Gepubliseer in Reisjoernaal

Dokters, doktore en aptekers in Qazaqstan

Qazaqstan het interessante maniere van dinge doen. Een daarvan betrek dokters, doktore en aptekers.

In Qazaqstan word dokters op die naam genoem, geen titel van dokter so en so nie. Siestog, slegte nuus vir die mevrou-dokters in Suid-Afrika. En vir hulle vriendinne wat my altyd wou beïndruk met hulle hogere vriendskapsbande. In gesprekke soos: Jy weet mos, Susan, dokter so en so se vroutjie, het net-nou hier gekuier? Nee, dokter so en so se vroutjie ken ek nie, my vriendinne is soos ekke, plat op die aarde. Ry op hulle eie prestasies en nie die van hulle mans nie.

My kinders is ook so grootgemaak, daarom het hulle maatjies nooit geweet watse werk hulle pa doen nie. Myne was onvermydelik. Juffrouens se werk kan nie weggesteek word nie. Maar ek dwaal af …

Hier word slegs doktore gedoktor. Akademiese prestasies is ‘n prioriteit in hierdie voorheen Russies-beheerde land. So belangrik dat al die brains in Rusland voor die oorloë na Ust-Kamenogorsk, ons stad, gebring is om die vooruitgang van die land te verseker. Die ander moes vir die eer van die land veg, die breins moes die toekoms verseker. Ander lande het blykbaar nie so ver gedink nie. So belangrik dat skole vir begaafde kinders opgerig word.

Hier is ‘n dokter ‘n gewone professionele werker. Werk hulle in hospitale en klinieke. Waarheen mens gaan as jy die dokter wil sien. En dit is wanneer mens hondsiek is. En eintlik opgeneem behoort te word.

Vir alles anders besoek mens die apteker. Dit kan ek verstaan. Aptekers ken medisynes. Weet wat werk en wat nie. En mense ken hulle simptome, dus kan die probleem makliker opgelos word as wanneer ‘n dokter as tussenganger moet intree.

Kon nog nooit verstaan waarom dokters in beheer van mens se medisyne is nie. En waarom ek ‘n dubbele fortuin moet betaal om medisyne teen griep te kry nie. Moet gaan sit en wag al het ek ‘n afspraak, En al voel ek of ek gaan omkap, elke tree moeite.

Want dokters en banke se tyd is mos belangriker as myne. By beide kan mens wag tot die perde horings kry. Wat ek nog nie sien gebeur het nie.

Hier kan jy alle medisyne sonder voorskrif oor die toonbank koop. Medisyne met kortisoon in oor die toonbank koop. Is mens so half geskok as jy tuis kom en ontdek dat jou neussproei dit in het. Dankbaar oor hoe effektief dit is en Suid-Afrikaans ingedril om stadig daarmee om te gaan. Gebruik dit net in noodgevalle.

Hier kan jy antibiotika oor die toonbank koop, verduidelik net wat fout is en die apteekster bied die regte goed aan. Antibiotikas word in enkele pille verkoop. Volgens my Almaty vriendin is dit egter baie effektief, sy het net een nodig om blaasinfeksie hok te slaan. En dit wil gedoen wees in ‘n land waar mens nie verstaan word nie!

Hier Google ‘n Qazaq vriendin gister vir my die medisynes wat hulle teen griep gebruik. Die beste een kan ek nie gebruik nie. Dit het volgens haar laktose in (boonste boksie op foto).

Sy stuur die skakels vir my, ek verstaan niks. Behalwe hoe die medisyne lyk. Dat ek die regte goed kan gaan koop.

Ander vriendin beveel гриромикс aan en ek koop dit sommer ook. As mens die alfabet ken, is die naam leesbaar (onderste boksie). Griepomiks. Of mix dan. Cute! Sy het nie vertel dat dit baie sleg is nie.

Maak soos Med Lemon aan wat ek nooit gekoop het nie aan. Drink soos tee verduidelik die apteekster vir my. Dalk het sy verduidelik dat ek maar met min water moet aanmaak, ek sal nie weet nie. Ek het vol koppie aangemaak. En al my armhare het in die lug gestaan. Dit is baie sleg, so ek hoop dit werk.

Vanoggend is dit lekkerder. Seker maar omdat ek regtig baie olik voel. En sommer hartseer voel toe ek vanoggend lees dat ‘n hele paar van my blogvriendinne ook olik voel.

Bondelsgedagte het my laat skaterlag met haar storie oor hoe haar pa motors se probleme kan uitken as hulle na die uitlaatpyp kyk. Witgebrand is die motor blakend gesond.

Maar toe trek sy dit deur na haarself en waarsku ons om nie in prentjies te dink nie. O my genade, dit was te laat. Toortsie en Kameel het lekker in die kommentaar met oor die witgebrande uitlaatpyp gespot. Anne, Una en Perdebytjie was darem meer simpatiek.

Gelukkig word ons uitlaatpype nie so oop en bloot soos motors s’n vertoon nie. Hier sou dit net vir die ogies van ‘n apteker uitgestal moes word …

Bondels skryf dat ook dat iemand soos ‘n tandetrekker lieg, dit vat twee weke met medisyne en een daarsonder om gesond te word. Sterkte Bondels, ek ken dit weer uit ‘n dokter se mond as twee met of sonder medisyne. Dus het ek die duur man nie weer gaan besoek nie. En dokter ek myself met Viral Choice, ACC200 en ander oor die toonbank medisyne wat ek van Suid-Afrika gebring het. Dit is beter as antibiotika wat veroorsaak dat uitlaatpype regtig brand teen ‘n hele paar keer die onkostes van ‘n besoek aan die apteek. Woordnoot het in die kommentaar geskryf dat sy ook siek voel en koors het.

Sterkte vriendinne, ek voel self olik. Geen koors nie, hoes net, bors voel benoud en die ou lyf is oral seer, veral waar ribbebene se spiere trek as ek hoes. Volgens my Qazaq vriendin moet ons uit die stad kom oor naweke en vars asem gaan inasem. Dit sal ons beter laat voel. Want, as die wind ‘n ruk nie waai nie, is hier gasse in die lug wat die kele brand. E as mens dit nie vinnig dokter nie, kry virusse vasvatplek.

Dit was dan die nodige motivering om gister ‘n besoek aan die apteek te bring. En my geradbraakte Russies uit te pak om medisyne in die hande te kry. Wat hier werk.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

9 gedagtes oor “Dokters, doktore en aptekers in Qazaqstan

  1. Ai daar is omtrent ‘n lot van ons olik. Christa ek kan glad nie daai slegte soort meds in my lyf in kry nie. Ek bulk soos ‘n bees en sit dan als net so terug in die glas…sterkte liewe vriendin, dink aan jou❣

    Like

  2. Dankie Christa…jip…ek kry nooit verkoue nie, maar het toe mos die jaar gegaan vir die griep inspuiting, en glo my…ek was lank laas so aanmekaar siek. Maar nou ja, ek stoei voort. Sterkte met daai Medlemonrige goed…hierdie bruis verkoue mengsels is hondsleg. Kan sien hoekom Bondels dit terug sit in die glas!

    Like

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.