Gepubliseer in Reisjoernaal

Ust-Kamenogorsk, woonplek van die werkers

Scrapy het ons uitgedaag om meer oor ons huidige blyplek te vertel. Hier is myne.

Ons woon die afgelope vier maande in Ust-Kamenogorsk (Russiese naam) of Öskemen (Qazaq naam), hoofstad van die Oostelike provinsie van Qazaqstan.

Qazaqstan was die laaste voorheen Sovietland wat so twintig jaar gelede van Rusland afgestig het. En sy ekonomie groei vanweë die olie wat in die Kaspiese See ontdek is.

Ust (ons troetelnaam) word aan uiterste temperature gekenmerk, van minus 40 grade Celsius in die winter tot plus 40 grade in die somer. Ek het aangedring dat ons eers kom voel of ons in hierdie koue kan oorleef, en ontdek dat hulle goed ingerig is. Ek sal in ‘n aparte inskrywing meer daarvan vertel. Minus is koud, hoeveel onder minus maak nie saak nie. Koud is koud.

Winter en somer is teenoorgesteld van die RSA, dit is in die Noordelike Halfrond. Somer hier voel vir lank maar soos winter in Suid-Afrika. Tans is dit nogal warm, maar die aarde is reeds op pad om Ust oor ‘n paar maande lank te straf omdat sy so ver van die ewenaar af geleë is. Tans is ons dae baie lank, voor vyf is die son al op en 8 uur in die aand hang sy nog hoog in die lug. Die foto is Sondagaand geneem, waar die Ulba en die Irtysh riviere ontmoet. Ons moet gordyne toemaak om te kan slaap.

Alhoewel mens verwag dat Ust se lug vogtig moet wees omdat dit so baie reën en sneeu, is die lug besonder droog. So droog dat ek klere in die oggend in die huis oor ‘n hangrak kan gooi en vanmiddag reeds kan afhaal om weg te pak. Of te skryk. Dankbaar vir klerewasdae, sleg vir mens se vel en hare. Veral hare, myne is baie keer die ene elektisiteit! Ek wonder dus waar Ust die vog gaan steel om hier af te laai.

Ust het 300 000 inwoners en staan as ‘n werkerstad bekend. Waarskynlik omdat dit vir lank van die buitewêreld weggesteek was omdat kernprodukte hier vervaardig is. En steeds word. Ek het, toe ons eers hier gewoon het, gelees dat daar so twintig jaar gelede ‘n ontploffing by die urnaniumaanleg in die stad was. Baie naby aan ons …

Volgens die locals was Rusland soveel intelligenter as ander lande tydens die wêreldoorlog deur sy brains hier te kom wegsteek. Om vir die nageslag te bewaar. Ander lande se kundiges het saam met die ander mense in die slag gebly. En ek kan dit verstaan. Paaie hierheen is sleg en mens sal beslis in die winter doodvries as jou motor jou langs die pad in die steek laat!

So van brains gepraat, die Russe is akademies ingestel. As ‘n dokter hier as doctor aangespreek wil word, moet hy of sy eers ‘n doktorsgraad hê. Slegs doktore word as doctor aangespreek! Niemand hier weet dat ek oor so ‘n graad beskik nie.

Ust het baie water, te veel vir een stad. Ek het al van die dam vertel. En dat hidro-elektriese krag hier opgewek word. Ook dat die dam rekords breek omdat dit die hoogste hek het wat skepe en bote in drie stappe van die dam- na die riviervlak neem, met ‘n 30 m hoogteverskil. Aan die ander kant van die dam is somershuise wat slegs per boot en trein bereik kan word. Die dam laat mens aan die grootte van Harties se dam dink. Maar jy vergeet gou van die vergelyking, die water is silwerskoon. En ysig. En ruik soos vis! Word deur die smeltende sneeu in die berge aangevul.

Anders as wat mens sou verwag oor alles wat jy van kommunisme geleer het, is Rusland goed vir sy werkers se gesinne. Hier is ‘n groot saal waar kinders aan ballet en die kunste blootgestel was en steeds word. En ‘n pragtige teater vir uitvoerende kunste. Toe ons nou die dag daar gaan loer het, het ons gesien hoe ballerinatjies en dansertjies in die saal afgerig word. Laat my na my eie kind se balletdae verlang en Cathi Baskerville sal hier haar passie kan uitleef!

