Gepubliseer in Reisjoernaal,Resepte,Tegnologie

Thermomix resep vir hamburger rolletjies

Kan jy raai dat daar ‘n land is waar nie baie van die mense hamburgers eet nie? Daarom is hamburger rolletjies ook nie te koop nie. Wel, daar is. Qazaqstan.

Dalk is dit anders is die ou hoofstad (Almaty) of die nuwe hoofstad (Nur-Sultan). Maar in Ust is hamburgers so skaars soos hoendertande.

Hier is twee burger restaurante waarvan ek weet. Een wat piepklein burgers maak. Naby Mustay winkelsentrum. En Burger Club.

By Burger Club verwag mens Engels en Hanburgers. Toe nie. Hulle verstaan nie Engels nie, die menu is in Russies en … jy kan ook daar aankom, burger bestel van die menu af en wag. En dan kom die kelner terug en sê dat gamburgers eers na twee beskikbaar is. Gee die menu en vra dat jy iets anders kies

Regtig? Dan moet daar mos verskillende menu’s wees. Want mens is besonder teleurgesteld as jy so ‘n antwoord eenuur in die middag kry. Hier is kantore se middagetes van 12 tot 1. Wie gaan twee-uur terugkom vir ‘n hamburger?

Ok, goed. Jy sal dalk. Maar nie manlief nie. Hy sit soos beer met seer tand, bestel vriess of slap chips en eet lang tand daaraan.

Want hy mis Suid-Afrika. Hy mis om in Engels presies te bestel.

Hy mis Wimpy burgers. Hy mis dit om by soveel plekke in te kan stap on ‘n hamburger te koop. En hy mis brood! Hier kan mens ‘n broodrolletjie koop, by die huis kom en enige iets daarbinne ontdek. Van fyngedrukte aartappel tot sjokolade tot konfyt!

Die burgerrolletjie self kan mens in geen winkel koop nie. Ons het wel by een stalletjie gekry, bevrore. Gekoop, apart gevries en hy het spaarsamig geëet. Daarna het die ou elke keer, nadat ek op Google foto’s moes soek om te wys wat ek soek, net sy skouers opgetrek. Hy weet nie wanneer hy weer die hamburger buns in sal hê nie.

Wat doen ek dan? Ek het al vertel dat hy vir Thermie saamgebring het. Ek soek dan ‘n resep. En speel met resepte. Tot ons die regte een ontwikkel het. Om hamburger buns te maak.

Hier is my resep. Dit maak 12 baie groot rolletjies. Jy kan dit kleiner maak. Om meer te maak. Jy kan die resep ook volg om met die hand te knie. Sal net langer knie.

Bestanddele vir die rolletjies

  • 5 g sout, kan tot 10 vermeerder
  • 700 g koekmeel
  • 10 g droë gis
  • 15 g strooisuiker*
  • 5 g heuning
  • 400 g louwarm melk
  • 50 g botter
  • 50 g sesame saadjies
  • 20 g koue melk om te versier

As jy nie strooisuiker het nie, kan jy dit self met die Thermomix maak. Gooi suiker in die beker, en Turbo 3 of 3 keer.

So maak mens

Stel die oond op 200 C

Meet die droë bestanddele met die ingeboude skaal in volgorde in die beker in. Die sout en gis moenie mekaar raak nie.

Stel die Thermomix as volg op:

  • Tyd: 5 sekondes
  • Spoed 10

Voeg die botter by. Stel masjien as volg op:

  • Turbo (2 of 3 keer)

Bestanddele moet soos broodkrummels lyk.

Voeg die melk en heuning by en stel masjien as volg op:

  • Tyd: 30 sekondes
  • Spoed: 10

Maak oop. As die meel te taai is, moet jy bietjie meel bygooi en weer meng. As dit te droog is, moet jy bietjie melk bysit en weer meng.

Stel masjien op dough om te knie en knie 3 minute lank.

Die deeg sal elasties wees en effens aan die beker vasplak as dit perfek is. As dit gemaklik uitval, is dit perfek.

Gooi deeg in ‘n diep plastiese bak met styfpassende deksel en laat rys op ‘n warm plek tot dubbeld die grootte, so uur lank. As jy nie so bak het nie, kan jy cling wrap gebruik om ‘n bak toe te maak.

