The show must go on …

Hierdie inskrywing vorm weer deel van ‘n bloguitdaging. Om dit te verstaan, behoort die vorige blogs gelees word.

***

Die towerinne is in sak en as. Regte as. Want die olifante se maroela-gasdampe het veroorsaak dat die sirkustent afgebrand het. Toe die sirkusmeester ‘n vlammetjie aangesteek het. Toe dit skielik donker in Rebusfontein se sirkustent geword het. Net ‘n hopie as het oorgebly.

Geen sirkusdier het seergekry nie, maar hulle was kwaad. So kwaad dat hulle geweier het om met die olifante te praat. Die towerinne was ongelukkig oor al die aandag wat die sirkus na Rebusfontein gebring het. En het sommer net daar en dan Una se beenhare afgeskeer. Dat die sirkus ‘n ander attraksie kan kry. En toe ons weer sien, is die trein met die sirkus weg. op soek na ander talent, onse Una was nou vervelig.

Toe die towerinne omkyk, kom hulle dierekinders aangestap. Hulle het in die berg gaan skuiling soek.

Almal was daar, Kieter, Lelik, Floki, Daan, Rof, Cheeky, Billy, Bok, Ringo, Karolus, Trompie, my BB, Sobek en Shilo en Quasimodo, met pik en graaf oor die skouer. Pasella en Harpy en Porky het ook nader gevlieg.

Intussen was daar nog drama met ‘n leeutemmer ook!

***

Die volgende oggend kom my drie Schnauzers met ‘n oplossing om almal se harte weer stil te maak. Kom ons vier doen iets omdat ons die laaste tyd so stil was. Om so bietjie plesier in die dag te sit.

Ek wou egter nie byt nie, want ek moes ook op die verhoog wees. En dit laat elke haar op my kop regop staan. Toe ek by Florida begin skoolhou het, moes die nuwe onderwysers konsert hou. Wie so simpel ding uitdink, sal geen ek weet nie. Dat die ander onderwysers dit te veel geniet, was vir my ‘n groot frustrasie. Dus eht ek agter gedans, heel agter, agter die langste mans. Waar geen skoolkind my kon sien nie …

Laat ek eers verder verduidelik want jy dink nou seker dit kan nie wees nie, ek was dan jare lank ‘n juffrou. Wel, dit is baie anders om voor die klas te staan en jou werk te doen as om op ‘n verhoog te dans of praat.

En daarvan dink ek het ek net mooi genoeg gehad. Veral van referate!

Die eerste ervaring was in Windhoek, by die eerste kongres waar ek ‘n referaat moes lewer. Toe het ek nie eens geweet mens noem dit ‘n referaat nie, dus het ek van my toespraak gepraat. Uitgedaag deur my PhD-vriendin om saam met haar te gaan en ook oor my navorsing te praat. In die steek gelaat deur my professor, wat beloof het dat UJ die kostes dra as ek by ‘n kongres gaan praat. Vergeet om te noem dat ek eers ‘n artikel moet publiseer.

Ek was so opgewonde oor Namibie, al was dit uit my eie sak. Kon nie wag om te vlieg nie. Tot ek daar geland het.

Hoe nader dit aan my beurt gekom het, hoe meer het die angs my beetgepak. Ek kon na geen van die referate voor myne luister nie, al wou ek hoe graag. En toe skuif ons na ‘n kleiner saal. Met die gehoor baie nader aan my as in die groot saal.

Ek het die twee deure so gekyk, een aan elke kant reg voor, en kon aan net een ding dink. As ek nou daar uitstap, sal niemand eers weet dat ek deel van die volgende groep moes wees nie. Behalwe Nadia, maar sy het so uitgesien na haar eie, sy sou eers later aan my dink. Te laat.

Maar die oudste kind, die gehoorsame een, in my het bly sit. Die skaam ene. Die ene wat by die eerste skool waar sy geproef het doodstil gesit het terwyl ‘n perdeby haar twee keer steek. Hom die tweede keer met die hand afgestamp en platgetrap (skuus perdebytjie). Maar vir ‘n derde steek het ek nie kans gesien nie. Ook nie vir onnodige aandag op my nie.

Terug by die eerste referaat. Ek het die oomblikke na die valbyl afgetel. Toe ek eers daar staan en oor my navorsing praat, was my vrees weg. Maar dit maak nie op vir die absolute verlamming wat my vir ‘n hele oggend beetgehad het nie.

Twintig minute van roem? Ure van vrees?

vra ek vir my drie Schnauzers. Maklike keuse om dit nie weer te doen nie. Maar BB is nie op haar bek geval nie:

As dit so sleg was, waarom het jy weer en weer voorstelle vir referate ingestuur? Waarom het jy uitnodigings om een te lewer aanvaar?

Ek kon verduidelik dat ek dit haat om ingedoen te voel. Dat ek aansoek vir die een in Hamburg gedoen het omdat UJ dan moes betaal. Die artikel was geskryf en gepubliseer. Maar dit gaan nie oor my nie, my kinders wil die towerinne troos.

BB het gesien dat sy ‘n teer punt geraak het. Die oudste kind wat tog nie wil teleurstel nie. En verder gepraat.

