Ek sukkel nog so bietjie om te verwerk dat die mense hier dink dat ek van Russiese afkoms is.
Want dit skep ‘n probleem. Hulle stop my op straat en vra my vrae. Die verkeerspolisie ignoreer manlief en praat met my. Want ek lyk soos ‘n Rus. Sê hulle.
En ek het geen benul wat hulle vra of wil weet nie.
Dus gebruik ek een van my enigste Russiese sinne om uit die situasie te kom.
Ja ne panêmajo PoRuskie?
Ek verstaan nie Russies nie. Dit help nie altyd nie.
Die een vrou het na Qazaq oorgeslaan. En gevra of ek Qazaq verstaan. Ek moes toe maar net sê jy Njet, want daai moeilike taal verstaan ek nog minder. Omdat ek die klanke reg uitspreek, dink hulle ek jok.
So staan die vrou met ‘n kind langs haar vanoggend in die reën. En keer my voor.
Want ek was op pad na manlief om sy totaal geheel en al tuisgemaakte hamburger te vat. Sy sambreel was tuis. En dit het gereën.
En toe staan sy voor my in die paadjie. Praat met my. Vra my iets. En ek besef wel dat sy verdwaal is. Maar wat sy vra weet ek nie. My enkele sin wat verduidelik dat ek nie weet wat sy sê nie, help niks. Sy bly praat.
Die kind kyk my verras aan. So hoe verstaan jy nie? Vra sy gesiggie. En ek verstaan. Hy dink ook ek is ‘n Rus. En hoe kan ek die taal nie praat nie.
Ek trek my skouers op en sy sê:
Как путь нет?
Toemaar sy het my nie gevloek nie. Ek ken как, dit beteken hoe. En ek ken нет, uitgespreek as njet, wat nee is. Maar wat is путь, uitgespreek as poet?
Tuis moes ek kom opsoek, die woord beteken weg. Of pad. Google Translate help nie so baie nie. Die eerste twee woorde vertaal na: How is the way? Wat beteken dat ek reg is, sy wou weet eaar iets is.
Njet is nie, dus het sy net gestel dat ek die pad nie ken ie.
Shame! Ek ken die plek nogal. Weet waar baie goed is. Maar as ek nou nie verstaan wat sy vra nie, kan ek nie help nie.
Wil ek na gister ook nie probeer help nie.
My suster se seun het gevra dat ek vir iemand by sy werk ‘n Russiese hoed saambring. Dus is ek winkels toe om een te gaan koop.
Oulike hoede (eerste foto). Dit lyk soveel anders as van ver af. Die buitekant is van leer. Die binnekant opgestop. Twee pelsstroke vir die ore, wat opknip as mens dit nie nodig het nie.

Die nek se pels vou ook oop om die nek warm te hou. Julle wat nie tande het nie, ek soek so hoed. Vir ‘n vrou. My nuwe doel is om so een in vroulike vorm te kry. Ek het al foto’s gesien.
Die kassier is maar ongeskik, ek pla terwyl hy besig is. ‘n Ouerige man kom staan by my. Vreemde houding. Wys na die hoed in my hand en sê: мужчин (moezhchien), man.
Ek skud my kop op en af. Ja, ek weet. Wonder of hy nog nie gesien het dat ‘n vrou iets vir ‘n man koop nie. Want hy hou aan praat en beduie.
Ek wys na die muur waar ek die hoed afgehaal het. Dalk wil hy weet waar ek dit gekry het. Hy loop na die muur, kyk na die hoed en kom praat met die kassier.
Dan weer met my. Ek sê my Ja nê panemajô poRuskie! En hy hou aan praat. Beduie ek is poRuskie. Ek skud my kop. Hy bly praat. Niks klink soos iets wat ek ken nie.
Dan sê die kassier ek is Angleski (Engels). Dit is na aan reg. Ek kan Engels praat, maar ek is Afrikaans. Die man kyk na my en sê dan Njet, ek is nie Engels nie. Wonder hoe lyk ‘n Engelsman vir hom?
Dan sê hy Arabski? (arabier?). En ek verstaan want my donker hare en blas vel maak my seker ‘n Arabier as ek nie ‘n Rus of Qazaq is nie.
Ek sê South Africa, maar hy raai alle ander lande. Ek wil die man van my rug af hê, maak my foon oop, soek Google maps, soek South Africa.

Hy kyk saam, vra Botswana? Ek is verras, Botswana wys nie op die kaart nie. Suid-Afrika staan in groot vet letters. Ek wys South Africa.
En liggies gaan op.
Mandêla, vra hy sag.
Ek sê Da (ja) en wil loop. Het klaar betaal. Hy is nie klaar nie.
