom nie. Dit gaan nog lank bevrore bly in sommige dele van die strate en die stad.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

22 gedagtes oor “Lente is slush Puppy tyd in Qazaqstan

  1. Dit lyk darem heel morsig so n mengelmoes van sneeu, ys, water, en wat ook al. Dit begin hier nou snags koeler raak. Dis egter nie die einde van die hitte en droogte nie. Ek weet nie wat gaan word nie maar met die Coronavirus, ekonomie en die hitte saam gaan iets een of ander tyd moet inkonk. Ek het selfs vandag die eerste sonbesie hoor tjirp wat ook ongewoon is. Ai die wêreld is deurmekaar.

    Like

      1. Ooo ou mater die sonbesies ies nie die Suid Afrikaanse sonbesies sing in die bosse nie. Hul kom mos elke sewende jaar in hul hordes tevoorskyn. Dan skree dit dag en nag dwarsdeur. Verlede jaar was nie tesleg nie. Moontlik is hierdie droogte dalk ook te veel vir hulle. Hul is meestal in Februarie as dit op sy warmste is bedrywig. Trompie is mal oor hulle. Hy vang hulle en vreet hul op. Net die vlerkies word uitgepoo aan die einde. Ek help hom ook meestal vang. Hy sal sit en wag vir my of teen boom opstaan om te wys waar een is.

        Liked by 2 people

          1. Dit is daardie geluide wat jy hoor. Meestal n hoë gepiep aanmekaar. Dit kan n ontsteking in oor wees in begin maar is meer dieverlies van mens se gehoor, veral as jy lank blootgestel was aan harde geluide/lawaai. My geval is bv veral die kinders se lawaai waarvoor ek op einde sensetief geraak het. Ek kan bv nie meer werklike hoë note hoor nie. Dit het ook met stress te doen. As ek bv baie opgewonde of moeg is aan einde van die dag is dit nogal erg. Mens leer nogal om daarmee saam te leef.

            Like

          2. Ja, daar is verskillende toonhoogtes. Met tye is dit regtig erg maar soos ek sê mens pas maaraan. Hul beweer dat n gehoorapparaat op einde dit kan verminder. Dis maar jou brein wat kompenseer vir toonhoogtes wat jy nie meet hoor nie. Jou oor gee daardie geluid om die geluiud waarna hy luister te verbloem dat die oor dit nie meer kan verwerk nie. Een oor kan ook erger as ander een wees.

            Like

        1. Haai, Vuurvliegie, my vingers is die afgelope twee of drie weke beter, daarom dat ek al weer in die gewoonte verval om lang stukke te skryf. Maar, die oomblik wat dit buite onder -10 daal, kry hulle deur twee paar handskoene koud en word my duime se punte seer en baie gevoelig. Ek dink hulle is nou sommer sissies, pyn dadelik sodat ek nie weer so iets lafs aanvang nie. Nie dat ek sal nie, mens leer vinnig in hierdie plek. Baie vinnig. Dankie vir die vra, ek waardeer dit so baie.

          Like

  2. Ek lees so lekker aan jou Qazaqstan avonture en ek het lekker saamgesing: hol-la-dri-o-ha. Volgens die Etimologiewoordeboek van Afrikaans (EWA) is maermerrie ‘n samestelling van maer en merrie, wsk. so genoem omdat dit aan ‘n merrie wat maer is, herinner. In Nederlands ‘n magere merrie. Moes ‘n boerevoorvader gewees het wat dit uitgedink het.

    Like

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.