Volgens my BB kind moes ons vier iets doen. Aangesien sy so voor op die wa is, vra ek dat sy sommer vir my wys wat sy vir ons vier in gedagte het.

Sy waai met haar voorpoot na my foon en wys dat ek moet blaai, sy soek die regte foto’s en video’s. Ewe opgewonde blaf sy toe sy die een sien waarin sy maar dikbekkerig lyk. En ek lag vir die keuse, mooi herinneringe aan haar kinderdae.

Sy het my lipstiffie in die hande gekry en haar hele baard was rooi, soos wat my dogter se mondjie ook gelyk het toe sy myne in die hande gekry het. Oral gesmeer, nie net op die lippetjies nie.

Ai Biebs. Mens gaan daardie lipstiffie mos nie van ver af sien nie. Buitendien, julle drie weet ek trek nie vir julle kleertjies aan nie. Ek sorg eerder dat julle haartjies alte oulik geknip word.

Maar Biebs laat nie los nie. Dan wys sy na die een waar sy op die boot staan met die baadjie wat ek uit een van myne geknip het aan. Om haar bo die water te hou as sy sou afval.

Daai ene is snaaks, bieg ek. Maar Biebs, jy loop so snaaks daarmee as jy die aanhet. Jy haat dit!

Sy wys na die een waar sy op my quad staan, haar gunsteling plek as ons op die plaas is. Dan ry ek en sy deur die plasie en dink ons is vreeslik oulik.

Biebs, daar gaan ander diere wees en jy weet wat jy dan doen. Ek moet met al my mag en krag aan die een agterpoot vashou, want jy wil net gaan jaag en jag.

Ou Biebs raak moedeloos en ek raak opgewonde. Ek hoef nie ‘n konsert te doen nie.

Sy wys na ‘n foto van Shilo om my te oortuig, die reuntjie wat maklik my mooiste Schnauzer is. Seun noem hom my skoupou.

Maar ek verduidelik dat Shilo nog skamer as ekke is. Hy gaan stage fright kry en ou Shilo sit alte vreeslik aan, kruip agter my weg, sy pootjies oor die gesiggie.

Sien, dit gaan nie werk nie?

Dan wys sy na die een waar sy ‘n Pampersdoek aan het.

Biebs, jy is mos nie meer op hitte nie. Die manne stel nie meer belang nie, dus gaan daardie een ook nie die towerinne aan die glimlag kry nie.

Biebs gee amper oor, maar dan sien sy die video waarin ek en my sobek (Bekka) dans.

En ek weet sy wen, want Sobek staan sommer dadelik nader, dans al op die agterpootjies al om my. Gereed vir aksie.

En ek moet saamstem. Die ene kan dalk net werk.

Dus nooi ek al die towerinne na my huisie, nommer 17. En bied vir hulle geurige Qazaqstan tee aan. En die aandag is op my langarmmaat!

Hoop julle geniet die show, ek doen dit nie sommer nie. Verlang my stukkend na die kinders van my, dus was dit sommer lekker om so in die verbeelding by hulle te wees …

30 comments

  1. Baie dankie…dis ñ interessante storie…maar verstommend om te dink hoeveel “raakpunte” ek in my eie lewe hierin raaksien…Ek noem so paar kortliks…die dans of ñ nar wees in die konsert was ook my lot as jong onderwyser. Gelukkig kon ek die negatiewe ervaring wat daar aanvanklik was omskep in positiewe energie…ai “shame”…nou dink ek aan lelik in die sirkus. Gewoonlik die mooiste hart.
    Dan die referate…die ure se voorbereiding waarvan niemand weet nie. Die hoè standaarde wat ons vir onsself stel…om nie ander teleur te stel nie. Dit verdien sommer ñ hoofstuk op sy eie. Ek kan assosieer.
    Laastens die viervoet kinders. Spesifiek die avontuurlustiges. Daardie wat die ekstra myl stap om te verken…en uiteindelik die rooi lipstif in die voete kry en hulself “opmaak” asof hulle die hoofrol speel. Dis sulke dinge wat die lagspiere oortyd laat werk.
    Baie dankie vir die lekkerlees blog.

    Like

      1. Was nooit n “geroepe” onderwyser nie. Ek is ook maar vriendelik verplig gewees om the kwalifiseer as onderwyser omdat dit die beste beroep vir n vrou was! Wou veearts word maar daar was nie plek vir vrouens toentertyd nie. Tog het ek alles ingesit wat ek kon in die onderwys wat my ook met tye baie plesier verskaf het.

        Liked by 1 person

      2. Hier in NZ is onderwys nogal heel anders. Eks bly ek hoef nie meer skool te hou nie want my senuwees sou dit nooit kon hou nie. Eks geneig om n perfeksionis te wees en dit gee nogal probleme vir my eie stressvlakke!

        Like

    1. Dankie Woordnoot. As enige iets beteken ek kan ‘n hondjie leer om te dans, dan kan ek nogal. Die ander twee weier botweg, maar Shilo begin saamspeel. Becks is egter ongelooflik ligvoetig. En so trots op homself

      Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.