Gepubliseer in Akademies,Tegnologie

Persoonlike ontwikkelingsnetwerke

Die mens is nie ‘n eiland nie, selfs al dink sommiges van ons dat ons eerder alleen in ‘n berg wil bly as om deur mense omring te word.

Verhoudings speel ‘n belangrike rol in mense se lewens. Ek lees nou die dag dat ouers wat hulle kinders baie sien, langer leef as ouers wat hulle kinders nooit sien nie. As dit waar is, moet mens aan die gevolge dink wanneer kinders hulle ouers in ‘n land agterlaat om elders ‘n tuiste te vind.

Ek dink egter nie dit is so eenvoudig nie. My navorsing toon wel dat mense wat verhoudings met ander bou om by hulle of saam met hulle te leer beter presteer en sukses behaal as diegene wat hulself afsonder.

En dit is waaroor ek hier wil gesels. Persoonlike ontwikkelingsnetwerk.

Ons bou verhoudings met belangrike ander om toegang te verkry tot die inligting, kennis, ervaring en tasbare bronne waaroor die persone mag beskik. Ook om raad te kry of om ondersteuning en leiding te ontvang. Ek het hierdie sewe soorte verhoudings as persoonlike ontwikkelingsnetwerke benoem.

Persoonlik, omdat elke persoon sy eie ontwikkelingsnetwerk bou. Ontwikkelingsnetwerk omdat hierdie sewe verhoudings gebruik word om te leer hoe om ons werk te doen. Dus dra dit tot persoonlike en professionele ontwikkeling by. Gebaseer daarop is dit belangrik dat elke mens ‘n persoonlike ontwikkelingsnetwerk van gehalte bou.

Gehalte beteken nie dat jy verhoudings met baie mense moet bou nie. Maar wel met die regte mense. Diegene wat oor die regte inligting beskik on jou te help om ‘n probleem op te los.

My onderhoof by Florida Hoërskool het my gereeld daarop gewys dat die vrae wat ek vra se antwoorde in my lêer was. Wie lees geel van die ouderdom dokumente as die bron met die nuutste inligting reg voor jou staan? Dan het ek maar net weer gevra, en die antwoord gekry.

Sulke mense weet nie dat die kennis om werk te doen in die sosiale netwerke in hulle skole versteek is nie.

Ek het, vir my doktorale studies, die geheelontwikkelingsnetwerk van ‘n wiskunde departement van ‘n groot skool ondersoek. ‘n Geheelontwikkelingsnetwerk bestaan uit ‘n groep onderwysers en hulle persoonlike ontwikkelingsnetwerke. Twaalf onderwysers in die geval.

Volgens die departementshoof was sy die bron van kennis vir al elf onderwysers. En dit was vreemd, want daar was ‘n graadhoof vir elke graad. Wat sou impliseer dat sy net met vier onderwysers direkte verhoudings hoef te bou. As die hiërargiese struktuur reg gefunksioneer het.

Dit het nie. Die een graadhoof het nie vergaderings bygewoon nie, dus het sy self nie oor al die inligting beskik om haar werk te doen nie. Dit het veroorsaak dat die drie onderwysers vir wie sy verantwoordelik was, vir die departementshoof moes vra as hulle nie geweet het hoe om iets te doen nie. In die proses is sy oorlaai met versoeke. So ook omdat verhoudings nie tussen ander graadonderwysers en hulle hoof gevorm het nie.

Die las is verlig deur ‘n tegnologie te ontwikkel waar hulle as groep saam kon leer. En waar die departementshoof alle inligting kon deel. Makliker as die weeklikse vergaderings. En die presiese dag en tyd waarop inligting gedeel is, is ook in die tegnologie, soortgelyk aan Facebook, geberg.

So kon sy wys dat sy inligting vroegtydig gedeel het. Toe ‘n onderwyser wat nie by ‘n vergadering was nie, se werk laat was. En sy beweer het dat die inligting nooit gedeel is nie.

Wat mens by die vraag bring. Wie ae werk is dit om seker te maak dat jy oor die regte inligting beskik om jou werk te kan doen? Joune. Net joune alleen. As jy nie vergaderings bywoon nie, is dit nie die departementshoof se werk om jou op hoogte te bring nie. Dit is joune.

