My kinders se sêgoed

Ek lees gister Kameel, een van my blogvriende, het haar kinders se sêgoed neergeskryf.

Genade tog, ek wens ek het. Want mens vergeet baie van die oulike goed waarmee hulle vorendag gekom het. ‘n Paar daarvan steek tog in mens se kop vas.

Daarom gaan ek dit sommer nou vaspen!

Dollatjie was nog baie klein toe ek met haar oor iets geraas het en sy besluit het dat sy genoeg van die kwaai ma gehad het.

Sy het haar tassie gepak en vir my gesê sy gaan by my vriendin bly. Ma is te kwaai!

Ek het saam gestap hekkie toe, oopgemaak en die hekkie bo toegemaak. Ingegaan en haar angstig dopgehou. Sy het gestaan en wik en weeg en toe geroep. Sy wil liewer by my bly. My liefste dollatjie het toe darem tog haar ma gekies.

Welkom is op ‘n plat stuk aarde gebou. Die plat aarde maak dit moeilik vir ‘n atletiekjuffrou om haar atlete te oefen. Maar daar is darem ‘n brug of twee oor treinspore. Ek het dan bo gestaan en die atlete moes aan die een kant op en die ander een af. Om bietjie bultwerk te doen.

Baie van my herinneringe is aan die enkele hoër plekke van Welkom verbonde.

As jy van Kroonstad se kant af van die N1 afklim om daarheen te ry, sien jy die stad se liggies van ver af. Omdat dit so plat is.

Jy sien ook van ver af die enkele koppie by Riebeeckstad, ‘n voorstad van Welkom. Die koppie is aan die linkerkant van die pad. So alleen dat sy naam Koppie Alleen is! Hoe gepas.

My kinders was in Koppie Alleen Laerskool, die beste laerskool in Welkom.

En jy sien aan die regterkant een massiewe mynhoop. Wat oor ‘n stuk aarde strek. Al langs die pad Welkom in.

My dollatjie was nog baie, baie klein toe sy wou weet hoe die mense geweet het dat mens die mynhoop daar kan maak. Want dit lyk baie swaar!

Ek was absoluut verras. Manlief is mynbou-ingenieur, werk ondergrond, mynhope is sy lewe. En ek het Geografie 3, was al jare lank deel van die myngemeenskap. Het soontoe getrek voor sy twee was. En ek het nog nooit daaroor gewonder nie.

Toe ons die aand vir pappa vra, het hy verduidelik dat sy baie slim dink. Want mens kan nie ‘n mynhoop op enige plek maak nie! Hierdie juffrou met Geografie 3 agter haar naam moes dit tog kon weet?

Ons het baie getrek, mynbouman se vrou se lewe. As manlief verhoging kry, moes ons na nuwe huise trek. Die meeste daarvan was in Welkom, Virginia en Riebeeckstad.

Die kere wat ons in Virginia gebly het, was so bietjie nag. Dollatjie het in Welkom ballet. By juffrou Cathy Baskerville. En mens mag nie laat wees nie.

Die pad was toe nog ‘n enkelpad. Ek moes by die laerskool stop en haar oplaai, by die kleuterskool stop en boeta oplaai en twee-uur by die stadsaal in Welkom wees.

En daar is so tussen Welkom en Virginia ‘n brug. Reg geraai, vir ‘n trein. Ons was op die brug, toe dollatjie besluit sy dink haar deur is nie toe nie. En dit oopmaak om dit weer toe te maak!

Ek het my buite my verstand geskrik. Gegryp en gestop. Omgeloop en die deur mooi toe gemaak. Ingeklim en geraas!

Het jy breinskade?

Ek weet, dit is iets vreesliks om te vra. Ek skaam my nou nog daaroor.

Boeta, wat agter gesit het en nog nie al die woorde geken het nie, het dit met kleur verwar en bygevoeg:

Of groen skade? Of blou skade?

Dit was so vrek snaaks dat ek van kwaad vergeet het en Dollatjie van huil. Ons het gelê soos ons lag.

Nog ‘n herinnering aan ‘n brug in Welkom. Skat my ek het die golwende heuwels van Ermelo gemis toe ons in Welkom gebly het. Die laaste brug waaroor mens ry as jy in Koppie Alleenstraat na Riebeeckstad ry, het ook ‘n herinnering.

