Om in temperature kouer as my vrieskas te oorleef

So drie jaar gelede kyk ek so na Nico Veltman, ‘n skoolvriend wat in Amerika bly, se foto’s op Facebook. Sneeu net waar jy kyk. En ek dink so by myselwers. dankie, maar nee dankie! Daar sal ek nie gaan bly nie. Ek hou van koel, vrieskastemperature is egter om vleis vars te hou. Te keer dat die bloed uit die vleis tap. Ek het ‘n vel wat daardie funksie verrig.

Ek en Nico was van standerd 6 tot matriek saam op skool, die laaste drie jare saam in meneer Hoek se Aardrykskunde klas. Ek wil my verbeel dat hy in standerd 8 die beker gekry het vir die beste student op HG en ek op SG, toe verander ek na HG en verdien die beker vir die beste Aardrykskunde student in standerd 9 en matriek. Standerd nege omdat daar geen matrieks was nie, toe moet ek die prys op die vorige jaar se matrieks se verhoog gaan haal. Ek wou my doodskaam van verleentheid.

Toe kyk ek ook na die foto’s wat my kollegas op die AePR se redaksie gedeel het terwyl ons vergadering hou. Hulle sit en bewe en ek sit met somerskleertjies.

En sê vir beide partye dat ek nie in so ‘n koue land sal bly nie. Nooi nie, nee dankie. Ek hou van Suid-Afrika se koed, leefbaar koud.

Famous last words! Soos gewoonlik.

As ek sê dat my man kan eendag enige werk doen, behalwe om op die myn en evral ondergrond te werk, steel ‘n mynbouman my hart op Tukkies.

As ek sê dat ek nooit weer gaan studeer nie, maak die lewe ‘n draai en as ek weer sien, het ek ‘n PhD gedoen. En later my juffouskoene vir die van navorser verruil. Goed, ek moet bieg, dit is half te verstane, ek was nog altyd gek oor take, hierdie selfopgelegde werk is nie veel anders nie.

As ek sê ek is te bang om ‘n verdere hoofstuk vir die Towerinne se blog te skryf, daag hulle my uit. En doen ek dit. Met ‘n kol op die maag. En staan ek verras as gesoute skryfsters laat weet dat ek goed gedoen het. Dit was een groot stresvolle ervaring!

As ek sê ek sal nooit in so ‘n koue land gaan woon waar Nico woon nie, trek ek juis na ‘n land met soortgelyke temperature. En nou vergelyk ons twee ons twee se aangenome lande in verwondering. Vergewe ons, ons is Geograwe, het saam in meneer Hoek se klas gesit. Toe was dit nog Aardrykskunde. My gunstelingvak. Was dit joune ook Nico?

Ons het in Januarie kom kyk hoe dit in Qazaqstan, toe nog bekend as Kazakhstan lyk. Ek was eers opgewonde, het nie geweet waar die land is nie. Want sien, toe ek Geografie gehad het, was Qazaqstan nog agter die ystergordyn versteek. Deel van Rusland. Die land het eers in 1991 onafhanklikheid van Moeder hen verklaar.

Ek het my asvaal geskrik toe ek die toep dophou en sien hoe dit net kouer en kouer word. Totdat dit -38C was toe ons einde Januarie 2019 hier geland het. Ek het geGoogle, raad gesoek, geluister en nie koud gekry nie.

Toe het ek met die kinders gespot. Subzero is koud, maak nie saak hoeveel onder zero nie.

Vandag wil ek daarvan verskil. Ek sweer hulle meet verkeerd. Want -3C is belaglik koud. Ek kan sweer dit was drie weke gelede nie so koud soos gister nie. En toe was dit -11C.

Toe het ek en manlief in die nag van sy kantoor af huis toe gestap en en toe het ek nie soos ‘n vis in ‘n vrieskas gevoel nie.

Ek het gesien hoe dit kouer word en die Russiese klas na ‘n koffiewinkel onder in ons gebou geskuif. Toe maak die plek eers tienuur oop. En moet ons ‘n ander een gaan soek.

Polina, die meisie wat my Russies gaan leer, kyk op 3GIS, iets amper soos Google Maps en kry koffiewinkel wat oop is, so 7 minute se stap volgens haar. Toe nie, ons het baie langer gestap. En ek het ‘n swaar rekenaarsak gedra.