Knie plat en verdeel die deeg in 12 ewe groot balletjies. Sit elke balletjie op ‘n bakplaat wat met waspapier gevoer is. Druk die plat en laat op warm plek staan om weer te rys.

Smeer melk liggies oor die rolletjies, moenie druk nie.

Strooi sesame saadjies oor die rolletjies. Gebruik ‘n kwassie as jy wil.

Sit in oond op die middelste rak en bak vir 10 minute. Hou mooi dop, kan gouer mooi bruin en gaar wees.

Wees net gewaarsku. As manlief hierdie rolletjies eers gewoond is, gaan jy weekliks moet bak. Dit vries mooi.

Ek wag tot die rolletjies koud is, dan sit ek elkeen in sy eie sakkie en vries dit vir volgende keer. Ek haal dit dan uit, laat op kas staan om self te ontdooi en sit dit vir 30 sekondes in die mikrogolf om dit warm te maak. Proe elke keer, volgens manlief, of ek dit so pas uit die oond gehaal het.

Foto: Die ene sommer gister gou geneem terwyl ek maak om vir manlief werk toe te vat. Hy hou van daardie snytjies kaas wat apart verpak word en tuisgemaakte hamburger patty op die broodjie. Geen tamaties of blare nie, hy is volgens homself nie ‘n bok nie. Ek sal later met mooi foto vervang.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

31 gedagtes oor “Thermomix resep vir hamburger rolletjies

  1. Ek het nooit gedink dat iets soos ‘n hamburger so vreemd sou wees nie. Dit is gaaf dat jy nou julle eie brood rolle kan bak en selfs die vleis patty maak.

    Like

  2. Jou foto is pragtig. Dalk is Kazakstan te ver van Amerika af. 😂 In die Pink Panther gaan die ou Amerika toe en was sy grootste opwinding dat hy ‘n hamburger gaan eet.

    Like

  3. Is fantasties dat jy die ware jakob kon optower met Thermie! Dis nogal verbasend hoe maklik ‘n mens dit as vanselfsprekend aanvaar dat ‘n hamburger wêreldkos is net om agter te kom dis nie die waarheid nie!

    Like

  4. Jip…snaaks genoeg is dit in SKotland ook die koningskos….elke liewe pub het soup of the day….en dis flippin lekker ook! Nie net groente of boontjies sop nie…interessante smake gekombineer. Soos die Golden beetroot sop wat ek geëet het…goudgeel met die beetsmaak. Het nog nooit sulke lekker sop gehad nie!

    Like

  5. Hierdie ondervinding met hamburgers gee my n idee om oor te skryf. Dis erg dat jul nie hamburgers daar kry nie. Gelukkig is jy heel vaardig met die bak en brouery. Hier kry mens bv gladnie wors soos in boerwors nie. Dis die aakligste klomp goed waarmee hul hier wors maak wat gladnie wors is nie.

    Like

    1. Hi Scrapy, hier is ook nie wors te koop nie. Wel sulke massiewe goed wat so dik soos polony is en wat van perdevleis gemaak word. Ek kap om voor ek perdevleis eet. Dus maak ons ons eie wors. Help dat my pa ‘n slaghuis gehad het.

      Like

      1. Goed jy weet van vleis! Daardie worse is grillerig. Selfs meeste van hul “patties”in die hamburgers is van onbekende dele gemaak. My seun het ook sy eie biltong kas gemaak wat heerlike biltong al opgelewer het. Dan is die Kentucky chicken hier so onsmaaklik dat dit mens skoon naar maak. Ek moes ook aan hul brood gewoond raak want hul het hier n “whole meal” meel waarmee die brood gebak word wat netso taai en klouerig is as mens dit eet.

        Like

          1. Dan moet die redigering gebeur en n boek saamgestel word as jy wil. Dit gaan eintlik meer om n skryfgewoonte aan te leer en te wys dat dit gedoen kan word. In my geval werk ek aan my memoirs en het my eerste boekie reeds uitgegee. Dis my eerste ses jaar in Nederland tot ons na SA vertrek het. Nou moet ek my tweede deel doen wat ek verlede jaar gedurende NaNoWriMo geskryf het. Ek het reeds halfpad klaar uitgesorteer en agter mekaar gesit. Besig met hoërskool deel nou. Dan kom die maniskrip saamstel. So volgende jaar Desember hop ek om hierdie jaar se deel te boekstaaf.

            Like

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.