Daarom is dit belangrik om verhoudings met ander te bou. Om seker te maak dat jy wel oor die regte inligting beskik om jou werk te doen.

Dit is ook belangrik om nie net te ontvang nie. Maar ook om te deel. Omdat ander, sodra hulle voel dat hulle misbruik word, van verhoudings onttrek. En dan is jy, soos die Engelse sê, uit die loop.

Daardie loop maak dit moontlik om deur jou verhoudings met mense toegang te verkry tot die inligting wat hulle, deur hulle verhoudings met ander mense, kan verkry. Dit is die beginsel waarop hiërargiese strukture gebou word. Die hoof hoef nie met elke onderwyser ‘n verhouding te bou om seker te maak dat inligting tot onder vloei nie, dit vloei deur tussengangers.

En ons weet mos hoe tussengangers werk. Ons leer gou wie direk met die hoof gesels. En bou verhoudings met daardie mense omdat ons deur hulle toegang tot die hoof kan verkry. As daardie persoon nie ‘n verhouding wil bou nie, bou ons een met iemand in sy of haar vriendekring. Want deur daardie persoon kry mens ook toegang tot die hoof. Al is daar dan twee tussengangers.

Die probleem is dat die inligting deur twee ander mense verwerk is. Twee wat dit selfs kon verander het. Twee wat kan verkies om die inligting so bietjie te verdraai. Om jou in die moeilikheid te kry.

‘n Verdere probleem is dat klieks in skole vorm. Groepe onderwysers wat net met mekaar gesels. Wat inligting weerhou. In die naam van die kliek. Is jy deel van die kliek, het jy toegang tot die inligting. Indien nie, kan jou werk daaronder lei. Jy kan egter toegang tot die inligting verkry. As jy ‘n verhouding met een van die lede van die kliek vorm. Wees net versigtig, dié persoon is in beheer van wat na jou kant toe kom. Dit kan ook verkeerde inligting wees. Om jou te na te kom. Daarom moet kliekvorming in die kiem gesmoor word.

Dit is tog belangrik om direkte verhoudings te bou. Met die regte kennisbronne. In ‘n hiërargiese stelsel is die regte verhoudings met jou direkte hoof. As daardie persoon nie sy werk doen nie, word sy hoof oorlaai. ‘n Fyn balans wat gehandhaaf moet word. Om almal se werkslading te verlig.

My navorsing toon dat afstandhoëronderwysstudente, wat tegnologie gebruik het om hulle persoonlike ontwikkelingsnetwerke uit te bou, akademies beter presteer het as diegene wat hulself afgesonded het. ‘n Groter persentasie het geslaag, ‘n groter persentasie het met onderskeidings geslaag en ‘n kleiner persentasie het uitgeval.

Die studente het geskryf dat hulle sou uitval, as dit nie vir die ondersteuning van hulle klasmaats was nie.

En dit is baie belangrik, want ek het gevind dat die studente wat oor die meeste kennis beskik het, ook in die kern van die geheelontwikkelingsnetwerke ingeweef was. Die inligting om te kan slaag, was dus beskikbaar.

Een van my topstudente het, nadat ek die universiteit verlaat het, uitgeval. Sy het geweier om verhoudings te bou. Daarom ook nie die kenners leer ken nie.

Ek het die universiteit in die middel van die jaar verlaat. Was verstom toe ek die uitslae kry om die navorsing te kon voltooi. En sien dat sy uitgeval het. Toe ek haar kontak en vra hoe die kursus verbeter kon word, lig sy my in dat ek die sinnelose groepwerk moes los.

Studente wat kon gedruip het, het deurgekom. Omdat hulle verhoudings met klasmaats gebou het. Verhoudings wat toegang tot die regte inligting gebied het. Maar ook daartoe bygedra het dat klasmaats hulle oor die wenstreep gedra het.

Hierdie studente het ook geleer om die vaardighede in die werksplek te gaan toepas om hulle persoonlike ontwikkelingsnetwerke uit te bou.

As jy nie oor die inligting, kennis of ervaring beskik nie, kan jy ander ondersteun. Om so te sorg dat ‘n wederkerige band gevorm word. Wat jou help om te slaag, te presteer. Om jou werk te doen. Goed te doen.