Met ‘n romp bokant die knie en sykouse van bamboes wat kastig warm is. En lekker warm jas tot op die knieë. Die gaping tussen die romp se soom en my enkelhoogte warm stewels het egter verkluim.

My bene het gevries. Bamboessykouse en al. Mens kom dit nie agter nie. Jy voel net die koue teen jou been. Soos ‘n sakkie wat uit die vrieskas gehaal is. Nie so klamnat soos daai sakkie nie, net ‘n koue streling wat nie wyk nie. So het Racheltjie de Beer seker ook nie agtergekom dat die koue mens kan doodmaak nie.

Toe ek weer tuis is, het my bene half lam bokant die knie gevoel. En toe ek die sykouse uittrek, was dit rooi. Rooi van die koue. Rooi kniekoppe. Bloedrooi, wat sukkel om warm te word.

‘n Serwiese Kanadees wat hier wil kom werk, vertel nou die dag dat hy met gewone skoene na ‘n deel in Kanada is waar dit gesneeu het. Soortgelyk aan hier by ons. En sy voete se senuwees is so beskadig dat hulle nou koud kry, al is dit warm. Genadiglik is ons van warm skoene vertel. Gevoerde skoene. En dan sit jy nog ‘n sool van kameelhaar ook in. Om die koue van die voetsole weg te hou.

Hier is die mense volgens my na aan koekoes. Want sien, hulle dra nog nie winterjasse nie. Kyk my half vreemd aan met my jas. Soos vandag. Want ek het die valspels ook om die kraag teruggesit. Die kraag is te koud teen my gesig daarsonder.

Vir hulle wil ek net een ding sê, dit is belaglik koud.

Soos ek geskryf het, ek dink die mense meet die temperatuur verkeerd.

Vir my voel -3C kouer as -11C en beslis baie kouer as wat ek -38C onthou. Hoekom? Dit sal ek nou nie kan verklaar nie.

Dalk het ek toe anders aangetrek?

Ek onthou skibroeke en sykouse is saamgebring om onder langbroeke aan te trek. ‘n Warm onderbaadjie en vest om onder my bloes en jas te dra. Die onderbaadjie is eers uitgetrek as ek by die tafel gesit het. Die jas kon hulle maar by die deur vat en vir my ‘n nommertjie daarvoor gee. Maar nou is dit mos nie so koud nie. En as ek so aantrek, hoe gaan ek moet aantrek wanneer die temperatuur na -38C daal?

Ek het genadiglik warm stewels aangehad. Die is reeds in Januarie gekoop. My voete was darem warm. Toe en nou.

Maar my knieë het vandag vreeslik koud gekry. Het gewonder waarom kuite en skene nie ook gekla het nie. Waarom net die deel bokant my knieë? Tot ek gisteraand gaan slaap het. Die seer gevoel in my bene het wel getuig van ontbering. Dit het seker dieper as die knie koud gekry.

Dit terwyl drie weke gelede se sneeu al lankal weer gesmelt het. Toe was die aarde hier onder lae op lae sneeu weggesteek. En kon mens die koue begryp.

Ek kan nie dikker aantrek as wat ek op die oomblik aantrek nie. Ek wil omkap van die hitte as ek in sommige van die winkels instap. Sweet tap my af, die serp en mus word afgehaal om asem te haal. Die jas oopgeknoop en later sommer uitgetrek en oor die arm gegooi. Dan is daar nie plek vir enige iets anders nie.

Sommige winkels het kassies as jy instap. Dan kan jy die ekstra gewig daar laat, sleutel saam met jou vat en jou goed weer kry as jy uitstap.

Genade tog, ek voel eers die hitte as ek rukkie in die winkel is. Dan is ek nie lus om terug te gaan om alles daar te bêre nie. Die kooplus verdwyn eerder soos mis voor die son. Al waaraan ek kan dink is om uit te kom. En ja, kan jy glo? Uit in die straat waar jas en mus en serp noodsaaklik is! Maar waar ek nie te warm kry nie.