Ja, jy lees reg. Die hoofstraat in Welkom in se naam is ook aan die alleenstaande koppie verwant. Ons was op pad huis toe, ons het toe in Riebeeckstad gebly. En was op pad huis toe. En toe speel ‘n liedjie van Michael Jackson op OFM.

Black and White.

Ek sê toe vir die kinders sy sing mooi. En hulle lag hulle slap. Regtig ma? Daai is nie ‘n tannie nie. Daai liedjie herinner my elke keer aan my onkunde!

Toe seun skool toe moes gaan, het sy pa ‘n werk in die groot stad aanvaar. Ek was toe ‘n dosent aan Vista Universiteit, Welkomkampus.

Die besluit om stad toe te trek, was nie moeilik nie. Dit was 1994.

Die studente het daardie tyd vreeslik getoi-toi. Die kampusdirekteur se kar omgegooi en aan die brand gesteek. Dit was nie meer veilig om daar te werk nie.

Ons het Benoni toe getrek. Daai kant van die stad is baie Engels. Net twee Afrikaanse laerskole in ons voorstad.

Een daarvan was Reynfield. Ons het gehoor dit is die beste een van die twee.

Ons het by die skool gestop. Dit was pouse. Die kinders was buite. Die seuntjies het roesbruin safaripakkies gedra. Met roesbruin truie. Met seegroenstrepies.

Seun het hulle so gekyk en afgehaak met:

Ma, ek toi-toi soos ma se studente, daai klere gaan ek nie aantrek nie.

Ek het gelê soos ek lag. Siestog, ek moes met hom saamstem. Roesbruin safaripakkies met turkois truie. Wat ‘n kombinasie vir ‘n ou seuntjie?

Hy en dollatjie is egter in hierdie skool ingeskryf. En die duur skoolklere was skaars gekoop toe die skooldrag verander. Ek het nooit gevra nie, wonder of hy toe getoi-toi het?

Seun het ook veeeslik baie stories skool toe gedra. En dan het sy juffrou dit geniet om dit van die verhoog te vertel. Met skoolkonserte.

Een daarvan was:

Ek is my pa se bul, ek kan maak wat ek wil.

Jitte tog, dit was ongemaklik! Ek was die hoërskooljuffrou, almal het my en my man geken omdat hy op die myn was. En nee, hy kon beslis nie tuis maak wat hy wil nie. Al was hy ons baba. Ons is baie streng oor maniere, daarom is dit so lekker om te sien dat ons kinders steeds maniere het!

Dollatjie het iewers in die laerskool met sinne huis toe gekom.

My ma slaan my pa!

Ek sal dit nooit waag nie, my man is twee keer so swaar soos ek. En gespierd. Ek twyfel nie daaraan dat dit nie goed sal afgaan as ek wel aan hom slaan nie.

Ek het hom wel soms op die arm getik as hy snaaks is. Of hom snaaks hou. Maar dit was vir die pret. En sy het dit as slaan ervaar.

Ek sê toe net: Genade Dollatjie, jy kan mos nie sulke goed skryf nie. Juffrou sal jou glo.

Onthou, ek is ‘n taaljuffrou. Ek sou glo!

Die aand kom manlief se vriend sy aanstaande vrou voorstel. Ook ‘n juffrou. Ook ‘n taaljuffrou. Daarom vertel ek die staaltjie oor. En snip chip en las by:

Ja, tannie, en my ma sê mens praat nie daaroor nie!

Ek het nog min in my lewe so gewens dat die aarde my asseblief tog net moet insluk. Hoe gaan mens met die gesprek met ‘n vreemdeling aan? Ons is darem steeds vriende.

En nou wens ek ek het alles neergeskryf. Daar was op die vloerkruipvandielag oomblikke in ons gesinslewe. As die kinders iets snaaks kwytraak. Ek gaan dit probeer onthou. Om ook neer te pen.

13 comments

  1. Is dit nie die heerlikste onthou nie. Ek weet nie of ek ooit enige geselskap meer as kindergeselskap geniet het…. of meer gelag het as in kindergeselskap nie.
    My kleinseun in graad 6 kom nou met eksamentyd elke dag vanaf 10 uur by my leer. Eergister geografie, gister Afrikaans…. jy moes eerder hier gewees het want liewe hierdie ouma moet baie dinge google.

    Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.