Dit gaan dus nie oor hoeveel mense direkte verhoudings met ojou het nie, maar eerder oor die gehalte van die bronne waartoe jy toegang kan verkry. Dit gaan ook nie daaroor om die sentrale posisies te beklee nie, want dan word jy met versoeke oorlaai.

Dit gaan oor ‘n fyn balans van die regte verhoudings met die regte mense. En ‘n fyn ingesteldheid om hierdie verhoudings in stand te hou.

As een verhouding verbreek word, word die toegangspaaie beïnvloed. Ek hoop jy verstaan uit hierdie bespreking hoe belangrik verhoudings in die werksplek is. Diegene wat verhoudings misbruik kom gou agter dat hulle afgesonder staan. Omdat hulle nie self waarde toevoeg nie.

En dan wonder hulle waarom hulle nie geweet het hoe om iets te doen nie. Want sien, die krag van sosiale netwerke word eers verstaan as jy verhoudings waardevol ag.

Daarom behoort die vermoë om doeltreffend saam te werk reeds op skool ontwikkel te word. Ek stel voor dat die fokus op die vaardigheid geplaas word en nie op punte nie. Want hierdie vaardigheid word as een van die belangrikste vardighede van die 21ste leerder en werker beskou.

So belangrik dat regerings wêreldwyd vereis dat die vermoë om doeltreffend saam te werk tydens hoëronderwys ontwikkel moet word. Om graduandi vir die werksplek toe te rus.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

16 gedagtes oor “Persoonlike ontwikkelingsnetwerke

  1. Van 31 Desember 2018 tot 5 Julie 2019 was ek 32 trappe bo die straat in my woonstelletjie vasgekeer. Net my vrou gesien en niemand anders nie.

    Seun woon, volgens Maps, presies 2km ver in dieselfde straat. Hom het ek 4 Junie 2017 laas gesien. Ons is nie kwaad nie. Dogter woon 19km ver, het haar en een kleinkind toevallig Januarie 2018 raakgeloop. Dit was laaste sien.

    Vir meer as dertig jaar het ek na buite gelewe, stukkende vroue weer met geestelike superglue probeer heelmaak, siele bearbei, 1.2 miljoen mense met my oorlede blog bereik en heeltemal vereensaam in die proses. Ver van 60 af en twaalf beroertes later, leef ons maar ons lewe en gee ek nie meer af aan ander nie, het ek nie meer ‘n Timoteus aan wie ek die stok kan aangee nie.

    Dis nie goed om nie te kan funksioneer nie. Ek was voorsitter van drie kerke se KJA’s tegelyk toe ons getroud is. Altyd onring met intellektuele, sontyds ‘n paar akademici. Agterplaasfilosowe soos ek. Prof bel en nooi my om PhD te doen. Om wat mee te maak? Gaan dit sin gee aan my lewe om soveel daarvan op te offer net vir nog ‘n bloedklont om soos Tomb Raider deur my kop te boender?

    My huis was altyd die fokuspunt van interaksie. Totdat dit lyk asof ek nou vir ander uitgediend geraak het. Toe deelsgestremdheid weg is met my huis, my ou groot rygoed, en ons alleen agtergelaat is. Vriende het annerland toe getrek, in dieselfde buurt maar ook oorsee. Ver is nie altyd ‘n ander plek nie.

    Omdat ek ‘n kop vol baie ervarings het, gaan ek nou via Skype klas gee en hopelik iets afgee aan ander daar doer. Dan sal ek netwerk met mense wat wil, wat dors na dieper kennis as Engelse grammatika. Mense wat vooruit wil in die lewe, wat wil ontwikkel en vooruit wil gaan.

    My afsondering het my in minder as twee jaar ouer gemaak as my 89-jarige pa in sy ouetehuis.