Jy sal nie sommer vergeet om jou jas te gaan haal nie. Die koue slaan teen jou vas en wil by elke sweetgaatjie ingaan as jy ‘n stukkie vel ontbloot. Die jas en serp en mus sal nie in die winkel agterbly nie.

Ons restaurante het weer, soos ‘n paar maande gelede, bemande kamertjies. Waar jy eers moet stop om jou jas in te handig. En ‘n nommer kry om jou jas weer terug te kry.

Goeie idee sê manlief. So maak hulle seker dat niemand uitstap sonder om te betaal nie. Jy moet nog eers staan en wag om weer jou jas te kry.

Nie dat ek dink dat die mense hier so iets sal doen nie. Hulle is baie, baie wetsgehoorsaam.

Drink nie as hulle gaan bestuur nie. Die 0% toleransie word afgedwing, jy kan selfs jou lisensie verloor. Ry 40 waar hulle 40 moet ry. En so aan. Hier is dit veilig. En ek kan raai waarom.

As dit nie so vrekkoud vir groot deel van die jaar is nie, sal ek nogal hier wou kom aftree en oud word. My kinders en kleinkinders hierheen wou bring. Om te voel hoe dit voel as kinders veilig in parke kan speel. Soos toe ons kinders was.

Hierdie koue is egter nie maklik nie. Dalk sal ek na ‘n rukkie van mening verander. As ek aan die begin van die winter gewoond geraak het. Herfs wil nog nie laat gaan nie. Dus is dit hier sommige dae baie warm en ander baie koud.

Dit was dalk makliker om in ‘n ysige land neergesit te word. En geleidelik te voel hoe dit warmer word.

Ek kan nie dink dat ek sommer net gou mark toe sal stap as ons by -20C en -30C gaan draai nie. Sal maar manier moet kry om in piepklein woonstelletjie oefening in te kry. Maar, daar is darem goeie publieke vervoer en taxi’s as ek dan moet ry. Dusty staan in haar garage, word net naweke uitgetrek om haar litte te rek. Tans girs-girs sy op die teer in haar winterskoentjies met die staalknoppies.

Na vandag is ek seker mens sal vries sonder dat jy dit agterkom. Eers die vel, dan die lagies onder die vel en dan die are. Tot jy soos Lot se vrou gaan staan, verander in ‘n yspilaar.

Ek kla egter nie. Dit is nie vir altyd nie. As dit was, het ek gekla. baie. Steen en been. Aanhoudend. Tot manlief hoor en my terugvat na ons land toe.

Foto: Januarie 2019 hier geneem toe ons kom kyk het hoe dit is. Dit was die tuin van een van die huise waarna ons gekyk het. Ons het op woonstel besluit, manlief sou elke oggend eers die paadjie moes skoonmaak voor hy werk toe kon ry. Of nee wag, dit sou naweke gedoen moes word, omdat hy in die week op- en afgelaai word.

Groete uit ‘n koue Oskemen. Ons gaan gelukkig kersfees huis toe!

16 comments

  1. Sjoe, ja nee. Dit gee nou nuwe betekenis aan my gesegde van mens kan aantrek tot jy warm kry, maar jy kan nie uittrek tot jy koud kry nie….daar vlieg my gevleuelde sêding sommer met die wind weg! Want dit klink my regtig dat mens ook nie kan aantrek tot jy warm kry daar in sneeuland nie!

    Like

  2. Het jou ma jou nie geleer om nie “ek sal nooit….” te sê nie. Dis presies soos dit werk…. daar word net vir daardie woorde gewag, en daar gaan jy in die presiese rigting. Hou maar die koue daar doer bo, ons sukkel met die hitte hier. 😊

    Like

      1. Ek sê nie meer daardie woorde nie. Nog elke keer wat ek dit met mening gesê en bedoel het, het presies daardie ding gebeur. Not to worry ek is nie bygelowig nie…. net vir my eienaardig dat dit so werk.

        Like

  3. Christa, deesdae pyn my bene soms sonder rede… Wat dink jy sal van my word as ek ń paar dae vir jou kom kuier!!!! Dalk rolstoel?🙄🙈🙈🙈

    Like

      1. Sodra my skip geland het, Christa, klim ek op daardie vliegtuig.xxx Ek bring dalk nog ñ paar bloggers saam.

        Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.