Afrikanô? Vra hy. Ek versteen. Nog niemand hier gekry wat weet wat Afrikaans is nie. Ons is die enigste Afrikaanssprekende mense in Ust. Waarvan ek weet. Hy ken nie Suid-Afrika nie, maar ken Afrikano!
Hoe maak die Rus of Qazaq die konnotasie? Mandela en Afrikanô? Wat dink hy van ons? Ek sukkel nog om die nuwe inligting te verwerk, toe hy harder vra. Boer?
Ek jok nie. Net so. Afrikaner. Boer.
Ek het weer da gesê, want ja. Ek is Afrikaner.
Hy en die kassier het gebrabbelpraat. Ek het die vreeslikste gevoel van gevaar gekry. En my uit die voete gemaak.
Want ja, die woord boer word die afgelope paar jaar in ongunstige konteks in Suid-Afrika gebruik. Hoe het dit in sy woordeskat beland?
O liewe Christa jy beter vinnig Russies leer praat netnou beland jy in Russiese sop.
LikeLike
Ek dink ook so
LikeLiked by 1 person
Het nogal onveilig gevoel
LikeLiked by 1 person
Skêrp, Kameel. Flymskêrp.😅
LikeLiked by 1 person
Stem Una!
LikeLike
Skerp. Ai. Spelling.
LikeLiked by 1 person
My skerp opmerking, lyk my het verdwyn. Ook beter so, want daar was twee spelfoute in!🙊
LikeLike
Ek kyk gou.
LikeLike
My vingers maak ook foute
LikeLike
Hierdie was ń spelfout! Nul vir juffrou.🙈
LikeLike
Ons maak almal foute.
LikeLike
Nee Kameel cyn en dit is nie wyn wat verkeerd gerik is nie, cyn is sop
LikeLiked by 1 person
So, jy ken Russies? Is ja, суп is sop.
LikeLike
Njet, ja ne panêmajo PoRuskie? Nee glad nie. Ek het die woord opgesoek vir die snaaksigheid
LikeLike
Oulik.
LikeLike
Sjoe,dis nogal skrikwekkend!
LikeLike
Jò…werk google translate of ander apps nie. Hier in China help dit veral as mens iets wil koop. Die meeste kinders weet baie meer van Engels af as die volwassenes hier…
Leer daai Russies…dis maar die veiligste en beste…Nastarovia..😁
LikeLiked by 1 person
Sal net moet.
LikeLike
Wees versigtig.
LikeLike
Dink ek was verniet bekommerd. Het net baie vreemd gevoel.
LikeLike
Ai ai dit klink onlekker. Wees veilig asb!!
LikeLike
Dankie Bondels, was op daardie oomblik baie sleg.
LikeLike
Lyk darem asof jy so bietjie kan skryf al, dis ‘n begin.
LikeLike
Ken die alfabet, help om te skryf wat ek hoor.
LikeLiked by 1 person
Sjoe. Hare rys op my arms.
LikeLike
Ek was nogal gegooi. Maar dink ek was onnodig bekommerd. Dankie.
LikeLiked by 1 person
Na jou vorige blog omtrent die hamburgers, het ek jou voorbeeld gevolg en vir my gesin hamburgers gemaak. Hulle was gek daaroor. Nou wil hulle nie meer hamburgers by die strandkafee gaan eet nie – hulle soek huisburgers. Sterkte met jou Russiese taalstryd. En die koue.
LikeLike
Ek verstaan daai ene Hester. Ons eie kos het net eie smaak daaraan. Ek skat dit is omdat dit met liefde gemaak word?
LikeLiked by 1 person
Dit moet net dit wees.
LikeLike
Ek is mal oor die woord! Huisburgers. Selfs Tuinburgers kan werk
LikeLiked by 1 person
Ai toggie Christa…miskien moet jy jou hare blond kleur…..en as iemand met jou praat, dan sê jy Ich liebe dich (??) Nee jong, jy sal maar moet vasbyt en leer….
LikeLike
Ek sal beslis moet leer. En baie vinnig ook
LikeLike
Dalk is dit omdat belangstelling is by Suid Afrikaanse boere is om na Rusland the verhuis. Maybe it was a term of endearment. https://www.iol.co.za/news/world/why-russia-is-wooing-sas-white-farmers-17225593
LikeLike
Dit is waar. Die man se houding het my laat skrik.
LikeLike
Jy is dapperder as ek wat in die Noord Kaap gebe is en groot geword het, Hier by 15 grade Cesius begin ek die motballe uit die winterklere skud
LikeLike
Ag oulik! Koud is relatief. Maar ja, ek dink ook ons is braaf.
LikeLike