‘n Jas vir elke seisoen in Qazaqstan

Laat ek so begin. Ek is nie ‘n modepoppie nie. ‘n Renons aan modes is waarskynlik in my kinderjare gevestig. Dus sal ek nie weet of die modes, wat ek oor jasse hier vertel, soortgelyk in SA is nie.

My renons aan modes is in my kinderjare deur die Joodse tannie, mrs. Weinstein, wat die winkel langs ons slaghuis op Libanon, naby Westonaria, gehad het, begin. Dink ekke.

Sy het, volgens ons kinders vreeslik lelik aangetrek. Kleure het teen mekaar geskreeu. Snaakse langbroeke en bloese. En dan het sy met sulke rooi tuitlippe vir my ma gesê:

Alles wat mode is, is mooi!

Toe nie. Nie volgens ons nie.

Op skool moes ek die spot van modepoppies verdra. Omdat my langbroeke se ritssluiters agter moes sit. Volgens my pa. Mans s’n voor, vrouens s’n agter. Of langs die kant. Regtig. Toe het mens sulke langbroeke gekry. Baie daarvan. Soos die vrouens geëmansipeer het, het die ritssluiters ook na voor geskuif.

Ek het nie omgegee nie. Buitendien, ‘n rits langs die kant laat ‘n broek net soveel vleiender aan ‘n vrou se lyf sit. Geen ongemaklike bulte word gevorm waar harde ritssluiters se onderkante buig as ek gaan sit nie.

Toe denims mode raak, is dit summier in ons huis verban. Dit is werkersklere en gaan nie teen ‘n fortuin aangekoop word nie. Ons het na skool begin denims dra, ek is steeds nie lief daarvoor nie.

Jean modes verander gou. As juffrou kon ek nie laas jaar se mooi denims dra sonder om deur my skoolkinders gespot te word nie. Juffrouens se salarisse is maar klein, ons kan nie modepoppies speel nie.

Buitendien, die een jaar is die pype so wyd onder dat mens die vloer daarmee kan vee. Die volgende jaar moet ek sukkel om my voete deur die stofe pipes te kry. Want dit moet superstyf om enkels pas. My seun sukkel dan om ‘n broek te kry wat oor sy kuite gaan.

Die een jaar is die pype tot op die grond. Die ander jare is dit net onder die knie.

Die een jaar is die jean se band in my middel, die volgende jaar is mens te bang om te buk. Want jou hele boud kan uitsteek. Of jou hele maag, as jy waag om jou arms op te tel. Want die broek se band sit laag oor die heupe. Maak heupbene skaars toe. En bloese is gewoonlik nie so lank nie.

Dan is dit vir so drie jaar normaal. Voordat dit weer te wyd of te nou is.

Want, modes verander jaarliks en draal so vyf jaar voor uitspattighede weer ‘n draai kom maak. Sodra jy klaar besluit het groot plastiekoorbelle en snaakse langbroeke gaan nie weer terugkom nie. Sodra jy dit uit die kas gegooi het, kom dit ten duurste terug!

Mens kan ook nie regtig aan die einde van die seisoen koop nie. Want dit is mos volgende jaar uit die mode. Dit is veral waar wat langbroeke betref.

Tog het ek einde Augustus dit geniet toe manlief my in Almaty met ‘n Lee jean bederf. Ek het nie geweet die broeke kos so ‘n fortuin nie. Gaan liewer nie oorvertel nie, dit voel verkeerd. Ek het ook in Oggi een sonder ‘n ritssluiter gekry. Spotgoedkoop. Hemels. Beide se middel sit hoog genoeg dat die broeke bo bly!

Rokke en rompe is ‘n ander saak. Daar maak ek wat my figuur pas, dus het ek nie ‘n probleem met veranderende modes nie. Dit lyk nie soos gister se modes nie. Ek kies klassiek.

Die agtergrond is nodig om die jasstorie te verstaan.

***

Hier is modes vreemd. Vir my.

Bykans elke baadjie en jas het ‘n kappie en dit het my aanvanklik geïrriteer. Ek soek nie kappies nie. Dit hang agter my nek, voel slordig. Toe ontdek ek so mettertyd waarom dit noodsaaklik is.

Hier reën dit sommer net skielik in die dag. Jy kan by winkel instap, geld trek, na ‘n paar goedjies kyk en as jy uitstap, reën dit. My handsak het nie plek vir ‘n sambreel nie. Maar dit is nie nodig nie. Jy gooi die kappie oor en daar gaan jy.

Hier reën dit nie soos by Ruimsig met harde donderweer en weerligstale nie. Daar kondig die weerlig en donderweer reën met lig en klank aan. En val groot druppels uit die lug na die kragvertoning.

Hier reën dit sag. Amper soos die reën wat aan die einde van ‘n donderstorm val. Maak sulke sagte tikgeluidjies teen die vensterbanke waar druppels val wat bo teen die raam gevorm het. Deurdringende reën. Wat sommer net so uit die dragtige wolke val. En jou sopwaternat maak.

Hier wissel die temperature tussen -40C en +40C. Hier dra mens in die lente en herfs ligte baadjies. En in die winter jasse wat jou in SA in die winter van hitte-uitputting sal laat omkom.

My eerste jas wat ek hier gekoop het, was swart. Sommer reënbestand ook. Warm. Hou wind uit. Maar dit lyk anders as wat ek ken. Baie breë kraag.

Ek trek die rits tot heel bo en dan kruip my neus en mond agter die kraag weg. As ek die strate moet aandurf.

