Om Afrikaans taaljuffrou te wees

Ek het Afrikaans op skool gehaat. Kon nie verstaan waarom ek gedigte moes ontleed nie. Het getwyfel of die juffrou weet wat die skrywers bedoel het. En dan moet ek dit vir die waarheid leer. Stories tot ver verby geniet ontleed. Kon nie verstaan waarom ek idiome moes leer nie.

Ek het Geografie gelief. Wou Geografie juffrou wees.

Maar toe word ek taaljuffrou. En geniet dit vreeslik baie. Veral as ek vir Engelse kinders en immigrante Afrikaans moes leer. Hoe meer hulle gemurmureer het, hoe passievoller het ek oor my vak geraak.

Hierdie blog is geïnspireer deur ‘n Jugde Judy episode wat ons onlangs gekyk het.

Sy weet sy word opgeneem, en dat wat sy sê en doen, deur duisende mense gehoor gaan word. Tog tree sy soms baie gemeen op.

In die episode het die meisie haar sin begin met me and my friends en die regter het haar ore toegedruk en gesê dat sy nie na daai Engels kan luister nie. Die meisie het gedink sy spreek nie haar woorde mooi uit nie. En het dit beter probeer uitspreek.

En die regter het haar oë gerol en haar tereggewys:

Mens begin met my friends.

En toe eers het sy gekliek dit is My friends and I.

Daardie is een probleem wat ‘n tweede taal onderwyser in die klas ondervind. Die vrou sal dit seker onthou, want sy is verneder. En mense wat haar ken, kan weer en weer na die episode kyk.

Ek het dit anders hanteer. Vir die kinders vertel dat Afrikaanse mense dink dat ons die belangrikste is. Daarom begin ons met: Ek en ny vriende, ‘n verskil wat nie vergeet moes word nie. En baie min het dit vergeet.

Die woord interessant is ook vir baie kinders ‘n probleem. En die woord word baie gebruik. Dus moes hulle aan ‘n vrou dink wanneer hulle die woord moet spel. Onder normale omstandighede kan ‘n vrou net een rok (R) en twee skoene (s) dra. Dus een r en twee s’e in interessant. Dié woord is ook selde verkeerd gespel.

Ek het baie moeite gedoen om kinders in die klas aan die praat te kry. Want ek was self verskriklik skaam op skool.

Ek het goed voorberei vir my toesprake, prente gesoek, gespoeg en geplak. En dan met ‘n mond vol tande in die klas gestaan. Afgerammel en gaan sit. Die mooi plakkaat min gebruik. Met maatjies wat vra om dit te sien.

Ek is nog steeds nie gemaklik voor ‘n gehoor nie. Die gebruik van Powerpoint maak dit egter makliker. Ek skryf nie my woorde uit nie, want dan wil mens dit mos lees. En skok dit my tot in my tande as ek ‘n woord uitlaat. Want mens neig om die sin te herhaal.

Nee, ek gebruik punte om my te herinner aan wat ek wou sê. En prente om die gehoor se aandag op die inhoud van die toespraak eerder as op my te sit.

En dit werk. As ek opkyk, sien ek dat hulle na die voorlegging kyk. En nie na my nie.

Want genade tog, daar is ook nog soveel ongeskrewe reëls. Moenie kleurvolle klere dra dat dit aandag na die lyf trek nie, moenie dit nie en moenie dat nie.

As mens na my CV kyk, lyk dit of ek ‘n gesoute spreker is. Ek is nie. Ek haat dit eintlik. Want mens spandeer ure aan die voorlegging. En as jy aan elke vraag dink wat gevra kan word, sit die gehoor baie keer daar. Sonder om vrae te vra.

Wat ook maar goed is, ek sukkel om te hoor wat hulle vra as ek gespanne is. Mens voel tog jy wil reaksie hê, waarskynlik die rede waarom ek so van blogging hou.

Mede-outers raak betrokke, lees en lewer kommentaar.

Dit is moontlik dat mense versigtig is om vrae te vra. Want my navorsing is in nuwe velde gegrond. As iemand iets wil vra, moet hulle kennis van die veld dra. Om nie ‘n vraag te vra wat hulle onkunde openbaar nie.

Maar is dit nie juis die punt van vrae vra nie? Die persoon staan voor jou om die regte inligting deur te gee.

