Ek skenk weer bloed met Victorinox

My dogter en skoondogter het al lankal hierdie messies met die plastiese handvatsels in hulle laai. Ek het dit nooit by hulle gebruik nie, net verder in die laaie gesoek vir skerp messies. Lekker vlak gekyk!

Totdat die twee een keer by my in die kombuis aan die gesels raak oor hulle Victorinox messe. Wat tog so fantasties is.

Hulle is egter duur, dus groei hulle versameling, volgens hulle, stadig. En hulle wens dat ek ook daarvan wil koop. Hulle sukkel met my messe!

Ek het geen idee gehad hoe die messe lyk nie. Toe Google skoondogter net daar en wys vir my hoe dit lyk. Dit is al die tyd die messe met die gekleurde hewwe wat ek nog altyd so vlak gekyk het! In die twee dogters se laaie!

Ons loop dit toevallig in Desember 2018 in die koöperasie in Bothaville raak. En so kry ek my eerste stel van drie verskillende messies in drie verskillende kleure.

Tuis moet dit dadelik getoets word. Die kastige wonderwerk in die kombuis. Dit lyk maar soos lammetjies.

En so trek die eerste een sommer bloed toe die vlymskerp lem van die langer een met die geriffelde tande en ronde punt my palm tref.

Nou kyk, ek was baie verontwaardig! Ek skil nog altyd die aartappel met die lem na my hand se kant toe.

En ek het van kleinsaf raas by my ma daaroor gekry. Mens doen dit nie, jy gaan nog jou hand oopsny.

En het ek? In al die jare? Nee! Want ek weet wanneer om te stop! Ek het nie wonde in die slaghuis opgedoen nie. En in die slaghuis het ek met gevaarlike messe gewerk.

So gevaarlik dat my ma alewig na haar messe moes soek. Wat ek oral weggesteek het. ‘n Inbreker moet dit nie in die gewone laaie kry nie.

Lyk my Victorinox messe gevaarlik? Nee. Tog het die ek-is-nie-gevaarlik-nie-messie deur die aartappel gegly en my palm getref.

Ek het verbaas staan en kyk na die plek waar ek getref is. Niks! Ek het my verbeel. Toe sien ek die skoon sny waar die mes getref het.

En voor my oë begin die bloed deursypel, in sulke golfies. Soos die kartels van die lem! Die vel ook so bietjie afgeskil!

Daaroor was ek baie verontwaardig! Veral omdat ons rivierhuis vlermuise het. En ek die piepie en poef moet skoonmaak. Gevaarlike uitskeidings wat nie in ‘n oop wond moet ingaan nie.

Gelukkig het ons daardie aanspuitpleister en kon ek die wond mooi verseël.

Die volgende dag werk ek versigtig met die gevaartes, wat ook soos koninginne anders behandel moet word.

Geen skottelgoedwasmasjien vir hulle nie. Toe ek die korter messie met die skerp punt was, gly my hand en skenk ek weer bloed.

Reguit wond veroorsaak deur die gladde lem. En moet ek weer pleister aanspuit.

Het ek vertel dat die pleister soos vuur brand? Dit doen. Maar dit werk soos ‘n bom. Maak vir ‘n paar dae ‘n ragfyn waterdigte lagie oor die wond. Dus kan ek daarmee bad en skottelgoed was.

Die twee dogters het net ge-Ag shame ma toe ek my wonde wys toe hulle vir Kersfees opdaag. Hulle sny op planke, het nog nie bloed geskenk nie.

So kry ek toe ‘n heilige ontsag vir my messies. So heilig dat ek amper 8 maande later steeds wondloos was.

Tot vanoggend. Ek het die aartappels op ‘n snyblad gesny. My pinkie se punt was egter te na aan die aartappel toe ek deursny.

En toe dit tref, hoef ek nie eens te kyk nie, ek het sommer net geweet dat my liewe messie weer bloed getrek het.

So erg dat ek vir oomblik gewonder het of dit gaan ophou bloei. Sulke donkerrooi bloed. Vinnig en diep gesny.

Ek het gesukkel om die foto te neem, die bloed het net gedrup! (foto). Ek weet ook nie waarom my pinkie haar soos ‘n Engelse roos moet gedra nie. Vreeslik aangesit, kyk net al die bloed!

Ek moes sommer my pa se truuk gebruik het. Hy het, toe my middelste sus nog klein was, per ongeluk een vingerpunt raakgeknip met die naelknippertjie. Toe drup hy bloed op elke vingerpunt en roep my ma. Jy kan net dink hoe kwaad sy was! Een keer raakgesny is seker ongeluk, al vyf vingers is aspris!

Die aanspuitpleister het gelukkig saamgekom. Dus is daar ‘n waterdigte lagie oor die wond. Wat ook keer dat die velletjie verder wil skeur as dit gesond begin word.

Ek sukkel in die laaste tyd om die pleister in die hande te kry. Moet onthou as ek weer RSA toe gaan …

Nie dat ek my weer deur ‘n wolf in skaapklere mes sal laat raaksny nie.

Van nous af hou ek alles wat kan bloei ver van hierdie kalante af!

Nota: Ek het eers van my Victoria Knox messe gepraat. My kinders het amper oorval gekry. Dus moes ek eers die spelling gaan opsoek.

Genugtig, daar is wel groter soorte van hierdie messe beskikbaar! Geen manier wat ek een van daardie gaan koop. Sal vingerloos wees as een daarvan gly.

7 comments

  1. My Baaskind roep my vandag en wys my haar mes wat sy vir haar verjaarsdag by haar ma gekry het…die geniune regte egte Victorinox knipmes met allerhande katoetertjies aan! Sy is so opgewonde daaroor! Ek gebruik al jare net daardie messies…kan my opruk as ek by iemand kuier en hulle het nie Victorinx in hulle laaie nie!

    Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.