Die kappie is groot, vou oor my gesig. Om reën weg te hou.

Ek het gou geleer waarom kappies belangrik is. Sambrele word uit jou hand gepluk. Die hand wat die sambreel vashou, vries.

Ek weet. Ek lyk vir myself ook vreemd met die dun nekkie en die groot kappie. My jas het ook nagemaakte pels wat om die kraag vou en afgehaal kan word.

Ek weet, dit lyk rof. Hier was ek nie lus om vir manlief te glimlag nie. Dit was koud! Glo my.

Dit word so koud dat ek vergeet van mooi en lelik. Funksioneel is belangrik. Die pels hou die yskoue baadjie van mens se gesig weg. Dink maar aan hoe koud vleis is as jy dit uit die vrieskas haal. Daai is -17C. Ons loop buite rond as dit -30 is. Slaap darem wanneer dit na -40C daal. Maar, klere moet jou daarteen kan beskerm.

As ek eerlik moet wees, sal my oë ook van klere hou. Ek vind dat sonbril help. As dit nie yster in het nie. Die yster is ysig teen mens se vel!

My tweede warm ding is in ‘n oomblik van nood gekoop. Ek en manlief is in Mei met somerskleertjies dorp toe. Toe gaan kruip die son agter die wolke weg. En die wind waai asof hy betaal word! Ons moes dringend warm goed koop. Almal dra swart, dus het die rooi my soos ‘n magneet getrek.

Ook omdat dit kersfeesprentjies om die moue en kappie het.

Hierdie baadjie is vir tot -10 C reg. Dus vir groot dele van die lente en herfs en ‘n stukkie winter geskik. Soos nou. Dit was einde van die seisoen, die pryse was afgemerk en toe koop ek sommer nog ene. Wat vir koel dae geskik is.

Ek is so bietjie soos die vrouens in PG du Plessis se netpryse storie. Sê baie vir manlief dit kos net soveel as ek iets goedkoper kan koop.

My volgende twee baadjies is ook gesamentlik gekoop. ‘n Swart een moes ek hê, maar ek kon nie die blou weerstaan nie.

Donsbaadjie. Baie dun, besonder warm! En in die kleur van Qazaqstan se vlag!

Hierdie een is nogal ‘n gunsteling. Veral omdat almal hier swart dra. Ek weet, dit is seker funksioneel? Ek soek kleur as die dae so grys is.

Die volgende baadjie moes ek koop. Ek het warm een gesoek, toe oortuig ek myself die een is beter. Kan dit in Suid-Afrika ook dra.

Ek het geval vir die wit en vlootblou. Was gister al nie warm genoeg nie.

Ons moet baadjies vir elke seisoen hê. Behalwe klein deeltjie van die somer!

Die hoë krae bied wegkruipplek vir neuse en monde wat wil vries. Die kappies vou verder oor mens se gesig as wat ek al in SA gesien het.

Mens kry ook baadjies wat net jou oë laat uitsteek. Ek wou nog nie so een kies nie. Maar dit kan gebeur, ek het nog net nie so koud gekry dat ek die winkels in is om een te koop nie.

Mens kry ook baadjies met massiewe krae wat dubbeld om die nek gaan. So dik soos ‘n donskombers. Ek het nie so een nie, maar daai ene kan ook kom. As ek koud genoeg kry.

Ek het onlangs nog ‘n jas gekoop. Dons ene. Een wat nie ‘n kappie het nie, maar wel ‘n baie hoë kraag. Ene wat dun om die middel sit. En uitklok onder. In ‘n oomblik van verliefdheid op die jas se andersheid gekoop.

Manlief hou van die jas. En ek verstaan sy punt.

Dit moet so wyd onder wees om in karre te kan klim. En by trappies op. Die ander jas se rits moet gereeld van onder oopgemaak word. Om beenspasie, of is dit nou treespasie te maak.

Kan dalk later besluit om nouer na onder te maak.

Dit is moeilik om jasse hier te kies. Skoene ook.

Ek moet die hele tyd in gedagte hou dat klere duur is. Maar veral dat ek sommige van die jasse en skoene nooit in Suid-Afrika sal kan dra nie!

Is daar in die SA ook sulke jasse en baadjies? Ek het darem gesê dat ek nie op die hoogte van modes is nie …

16 comments

  1. Ek is dol oor jasse….het in Skotland so baie gesien wat ek wou hê! Maar ons in SA kry nooit SO koud nie…dit regverdig nie daai aankope nie…maar ai, dis darem so mooi. Love daai lang swarte. Dis ‘n tydlose een daai!

    Like

      1. O goeiste…die naaste wat ek hierdie winter aan ‘n warm ding gekom het was n gewone baadjie bo-oor ‘n langmou t-hemp. Maar dan moet ek bysê dat ek aan die Noordekant van Pretoria bly…eintlik in die Bosveld. Dis mos maar warmer hier as op ander plekke in die Kaap

        Like

  2. Niks jasse hier nie. Ons dra ligte baadjies in ons winter. Meesal windbreakers in my geval, want hier is baie wind om te breek, en die kappie keer die reën of die seesproei weg. Ek het gewone langbroeke – vir uitgaan en begrafnisse. Andersins dra ek jaar in en jaar uit skinny jeans. Ek koop sommer baie op ‘n slag wanneer die maer mode verbykom. En ek besit twee jasse (donkergrys en bloedrooi) wat ek vyf jaar laas aangehad het. Ek hou van jou baadjies en jas, maa ek dink ek sal sterf van hitte-uitputiing as ek dit hier moet dra.

    Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.