    Like

  2. Hierdie is ongelooflik interessant en die navorsing fassineer my. Verhouding…ondersteuningsnetwerke is kardinaal vir sekere persoonlikheidstipes. Ek’t die afgelope paar jaar, in internasionale onderwys gesien hòè belangrik ñ ondersteuningsnetwerk is. Veral omdat al die personeel ver van hul huise, geliefdes en ‘normale’ ondersteuning is.
    Die navorsing oor die afstandsonderrig bevestig wat ek ook ervaar…die ondersteuning van “onbekendes”…met ñ gesamentlike doel, speel n baie groot rol in die suksesse wat behaal word. Mense help mekaar onvoorwaardelik met inligting wat andersins dalk nie beskikbaar is nie. Dit ‘bou’eintlik n ongelooflike band en ‘vriendskap’.
    Ek sal graag die kommentaar op dr. Van Staden se skrywe wil volg…dit gaan baie interessant wees.

    Like

  3. Snaaks genoeg het ek net vanoggend ‘n interessante gesprek gehad oor die belangrikheid van netwerke – in die akademie en in ons private lewens. “No man is an island” is so: ons het almal iemand nodig in ons lewens. Ek was gelukkig om in ‘n goeie department te werk waar ons gereeld na ure saam gekom het om oor gedigte of nuwe setwerke te gesels – en te stry – want elkeen sien iets anders in die geskrewe woord volgens ons eie ervarings. Dit was stimuleerend en op die einde baie goed vir ons leerlinge.

    Like

  4. Baie interessante artikel. Terwyl ek skool gehou het, het ek baie gewonder hoe effektief dit is om 35-60 kinders in ‘n klas te druk en leer te probeer laat plaasvind – veral as jy die woelwaters, praters en onderbrekers so beskou het. Hierdie outydse worsmasjien is volgens my vir baie inderwysers en kinders net ‘n frustrasie. Die leerder se persoonlike gebruik van tegnologie plus die samewerking wat jy voorstaan behoort beslis meer in klaskamers gebruik te word.

    Like

  5. Sjoe dit wat jy hier skryf is so waar as wat kan kom. In my tydperk wat ek skool gehou het het ek al die voorbeelde beleef. My eerste jare was by laerskool tie 9 jaar hoërskool en laaste privaatskool waar ek eers jaar 7, 8, 9 gehad het en laaste vier jaar die beginners jaar 1, 2 en 3 in dieselfde klas. Noudat ek hier in NZ is en nie skoolhou nie kan ek rustig toekyk hoe die onderwysers saamwerk, ignoreer en kinders beinvloed. Selfde met die hoof wat nie die vergadering bywoon en geen werklike antwoorde kan gee omdat hy nie weet waaroor dit gaan nie. Die inligting raak my ook want dis oor die noodplan. Omdat ek nie n onderwyser is nie het ek nie die vergadering bygewoon nie. My supervisor het geen inligting aan my deurgegee nie. Aangesien ek bv belangstel in hoe dinge gedoen moet word en hoe belangrik die “netwerk” tussen persone is het ek maar vrae gevra. Super het nie regtig antwoorde nie, hoof weet van niks. Ek het by die vergadering voorsitter moes uitvind wat, hoe en waar dinge gedoen word. Ek is bv soggens vir n uur alleen op die terrein. Wat moet ek doen as daar iets gebeur? Ek het ook toe daar die erge aardbewing was skooltoe gegaan om kinders wat vroeg afgelaai is kalm te hou en eers die ondersoekspan (bestaande uit een persoon) geleentheid gegee het om te kyk of alles veilig is. Waar is die werklike netwerk gewees? Hul is besig om nou daaraan te werk en steeds werk almal nie saam nie. Hoop nie jy gee om dat ek bietjie uitgebrei het nie. Dit maak my die vieste in as mense sekere ouens net ignoreer.

    Like

      1. Daar is jare se ondervinding in my! Ek geniet dit om bietjie te kan praat oor sulke dinge. Dit het my altyd teen die bors gestuit dat daar sulke “wanpraktyke” floreer onder sekere omstandighede en dan is dit die werkesel wat die spit moet afbyt.

        Like

          1. Beslis. Ek sou kon bevordering kry deur “window dressing” wat teen my beginsels. Die hoof was heel vies vir my omdat hy my wou stoot en ek nie geval het daarvoor nie. Hy stel my toe nie aan nie omdat ek geweier het om std 2 pos te aanvaar terwyl ek senior primêr was. Het aansoek gedoen by hoërskool en dit gekry. Selfs ook n aanbieding by ander laerskool sonder al die eise wat die hoof wou stel.

            Like

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.