Soms kom vra mense na die tyd. Of kom sê dat hulle dit geniet het. Ag mens, dit is lekker, want ek het nie.

Verlede jaar by ‘n kongres van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Natuurwetenskap en Kuns het ‘n professor na aan aftrede vir my gesê dat daai angs voor optrede nooit weggaan nie. En dat dit goed is. Want dit pomp adrenalien deur die are.

Nou kyk, soos ek verstaan, het daardie adrenalien twee reaksies. Veg! Of Vlug! En ek moet erken, vlug wen elke keer.

Wat veroorsaak dat ek al my wilskrag moet inspan om op te staan en te gaan praat wanneer dit my beurt is.

So, jy dink seker nou dat goeie voorbereiding die probleem kan oplos. Dit doen nie. Ek gaan voor die tyd na die mense om seker te maak dat my toespraak gelaai word. Voordat die sessie begin, kliek ek op my voorlegging en blaai deur om te seker te maak dit is die regte een. Dat alles daar is. En dan gaan sit ek betyds, naby aan die verhoog, dat ek so min as moontlik steur as ek opstaan.

Die oomblik wat ek op die voorlegging kliek en dit oopmaak, haal ek asem en groet. En dan is ek in my element. Dit is my veld. Ek weet wat ek wil sê. En die gehoor se oë is op die voorlegging.

Jy sal nou seker verras wees want ek was ‘n juffrou. Die twee kan egter glad nie met mekaar vergelyk word nie.

‘n Juffrou is die clown in haar klas. Daar word jy meeste van die tyd nie geoordeel nie. Daar ken jy elke lid van die gehoor by die naam. Daar raas jy as een nie oplet nie. Want daar is jy die haan op jou eie mishoop.

Lag ek nou vir die idioom. Klaskamers is nie mishope nie, behalwe as die mishope as vrugbare teelaarde beskou kan word.

Ten spyte van my eie verhoogangs kon ek skaam kinders lei om aan debatte deel te neem, om aan ATKV kompetisies deel te neem en groom om met goeie resultate huis toe te gaan.

Ek het nou afgedwaal, ek wou eintlik verduidelik hoe ek kinders aan die praat gekry het.

Ek gaan ‘n paar metodes beskryf.

By Welkom High het ek van handpoppe gebruik gemaak. Die kinders moes ‘n handpop met ‘n kous maak, dan het twee saam gewerk om ‘n toneeltjie op te voer. Hulle kon staan, maar hulle kon ook agter ‘n tafeltjie met ‘n swart lap sit sodat net die hande uitsteek. Dan het ek ‘n video gemaak en die kinders het heeltemal vergeet dat hulle eintlik praat. En dat hulle punte daarvoor verdien.

Dalk is verhoogangs dan te wyte aan ‘n vrees om geoordeel en te lig gevind te word?

‘n Ander metode was om papiertjies in die klas om te stuur. Elke kind moes dan ‘n woord daarop skryf, dit is in ‘n bottel gegooi en dan moes hulle ‘n papiertjie trek en onvoorbereid praat. Dit maak die speelveld nogal gelyk, omdat hulle voel dat hulle ‘n gelyke kans het om goed te doen.

Ja, daar is kinders wat woorde opskryf soos gras. Ek het gevind dat so ‘n eenvoudige woord juis tot oulike toesprake bygedra het. En die belhammel bedroë laat staan het. Want sien, ‘n juffrou kan ook uit lyftaal aflei watter kind daardie woord neergeskryf het!

Ek het kinders geleer om in kort sinne te praat. Want dan is woordorde nie vir tweede taal sprekers so ‘n groot probleem nie.

Ek het hulle geleer om my nie met groot woorde te probeer beïndruk nie. Om woorde te gebruik wat hulle kan spel.

En ek het vir hulle taalreëls en uitsonderings op die reëls geleer eerder as woordeskat. Want sien, die fokus op kommunikatiewe taal maak dat enige teks aan kinders voorgehou kan word. En dan moet hulle daarop kan reageer.

Ek het hulle geleer dat ons Afrikaanse mense niks onnodig doen nie.

As jy die taalreëls ken, weet hulle waarom ver nie ‘n kappie op het nie. Soos gesê, ons doen niks onnodig nie. As gevolg van die r, kan die woord ver as niks anders uitgespreek word nie.