Van skool gepraat. Vir my as ma voel dit dom. Die kinders gaan bykans die hele winter skool. In ysige weer, sou selfs as onmenslik wou beskryf. Kinders gaan van 8 tot 16:00 skool. Arme juffrouens. Maar ek hoor nie van ongeskikte kinders nie … Die somervakansie is egter twee maande lank! Dit is nou somervakansie en jy sien kinders net waar jy kyk. Die rede het waarskynlik met die somerhuisiepraktyk te doen. Al kan net die rykstes somerhuisies bekostig. Hulle kinders kan mos nie so lank uit die skole wees nie? Dalk het dit met vakansie vir pa en ma te doen. In die winter bly mens maar in die huis.

Ust is nie op vakansiegangers ingestel nie. Die stad word met water omring, tog het ek nog net een boot op die rivier gesien. Sondag. En die somer is besig om te draai. Een van die dae is dit herfs. Die rede is waarskynlik omdat die rivier teen vloedspoed hier verby snel. Waarskynlik as gevolg van die op- en neerlaat van bote, die massa water wat uitgelaat word, moet seker die rivier se spoed opjaag? Of as gevolg van die opwek van waterkrag stroomop. By die damwal.

Ons moes soek om iets egs saam te vat huis toe. Waarskynlik omdat die stad as werkerstad bekend is. Maar ons kon tee vat. As jy van tees hou, moet jy hierheen kom. Ek het 20 soorte in my kas, en daar is nog meer. Vrugtegeure, kan sjokolade ook bevat!

Maar Ust is wel op ontspanning vir sy mense ingestel. Hier is die mooiste parke in die stad. Met bankies en musiek in die bome. Jy hoef net ‘n entjie te stap om by een van die parke uit te kom. Klassieke musiek speel in luidsprekers in die bome. En blomme word geplant. Of kom sommer net weer op nadat die sneeu gesmelt het. Soos tulpe. En ja, hier is baie rose!

Hier is speelplekke vir kinders, by die woonstelblokke en langs die rivier. En wandelpaadjies met plek vir fietsryers en voetgangers. Al langs die rivier.

Hier is twee bioskope (flieks slegs in Russies met geen onderskrifte al is die Men in Black!) en, soos ek reeds geskryf het, een massiewe teater. Ek wil nog na ‘n balletuitvoering gaan kyk. Dit is ‘n moet in Rusland.

En hier is oorlogmonumente, hulle is vereer hulle veterane gereeld omdat hulle Duitsland uit Rusland verjaag het. Die veterane pas die parke op. En blaas fluitjies as mens nie op die paadjies stap nie.

En dan is daar die Ust-fonteine wat ons elke aand met die dans van die water op die maat van musiek vermaak. Wondermooi. In die somer. In die winter word die fonteine dig toegemaak. Om dit teen skade tydens die ysige tydperk te bekerm.

Winkeltoegaan is ‘n nuwe ervaring waaraan mens gewoond moet raak. Hier is ‘n paar groot winkels soos byvoorbeeld Metro, wat soos ons Makro lyk en Technodom of Sulpak waar tegnologie verkoop word. Maar ons maak hoofsaaklik op die klein winkeltjies, onder elke woonstelblok, staat. Daar is aan die voorkant van woonstelle ‘n deur of twee. En as mens dit oopmaak ontdek mens klein winkeltjies wat alles verkoop. Restaurante. Wegneemeetplekke. Eintlik soos ‘n mark, elke toonbank vereis betaling. Melk, drank, brood, tee, wegneemkos, maskara, toiletpapier. Dus loop mens, anders as in RSA, maar altyd met kontant by jou. En ek het onlangs in die RSA gesukkel, want alle winkels is hier van 10 tot 10 oop!

En dan is daar markte. Waar jy alles kan koop, van pasgeslagte vleis tot klere en skoene en materiaal en kruie en groentes en vrugtes. Klere en skoene kan nogal duur wees want alles word ingevoer. Die een is stapafstand van my af. En ek boer daar. Vir vars vrugte en groente, wat soos ons s’n lyk. Behalwe dat ek geen pampoen of murgpampoen of patat of butternut hier kan raakloop nie. Mis dit nogal baie.

Ons geldeenheid is tenges, wat so 30 teen 1 met die Rand ruil. Aan die positiewe kant. Ons Rand is 30 tenges werd. Halleluja! Iewers is die Rand darem iets werd!

