Gepubliseer in Akademies,Joernaal

As ongeskiktheid tuis gekweek word …

Ek lees nou die dag ‘n blog raak waarin videos van twee baie klein kindertjies gedeel word.

In die eerste een is die seuntjie in gesprek met sy ma. Oor iets wat hy verkeerd gedoen het. My eerste reaksie daarop was dat dit nie snaaks is nie. Hy praat sy ma dood nog voordat sy haar sin kan voltooi. Noem haar op die naam. En verwag van haar om stil te bly as sy praat. Hy doen nie? En iewers moet hy tog geleer het om sy ma te Linda Honey. As hy allesbehalwe mooi met haar praat. Eintlik maak of sy onnosel is.

Niks om oor te lag nie. Maar ek moet seker verkeerd wees? Want die video het, soos hulle in Engels sê, viral gegaan. Duisende mense het daarvan gehou.

In die tweede video is ‘n dogtertjie aan die woord. Afrikaans. Het haar ma help regpak in ‘n stoor. Vreeslik vol stof al hou sy blykbaar van skoon wees. En sy het ‘n speelding ontdek wat sy graag huis toe wil vat. Die ou gesiggie is vol stof en sy probeer haar ma oortuig dat die speelding nie vuil is nie. En dat sy dit huis toe kan neem. Sy aanvaar egter nie ‘n nee vir ‘n antwoord nie.

Weereens is dit nie vir my snaaks nie. Die probleem is dat ook sy nie met respek met haar ma praat nie. Haar ma se woord word doodeenvoudig nie aanvaar nie. Tog moet ek weereens verkeerd wees, die video het ook viral gegaan.

En toe moet ek net die onderwysers in RSA onderwysers, my groep vir Afrikaanse onderwysers, se menings toets. En ek deel die twee, met die byskrif is dit nie oulik nie.

‘n Paar onderwysers het daarvan gehou, maar daar was ook onderwysers wat my stille oortuiging gedeel het.

Dit is nie snaaks nie.

As mens net een kind het en niks tuis het om jou te vermaak nie, dan kan dit seker snaaks wees as jou kind so optree. Die arme kind leer egter verkeerd optree omdat die gedrag ook na die klakamer geneem word.

En daar is dit nie snaaks nie. Dit is nie snaaks as die klas ontwrig word nie. Dit is nie snaaks as kinders nie nee vir ‘n antwoord vat nie. En beslis nie as hulle jou doodpraat nie.

Lees bietjie FB inskrywings in onderwysergroepe. Klasse word ontwrig, leerders ly daaronder. Onderwysers moet meer tyd spandeer aan maniere leer as om vakinhoud te onderrig. En mens word tam, tot die dood toe moeg. Omdat die stelsel ook nie meer toelaat dat ‘n ongeskikte leerder buite staan om af te koel nie.

Nee, ongeskikte leerders en boelies het meer regte as die ander leerders.

Hulle mag veroorsaak dat lesse afgerammel word omdat tyd beperk is. Hulle mag lelik praat, maar onderwysers moet elke woord tel wat uit hulle monde kom.

Hulle mag buite hulle klasse rondloop omdat hulle lieg dat hulle dringend toilet toe moet gaan. Om leerders in jou klas te sms om ook uit te gaan. Tref jy die twee saam buite aan, ver van enige kleedkamers, is jy in die moeilikheid.

Want a) jy mag jou klas nie alleen laat om die kind te gaan soek wat nie terugkom nie en b) as die een buite iets oorkom, is jy ook in die moeilikheid, hy of sy was vir die 40 of 50 minute aan jou sorg toevertrou.

As jy die ongeskikte kind straf, blaas die ouers dikwels op jou nek. En dan verstaan jy waar kom ongeskikte Hannie en Pie vandaan. Kry jy die kind jammer, met sulke voorbeelde in die huis, het hulle eintlik goed uitgedraai.

Dan verander jou houding want jy weet, hierdie verhouding het nie drie bene soos wat ons oo universiteit geleer het nie. Ouer-kind-onderwyser. Want jy kan nie op die een been staatmaak om die kind na volwassenheid te lei nie.

Jy vind dan maniere om tot die kind deur te dring, prys goeie gedrag en ignoreer swak gedrag. En hoop dat jy daarmee ‘n klaskameratmosfeef kan skep waarin alle kinders kan leer.