Juis daarom moes hulle uitsonderings leer. Sker kan nie verkeerd uitgespreek word nie, tog word dit as skêr gespel. Rede? Die meervoud (skêre) kan verkeerdelik uitgespreek word as skere. Daarom kry beide die enkel- en meervoud ‘n kappie.

Daarom maak dit my so vies as die fokus op kommunikatiewe taal geplaas word. Sonder om taalreëls en uitsonderings op taalreëls te onderrig. As mens die reël en die uitsondering ken, kan jy bykans enige woord korrek spel. Selfs al weet jy nie eens wat die woord beteken nie.

Vra my.

Ek is tans besig om Russies aan te leer. En hulle leer vir my die reëls, soos ek ook glo dat dit die regte manier is.

Ek kan die werk reg doen, sonder om te weet wat die woorde beteken. En dan leer ek die woorde, om te weet wat ek gesê het.

Wat natuurlik soos teenproduktief klink? Ek dink nie so nie.

In matriekeksamens kan woorde gekies word wat ‘n juffrou nie in die klas vir die kinders geleer het nie. En dan kan die kind nie antwoord nie. As hy of sy egter die reël ken, kan die woord reg gespel word. Om wel die punte te verdien.

Die meeste van ons gaan daarna vra wat die woord beteken. En dan word dit sekondêr aangeleer. En nie sommer vergeet nie. Want dit is reeds in sinsverband gebruik.

Wat die regte manier van doen is, sal ek nie weet nie. Wat ek wel weet, is dat nie een enkele kind hulle graad gedruip het omdat hulle my vak gedruip het nie. As daar gedruip is, kon my vak se druip nir alleen vir druip can graad verantwoordelik gehou word nie.

En dit sê baie. Soms het ‘n kind ‘n paar punte gekort het om sy graad deur te kom. En die punte by my vak s’n gevoeg word. Wat punte opblaas. Want dit kon nie in die druipvakke gegee word nie. Dan het ek wel gemurmureer.

Want ek en die kind het geweet dat die opgeblase punt nie reg is nie. En ons twee het hard gewerk aan deurkom.

Soms het dit hulle geïnspireer om die volgende jaar harder te werk. Dan was ek dankbaar dat ek ingestem het.

Ander kere nie. Dan het jy maar die volgende jaar hare op jou tande.

Wat ek wel kan sê, is dat dit baie moeiliker is om ‘n druipeling in die klas te hanteer as om ‘n leerder wat swak presteer te hanteer.

Want sien, hulle word gewoonlik belgammels die volgende jaar. Tussen die wat jaar jonger is. Dus was dit ook vir my eie beswil beter om kersfeesvader te speel.

Naskrif: My blogvriendin Perdebytjie het kommentaar gelewer dat vêr nou ook as vêr gespel kan word. En ek het klomp vrae daaroor gevra. Gesels asseblief saam. Hoe raak afleidings van ver daardeur geraak? Soos verre. En hoe raak dit woorde soos kombers? Vers? Sover? Ek is nie naby woordeboek nie en dit pla erg.

7 comments

  1. Jammer die onderwys het so ‘n goeie onderwyseres verloor. Net vir interessantheid, vêr kan met ‘n kappie ook gespel word en dit is nogal hoe ek verkies om dit te spel, omdat dit die klank so ekstra kan uitrek…vêêêr.😄

    Like

      1. Dit is waar, die probleem is net dat daar geen probleem met die spelling van ver was nie. Daarom het dit nie uitsondering nodig nie. En die Viva Toep help nie veel nie. Want nou sit mens mos ook en wonder of verre ook as vêrre gespel jan word. En verdere as vêrdere. En sover as sovêr? Weet jy dalk?

        Liked by 1 person

      2. Kan jy my asseblief daarmee help? Ek gaan woordeboek moet kry om te weet, want dit gaan nou baie pla. Hierdie uitsondering skep probleme as dit net vir ver gebruik kan word en nie vir die afleidings van ver nie.

        Liked by 1 person

      3. Hierdie raak nou interessant.Ek het twee HAT’s. Die tweede uitgawe spel dit sonder die kappie.Die vyfde uitgawe van 2005 gee beide spellings.Aanvanklik het ek gereken die kappiespelling is argaïes, maar nou blyk dit ‘n meer moderne neiging te wees. Ek het nie die nuutste woordeboek nie, maar dit hoort interessant te wees om te sien of die kappie steeds daar is.

        Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.