Uiteet is lekker, hulle kos is lekker. Hulle eet die kos waarmee ek grootgeword het. Vark, bees, skaap en hoender. Rys, aartappels, begin nou eers om skyfies te verkoop. Min groente, as die menu groente wys, is dit gebraaide groenrissies. En uie. En tamaties. En hulle is trots op hulle Shashlieks (sosaties). Dit is egter nie noodwendig op ‘n stokkie nie en kan belaglik groot wees, soos ‘n hele ingerygde hoender. Mens kan ook nie aan die prys bepaal of dit groot of klein gaan wees nie. Hulle hou van soppe, bied min slaai aan en eet ook perdevleis, wat ons nie gaan toets nie.

Hulle ken nie boerewors nie en het nie meel vir pap nie. Ek het egter grofgemaalde geel mielies ontdek wat ek met my Thermomix fyner maal om wel soos mieliemeel te lyk en proe. En noudat ons self wors kan maak, kan ons ons eie boerebraai in Ust hou. Tamatie en uie is in oorvloed beskikbaar. Tans.

Motors ry aan die verkeerde kant van die pad, wat al meer vir ons soos die regte kant van die pad begin voel. En ons sal eers teen November kan vertel hoe dit is om op sneeu te bestuur. Motors kry dan ander bande op, bande wat spykertjies in het om te keer dat dit gly. O ja, mens kry sulke skoene ook. En ek gaan beslis een paar koop. Voor ek gly en val. Dit het ek die eerste twee maande gereeld amper reggekry. Mens se lyf kan keer, maar dan is spiere daarna seer.

Voetgangers het voorrang en motors stop, al lyk dit net of jy wil oorstap! Baie wetsgehoorsame mense. Ons kry gereeld ‘n aftrek omdat ons ‘n geel nommerplaat het. En dit is ‘n nagmerrie! Ons verstaan hulle nie, hulle ons ook nie. Want Engels het hier nog nie vastrapplek gekry nie.

Woonstelle is van buite lelik. En die ingange is aan die agterkant van geboue. Weggesteekte, swaar deure. Wat met kodes oopgemaak word. Binne is dit egter snoesig en mooi. Die trek hierheen is maklik, want woonstelle word voleldig gemeubileerd uitgehuur. In die laaie is daar tot koekrollers, maar hulle dink nie dat ‘n broodrooster noodsaaklik is nie. Die moes ons gaan koop.

Uiteet is goedkoop, maar kan ook by sommige restaurante baie duur wees. Ons twee kan vir R160 in ‘n aansitrestaurant eet, bier en tee drink. Ons het egter Sondagaand by die nuwe Twin Rivers 54 000 tenges vir ‘n ete vir vier grootmense en twee kinders betaal, waarvan ene ‘n baba is. Belaglik! Ek doen dit nie sommer gou weer nie. Ek het die vorige dag vir my ‘n jas vir soveel geld gekoop! Bykans R2000.

Vir diegene wat verkies dat iemand anders hulle huis skoon maak, is Ust nie genadig nie. Dit is duur. En die meeste mense kan dit een keer per week bekostig. Ek geniet dit egter om my eie werk te doen. Anders moet ek vir iemand anders in Russies probeer verduidelik wat ek gedoen wil hê! Dit vat nou wel ‘n gat uit my oggende uit, maar ek beskou dit as oefening 🙈

Oefening kry ek baie. Stap elke dag 30 minute, maar sit ook elke dag ongeveer 10 000 treë op die klok. Want ons stap, soos hulle, oral! Seker die dat daar baie min oorgewig mense in Ust is. Die openbare vervoer is goed. Busse en trems is oud, maar betroubaar en dit wil voorkom of min mense hulle eie motors het. Taxi’s is ook goedkoop. Ons gebruik Aparu. Het. Nou ry ons met eie kar. Hemels.

Raai ek jou aan om hier te kom woon? Ek kan nie, dit hang van jouself af.

As jy gaan kla oor diens, moet jy wegbly. Die mense kan ongeskik voorkom. Miskien omdat hulle besef dat hulle ons nie verstaan nie. Op die mark is die dames egter baie vriendelik.

As jy verstaan wil word, gaan jy sukkel. Hulle verstaan Russies en Qazaq, kom vir die eerste keer deur middel van ons met Afrikaans in aanraking. En is verstom dat ons wit is, ons is dan van Afrika! Ons maak maar op Google Translate en handgebare staat tot ons die taal bemeester. Wat onmoontlik begin voel. Dus sal ons nog lank daarop staat moet maak.

As jy veilig wil wees, kom hierheen. Mens is saans op straat veilig en ons woon in die middestad.