Die soort rustige klaskamers waarin ek grootgeword het. Toe seuns se boude in die kantoor afgestof is. Ek ken geen man wat kla oor die pak wat hulle op skool gekry het nie. Omdat hulle weet dat hulle daarsonder nie maniere sou geleer het nie. Ons het ‘n hou op die hand gekry en vinnig besluit dit is veel lekkerder om maniere te hê.

Want sien, ek ken geen onserwyser wat ‘n kind straf omdat dit vir hom of haar lekker is nie. Geen een nie.

Ek ken wel duisende onderwysers wat die beroep in ‘n oogwink sal verlaat. Omdat dag nag word in Suid-Afrikaanse klaskamers.

Daar is selfs onderwysers wat vir hulle lewens vrees wanneer hulle skool toe ry. Onderwysers wat gevloek word. Onderwysers wat in sis klaskamer moet raas as daar chaos is. Wanneer een ‘n wind laat en daaroor lag!

Die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel onderpresteer teen die stelsels van ander lande. Lande soos Japan, waar kinders eers maniere leer en later geassesseer word.

Want sien, gedissiplineerdes kan hulle leerproses bestuur. Ongedissiplineerdes kan nie. En dit is juis hulle wat klasse mag ontwrig, sonder om straf te verwag.

In my tyd is seuns enkele kere kantoor toe gestuur, daarna was die hele klas vir maande lank rustig. Tans is elke les vir sommige onderwysers ‘n stryd om oorlewing.

Terwyl ongemanierde kinders die pas aangee.

Ek deel nie die skakel nie, dit is na my mening nie iets wat wyd gedeel behoort te word nie. Hier is wel ‘n skermskoot na die blog waarin die videos gedeel word. Ek het my kommentaar later aangepas.

Dit is mos maar so, train your dragon wanneer dit nog moontlik is. Ek gaan hierdie ouers nie jammer kry wanneer die twee kleintjies tieners is nie.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

16 gedagtes oor “As ongeskiktheid tuis gekweek word …

  1. Ek stem 100% met jou saam, Christa. ‘n Kind se persoonlikheid word nie noodwendig onderdruk wanneer hy gedissiplineer word nie. Respek is een van die waardevolste karaktertrekke van ‘n kind wat ontwikkel moet word. Dit beteken nie dat hulle niks mag bevraagteken nie – wel dat die dit respekvol gedoen moet word. Sulke optrede is nié cure of adorable nie. Dis pleinweg irriterend.

    Like

  2. Twee van my dogters is in die onderwys. En ek snak na my asem as hulle begin vertel van wat hul deurmaak. Een van hulle het ‘n kind in haar klas. As hulle toets skryf, draai hy die papier om en sit en staar tot die toets verby is. Hy skryf nie eers sy naam op nie en handig elke keer die lee toets in. Elke keer as die Ma skool toe geroep word dreig sy my kind omdat sy die slegste onnie is wat die skool nog ooit gehad het. Onderwys is SA is nie meer ‘n beroep nie. Dis ‘n selfopgelegde straf.

    Like

  3. Ek het die laaste twee weke eerstehands by my dogter gehoor van die nagmerrie waarmee hulle te kampe het…geen respek van geen aard. Uit radeloosheid het een onderwyser kinders uitgestuur en toe gaan vandaliseer hulle haar motor!Al wat gebeur is dat hulle “de-merits” kry en die administrasie van al hierdie strawwe neem ure in beslag, waar liewer onderwys gegee kon word. Ek se ook, foeter hom nou dan is die hele storie binne sekondes verby.
    Daqardie disrespek begin van kleins af. Gister gehoor hoe ‘n klein dogtertjie vir haar ma en ouma skree:”Kom julle twee ouvrouens!” Ek sou beslis haar sterre afgestof het.

    Like

  4. My seuns sal dit nie waag om so met my te praat nie. Dit is skokkend wat deesdae vir sommige mense snaaks is. En ja dok, onderwys is chaos in SA. Gelukkig is dit nog relatief hanteerbaar is Eswatini. Maar ek dink die houdings, van die kinders teenoor Onderwysers, steek maar orals kop uit.

    Like

  5. Dit klink of jy tot gister skool gehou het, so raak is die beskrywing van die klaskamersituasie.
    Ons land het baie respeklose mense. Waarom laat vaar die meeste ouers net? Waarom sien ons nie raak as kinders met hulle ouers en broers en susters lelik maak nie?

    Like

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.