Gepubliseer in Reisjoernaal

So, dit is waarom ons nie perd eet nie!

Ek het al vertel dat die mense in Qazaqstan perdevleis eet. En ek verstaan waarom.

Hulle was nomadiese boere, wat in hierdie bykans onherbergsame land van plek tot plek met hulle diere moes trek om te kan oorleef.

Want die temperature in hierdie negende grootste land in die wêreld skuif die kwik tussen minus 40 grade Celsius en plus 40 grade Celsius in termometers rond.

Om dit te kan oorleef, het die eerste inwoners rondgetrek. En die perde het as pakdiere, trekdiere en kos gedien. Dit kan ek verstaan.

Eet aan ‘n perd kan ek egter nie. En dit is moeilik om dit vir hierdie mense te verduidelik sonder om aan hulle tradisies te karring. En sonder om myne op te gee.

Want perd gaan ek nie eet nie. En as iemand dink dit is snaaks om my per aspris perd te voer, sal die vertrouensverhouding tussen ons vir altyd verbreek wees. En sal ek spoeg, sonder om twee keer te dink aan maniere.

Ek respekteer tradisies en eetgewoontes, maar ek gaan nie in Rome doen wat die Romeine doen nie. Nie ter wille van vriendskap nie.

Dus verduidelik ons die aan die mense hier dat ons nie perd eet nie, want perde is in ons land ons troeteldiere. Mense het al op my blog inskrywings daaroor kommentaar gelewer en gesê dat hulle nie perd eet nie omdat perde edeldiere is.

As plaasmeisie pla daardie ene my, want koeie en skape is ook edeldiere in my oë. Varke miskien minder. En so ook hoenders en eende en so aan. Daar trek ons ook die streep. Iets anders as hoender en kalkoen eet ons nie sommer nie.

Het al eend probeer, maar nie weer gekies nie, Die rede sal ek nie weet nie.

Ek het al vertel dat my pa ‘n slagter is, dat ons in slaghuise grootgeword het. En daar was net bees, skaap en vark te koop. En hoender en kalkoen. Niks anders nie.

Gister vertel ek my pa van die vrae oor waarom ons nie perd wil eet nie. En my onbeholpe antwoorde.

En ek wens ek het dit net van die begin af gevra. Vir die man wat weet!

Die antwoord is doodeenvoudig. Ons eet net diere met gesplete hoewe, bees, skaap en vark. Die wie se hoewe nie gesplete is nie, soos ‘n perd en ‘n donkie, word nie geëet nie.

Waarom weet ek nie, dit sal ek nou weer moet gaan vra. Wat ek wel weet is dat ons ‘n tradisie het. Ons eet nie diere wat nie gesplete hoewe het nie.

En siedaar, ek het ‘n geldige rede waarom ek nie perdevleis eet nie. Ek dwing niemand om goed te doen wat teen hulle tradisie is nie. Hulle mag my ook nie dwing om goed te eet wat teen my tradisie is nie. Eenvoudig. maklik om te verstaan?

Toe nie!

Ek toets dit gister op ‘n Qazaq meisie. En dit is nogal moeilik om die konsep in Engels aan iemand te verduidelik as dit ons beide se tweede taal is, eintlik haar derde taal. Sy is Qazaq, dan Russies en eers dan Engelssprekend.

Ek het prentjies geteken, dit het ook nie gehelp nie. Gaan dus nie weer probeer verduidelik waarom nie, bloot net stel dat dit teen ons tradisie is om perd te eet.

Dankie Pa!

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

12 gedagtes oor “So, dit is waarom ons nie perd eet nie!

  1. Haha…ek smaail in my snorre vir jou! Ek sal wragtag ook nie perd eet nie. Per slot van sake dink ek perdevleis is vrek taai want perde se lywe bestaan net uit spiere! En spiere is taai! Ek dink dit was een van die voorskrifte vir die Israeliete toe al daai honderde moete en moenies aan hulle voorgelê is…dat hulle geen diere met gesplete hoewe mag eet nie…

    Like

  2. Nee wat, perdevleis klink vir my ook nie die beste nie. Kulture bly maar n iets om rekening mee te hou. Ek stem saam, as hul aanstoot neem omdat jy nie perde eet nie moet hul dit maar in hul pyp stop en rook, haha.

    Like

  3. Nou hoe nou…. so ‘n stukkie perdevleis oor die kole gebraai op julle balkon kan net lekker wees. Ok ek terg net, skud ook my kop “tanks but no tanks.”

    Like

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.