Akteurs wat hulle rolle dalk te goed speel …

Het jy al Silence of the Lambs, waarin Anthony Hopkins ‘n reeksmoordenaar speel, gesien?

Ek het hierdie fliek alleen in die aand in Welkom gekyk. My kar was onder in die parkade geparkeer. Ek het gesorg dat ek saam met mense afstap, in my kar gespring, die deure gesluit en met die dakliggie aan gery tot waar ek manlief by ‘n sportoefening moes kry. As hy in my kar was, was ek gereed om uit te spring. Daarna was ek bang vir die akteur.

Of The Shining, waarin Jack Nicholson sy vrou terroriseer? By ‘n verlate hotel.

Ek was doodbang vir hom. Daardie opgetrekte ooghare maak my nou nog bang. Ek het dit saam met manlief gekyk. Toe ons nog studente was. En toe my kinders my jare later met “scary movies” probeer bang maak het, het ek gesê hulle moet maar eers die een kyk. Dan praat ons weer. Dollatjie stem saam, dié een is op haar toptienlys van bangmaakflieks.

Nie noodwendig oor die storielyn nie. Maar juis omdat beide hierdie akteurs hulle rolle so goed gespeel het dat ek hulle steeds nie in romantiese rolle kan sien nie.

Dit was jare gelede. Silence of the lambs is in 1991 beskikbaar gestel en The Shining in 1980.

Intussen kon min akteurs hulle rolle so goed speel dat ek hulle nie wil sien nie. Omdat hulle my bang maak.

Ons eie Dirk Stolz kom baie naby daaraan. Ek het na Swartwater gesukkel om hom in ‘n romantiese rol te sien. Veral die eerste seisoen. Genade, hy het die boef oortuigend gespeel. Maar sy rolle het nog nie van hom verwag om (te maak) of hy mense eet nie. Met sy nuwe lyf was dit maklik om hom in Binnelanders in ‘n romantiese rol te sien.

Dit sal hy oortuigend kan doen. As hy egter die rol van ‘n mensvleisetende reeksmoordenaar speel, sal ek beslis bang gemaak kan word. Vir hom.

Nou waarom vertel ek dit vandag?

Laat ek eers vra: Kyk jy Die Byl?

Want as jy doen, sal jy weet waarvan ek praat. Hierdie reeks het baie bloedstollende karakters laat lewe kry. Drie slaag egter daarin om my steeds koue rillings te gee.

In seisoen 1 het Hannes van Wyk van Kwêlafaam

en André Weideman van die huidige seisoen van Sarah se geheim …

die rolle gespeel van reeksmoordenaars wat hulle slagoffers eet.

En die twee het dit so goed gespeel dat ek drie dekades na Anthony en Jack weer akteurs het wat my bang maak. Koue rillings laat kry as ek hulle sien.

Jammer, julle twee, maar ek sien die menseters as ek na julle in ander rolle kyk. En ek kry hoendervleis.

Hoe oulik Hannes ook al op Kwêla probeer wees, en André in die joernaalprogram waarin hy aanbieder is, daai karakters wat hulle gespeel het, kom staan tussen my en die geniet van die programme wat hulle aanbied. Ek kry André nie eens in Sarah jammer nie …

Om die eerlike waarheid te sê, ek wil soms graag seker maak dat daardie mense met wie die twee onderhoude gevoer het, nie prooi geword het nie. Self sal ek nooit gaan vra nie

Na die nuutste se episode van Die Byl het ‘n aktrise by die groep bangmakers aangesluit.

Het jy al gekyk?

Die vrou (gespeel deur Michelle Burgers)

het nie alleen drie van haar mans vermoor nie, sy het hulle opgesny vir proteïene vir die hoenders, hulle bene gemaal vir beenmeel en haar eie skandekind as plaaswerker vir haar laat werk. En bykans vermoor. Hom laat help met die moorde.

En ek dink as ek reg verstaan, is die vleis ook aan tafel aangebied. Vir die kind. En ‘n nuwe prooi. Die laaste man se vleis is lewendig afgesny vir dae lank. Tot haar kind die man uit sy lyding gaan red het.

Dit is nie hierdie grillerigheid wat Michelle Burgers laat uitstaan nie, dit is die manier hoe sy die rol gespeel het. En haar gesigsuitdrukking saam met die woorde: “Want hulle smaak so lekker” wat my hare in die lug laat staan het.

Vir haar sal ek ook nie weer in ‘n ander rol kan sien nie. Want hierdie karakter gaan in die pad van inleef in ‘n storie staan.

So, wat sê dit van Afrikaanse akteurs?

Ek dink hulle is briljant. Beter as Anthony Hopkins in die 90’s en Jack Nicholson in die 80’s.

So goed dat ek hulle nie van die karakters kan onderskei nie.

As ek die storie oor moet vertel, kan ek nie. Ek kan die storielyn nie onthou nie.

Ek kan wel die akteurs onthou … en ek is amper seker ek sal my uit die voete maak as een van hierdie drie saam met my iewers sou opduik. As hulle in ‘n hysbak is, klim ek uit.

Arme mense! Hulle speel soveel rolle, sal mos nie die vrees in my oë verstaan nie.

As ek sou waag om oogkontak te maak …

Ek pes bangmaakstories, sukkel daarna om te slaap. Dit spook by my.

Dalk is daar meer sulke akteurs en aktrises. Gesels gerus saam …

Fotokrediete: blou bang gesiggie (pixabay). Res foto’s op Google beskikbaar.

16 comments

  1. Ek kyk Die Byl en die vrou wat die manne eet het my vir dae lank gepla ! Ek kan ook nie die aktrise se naam onthou nie maar dit was skrikwekkend om die minste te sê. Ek sou verseker nie aangesit het vir ete by haar nie – en tog die deernis waarmee sy haar hoenders roep en kosgee.

    Like

    1. Jong, dit herinner mens aan hoe erg dinge uit mens se verlede op mense met afwykings kan inwerk. Ek dink sy het haar rol so oortuigend gespeel dat ek vir haar as persoon bang is. En ek behoort nie so te voel nie.

      Like

  2. Kan glad nie bangmaakflieks kyk of bangmaakboeke lees nie – toe ek nog so hier en daar gekyk of gelees het, het die onwelkome prentjies in my kop altyd laataand opgeduik as ek alleen is…

    Like

    1. Ek stem saam, tannie Frannie, ek kyk glad nie goed wat my dae lank nog bang maak nie. Die Byl fassineer my, die toneelspel is besonder goed. Dit is die tweede episode waarin die goed wat die mense gedoen het by my spook. Ek slaap darem nie alleen nie, sal dan beslis nie kyk nie.

      Liked by 1 person

  3. Ek het die Byl begin kyk, maar dis moeilik met Grim wat glad nie Afrikaans verstaan nie, al is daar onderskrifte. Dink hy moet bietjie alleen iets anders kyk op die ander tv

    Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.