As jy van lekker eet hou, kom. Hulle kos is heerlik en baie goedkoop, soos ek reeds geskryf het. Dit kan ook baie duur wees, as jy verkeerde restaurante kies.

As jy oor alles kla, bly ver weg. Hier is baie redes om te kla:

  • In reataurante word kos aangedra soos dit gaar word, jou bord kan al leeg wees voor manlief sy kos kry. En jou tee kan opdaag wanneer jy die shot (rekening) vra.
  • Toilette is iets anders, baie keer ‘n gat in die grond, maar mens moet maar vat wat jy kry as die nood hoog is
  • Mense kan ongeskik voorkom, en hulle gee nie pad op straat nie, seker moeg padgegee as hulle bestuur?
  • Met taalprobleem kan alles soos probleem voel
  • Dit is ver van die RSA, drie vlugte om hier te kom, twee dae op lughawens of vliegtuie, mens is dood as jy land. En baie duur! Selfs as jy besigheidsklas vlieg, sit is sit en die slaap is nie noodwendig lekkerder in die besigheidsklas nie.
  • In die winter is dit buite baie koud! En mens moet baie versigtig loop as jy nie baie hard met die aarde wil kennis maak nie. Hulle noem dit iets soos die skuifelstap!

As jy nie kla nie, kom:

  • Dit is veilig
  • Dit is pragtig, spierwit winters, grasgroen somers
  • Hier is baie om te doen, kan in die winter gaan ski, ek sal dit nie waag nie. En dink net aan ‘n regte egte White Christmas
  • Mooimaak is goedkoop, betaal so R150 vir naels! En R10 vir cutex, ek doen laasgenoemde, dit hou een hele week en langer.
  • Dit is hemels om so veilig te lewe.
  • Mens leer baie goed doen omdat dit, wat ons soek, nie noodwendig beskikbaar is nie. Soos om jou eie vanilje essence te maak.
  • Die taal pla eers as mens goed wil koop. In winkeltjies waar jy dit nie self van die rak kan afhaal nie. En moet verduidelik wat jy op die rak agter die vrou wil kry. In die huis is ons Afrikaans.

Wil ek vir altyd hier bly?

In Ust, nee! Ek dink drie winters met ses maandelange sneeu en ysige weer klink klaar te veel om te hanteer. Die somer is te kort en ek weet nie hoe mens oefening in die winter gaan kry nie.

In Qazaqstan? Beslis, dan sal ek na Almaty, die ou hoofstad met sy gematigerder klimaat trek. Wat ook net twee vlugte van Suid-Afrika is. Die derde een na Ust gaan met baie lang oorstane gepaard. Al is Ust net 1000 km van Almaty af. Qazaqstan het op my gegroei, hier sal ek kan leef tot die einde.

Mis ek Suid-Afrika? Ek kan eerlik skryf dat ek ons sonnige land met sy voortdurende watertekorte nie mis nie en my lojaliteit aan die land kry ‘n knou. Ek is moeg om te hoor dat ek nie daar hoort nie. Ek mis egter my kinders, kleinkinders, ma en pa en susters en hulle kinders. Vriende. Afrikaans op TV. Kerk. Daarom sal ons terugkeer, en bid. Dat ons nie statistiek word in ‘n land waar moordenaars beter as kunstenaars behandel word nie.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

19 gedagtes oor “Ust-Kamenogorsk, woonplek van die werkers

  1. Ek het dit nou baie geniet. My kinders het nou die naweek toe hulle hier was ‘n fliek, of dalk dokumentêr, gekyk oor die ontploffing in Ust as ek reg is. Ek het nie gekyk nie. Is die hele stad nie uitgewis nie? Of is daar steeds mense wat aan die gevolge daarvan dra?
    Jy sê 20 jaar gelede. Dalk wa dit ‘n ander ontploffing in ‘n ander stad.

    Like

    1. Daai ontploffing was in ‘n ander stad, Toortsie. Chernokof as ek reg onthou. En dit het verwoesting gesaai. Hierdie een was klein. Maar ja, dit is gevaarlik as uranium losgelaat word. Hier is mense wat geskend is. En die mense kry 10 dae ekstra verlof. Omdat hulle blootgestel was

      Like

  2. Sjoe dis nou n interessante vertelling. Dankie dat jy dit na aanleiding van wasdag gedoen het. Dit wys ook dat elke blyplek sy eie besonderse dinge het. Dit klink of jy nogal gelukkig is, wat ook belangrik in die lewe is.

    Like

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.